2 Petrus 1: 16 – 21

Skrifgedeelte: 2 Petrus 1: 16 – 21 (2020-Vertaling)

Fokusvers: 2 Petrus 1: 21 (2020-Vertaling)

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 3

Tema: God praat met sy kinders en beveel dat sy Woorde neergeskryf word. Wat is jou gesindheid teenoor hierdie Woord?

Inleiding

Verlede week het ons by die openbaring van God stilgestaan. Ons het gekyk na die twee wonderlike maniere waarop God Homself aan ons bekendstel. Vanuit die Skrif en ons belydenis het ons gesien dat ons God kan leer ken vanuit sy Skepping en sy Woord.

God praat met sy kinders

Ons het gesien hoe die Natuur genoegsame bewyse vir ons gee om God se bestaan te erken. Enige mens – van enige ouderdom en agtergrond – sal van God bewus raak deur dít wat hulle fisies om hulle sien en ervaar. Van die kleinste insek tot die grootste sterrestelsel wys vir ons dat God die Enigste Skepper van alle dinge is. Die Natuur wys vérder vir ons dat God steeds alles in die Skepping onderhou en dat Hy konstant daaroor regeer.

In die Here se liefde maak God Homself egter nóg duideliker en nog méér volledig aan ons bekend deur sy Woord. Dit is alleen in die Bybel waar ons God kan leer ken as ons Ewige Vader Wie ons liefhet. Waar ons Jesus Christus kan leer ken as ons Enigste Verlosser Wie ons vrygekoop het. Dit is alleen in die Bybel waar ons die Heilige Gees kan leer ken as ons Enigste Trooster Wie vir ons intree by God. Ja, geliefdes, al manier hoe ons ons eie sonde kan leer ken, is as ons daarvan in die Bybel lees. Al manier waarop ons besef dat elkeen van ons vêr te kort skiet, en dat ons dríngend vrede met God moet kry, is as ons daarvan in sy Woord lees. En al hoe ons dan van sy uitverkiesende genade en vryspraak en die ewige lewe kan weet, is wanneer ons daarvan in die Here se Woord lees. Die Natuur kan dit nie vir ons wys nie, geliefdes. Al manier hoe ons die Evangelie kan leer ken, is deur die Woord van God.

Ons noem die Bybel die “Woord van God” omdat dit letterlik God se Woorde is wat vir ons opgeteken is. Vanaf die vroegste tye leer ons die Here ken as die God van verhoudings. Vanuit sy Woord is dit duidelik dat God nie net alles geskep het, en Homself van sy Skepping onttrek het nie, geliefdes. Nee, Hy bly betrokke by dit wat Hy gemaak het. Hy bly teenwoordig by sy Skepping. Hy tree in gesprek met sy Skepping. Omdat Hy die Enigste Ware God is, is Hy léwindig, waar al die afgode dooie ornamente/gedagtes is. En omdat God léwe, praat Hy en het Hy asem wat Hy dan in die belangrikste skepsels inblaas. Hy gee rede en verstand en begrip en emosie en gevoel en verantwoordelikheid vir die méns. Geen ander skepsel ontvang hierdie voorreg nie, geliefdes. En daarom is dit ook alleen met die méns met wie God in verhouding tree.

God se Stem is vir hom/haar hoorbaar en verstaanbaar – reeds in die Tuin van Eden hoor Adam en Eva God se stem: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg” (Gen. 1: 28). God wat ook vir die mens sê: “Van al die bome in die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad mag jy nié eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Gen. 2: 17, 18). Nadat Adam en Eva sonde gepleeg het, hoor hulle óók God se stem wat vra: “Waar is jy?” (Gen. 3: 9).

Selfs al stel die mens God tot só ‘n mate teleur dat God hulle uit die Tuin uitgedryf het, bly God in gesprek met die mens. Hy práát met Kain en Abel, met Noag, met Abraham en Sara. God bly in gesprek met alle gelowiges – en soos ons weet – ook met ongelowiges. Deur sy kragtige Stem en deur drome en visoeiene en deur sy boodskappers, práát God met mense. Aangesien God almagtig is, is sy Woorde ook uiters kragtig. Daar lê lewe in sy Woorde, geliefdes, ons sien dit al met die Skepping raak. Hy hoef net te praat, dan gebeur dit. Hy hoef net ‘n Woord te sê dan kom dit tot stand. Wanneer God dan, vanuit die hemel, met sy kinders praat, dan is elke Woord wat Hy sê uiters belangrik – nie net vir daardie persoon nie, maar vir alle gelowiges regoor die wereld in elke tydsgleuf van die geskiedenis.

