Lukas 23: 34; Lukas 23: 43; Johannes 19: 26, 27; Markus 15: 34; Johannes 19: 28; Johannes 19: 30; Lukas 23: 46. 

Skriflesing: Lukas 23: 34; Lukas 23: 43; Johannes 19: 26, 27; Markus 15: 34; Johannes 19: 28; Johannes 19: 30; Lukas 23: 46. 

Fokusverse: Al die bogenoemde

Tema: Jesus Christus se sewe Kruiswoorde dui op sy volmaaktheid

Inleiding

In Vrydag se oordenking het die meeste van ons opnuut verstaan waarom ons juis daardie dag “Goeie Vrydag” noem. Jaar na jaar dink ons aan die Paasnaweek as ‘n langnaweek wat begin met “Goeie Vrydag” en eindig met “Opstandings Sondag”. Vir ons, as gelowiges, is hierdie nie maar net nóg ‘n Suid-Afrikaanse langnaweek nie – vir ons is dit ‘n tydperk waarin ons verskillende emosie ervaar. Met tye is ons hartseer, ander tye is ons dankbaar, en ánder kere is ons vol vreugde!

Twee dae terug het ons weer tot die besef gekom dat Goeie Vrydag vir ons wérklik ‘n “goeie” dag is, omdat Christus se offer aan die kruis vir ons soveel beteken. Deur sy bloed word ons van ál ons sonde skóóngewas. Te danke aan sy gehoorsaamheid word ons met God versoen, en dáárom is dit vir ons “Goeie Vrydag”.

Die Sewe Kruiswoorde dui op Christus se volmaakte Offer

‘N Verdere rede waarom dit vir ons “Goeie Vrydag” is, is oor dít wat Jesus Christus aan die kruis gesê het. Al vier die Evangelies maak dit vir ons duidelik dat ons Here, Jesus Christus, gepráát het toe Hy aan die kruis gehang het. Ons Koning en Verlosser dóén nie net iets aan die kruis nie – Hy ly en sterf nie maar net in gehoorsaamheid nie. Hy práát ook in gehoorsaamheid – selfs al ervaar Hy gewéldige pyn en ongemak.

Geliefdes, hierdie sewe Kruiswoorde, wat Jesus Christus aan die kruis prewel en uitroep, is so ryk dat ‘n mens sewe verskillende preke daarvan kan maak. Maar ons gaan vanoggend kortliks na elk van hierdie sewe Kruiswoorde kyk, sodat ons die intensiteit – maar ook die wonder – van daardie Vrydag kan verstaan. Wanneer ons na Christus se kruiswoorde kyk, dan sien ons hoe dat Hy verskeie partye aanspreek waneer Hy in sy uur van nood praat. Hy praat met sy geliefde hemelse Vader, Hy praat met sy aardse gesin, Hy praat met sy geestelike gesin, Hy praat met sy vyande en dan praat Hy ook met Homself. Maar iets wat opvallend is, is dat Jesus Christus sy kruiswoorde begin én eindig met ‘n gebed tot sy Vader.

Terwyl hulle Jesus se hande en voete aan die kruis vasspyker, bid Hy tot sy Vader en smeek: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23: 34). Met hierdie eerste Kruiswoord van Hom, vervul Jesus dít wat Hy in sy Bergrede beveel het: “Julle moet julle vyande liefhê en bid vir húlle wat julle vervolg” (Matt. 5: 44). In Christus se liefde vir sondaars vra Hy sy Vader dat selfs sy vyande ‘n tweede kans kry. Natuurlik bly dit God die Vader se besluit of Hy aan hierdie mense nóg genade tyd wil gee, maar dit wil vir ons voorkom asof sy Vader hierdie versoek van Christus verhoor het. Want, soos ons weet, wás daar van hierdie soldate en ander, rondom die kruis, wat hulle bekeer het en tot geloof in God-Drie-enig gekom het.

