Skrifgedeelte: Psalm 139: 1 – 18 (1983-Vertaling)
Fokusvers: Psalm 139: 14 (1983-Vertaling)
Tema: God skep en onderhou sy kinders op ‘n wonderbaarlike manier.
Inleiding
In Psalm 139 leer ons soveel verskillende eienskappe van God ken. Eerstens leer ons sy Alwetendheid ken wanneer die Psalmdigter sê: “U is die Een wat my sit en my opstaan kén.” “Al my paaie is aan U bekend.” Ja, daar is nog nie ‘n woord op my tong nie, en kyk, U ken dit vollédig, Here!” (vers 1-4). Ons leer ook die Here se Alomteenwoordigheid ken as die Psalmdigter in vers 5 – 12 bely: “Waarheen kan ek gaan, weg van U Gees? Waarheen kan ek vlug, weg van U teenwoordigheid?” Verder leer ons die Here se Heerlikheid ken as die Psalmdigter dit vergelyk met die helder sonlig en die feit dat die duisternis vir Hom so lig soos die dag is (vers 11 en 12).
Maar dan leer ons óók nog God as ons wonderlike Skepper ken. In sy Almag skép Hy nie net die mens nie, maar onderhóú God ons ook – van ewigheid tot in alle ewigheid. Dit is dan verál op hierdie twee laaste karakter-eienskappe van die Here waarop ons in vanoggend se preek gaan fokus.
God skep die mens op ‘n wonderbaarlike wyse
Aan die begin het God alle dinge geskep en dit was goed, maar toe Hy die mens geskep het, lees ons dat God gesê het dat dit báíe goed was (Gen. 1: 31). Nadat God die mens geskep het, hanteer Hy die mens totaal en al ánders as énige van sy ander skepsels. Nie net kondig God-Drie-Enig vóóraf aan dat Hy die mens gaan skep nie (Gen. 1: 26), Hy besluit óók dat Hy deur die mens verteenwoordig sal word én God skep die mens na God se beeld. Die Skepper vind groot vreugde in die mens wat Hy gemaak het, want hierdie skepsel is ánders as ál die ander dinge wat Hy geskape het. Die mens is anders as die son en die maan en die sterre. Die mens is anders as die water en die gras en die insekte en die soogdiere. Die mens is uniek en is skepsel na eie reg. Verder is die mens is ook as “mens” geskep – van die begin af. Die mens kom nie van iets anders af nie – die mens het nie uit ‘n dier of enige iets anders geëvoleer nie. Dit is duidelik dat God die mens geskep het soos ons vandag hier sit, met ‘n rasionele verstand wat kan praat en kommunikeer. Ons kan redeneer en kreatief wees. Van God se wonderlike eienskappe word selfs, in God se liefde, aan die mens oorgedra. Dit is nét aan die méns wat God hierdie eienskappe gee, en dít is wat die mens uniek en besonders maak, geliefdes.
Die mens is ook die enigste skepsel wat, deur God, ‘n opdrag gegee word: In Genesis 1: 28 kry Adam en Eva die opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder. Die Here wil dus meer mense op aarde hê, want die mens is vir Hom kosbaar. Daarna kry die mens ook ‘n unieke opdrag van God: “bewoon die aarde en bewerk dit.” Dit is weereens nét aan die mens wat God die opdrag gee om die aarde te bewerk. Met hierdie opdrag gee God aan sy kinders die voorreg om met die skepping besig te wees – om bestuurders te wees van dit wat Hy gemaak het. God gee juis aan die mens hierdie opdragte, want God het álle mense op ‘n wonderbaarlike wyse gemaak! Wanneer ons besef hoe kosbaar ons, as mense, in sy oog is, wíl ons aan God gehoorsaam wees en alléén sy Naam verheerlik.
Want, geliefdes, ons God is die Enigste Here, daar bestaan nie énige ander gode buiten Hom nie (vgl. o.a. Deut. 32: 12, 39; Jes. 45: 5, 6 en 22; Hand. 4: 14). Niemand ánders, behalwe die Vader en die Seun en die Heilige Gees, was by die Skepping van die wêreld teenwoordig nie. Niemand ánders kan die heelal se kragte bestuur nie – alléén die Hére doen dit. En Hy is stééds élke sekonde by sy skepping betrokke. Hy weet van alles. Hy bepaal alles. Hy stuur alles. Hy regeer oor alles. Wanneer ons erken dat God oor alles regeer, dan doen Hy dit spesifiek deur sy Seun, Jesus Christus. God het ook deur sy Seun alles geskep. Kolossense 1: 15 – 17 maak dit só duidelik: “Want deur Hom (Jesus Christus) het God álles geskep: alles in die hemel en op aarde, die sigbare én die onsigbare dinge – of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Voor álles was Hý al daar, en deur Hóm bly alles in stand.” Die apostel, Johannes, sê dat Jesus Christus ook God se Woord genoem word: “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was sélf God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sónder Hom het selfs nie één ding wat bestaan, ontstaan nie” (Joh. 1: 1 – 5). Dit is waarom God in die begin net ‘n Woord kon sê het, en dit was daar. Hy skep deur sy Seun en Hy gee ook alle gesag oor die Skepping aan Hom. God skep nie net deur sy Seun, Christus, en dan onttrek Hy Hom van sy Skepping nie. Nee, Hy is élke dag daarmee besig. Hy sorg en bestuur nog élke dag alles in die heelal.
