Skriflesing: Hebreërs 13: 1 – 6
Fokusverse: Hebreërs 13: 5 en 6
Tema: Die Hére is jou Almagtige Helper. Wees daarom tevrede met dít waarmee Hy jou seën.
Inleiding
Soos baie van ons weet, is die geskrif, wat aan die Hebreeërs gerig is, eerder ‘n preek as ‘n brief. Die boek, Hebreërs, bevat eerder eienskappe van ‘n kommentaar as dié van ‘n brief. En tog vind ons ‘n tipiese briefslot hier in hoofstuk 13 – ons sal weer in volgende week se preek daarna kyk.
Hierdie Bybelboek se genré is dus uiters kompleks en dit bevat van die béste Grieks in die hele Nuwe Testament. Die skrywer – wie onbekend is – haal verskeie kere die Ou-Testament aan en gee verklarings van God se Woord – óók in vanoggend se Teksgedeelte.
Die Here is jou Almagtige Helper
Soos met alle Nuwe Testamentiese briewe wil die skrywer van Hebreërs in die laaste hoofstuk sy laaste sê inkry. Hy wil vir oulaas goeie raad gee. Vir oulaas hierdie gelowiges aan ‘n paar belangrike sake herinner. Trouens – dit is nie nét die Bybelskrywers wat só gemaak het nie. Die meeste van ons maak vandág nog só. Wanneer ons bv. oor die selfoon met ons werknemers praat, dan rammel ons aan die einde van die gesprek nog so laaste paar opdragte af. Wanneer ons met ons kinders, wat vêr bly, gesels, dan sê ons gou vir oulaas iets vir hulle, nét voor ons moet groet. Soos ons agterkom dat die geprek na sy einde toe gaan, noem ons vinnig so ding of twee wat vir ons belangrik is – vóór dit te laat is.
En presies dít doen die onbekende skrywer van Hebreërs hier in die laaste hoofstuk van sy preek. Al is dit nie ‘n formele brief nie, is dit ‘n geleentheid waar hy die skare kan toespreek. En noudat hy alles gesê het wat hy wou – noudat hy van die belángrikste sake van die Ou-Testament verklaar het – rig hy hulle aandag op so laaste paar dinge. En daarom mag die inhoud van Hebreërs 13 dalk vir ons onsamehangend oorkom, maar nou verstaan ons hoekom dit vir ons so klink. Die skrywer wil vir oulaas ‘n paar belángrike sake met die luisteraars deel terwyl hy nog aan die woord is.
Die skrywer rammel ‘n paar belángrike etiese sake af waaraan die hoorders gehoorsaam moet wees soos: “wees lief vir mekaar”, “wees gasvry teenoor mekaar”, “wees vol medelye vir mekaar”, “beskerm die eer van julle huwelikke” en “moet nie geldgierig wees nie”. Die motivering vir hierdie onsamenhangende opdragte kry ons dan in ons fokusvers. Die réde waarom die Hebreeërs aan hierdie laaste paar losstaande sake gehoorsaam moet wees, word vir ons duidelik in verse 5 en 6. Die skrywer sê dat gelowiges aan al hierdie opdragte gehoorsaam moet wees “want Gód het gesê: ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie,’ sodat ons met vertroue kan sê: ‘Die Here is vir my ‘n Helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?’” Ons het dus ‘n rede om die goeie te doen, geliefdes. Omdat die Hére aan ons sy hulp en bystand belowe, daarom dóén ons wat Hy van ons vra. Omdat Hy ons eerste liefgehad het, daarom besef ons dat ons in wederliefde behoort te reageer. En dít is presies waarop die skrywer van Hebreërs ons wys as hy ons aandag op God se beloftes vestig.
In Genesis 28 ontvang Jakob dieselfde belofte as hier in Hebreërs 13. Een aand verskyn God in ‘n droom aan hom met die belofte: “Kyk, Ek is met jou. Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” Aan die einde van Moses se lewe sê hy vir sy opvolger, Josua, en die volk: “Wees dapper en sterk; moenie bang wees nie, en moenie vir hulle skrik nie, want die Here jou God, Hy is die Een wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie. (Deut. 31: 6, 8; Jos. 1: 5). God se konstante teenwoordigheid en bystand in ‘n gelowige se lewe is dan die eerste rede waarom ‘n gelowige aan Hom gehoorsaam wil wees. Die Here is getrou aan sy Woord, geliefdes – die hele Bybel is ‘n bewys daarvan. As Hy iets beloof het, dan dóén Hy dit. As Hy iets gesê het dan voer Hy dit uit. Anders as met ménse, is die Here áltyd getrou aan sy Woord.
