Skriflesing: Romeine 1: 8 – 23
Fokusvers: Romeine 1: 16 en 20
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 2
Tema: God openbaar Homself op twee maniere sodat ons Hom rég kan ken.
Inleiding
Die brief aan die Romeine is seker die een van die gewildste Nuwe-Testamentiese briewe. Ná die Vier Evangelies is dít die boek wat gelowiges die graagste sal lees. En die rede hiervoor is omdat die Evangelie so duidelik in die brief aan die Romeine verduidelik word. Reeds hier, in die eerste hoofstuk van die brief, verduidelik Paulus die Evangelie in ‘n neutedop.
Hy het maar een doel met hierdie brief, en dit is om die gelowiges in Rome in die geloof voor te berei. Paulus skryf nou, met sy hand, oor hierdie Goeie Nuus, maar sy wens is om hulle eendag te kom besoek en dit vir hulle met sy mond te vertel en óók dit met sy lewe te wys.
God openbaar Homself deur sy Skepping
Wie die Evangelie aanvanklik aan die inwoners van Rome verkondig het, is vir ons onduidelik, maar dat hulle wel nou rééds gelowig was, is duidelik vanuit Romeine 1: 8. Die heel eerste ding wat Paulus wil doen, wanneer hy vir hierdie mense skryf, is om God te dank vir hulle geloof. Al was Paulus nie die een wie die Here aan hierdie mense bekendgemaak het nie, is hy steeds bly oor hulle geloof. Ons kan hierin raaksien dat Paulus werklik ‘n diep liefde vir sy roeping gehad het, geliefdes. Dit was nie vir hom belangrik dat dit noodwendig sy toedoen was wat hierdie mense tot bekering laat kom het nie. Hy verstaan dat hierdie roeping, om die Evangelie aan ander bekend te maak, nie nét aan een of twee toevertrou word nie, maar dat God verskeie dienaars roep om sy geheimenisse bekend te maak. En daarom dank Paulus God vir die vaste geloof van die Romeine – al was hy nie by hulle geloofsvoring betrokke nie.
Vir Paulus gaan sy lewe oor één saak, en dit is Gód se wil. Vir hom gaan dit oor wat God van hom, as apostel, verwag. Sy bekering op pad na Damaskus was so ingrypend, geliefdes, dat Paulus se hele menswees nou rondom God en sy koninkryk gesentreer is. Daarom bedoel Paulus dit wérklik as hy vir hierdie onbekende groep mense sê dat hy gedurig vir hulle voorbidding doen. In vers 9 roep Paulus vir God op as Getuie hiervan. Al ken Paulus niemand in Rome nie, dra hy hierdie gelowiges in dankbaarheid op aan die Here, want hulle ken Hóm – hulle ken God! Hierdie geloof in God-Drie-Enig is dít wat Paulus en die gelowiges in Italië in gemeen het. Die liefde van Christus ken geen perke nie, geliefdes. Dit spoel oor biologiese- en selfs kultuur-grense. En daarom is dit alleen Gód se liefde wat Paulus dryf om hierdie gelowiges in Rome te gaan besoek en hulle te gaan versterk. Trouens, Paulus maak dit duidelik dat hierdie liefde ‘n wederliefde moet wees: “Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word. Ek deur julle s’n en julle deur myne” (Rom. 1: 12).
Ja, vir Paulus is slegs één ding nou van belang en dit is om aan God gehoorsaam te wees. God het hom geroep om die Evangelie aan beide gelowiges én ongelowiges bekend te maak. Hy besef daarom dat hierdie maar ‘n opdrag is wat hy, soos Jona, kan probeer ontwyk nie. Hy staan onder die verligting om die Goeie Nuus van Christus se verlossing met die heidene én die gelowiges te deel. En soos Paulus die plig van sy roeping hier in Romeine 1 beskryf, gaan hy outomaties oor om sy roeping uit te leef. Op ‘n natuurlike manier begin Paulus dan om die Evangelie in sy brief te verkondig.
Hy sê in ons eerste fokusvers dat hy hom nie skaam vir hierdie Evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo – vir die Jood, maar óók vir die Griek. Paulus is dus nie besig met pligpleging nie, geliefdes. Hy verkondig nie maar net die Here se Woord omdat hy móét nie. Hy skryf nie maar net hierdie woorde omdat dit van hom, as apostel, verwag word nie. Nee, hy verkondig die Evangelie aan die Romeine omdat hy wíl! Die Heilige Gees dryf hom om presies te verduidelik presies op watter manier God Homself openbaar. En dan is dit duidelik vanuit hierdie hoofstuk en óók ander Skrifgedeeltes dat God Homself deur sy Skepping – maar ook deur sy Woord – aan ons bekendmaak.