En dan – enkele verse later – spreek Christus sy mede-gekruisigde aan (Luk. 23: 44). Iemand wie, soos Hy, beskuldig word van iets verskriklik. Heelwaarskynlik het hierdie persoon ‘n gewéldige sonde gedoen – en daarom word hy terreggestel. Maar, geliefdes, hierdie persoon het egter berou oor sy sonde. Hy bestraf die dérde man wat daar hang – die een wie in sy sonde volhard – en sê vir hom: “Hierdie Man het níks verkeerds gedoen nie!” Hy verwys na Jesus Christus en dan vra hy vir die Here: “Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom!” Eerstens bely hierdie misdadiger dat Jesus Christus geen sonde gehad het óf gedoen het nie. Verder erken hy dat Jesus die Koning van die heelal is. En laastens het hy geloof om in te sien dat Jesus Christus óók binnekort die dood sal oorwin. Daarom antwoord Jesus hierdie berouvolle sondaar en sê: “Voorwaar, Ek sê vir jou, vandág sal jy saam met My in die paradys wees.” Met hierdie Tweede Kruiswoord van Jesus, sien ons dat dit nooit te laat is om tot geloof in God te kom nie. Sommige mense kom eers op hul sterfbed tot bekering – en in die Here se genade is dit ook voldoende. 

Daarna spreek Jesus Christus tot twee ánder gelowiges terwyl Hy, in gewéldige pyn, aan die kruis hang. Hy praat met sy biologiese ma, Maria, en met sy geliefde navolger, Johannes. Vir Maria sê Hy: “Kyk, dáár is u seun!” En vir Johannes sê Hy: “Kyk, dáár is jou moeder!” (Joh. 19: 26 en 27). Selfs in sy grootste angs dink Hy aan die belange van die een wie Hom in die wêreld gebring het. Want noudat Hy binnekort hierdie wêreld gaan verlaat, wil Hy toesien dat Maria op ‘n eervolle manier versorg word. Die béste persoon om dit te doen is nie noodwendig sy éie halfbroers nie, maar eerder sy geliefde dissipel. Want in Johannes 7: 5 is dit duidelik dat sy éie broers nié in Hom geglo het nie. Maar Maria glo in Hom en so-ook Johannes. Daarom vorm Maria en Johannes ‘n geloofs-gesin selfs al is hulle nie biologies aan mekaar verwant nie. Dit wat hulle in gemeen het – nl. hulle geloof in Christus as die Ware Messias – is, op hierdie stadium, geweldig belangrik vir beide Johannes én Maria. 

Die vierde Kruiswoord vorm weer deel van ‘n gebed tussen die Gekruisigde en sy Vader. In beide Mattheus 27: 46 én Markus 15: 34 roep Christus uit: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” Hierdie is verséker die dieptepunt – die klimaks – van ons Verlosser se lyding. “Hy het sy héle lewe op aarde gely, maar verál aan die kruis”, bely ons in Heidelbergse Kategismus Sondag 15. Drie ure van duisternis het die hele aarde toegesak. Drie ure van verwarring, vrees en benoudheid – verál vir Jesus Christus. En al wonder die hele wereld wat aangaan, is dit slégs vir Christus Wie God, die Vader, verlaat het. Aan die kruis ervaar ons Here, Jesus Christus, dus nie net intense fisiese pyn nie, maar ook onbeskryflike emosionele pyn en verwerping. Presies wat hierdie godverlatenheid moes behels het, is vir ons onduidelik, want géén mens op aarde het dit al óóit ervaar nie. Nét Christus het. Dít wat ons nie kán doen of kán deurmaak nie, dít doen Hy námens ons. En al moes Hy dit doen – al was dit die hoogtepunt van sy verlossing – worstel Hy stééds met God. Hy haal Psalm 22 direk aan en vervul die Woord wat sê: “My God, My God, waarom het U My verlaat? Waarom is U vêr daarvan om My te verlos? Vêr van die woorde wat Ek uitskreeu? My God, Ek roep bedags maar U antwoord nie, ook snags, maar daar is geen rus vir My nie.

