Romeine 11: 1 – 24

Skriflesing: Romeine 11: 1 – 24 (2020-Vertaling)

Fokusvers: Romeine 11: 20 en 21 (2020-Vertaling)

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 27

Tema: Deur God se genade maak Hy jou deel van sy Kerk. Besef jy jou voorreg?

Inleiding

Hoe belangrik is kerbywoning vir jou? Fisiese kerkbywoning? Ons leef al lankal in ‘n tyd wat kerkbywoning nie meer só belangrik is vir baie mense nie. Ons word nie enigsins deur die wêreld of deur die regering geprys of bevoordeel omdat ons lidmate van ‘n kerk is nie. Ons word nie meer – soos in die verlede – bó ‘n ander kandidaat by ons werksplek verkies wanneer ons kan bewys dat ons deel is van ‘n gemeente nie.

Dit gaan al lánkal só, geliefdes, maar dinge het die afgelope drie jaar drásties verander. Ná die COVID-19 pandemie het kerkbywoning, regoor die wêreld, afgeneem. Lidmate gebruik allerhande verskonings om nié meer fisies saam te kom nie. Baie lidmate sal redeneer en sê dat hulle wél na die erediens luister of kyk. Ander gebruik weer hul gesondheid – of selfs die kóúe as verskoning. Hierdie tipe verskoninngs sou nog geldig wees indien die lidmate vir ‘n paar maande nie in die erediens gesien word nie. Maar daar is selde iemand in ons gemeente wat járe lank bedlêend is. En dis verséker nie heel jaar Winter nie. Predikante en ouderlinge hoor oor en oor hoe lidmate hulself met flou verskonings probeer verdedig wanneer daar aan hulle gevra word waarom hulle kerkbywoning so uiters swák is.

Dit is genade om deel van die Kerk te mag wees

Vanuit vanoggend se Skrifgedeelte en ons Belydenis, is dit duidelik dat dat ‘n mens se gesindheid oor die Kerk baie belangrik is. Ons moet nie toelaat dat die beeldspraak en die metafore ons verwar en laat dink dat hierdie ‘n “moeilike” hoofstuk is nie, want Romeine 11 handel dood eenvoudig oor ‘n mens se plek in die Kerk. Daar is dié mense vir wie die Kerk belangrik is, en dan is ook daardie mense vir wie die Kerk glad nie belangrik is nie. Romeine 11 praat met beide hierdie groepe. In die eerste paar verse word ons, wie lief is vir die Kerk, aangespreek. Mense wat dalk besorgd oor die stand van sake in die Kerk is – mense wat dalk bekommerd oor die afname in lidmaat-getalle in ons Kerkverband is – met húlle word daar in verse 1 tot 5 gepraat.

In vers 1 hoor ons die Here hoegenaamd nie sy volk verstoot het nie. Dit is glád nie waar dat God sy volk in die steek gelaat het nie. Soos ons weet, was die volk, Israel, die volk van die Here. Dit is met die Israeliete wie die Here ‘n Verbond gesluit het, en dit is aan húlle wie God al sy wonderlike beloftes bevestig. En tog was daar baie van hierdie Israelite wat niks met die Here se genade te doen wou hê nie. Dit het vir die res van die volk – die bietjie wat oorgebly het – gevoel asof hulle gaan vergaan. Net soos in die Ou-Testament is daar, ook in Paulus se tyd, mense wat gedink het dat dit die einde van die gelowige geslag is. Die oomblik wat ‘n mens sy/haar sonde besef en op ‘n manier met God se oordeel te doen kry, besef ‘n gelowige dat niemand dit werd is om voor God staande te bly nie. Die eerste boodskap van God in hierdie gedeelte is dat God se genade egter groot is teenoor dié wat Hy uitverkies het. Selfs al ís daar sommige lede van God se volk wie Hom diep teleurstel, verstoot Hy hoegenaamd nie ál sy kinders nie. Hiervan is Paulus ‘n lewende bewys. Hy sê dat hy immers sélf ‘n Israeliet is, ‘n fisiese afstammeling van Abraham – meer nog – uit die stam, Benjamin. En hier is hy – steeds ‘n gelowige. Steeds iemand wie die Here se genade in hulle tyd ervaar. Iemand in wie die Heilige Gees krágtig aan die werk is. Hy is dus ‘n sprekende voorbeeld – ‘n bewys – dat God nié sy volk verstoot het nie.