Psalm 104: 28 sê dat dit Gód is wat vir mens en dier sorg – as Hy sy Hand oopmaak, dan word álles versadig met dit wat goed is. Soos ons weet, het God nie net deur sy Seun geskep nie, maar óók sy Seun na hierdie gebroke wêreld toe gestuur. Dit was nodig vir Jesus Christus om Mens te word, want die mens het nie nét die skepping verniel nie, maar ook God en sy naaste gehaat. Alle mense het in sonde geval, maar daar is sékere mense wat die Vader wil red. Daar is ‘n volk waarmee God ‘n Verbond sluit – daar is ‘n handjie vol mense wie Hy uitverkies het en wie Hy opreg liefhet. En dit is ter wille van hierdie mense dat Jesus Christus Mens word en selfs later sterf. Met sy bloed aan die kruis betaal Hy vir ál die sondes wat God se uitverkore kinders gedoen het. Óók vir die sondes van klein …. Want ook hy/sy, is deur die Here se genade, deel van die Verbond. Vanoggend kry hy/sy die teken daarvan dat God hom/haar rééds sy kind gemaak het.
God onderhou sy kinders op ‘n wonderbaarlike wyse
In Psalm 139 leer ons ook die Here as die Verbondsgod ken. Die Naam JHWH word in hierdie Psalm gebruik, wat ons daarop wys dat God nie nét die mens se Skepper is nie, maar dat Hy óók met sy kinders in ‘n verbond/verhouding tree. En hierin sien ons die Here se besóndere genade raak, geliefdes. Want dit is so dat Hy álle mense op ‘n wonderbaarlike wyse skep, maar dit is slégs sy uitverkore kinders wie Hy op ‘n wonderbaarlike wyse onderhou. En dít is wat ons so innig dankbaar teenoor die Here maak, geliefdes! Weens ons geloof in God-Drie-Enig gaan ons oë oop sodat ons die wonderlike impak hiervan op ons hele menswees kan besef. God het ons nie net op ‘n wonderbaarlike wyse geskép nie, maar ons ook op ‘n wonderbaarlike wyse verlós, deur Christus.
Omdat sy bloed rééds gevloei het, is dit nie meer nodig dat mense-bloed moet vloei nie. Die teken van die Nuwe-Testamentiese verbond is nou wáter, wat daarop dui dat die gelowige van sy/haar sonde skoongewas is. Soos water ‘n vuil liggaam skoonwas, só reinig Christus se bloed ons van álle sonde. … ontvang vandag hierdie teken en ons sien vandag hierdie teken wanneer ons die sakrament van die Heilige Doop vier. Vandag verseël die Here aan hom/haar sy wonderlike beloftes, nl. dat Hy hom/haar rééds in sy volmaaktheid geskep het. Dat Hy hom/haar rééds sy kind gemaak het en dat Hy hom/haar van al sy/haar sondes reinig. Dit is nie die doop-water wat hom/haar reinig nie, maar die bloed van ons Here, Jesus Christus. Die water wat ons netnou oor sy/haar kop gaan sien vloei is maar net vir ons ‘n teken dat al hierdie beloftes van God die Waarheid is.