Hy het nog nie één keer iemand in die steek gelaat nie, nog nooit iemand verlaat nie. Die volk, Israel, hét die Beloofde Land ingeneem onder Josua se leiding. God was altyd by Jakob en die Here het hom nie een oomblik van sy lewe verlaat nie. Soms voel dit vir ons asof die Here ons verlaat of asof God ons op ‘n manier in die steek laat, maar dit is glád nie die geval nie, geliefdes. Deur die Persoon van die Heilige Gees is God konstant ín ons en by ons. Daar is nie ‘n sekonde van die dag wat ons sónder die Here hoef deur te maak nie, want God is mét ons – van ewigheid tot in alle ewigheid.
Meer as 2000 jaar terug is die ware Immanuel vir ons gebore. Weens sy liefde vir sondaars verneder Jesus Christus Homself tot só ‘n mate dat Hy die gestalte van ‘n mens aanneem. Hy is die Enigste Persoon vir wie God wérklik verlaat het, geliefdes. Christus is die Een Wie verstáán wat dit beteken om godverlate te voel, want Hy moes dit deurmaak ter wille van ons. “‘My God, My God, waarom het U My verlaat?’ Sodat ons nóóit meer deur God verlaat sou word nie” (Nagmaalsformulier). Ons mag dus nooit sê dat die Here ons verlaat nie, geliefdes. Die Here kan ons ook nie in die steek laat nie. Hy is áltyd by ons – selfs in ons moeilikste dae. Selfs al ervaar ons die érgste trauma denkbaar – selfs al gaan ons geliefde skielik dood – is die Here nog stééds by ons én ons gelowige geliefde. Deur die Here se wonderlike genade is sy/haar siel onmiddelik by die Here – in sy hemelse teenwoordigheid. En óns word styf vasgehou hier op aarde deur die liefdevolle teenwoordigheid van die Gees. Selfs al ervaar ons dood in die gesin stel God ons nie teleur nie, geliefdes, want vir óns is die dood ‘n natuurlike proses – dit is die oorgang na die éwige lewe. En elkeen van ons is hierop voorberei deur die Here se beloftes in sy Woord. Dit maak egter nie dat ons nié geskok en hartseer is oor die verlies van ons geliefde nie. Maar dit troos ons wél om te weet dat ons én ons geliefde steeds die Here se heerlike teenwoordigheid mag beleef – selfs al is ons tydelik van mekaar geskei.
Vir ‘n vérdere motivering om die goeie te doen, haal die skrywer van Hebreërs Psalm 118: 6 aan: “Die Here is vir my ‘n Helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n méns aan my doen?” Wanneer ons opnuut besef dat ons in die Almagtige se teenwoordigheid is, sal ons ook kan sê: “Die Hére is my Helper. Wat sal ‘n blote méns my ooit kan aandoen?” In volle vertroue kan ons ons onsself dáágliks daaraan herinner dat dit Gód is wat ons beskerm. Hy is totaal en al almagtig – niks en niemand is teen Hom bestand nie. God-Drie-Enig geniet die hoogste gesag. En nou het óns, as gelowiges, die voorreg om Hóm ons God te noem! Aangesien Hy ons Vader is, hoef ons géén mens te vrees nie.
Wees daarom tevrede met dít waarmee Hy jou seën
Eeue nadat die skrywer van Hebreërs sy medegelowiges aangespoor het, is hierdie woorde stééds op óns van toepassing. Ja, geliefde in die Here, hierdie woorde is ook op jou persóónlik van toepassing. Die Here is jou persóónlike Hulp en Beskermer. Hy is nie net vir ánder mense goed nie. Die Almagtige is ook altyd by jóú. Hy sál ook jóú nie verlaat of in die steek laat nie.
Wanneer ons wérlik dit – sonder twyfel – gló, dan sal ons in wederliefde wil reageer. Dan sal ons al hierdie opdragte van Hebreërs 13 gráág wil uitleef. Aangesien God-Drie-Enig aan ons sy hulp en bystand beloof, wil ons ons medegelowiges liefhê soos wat daar in vers 1 van ons verwag word. Juis omdat God nooit ons teleurstel nie, bewys ons liefde aan God én ons naaste. Juis omdat God ons nooit verlaat nie, wil ons iets van die Here se ontferming en nabyheid aan ons medemens bewys. Daarom is ons gasvry – veral aan ons medegelowiges – want hierdeur het ons voorouers selfs engele gehuisves.