Voordat ons gaan kyk hoe God Homself vanuit die Bybel aan ons openbaar gaan ons nou eers kyk hoe ons die Here deur die Natuur kan leer ken. Wanneer ons gedeeltes soos Psalm 19 en Psalm 104 lees, dan is dit vir ons baie duidelik dat ‘n mens God in die Natuur kan leer ken. Selfs al is ‘n mens nie ‘n gelowige nie – selfs al weet jy glád nie van God se bestaan nie – sal jy Hom kan leer ken deur dít wat hy geskep het. Want net soos Hyself is alles wat Hy gemaak het, léwendig! Alles wat God geskep het, is besig om Hom konstánt te loof! Selfs die dinge wat vir ons leweloos lyk, verkondig die lof wat alleen Gód toekom.
In Psalm 19: 2 – 5 lees ons: “Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag ná dag bring dit ‘n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee. Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie, gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld.” Met elke sonsopkoms, met elke volmaan, met elke reenbui en donderslag word God geloof en geprys! Alles in die skepping verheerlik hulle Skepper, selfs al kan hulle nie praat of selfs ‘n geluid maak nie.
In Psalm 98 kry die Sképping die volgende opdrag: “Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon. Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel voor die Here; want Hy kom om die wêreld te oordeel, Hy sal die aarde oordeel in geregtigheid en die volke in billikheid.” En in Psalm 104 dink die digter terug aan God wat die Skepper van alles is, en dan lees ons oa.: “Weens U dreiging het die waters gevlug, weens die geluid van U het donder op die vlug geslaan. Dit het oor berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het. ‘’n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie; dit mag nie terugkeer om die aarde te bedek nie. Dit is U wat gras laat groei vir die vee en plante vir die mens om te verbou, om voedsel uit die aarde voort te bring: die bome van die Here word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het, Hy het die maan gemaak vir feestye; die son weet wanneer hy moet ondergaan. Hoe talryk is U werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort.”
Ja, geliefdes, dit is duidelik dat die héle Skepping van God se bestaan getuig! Maar die Skepping getuig nie nét daarvan dat God die Skepper van alle dinge is nie, die Skepping maak dit ook duidelik dat God stééds alles in die heelal onderhou én daaroor regeer. Die onveranderde seisoene – wat altyd op die regte tyd aanbreek – is seker vir ons die mees opvallende bewys daarvan dat God sy Skepping onderhou. Die fyn balans wat daar in die hemelruim heers – die presiese afstande tussen planete – die regte klimaat – dit álles hou God nog stééds in sy almagtige Hand. Hy onderhou natuurlik ook alles hier op aarde – Hy regeer oor sy Skepping – élke sekonde van élke dag.
En daarom sê Paulus terég dat daar geen verontskuldiging vir mense is om te sê dat hulle nié van God weet nie. Van die begin van die wêreld af toon God sy ewige krag aan álle mense. En deur hierdie werke van God sal énige mens kan raaksien dat God aan die werk is. Dat dit Hy is wat alle dinge rondom hulle geskep het. En dat dit ook Hy is wat alle dinge nog steeds onderhou. Selfs kleuters en pasgebore babatjies besing dan die magtige werk wat Gód tot stand gebring het, lees ons in Psalm 8: 3. Hoe is dit dan dat volwasse mense dit nie kan insien nie? Hoe is dit dat geleerde mense sê dat hulle nie van God se bestaan weet nie? Vir hiérdie mense is daar geen verontskuldiging nie, geliefdes. Vir hiérdie mense is daar geen verskonings nie. God sal hulle oordeel in sy heilige woede, want hulle het aktief sy openbaring misken. Hulle het aktief in hulle ongeloof volhard deur hulle oë – maar verál hulle harte – vir Hom te sluit. Alle mense het dus die vermoë om van God bewus te word deur die Skepping. Selfs klein kindertjies of ongeletterde mense sal God in sy werke rondom hulle raaksien – ja, baie keer, júís hulle. Maar die Natuur, alleen, is egter nie genoegsaam om tot geloof te kom nie, geliefdes. Die Natuur prikkel ‘n mens wél om meer te wil weet van hierdie Skepper en Onderhouer van alle dinge. Die Skepping prikkel ‘n mens om God-Drie-Enig wérklik te leer ken. En daarom openbaar God Homself meer volledig aan ons deur sy Woord.