God beveel dat sy Woorde opgeteken word sodat almal sy Woord kan ontvang

Juis omdat God se Woorde kragtig, heilig en skeppend/lewewekkend is, is dit opgeteken in die vorm van ‘n Boek. Wanneer geskiedenis vir ons baie belangrik is, skryf ons dit graag neer. Wanneer verhale en of gesprekke tussen mense of nuusberigte vir ons iets beteken, dan wil ons dit nie laat verlore gaan nie. Ons probeer ‘n mooi oomblik op ‘n foto of ‘n video vasvang en dan is ons so teleurgestel as daardie foto of video verlore raak. Hoeveel te meer behoort God se Woorde dan nie neergeskryf word nie, geliefdes? Hoeveel kosbaarder behoort hierdie openbarings van God se geheimenisse dan nie vir gelowiges te wees nie?

Want dit herinner ons nie maar net aan ‘n spesiale dag of aan ‘n intressante gesprek nie. Dit gee vir ons sin  in die lewe. God se Woord bring vir ons gemoed vrede wanneer ons baie vrae daardeur beantwoord word. Dit gee vir ons ‘n beter verstaan van onsself en van ons verhouding met mekaar – maar verál oor ons verhouding met die Here. Die Bybel is die enigste Bron waarin ons ons Enigste Verlosser, Jesus Christus, kan leer ken. En daarom is die Woord verál vir ons waardevol. Ja, God se Woord gee vir ons ‘n beter verstaan van hierdie lewe én ook die lewe hierna. Dit laat ons die dood en die oogang na die ewige lewe verstaan. God se Woord gee vir ons gedurig perspektief, geliefdes: dit troos en bemoedig en versterk ons – élke dag. Dit bring sekerheid in die mees onsekere tye. En daarom is dit vir ons opgeteken. Daarom is dit vir ons neergeskryf.

Maar geliefdes, dit was nooit ménse wat die inisiatief geneem het om God se Woorde neer te skryf nie. Geen van die Bybelskrywers het die insig gehad om dít wat God vir hulle gesê het op te teken nie. Van die vroegste tye af was dit Gód se opdag aan mense dat hulle sy Woorde moes neerskryf. Nadat die Here vir Moses vertel het wat Hy van sy kinders verwag – hoe hulle aan Hom gehoorsaam moet wees – beveel God vir Moses: “Skryf hierdie Woorde neer, want in ooreenstemming met hierdie woorde het Ek met jou en met Israel ‘n verbond gesluit” (Eks. 34: 17). Nadat die volk, Israel, die Amelekiete oorwin het, kry Moses die opdrag van God: “Skryf hierdie gebeure in ‘n boekrol neer as ‘n blywende herinnering” (Eks. 17: 14).

So het die Here sy Woorde regdeur die Bybel laat opteken. In die laaste boek, Openbaring, beveel God dit steeds vir die apostel, Johannes. In Openbaring 1: 10 en 11 lees ons Johannes se woorde: “Op die dag van die Here het die Gees van God my in besit geneem, en ek het agter my ‘n harde stem, soos dié van ‘n basuin, gehoor wat sê: “Skryf wat jy sien in ‘n boekrol op, en stuur die aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadefia en Laodisea.” Dit is dus die Hére wat sy Woorde laat opteken het, geliefdes, en Hy doen dit met ‘n doel. Hy doen dit sodat al sy uitverkore kinders sy Woord kan hoor en lees. Deur die kragtige werking van sy Heilige Gees laat Hy sy Woorde opteken sodat ons dit vandág nog kan lees. Ja, God se Woord word juis op Skrif gestel – en konstant oorgeskryf – sodat alle geslagte van God se liefde en verlossing – maar ook van God se regverdige oordeel – kan lees.

Wat is jou gesindheid teenoor hierdie Woord?

Wie is dit wat vir ons verlossing bring? En Wie is die Een wat oor ons almal gaan oordeel? God se Woord maak dit aan ons duidelik dat dit Jesus Christus is. Hysélf is God se Woord, geliefdes, en daarom openbaar Hy dan Homself op ‘n baie spesifieke manier aan ons deur sy Woord. Ons weet tog dat God, die Vader, alles geskep het deur net ‘n Woord te sê – deur net te praat. O.a. maak Paulus dit vir ons baie duidelik in Kolossense 1: 15 en 16: “Die Seun die Beeld van die Onsigbare God, die Eersgeborene oor die héle skepping; want deur Hóm het God álles geskep; alles in die hemel en op die aarde, al die sigbare en onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep.