Wanneer die skrywer van Hebreers dít sê dan het hy natuurlik Genesis 18 in gedagte, waar Abraham die hemelwesens by Mamré bedien het. Hy was besonder gasvry teenoor hierdie vreemdelinge en het hulle voete gewas en vir hulle heerlike kos aangebied (vgl. Ook Gen. 19, Rig. 13). Ons behoort daarom altyd, binne ons vermoë, gasvry teenoor mense te wees, want soms ontvang ons ook onwetend ware boodskappers van God. Omdat God medelye met ons het – verál deur sy Seun, Jesus Christus – behoort ons onsself in iemand anders se situasie in te dink. Ons behoort só in voeling met ons medegelowiges te wees dat dit nie vir ons moeilik sal wees om empatie te hê nie. Deur die band van geloof kan ons onself wérklik in iemand anders se skoene plaas. “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Kor. 12: 26).
Verder behoort ons ook vir dieselfde rede ons huwelike op te pas. Die Here is by jou en jou huweliksmaat as julle deur ‘n moeilike tyd gaan. Daar waar julle saam oor iets bekommerd is – daar waar nét julle twee van iets weet, of met iets sukkel – dáár is die Here óók. Die alwetende God is bewus van daardie sake wat julle nét met mekaar deel. Vertrou Hom ten volle en gee opnuut jou huwelik oor in sy Hand – of dit nou goed gaan of sleg.
Laastens word ons opgeroep om ons lewe vry te hou van geldgierigheid en om teverde te wees met ons deel (vers 5). “Wees tevrede met dit wat Gód jou gegee het – met dit waarmee God jou seën,” sê die skrywer van Hebreërs. Geliefdes, wanneer ons wérklik die waarde van die Here se beloftes hier in Hebreërs 13 besef, dan sal ons gou agterkom dat die Here se nabyheid en sy konstante seën vir ons die heel béste is. Wanneer die Heilige Gees nuwe vertoue in ons harte werk, dan sal ons besef dat ons ware sekuriteit in Gód lê en nie in ons beleggings of besittings nie. “Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad”, skryf Paulus vir die jong Timoteus. “Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulself met baie smart deurboor (1 Tim. 6: 10).
Wanneer ons die Here se nabyheid élke dág ervaar, vir wat méér kan ons vra? Wat kan óóit vir ons van groter waarde wees as die Here se konstante teenwoordigheid in ons lewens? Baie geld sal nooit gemoedsrus kan koop nie. Selfs al het ons die mééste besittings en die béste eiendom, sal ons stééds na iets hunker – en dít is die nabyheid van God. Rykdom is wonderlik, maar dit kan ons in die steek laat – dit kan ons oornag verlaat. Dit is alleen Gód wat sy kinders nóóit in die steek sal laat nie, geliefdes, want Hy hou ons éwig in sy Hand. Niks en niemand sal ons óóit uit sy Vader-hand ruk nie. Ek herhaal – selfs al wórd ons met die dood van ‘n geliefde gekonfronteer is die Here stééds by ons. Hy verlaat nié jou óf die gelowige persoon wie jy verloor het nie. Mag elkeen van ons die genade ontvang om aan hierdie troos vas te hou.
Slot
Deur die werking van die Heilige Gees wys Hebreërs 13 télkens vir ons waarom ons in wederliefde teenoor God en ons naaste behoort te reageer. Omdat God alrééds sy getrouheid en nabyheid aan ons bekendgemaak het, daarom dóén ons wat Hy van ons vra.
Die Here seën elkeen van sy kinders met die béste seëninge – waarom hunker ons dan stééds na nóg? Die Here beloof sy ewige sorg en hulp en beskerming aan ons. Hy gee ons sy stabiele teenwoordiheid, en steeds is ons onvergenoegd? Hy belowe vryspraak van ons sondes en die ewige lewe deur sy Seun, Jesus Christus. Hy offer Dit wat vir Hom die Belangrikste is, op! Jesus Christus word vervloek en sterf aan die kruis! Die Here seën gelowiges met geloof in Hom en met ‘n volmaakte lewe saam met Hom.
Ja, die Here seën jou met die Beste wat daar is! En daarom vra Hy vanoggend vir jou, persoonlik: “Is jy werklik tevrede met dít waarmee Ek jou seën?” Amen.