Om sy argument te staaf haal Paulus (én ons Belydenis) ‘n gedeelte uit die Ou-Testament aan toe die Here se volk – die Kerk – baie klein was. In 1 Konings 19 (v. 10 en 18) lees ons van die vreeslike verskynsel toe daar mense vanuit die volk, Israel, was wat die Here se profete doodgemaak het. Die Here se altare – die aanbiddingsplekke van destyds – is afgebreek. En dan hoor ons dat die profeet, Elia, sê dat dit nét hy is wie oorgebly het en dat dit vir hom ook voel asof hulle sy lewe soek. God antwoord Elia egter dat hy nie alleen is nie, maar dat God nóg sewe duisend mans laat oorbly het wat, net soos Elia, getrou en gehoorsaam bly. Paulus sê vir die gelowiges in Rome dat daar nou, in hulle huidige tyd, ook ‘n oorblyfsel gelowiges oorgebly het. Dit is nie op eie meriete dat hulle van uitwissing gespaar is nie, maar deur die genade is hulle deur God uitgekies.

Ons kan ook vandág met hierdie belofte getroos word, geliefdes. Want ook óns is deel van God se Verbond – deur die genade. Omdat ons uitverkies is, is ons deel van die geestelike Israel – ons sal weer netnou daarvan hoor. Selfs al ervaar ons dan ‘n daling in lidmaat-getalle of selfs al word ons op ‘n manier vervolg, bely ons stééds dat God sy Kerk van die woede van hierdie wêreld bly bewaar. Selfs al is die Kerk deur die geskiedenis – en dalk in ons tyd – klein, en selfs al lyk dit vir sommige mense asof die Kerk tot niet wil gaan, hou ons vas aan die Here se belofte in Mattheus 16: 18 wat sê dat die poorte van die hel nooit die Kerk sal oorweldig nie. Die Here se uitverkore volk word – van die vroegste tye af – deur Hom bewaar.

En dan maak Paulus van twee illustrasies gebruik om ‘n mens se deel-hê aan die Verbond te verduidelik. Hy praat in vers 16 van ‘n “eerste stuk deeg” wat aan die Here gewy is, wat veroorsaak dat die res van die deeg óók aan Hom gewy word. Die apostel verwys hier na die sg. “eerstelinge-offer” wat in Numeri 15 deur die Here beveel word. Die volk, Israel, moes destyds die eerste brood wat hulle van ‘n baksel deeg gemaak het, aan die Here ge-offer het. Hierdie daad van dankbaarheid en geloof, sou dan die res van die baksel se brode op ‘n manier heilig.

En dan sê Paulus dat presies dieselfde vir ‘n boom se wortels en takke geld. Wéér maak hy van ‘n alledaagse beeld gebruik om God se genade te verduidelik. “As die wortel heilig is, dan ook die takke.” Net soos die eerste brood die hele baksel geheilig het, net só heilig ‘n boom se wortels daardie boom se takke. ‘n Boom se takke en blare en vrugte is die sigbare resultaat van hoe daardie boom se wortels lyk. ‘n Boom met gesonde takke en blare, se wortels is ook gesond en ‘n boom met verlepte blare en vrot vrugte, se wortels is siek. Die “wortels” waarvan Paulus hier praat, dui op die aartsvaders waarmee God die Verbond aanvanklik gesluit het. God het sy heilige Verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit om hulle in Hom te heilig. Om hulle vir Hom af te sonder. Die volk, Israel, word gewoonlik die “mak olyfboom” genoem en daar word dikwels na die heidene as die “wilde olyf” verwys. Wanneer ons dan lees: “as die wortel heilig is, dan ook die takke” dan beteken dit dat die Here se volk deur Hom geheilig word – hulle kry deel aan God se Verbondsbeloftes – omdat daar met hulle Joodse voorvaders ‘n Verbond gesluit is.

Besef jy jou voorreg?

Maar dan lees ons nét in die volgende vers dat daar sommige van die mak olyfboom se takke uitgebreek is, om plek te maak vir die wilde-olyf. Omdat daar sommige Jode is wat God minag – Jode wie God se volk indoen en God se genade wegstoot – breek God hulle uit sy Verbond en vervang Hy hulle met wilde-olywe. Deur die Here se genade is daar baie mense, wie nié direkte afstamelinge van die Jode is nie, wie ook mag deel word van die Here se Verbondsvolk. Húlle is die sg. “wilde-olywe” wie in die mak olyfboom ingeënt word. Geliefdes, die meeste van ons is nié biologiese afstamelinge van die Jode nie, en tóg maak die Here ons deel van sy Verbond. Daarom praat ons van die “geestelike Israel” wat nét so geldig is. Alleen te danke aan Christus se Verlossing van ons sondes word ons deel van hierdie geestelike Israel. Ons kan nooit ons status as “geheiligde kinders van die Verbond” verdien nie, geliefdes. Dit is alléén te danke aan God se uitverkiesende genade. Omdat ons deur Christus se bloed geheilig is, word óns ook eenkant geplaas vir God. Deel óns ook in ál die beloftes van God.