Johannes 1 bevestig dit: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was sélf God. Hy was in die begin al by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sónder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.” “En hierdie Woord het Mens geword en onder ons kom woon” (verse 1 – 3, 14). In God se liefde laat Hy ook alles wat sy Seun hier op aarde kom doen het, opteken. Al die beloftes van sy koms, al die profesieë, al die skaduwees wat vooraf vir ons gegee is, is vir ons opgeteken sodat ons Hom kan kén as Hy werklik Mensword. Al sy goeie dade, al sy wonderwerke, al sy lyding ter wille van gelowiges, al sy opoffering word vir ons neergeskryf. Tot in die fynste detail word daar genotueer wat aan die kruis met Hom gebeur het – hoe Hy onregverding veroordeel is, gely het, en uitendelik gesterf het. Maar daar word óók op ‘n besondere manier beskryf hoe dit was nadat Hy uit die dood uit opgestaan het. Die verwondering, die ongeloof, die geloof, die vreugde – ja, dit alles word vir ons neergeskryf, geliefdes. Ook die belofte van sy wederkoms word vir ons opgeteken!

Apostels, soos Petrus en Johannes en Jakobus, was oog- en oorgetuies van Jesus Christus se lewe hier op aarde. Hulle het Hom wérklik gesien. Hulle het Hom hóór praat. Hulle kon fisies aan Hom vat. Petrus sê in ons fokusvers dat hulle saam met Hom op die heilige berg was toe God gesê het: “Dít is My geliefde Seun oor Wie Ek My verheug. Luister na Hóm!” (Matt. 17: 5). As die Ewige, Almagtige God dít van Jesus Christus sê, wie kan in sy Woorde twyfel? Hulle het eersthands God se heerlikheid aanskou (vgl. Joh. 1: 14) – hulle het God se heilige teenwoordigheid beleef. Wie kan dan twyfel in dít wat hulle wérklik gesien en gehoor en ervaar het?

In die Here se genade het Hy – deur sy Heilige Gees – hierdie Heilige Evangelie laat opteken. Ons fokusvers maak dit aan ons duidelik, geliefdes: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Maar, deur die Heilige Gees gedryf, het die die heilige mense van God gespreek.” Opregte Woordverkondiging – suiwere Woordbediening – is dus nie ‘n mens se eie woorde nie, geliefdes. Dit is Gód se Woord wat deur die Heilige Gees aan ons verklaar word. Selfs vandag nog ispireer God, die Heilige Gees, predikers om die Evangelie verstaanbaar en korrek te verklaar.

Die Grieks gebruik hier die beeld van ‘n skip se seile wat ten volle uitgespan is en dan deur ‘n geweldige sterk wind gedryf word. Die drywer van die skip het geen effek teen daardie stormwind nie – die kragtige wind sal die skip neem waarheen die skíp wil. So is dit ook met ‘n gehoorsame verklaarder van God se Woord: hy sal altyd homself laat lei en stuur en rig deur die Heilige Gees, want die Heilige Gees is die énitlike Skrywer maar óók Verklaarder van God se Woord.

Wanneer ons dit besef en erken dan behoort ons na ons eie houding teenoor God se Woord gaan kyk. Lees ons die Bybel met die regte gesindheid, geliefdes? Sien ons dit wérklik as Gód se Woord of behandel ons dit as maar net nóg ‘n Boek? Het ons ‘n liefde en respek vir die Bybel omdat dit God se eie Woorde is? Besef ons die waarde daarvan? Besef ons die noodsaaklikheid van God se Goeie Nuus in ons en ons geliefdes se lewens?

En wat van ons gesindheid waarmee ons na preke luister? Besef ons dat dit die Heilige Gees is wat gedurende die week met die predikant gewérk het, en dat dit eintlik Gód se Stem is wat ons op ‘n Sondag hoor? Ja, hoor ons sy Stem in die preke? Kom sy Stem helder en duidelik na vore? Gaan die preek alléén oor die Woord van God – oor die Evangelie? Of gaan die preek oor ‘n mens se éie sienings? Mag ons aanhou bid dat ons maar net één Stem onder die erediens en by Bybelstudies hoor – en dit is Gód se Stem!

Slot

In die Here se geweldige liefde vir sy uitverkore kinders laat Hy sy Woorde opteken sodat almal Hom kan leer ken. As ons Ewige Vader tree Hy in gesprek met die mens en praat Hy daagliks met ons. Hy gee sélf die opdrag dat sy Woord neergeskryf word, sodat ons sy Woord éwig by ons kan hê. Sodat ons sy Woorde kan koester en náby hou, want sonder sy Woord is ons verlore, geliefdes.

Mag die Heilige Gees kragtig in ons werk sodat ons ‘n liefde vir God se Woord sal kweek. Mag Hy ons inspireer sodat ons werklik sal gló dat die Bybel God se Woorde bevat. Mag Hy ons soos ‘n geweldige sterk wind aanwaai sodat ons, in gehoorsaamheid op sy Woord, sal doen wat Hy van ons vra. Sal beweeg in die koers wat Hy wil. Teen die tempo wat Hy bepaal. Amen.