Dit is egter nét vir ware gelowiges wat die sakrament van die Doop spesiaal en kosbaar sal wees, geliefdes. Vir ‘n ongelowige sal dít wat vandag hier gebeur, glad nie saakmaak of selfs sin maak nie. Dit is net ons, en ons kinders, wie die insig ontvang om wérklik God se grootheid en sy genade te besef. Soos die digter van Psalm 139 kan elkeen van ons vandag ook bely: “Wat U gedoen het, vervul my met verwondering!” (vers 14). “En vir my, hoe kosbaar is U gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan!” (vers 17). Want ons elkeen kom weer tot die besef van die wonder van lewe! Verál ons, as ouers, staan verstom oor die manier waarop God ons seuntjie/dogtertjie gevorm het. In die fynste detail het God haar letterlik “aanmekaargeweef” sê vers 13. Soos iemand steek vir steek iets sou brei of borduur, so vorm God ‘n baba – daar waar niemand kan sien nie. Selfs al kan ons nie ons eie organe of bene sien nie, sien Gód dit raak, want Hy is Alsiende, geliefdes. God het elkeen van ons – ook … – al gesien nog voordat ons gebore was. Psalm 139: 16 maak dit vir ons duidelik dat God ons elkeen se lewe lankal reeds bepaal het. Lank voordat bevrugting plaasgevind het, het God rééds bepaal hoe ons hele lewensverloop gaan lyk – tot in die fynste detail.
Dít is die manier waarop ons die Here leer ken in Psalm 139 – as alwetend, alomteenwoordig, alsiende. Ons leer die Here ken as ons Skepper, ons Heilige Vader Wie ons verlos deur sy Seun, Jesus Christus. Ons genadige God wat aan ons ‘n teken gee om sy beloftes aan ons ‘n groter realiteit te maak. Maar geliefdes, ons leer óók die Here ken as ons Ewige Verbondsgod, want ons leer nie net Hóm ken nie, Hy ken ook elkeen van óns. Ten volle. Die manier waarop God sy kinders ken, is nie maar net om van hulle bestaan te weet, of te weet waarvan hulle hou of nie. God ken ons deur en deur, geliefdes, omdat Hy ons geskep het, maar óók omdat Hy ons elke dag onderhou. Hy is elke sekonde intiem betrokke by ons héle lewe. Hy weet wanneer ons in nood verkeer. Hy het werklik empatie met ons, as gebroke sondaars. Ja, geliefdes, God ken my tot in die fyste besonderhede van my lewe. Hy ken my sit en my opstaan. My Vader is bewus daarvan as ek gaan lê. “Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees” (vers 4).
Geliefdes, vul hierdie wete ook u met verwondering? Dat ons Almagtige Skepper ons in elke opsig van ons hele bestaan kén. Hy ken kinders beter as wat aardse ouers hulle ooit sal ken. God ken van lankal reeds vir … en weet reeds álles van hom/haar af. Hy het hom/haar so innig lief dat Hy hom/haar ook wil reinig met sy Seun se kosbare bloed. Omdat Hy ons, as ouers, ken en liefhet, gee Hy ook aan ons ‘n teken – die vaste sekerheid dat Hy reeds sy beloftes van verlossing en die ewige lewe aan haar verseël.
En daarom staan ons, as ouers, en julle as gemeente in volle verwondering teeonoor God vanoggend. Saam met die digter van Psalm 139 wil ons die Here loof en prys en dank! Ons wil ook die Here vanoggend loof omdat Hy vir … op so ‘n wonderbaarlike wyse geskep het. En dit is nie net ons, as volwassenes, wat God se grootheid raaksien nie. Psalm 8: 3 sê dat selfs kinders en suigelinge die magtige werk besing wat God tot stand laat kom het. Ja, geliefdes, al God se kinders word met verwondering vervul wanneer hulle wérklik besef op hoe ‘n wonderlike manier God hulle geskep het, maar ook – deur sy genade – in alle liefde hulle onderhou.
Slot
Psalm 139 is een van die Psalms waarin ons die meeste eienskappe van God leer ken. In hierdie Psalm leer ons sy Alwetendheid en sy Alomteenwoordigheid ken. Ons leer God ken as ons Ewige God – ons Almagtige Skepper en Onderhouer. Maar dan wys hierdie Psalm ons ook vérder op Jesus Christus deur Wie God alles geskep het. Te danke aan sy Menswording en volmaakte gehoorsaamheid, is sy Offer aan die kruis méér as voldoende om álle gelowiges van hulle sondes rein te was. Boonop wys hierdie Psalm ons óók op die Here as ons Enigste Verbondsgod Wie hierdie klein dogtertjie deel maak van sy Ewige Verbond.
In sy genade sluit Hy hom/haar in omdat Hy hom/haar kén. Hy ken sy/haar vrese. Hy ken sy/haar bekommernisse. Hy ken sy/haar nood – ook dít wat hy/sy in die toekoms in die gesig sal moet staar. Hy ken ook sy/haar vreugdes en sy/haar dankbaarheid teenoor Hom. God verheug Hom in hierdie persoon wie Hy geskep het, geliefdes. Want – ook hóm/háár – het Hy op ‘n wonderbaarlike wyse gemaak! Amen.