In sy vyfde Kruiswoord sê Jesus Christus: “Ek is dors!” Noudat Hy wéét dat sy aardse roeping voltooi is, nou kan Hy weer aan sy ménslike behoeftes aandag gee. Om die lyding aan die kruis volkome te maak, het Hy nie nat of droog oor sy lippe geneem nie. Hy het werklik na liggaam en na siel alle denkbare lyding deurgemaak – ter wille van gelowiges. Wanneer Christus uitroep: “Ek is dors!” dan wys Hy vir gelowiges én ongelowiges dat die lyding en die benoudheid wat Hy aan die kruis ervaar, ég is. Met hierdie opregte woorde van Hom wys Hy vir ons dat Hy werklik Mens geword het en dat sy dood vir ons wérklik geldig is.

Al is Hy dié Koning van die konings, en al is Hy die Heerser van die heersers – ja, al is Hy die Belángrikste – gee die mense rondom die kruis bitter asyn vir Hom om te drink (Op. 19: 16). Hy neem dan hierdie – byna giftige – mengsel by sy teestanders en drink dit sodat die woorde van Psalm 69: 21 in vervulling kon gaan.

En daarna sê Hy net een woord aan die kruis: “Tetelestai”. Hierdie woord word in ons Taal vertaal met die sin: “Dit is volbring”, maar in die oorspronklike Taal is dit net één, elkele, woord. Wanneer Christus dít uitroep dan gebrui Hy net één Woord, maar Hy sê eintlik sóveel, geliefdes. Met hierdie woord praat Hy met sy vyande, sy volgelinge, sy Vader en met Homself. Hy wys álmal daarop dat sy aardse roeping nou voltooi is. Hy wys álmal daarop dat sy verlossingsdaad afgehandel is. Dat sy lyding nou verby is. Dat die versoening tussen die Heilige God en die onheilige gelowige nou bewerk is.

Met hierdie enkele woord wys Hy ons almal daarop dat Hy die Middelaar is tussen ons en God. Dat ons Hom nódig het – want sélf kan ons nie voor God verskyn nie. Ons het télkens Christus én sy bewyse nodig. Ons het sy genoegdoening nodig. Ons het sy bloed nodig – die bewys dat Hy wérklik vir ál ons sondes betáál het. “Tetelestai!” – dít waarvoor Christus aarde toe gekom het, is finaal afgehandel.

Die laaste Kruiswoord wat ons Here, Jesus Christus, daardie Vrydag geuiter het was: “Vader, in U hande gee Ek My Gees oor.” Christus begin én eindig sy reeks van sewe Kruiswoorde met ‘n gebed tot sy Vader. En die opmerklike, geliefdes, is dat Hy vir God met respek áánhou aanspreek – selfs al ervaar Hy godverlatenheid, lyding en selfs die dóód. Hoe maklik neem ons nie die Here kwalik as iets net nie volgens ons wil gebeur nie? En hier is Christus – in sy grootste angs en benoudheid – en Hy het stééds die nodige agting en respek vir sy Vader. “Vader in U hande gee Ek My gees oor.” Hierdie woorde wys óók vir ons dat Jesus Christus totale vrede gehad het toe Hy gesterf het. Sy intense geestelike worsteling met God – wat al in die tuin van Getsémané begin het – is nou uitendelik verby. Hy het kom doen waarvoor Hy aarde toe gestuur is. “Dit ís volbring”. En daarom kan Christus nou Homself nou losmaak van dít wat Hy hier op aarde moes beleef. Hy het volkome vrede wanneer Hy sy gees aan sy Vader oorgee.