Die Kerk is die manier waarin God se Verbond prakties uitvoering kry én waarop dit vir ons, as gelowiges, sigbaar word. Die gemeente, waar ek lidmaat is, is die plek waar ek dít wat God hier in Romeine 11 sê prakties kan kom ervaar. Deur Christus gebruik God die Kérk om sy Koninkryk te vestig en ook uit te brei. Dit is híér waar ons sien hoe wilde-olywe deel mag kry aan die mak-olyfboom. Waar ons gevoed en versterk word deur die voedingskrag van die Woord (vers 17). En waar ons – deur die Heilige Gees – vrug kan dra omdat ons Wortel, Jesus Chrustus, Lewend en Volmaak is.

Die feit dat ek nou – deur die genade – in God se Verbond ingesluit word, mag my nooit hoogmoedig maak nie. Ek mag nooit dink dat ek beter as ander is, en dat my goeie werke béter as hulle sin is, en dat ek dit verdíén om hier te wees nie. Nee, geliefdes, ons fokusvers maak dit duidelik: “Moenie hooghartig wees nie, maar wees vol ontsag.” Elkeen van ons behoort vol respek en verwondering teenoor die Here te wees – juis omdat Hy ons – wie maar wilde olywe is – deel maak van sy Verbond. Elkeen van ons kom vanoggend tot die besef dat dit net genade is dat ons is wie ons is. Dit is weens God se goedheid dat Hy ons deelgemaak het van sy Verbond en ons, wie in Hom glo, ingeënt het in Hom. Ons tweede fokusvers maak dit duidelik dat ons mooi moet oplet wat ons gedrag behels, want “as God nie eens die natuurlike takke gespaar het nie, is dit moontlik dat Hy ons, wie ingeplant is, ook nie sal spaar nie”. Geliefdes, God is regverdig. Hy tree óp teenoor dié wie hulle rug op Hom draai – teenoor dié wie aktief teen Hom sondig. Sulke mense, wie Hom en sy genade minag, en met hulle optrede wys dat hulle nie na die Here se wil luister nie, sal, soos ‘n boomtak, uitgekap word (vers 22). En daarom roep die Here ons, in alle liefde op om in sy goedheid te bly, geliefdes, want ook óns kan uitgekap word.

Geliefdes, dit is dus uiters noodsaaklik dat gelowiges náby aan die Here bly leef – elke liewe dag. ‘n Kenmerk van ‘n ware gelowige is dat hy/sy in die Here se goedheid bly – in alles wat ons doen. Wanneer Hy my baie spesifiek in die vierde gebod beveel om ‘n Sondag ánders te spandeer as die res van die week, dan herinner Hy my om in sy goedheid te bly. Wanneer ek, vanuit die Skrif, duidelik kan raaksien hoe belángrik dit vir die Here is om fisies Kerk toe te kom om Hom te kom ontmoet en Hom te kom eer, dan bly ek in die goedheid van die Here. Soos ons reeds gesê het, is dit alleen op grond van die Here se genade dat ek hier mag wees – dat ek deel mag wees van sy geestelike huisgesin. Dit het Christus se totale opoffering en fisiese dóód gekos het om my deel te maak van hierdie geloofsgemeenskap. Besef ek dit wérklik of dink ek allerhande flou verskonings uit om my afwesigheid op ‘n Sondag te regverdig?

Slot

Geliefdes, mag hierdie paar verse uit Romeine 11 elkeen van ons – maar veral húlle by die huise – wakker skud. Mag elkeen van ons besef watter geweldige voorreg dit is om deel van ‘n gemeente te mag wees. Ons is nie hier uit énige iets wat ons sélf vermag het nie. Ons is hier omdat die Here ons in sy genade ingeënt het. Uit dankbaarheid dáárvoor verwag die Here van my om in sy goedheid te bly. Om met ‘n vreugde en met ‘n lus en ‘n ywer Hom fisies te kom aanbid.

En al is ons getalle dalk min, is dié wat hier is, híér omdat hulle gehoorsaam is. Die Kerk sal áltyd daar wees, geliefdes, want Christus is die Koning van die Kerk. Hy sal altyd sorg dat daar takke is wie in Hom ingeplant is. Kom ek maak seker ek is ‘n tak is wat God nie nóóít sal wil uitkap nie. Amen.