God openbaar Homself deur sy Woord
Wanneer ons God in die Natuur raaksien en leer ken, sal ons altyd maar net van Hom en sy werke wéét. Die Natuur laat ons nie ons verlossing verstáán nie. Die Skepping wys ons nie op die Ewige Lewe nie. Dit is alleen God se Woord wat die krag het om dit te doen, geliefdes. Ál manier hoe ons ons eie sonde en gebrokenheid kan leer ken, is as ons die Bybel lees. Al manier waarop ons ons Enigste Verlosser, Jesus Christus, kan leer ken, is in sy Woord. En al manier waarop ons kan weet hoe ‘n opregte dankbaarheidslewe behoort te lyk, is as ons daarvan in die Bybel lees.
Presies dít sê Paulus ook in Romeine 1: 16 en 17: “Ek skaam my nie oor die Evangelie nie, want dít (en nié die Skepping nie!) is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo. In die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In dié Evanglie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo…” En op grond hiervan bely ons dan in NGB Artikel 2 dat God Hom óók deur sy Heilige en Goddelike Woord nog dúídeliker en meer volkóme aan ons bekendmaak.
En in hierdie Woord van God leer ons dat alle mense in sonde en ellende geval het oor die sonde wat die eerste mens, Adam, gedoen het. Hierdie sondeval was só ingrypend dat alle mense wat ná Adam gebore sou word, in sonde ontvang en gebore sou word. En dan leer ons vérder in God se Woord dat God die sonde met die éwige dood sal straf. Maar ons leer óók in die Woord dat God barmhartig en vol liefde is. Dat Hy vir Hom sekere mense uitkies om sy kinders te wees en dat Hy dan aan hierdie bevoorregde mense geloof skenk. Hy het sy eie Seun laat Mens word en onder ons laat kom woon sodat Hy vir ons die Tweede Adam geword het. Alles waarin die eerste Adam misluk het, het die Tweede Adam in geslaag. En daarom moes Hy met sy eie liggaam en bloed betaal vir die sonde van álle uitverkorenes. Want net soos wat almal in die sonde geval het weens Adam se sonde, so is daar baie gered deur die Tweede Adam, Jesus Christus, se betaling aan die kruis. Deur sy dood bring Hy versoening tussen ons en God.
Maar dan leer ons vérder, in dieselfde Woord, dat ons Here, Jesus Christus, die dood oorwin het! Vir Hóm het die dood geen angel nie – vir Hóm kan die dood nie vashou nie. Want Hy is die Tweede Persoon in die Drie-Eenheid. Hy is die Almagtige Oorwinnaar oor die sonde én die dood. Wanneer Hy na die hemel toe opvaar dan stuur Hy en sy Vader die Derde Persoon in die Drie-Eenheid aarde toe:- die Heilige Gees word oor die Kerk en in die harte van ware gelowiges uitgestort. En dit is Hy wat aan ons die geloof skenk om, op die regte manier, in God te gló, geliefdes. Dit is Hy wat ons in hierdie kosbare geloof laat volhard totdat ons geloofswedloop voltooi is en totdat ons die Ewige Lewe as Oorwinning behaal het. Dit is nié die Skepping of die Natuur wat dit aan ons leer nie, maar alleen God se Woord, geliefdes.
Slot
In God se liefde maak Hy Homself op twee maniere aan ons bekend: deur sy Skepping én deur die Bybel. Sien ons Hom hierin raak? Waardeer en respekteer ons die Natuur tot so ‘n mate dat ons God se werke daarin kan raaksien? Staan ons steeds verstom oor die wonderwerke wat ons weekliks in die veld raaksien? Of het ons dalk té gewoond daarraan geraak?
En besef ons dat ons God selfs béter kan leer ken wanneer ons ons plig nakom om sy Woord te bestudeer? Hunker ons daarna om God nóg beter en nóg meer volkome in sy Woord te leer ken? Is dit wérklik ons wens om tot soveel moontlike kennis van God en sy verlossing te kom? Of is ons tevrede daarmee om maar net van die Here te weet?
Laastens, geliefdes: Is ons, soos Paulus, bereid om hierdie Evangelie met die mense rondom ons te deel? Is ons só innig dankbaar vir God se openbaring in ons lewens, dat ons Hom daarvoor net wil loof en prys en eer en aanbid? Ja, deel ons hierdie Goeie Nuus ooit met ander – óók met vreemdes – omdat ons die noodsaaklikheid én ewige waarde daarvan besef? Amen.