Hierdie laaste Kruiswoord wys ons vérder dat ons Here, Jesus Christus, sy gees gewílliglik aan sy Vader oorgegee het. Die dood het Hom nie onkant gevang nie, geliefdes. Die dood was nie vir Hom ‘n verassing nie. Hy gee vrywilliglik sy liggaam én gees aan sy Vader oor. Dus was Hy tot sy laaste nog by sy volle bewussyn aan die kruis. Hy het presies geweet wat Hy doen, geliefdes. Hy het presies geweet wat besig was om te gebeur. Dat die hele gelowige geslag se ewige toekoms van sy selfopoffering afhanklik is. En daarom sterf Hy – gewilliglik – daardie Vrydag-middag. Ja, daarom is dit vir elke gelowige wérklik “Goeie Vrydag”.

Die Sewe Kruiswoorde dui óók op Jesus Christus se volmaakte Oorwinning

Jesus Christus se sewe Kruiswoorde dui nie nét op sy volmaakte Offer aan die kruis nie, maar óók op sy volmaakte oorwinning oor die dood. Soos ons in sy laaste twee Kruiswoorde kon hoor, het Christus vrywillig sy lewe neergelê. Dit is nie die Joodse Priesterhoofde of die Romeinse goewerneurs óf selfs die duiwel wat Hom oorwin het nie, geliefdes. Selfs al wil die goddelose wêreld dit só laat lyk, is Jesus Christus die wáre Oorwinnaar. Hy oorwin die sonde én die dood, want Hy staan drie dae later op uit die dood. Soos iemand wat wakker word na ‘n goeie nagrus, staan Jesus Christus daardie Sondag-oggend uit die graf uit op. Hy het egter nié maar net uit ‘n diepe slaap wakker geword nie, geliefdes. Hy was wérklik dood. Hy het die lyding van die hel ondergaan. Totale Godverlatenheid. Fisiese dood.

Maar juis omdat Hy alle mag en gesag in die hemel en op aarde van sy Vader ontvang het, oorwin Hy die dood. In volmaakte liefde wek God die Vader Hom op uit die dood. En in almagtige reaksie staan Hy dan óp uit die dood. Dit is nie ‘n invloedryke mens of ‘n sondige kerkgroep of ‘n magtige duiwel wat Hom oorwin nie, geliefdes. Dit is Hy wat die finaliteit van die dood daardie Sondag-oggend oorwin. Hy is die Almagtige. Hy is die Koning van die heelal. Hy is die Oorwinnaar oor lewe en dood. En Hy bewys dit konstant aan ons én aan die goddelose wêreld – selfs al leef hulle in ontkenning.

Slot

Mag ons vashou aan sy volmaakte oorwinning, geliefdes. Mag ons aanhou gló dat Hy wérklik uit die dood opgestaan het. Dat Hy wérklik die dood én die Satan oorwin het. Want wanneer ons in hierdie geloof volhard, ontvang ons die belofte dat die Heilige Gees van ons mede-oorwinnaars maak – sáám met Christus (Rom. 8: 37).

Paasfees wys vir ons dat ons verskéie redes het om dankbaar en vol vreugde te wees. Nié omdat ons ons Here en ons Middelaar daardie Vrydag verloor het nie, maar juis omdat ons Hom stééds as ons Voorspraak by die Vader hét, want Hy het óók die dood oorwin! In totale gehoorsaamheid fluister Hy en spreek Hy en roep Hy sewe Kruiswoorde. Hy preek – sewe keer – in sy grootste benoudheid. Sewe keer – die volheidsgetal – die volmaakte getal. Sewe keer praat Hy – met sy Vader, met sy vyande, met sy geloofs-vriende en óók met Homself.

In alle volmaaktheid práát Hy – préék Hy – want dít is waarvoor Hy geroep is. Hy is én bly die volmaakte Woord van God – net soos wat sy Kruisdood én sy Opstanding volkome en volmaak is. Gryp daarom vas aan élke Woord wat uit sy Mond kom, geliefdes. Jou héle bestaan hang daarvan af. Amen.