1 Johannes 4: 7 – 21

Skriflesing: 1 Johannes 4: 7 – 21

Fokusverse: 1 Johannes 4: 19 – 21

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 28

Tema: In antwoord op God se liefde reageer ons in físiese wederliefde

Inleiding

Hoe belangrik is die mense rondom jou vir jou? Nie jou eie gesin of familie of vriende nie – hierdie mense wat vandág saam met jou in die Kerk sit. Hoe balangrik is die mense van hierdie gemeente vir jou?

God se liefde word sigbaar deur die geheel

In verlede week se preek het elkeen van ons diep onder die indruk gekom van watter groot voorreg dit is om deel van ‘n gemeente te wees. Die meeste van ons is opnuut wakker geskud deur die beeld wat die apostel Paulus gebruik het oor die mak olyfboom en die wilde olywe. In die Here se genade laat Hy sekere wilde olywe deel kry aan die mak olyfboom. Omdat sekere mak olyftakke se blare verlep is, en omdat hulle vrugte vrot is, kap God hierdie takke af en vervang Hy hulle met wilde-olywe.

Ons het gehoor hoedat hierdie beeld op God se Verbond dui en op hoe Hy mense deel maak van sy Verbond en ander wegneem uit sy Verbond. God verwag dus totale dankbaarheid en gewilligheid – Hy verwag nuwe lewe en groei. Hy verwag van ‘n mens om in sy goedheid te bly en om vrugte van dankbaarheid en gehoorsaamheid te dra. Indien dit nié die geval is nie, kap Hy ‘n mens uit en vervang Hy ‘n mens met iemand ánders. Maak nie saak as ons dalk voel dat hierdie ‘n harde of onregverdige Boodskap is nie, geliefdes. God-Drie-Enig is totaal en al soewerein en hoef Homself aan niemand te verduidelik nie. Dit is vir Gód om te besluit hoe Hy sy Verbond prakties wil laat lyk, want sy Seun, Christus, is die Koning van die Kerk. Selfs al is ons deel van ‘n krimpende kerkverband, bely ons nógtans dat Christus die Ewige Koning van die Kerk is wat nooit sonder onderdane kan wees nie (NGB artikel 28).

Geliefdes, hierdie gedagte van “onderdane van ‘n Koning”, “takke aan ‘n Boom” of “lede van ‘n Verbondsvolk” is ‘n gedagte/tema wat regdeur die Bybel na vore kom. Die Here maak gedurig van hierdie kollektiewe gedagte in sy Woord gebruik. God, die Vader, het nooit vir sy kinders bedoel om alléén deur die lewe te gaan nie. Reg van die begin af het God hierdie gedagte van gemeenskaplikheid gehad – en daarom skep Hy nie nét Adam, as individu, nie. Nee, God sê Self: “Dit is nie goed dat die mens alléén is nie. Ek sal vir hom ‘n helper maak, as sy gelyke” (Gen. 2: 18). ‘n “Helper”. Ons het mekaar nódig geliefdes. Ons word geroep om mekaar by te staan. Te help. In die huwelik verál – maar óók in die Kerk. Ons moet nie dink dat God vir Eva gemaak het net om goeie geselskap vir Adam te wees en om hom te ondersteun nie. God maak hul baie spesifiek mán en vróú omdat Hy ‘n gelowige nageslag wil hê. Daarom ontvang hulle dan die opdrag van God: “Wees vrugbaar, vul die aarde, en onderwerp dit” (Gen. 1: 28). God bemoei Homself dus nie nét met een of twee gelowiges nie, maar met der duisende – in hulle geslagte.

Dit is verder opmerklik dat dit nie nét met Abraham was wie God sy Verbond gesluit het nie. Wanneer God die Verbond met Abraham sluit, eis Hy gehoorsaamheid van Abraham – maar óók van Abraham se nageslag. God belowe aan hom dat Hy die land Kanaän aan Abraham se nageslag sal gee en dat Hy ook sy kinders en kindskinders se God sal wees. In die Here se genade vorm Hy dan ‘n groep mense – sy uitverkore Verbondsvolk. Ons weet verder dat God ons Skepper is en dat ons sy skepsels is. God is ons Vader en ons is sy kinders. En so sal ons hierdie tema van gemeenskaplikheid en gesamentlikheid regdeur die Bybel vind.

In die Nuwe Testament word hierdie gedagte selfs vêrder uigebrei. Wanneer God, in sy liefde, sy Enigste Seun na hierdie aarde toe stuur, dan hoor ons by Christus hoe belangrik die gelowiges – as geheel – vir sy Vader is. Ons hoor, eerstens, hoe Jesus na Homself as die Ware Wingerdstok verwys en na sy Vader as die Landbouer. Gelowiges, sê Hy, is die lote wat in die Druiwestok ingeënt is. Soos ons weet, is daar maar net één druiwestok, maar daardie druiwestok het verskeie lote wat uit dit uitgroei. Al die lote, saam, verrig ‘n fuksie. Omdat hulle in Christus bly, dra hulle gesámentlike en veelvóúdige vrug tot eer van God. 

Jesus sê in Johannes 10 dat Hy die “Goeie Herder” is en dat gelowiges sy “skape” is. Wéér hoor ons hierdie gedagte van ‘n groep. Christus vergelyk uitverkore kinders van God met ‘n hele kráál skape. In alle eenvoud en gehoorsaamheid, luister die skape na hul Herder se stem, want hulle kén Hom en hulle vertróú Hom. By Hóm is daar sekuriteit. Daarom luister sy skape as Hy hulle by die naam roep. Hy laat hulle ‘n tróp vorm want sáám is hulle veilig. Wanneer hulle in die kudde bly, dan sal die gevaar hulle nie so maklik kan teiken nie. Hoe waar is dit nie vir ons geloofslewe nie, geliefdes? Wanneer ons deel is van ‘n gemeente is, is daar soveel meer gawes – soveel meer geestelike oë wat ons kan waarsku teen die gevaar van misleiding wat kan uitloop op die ewige dood. Aan die einde van hierdie treffende gelykenis sê Jesus dat die Goeie Herder selfs bereid om sy eie léwe vir die skape af te lê – omdat Hy hulle so innig liefhet.

Hierdie gedagte van Christus se opofferende liefde het baie sterk ooreenkomste met die gedeelte wat ons vanoggend gelees het. In 1 Johannes 4 kry ons die opdrag om mekaar lief te hê en ons motivering vir hierdie onderlinge liefde is die liefde van God. Omdat God ons eerste liefgehad het, het ons God terug lief én het ons mekaar ook lief. Die apostel, Johannes, gaan so vêr as om te sê dat iemand wat nié liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde (vers 8). God het sy liefde aan ons sigbaar laat word toe Hy sy Enigste Seun Mens laat word het sodat ons deur Hom die ewige lewe kon kry. Vir ons om in vrede met God te kon leef, was dit nodig dat Christus aarde toe moes kom sodat Hy ons met God kon versoen. God wéét dat géén mens – hoe goed of rein hy/sy ook al mag wees – dit werd is om voor God te verskyn nie. Omdat Hy ons – in ons swakheid en in ons mismoedigheid – liefhet, stuur Hy dan sy Enigste Seun om met sy léwe te betaal sodat Christus ons waardig kan maak voor God.

Omdat God ons innig liefhet, gee Hy vir ons vanoggend die voorreg om hierdie liefdesdaad van Hom beter te verstaan. Wanneer jy netnou aan die Nagmaalstafel kom aansit, mag jy God se liefde beter verstaan, geliefde. Mag jy raaksien en kom beleef wát dit van Christus gekos het om jou deel van God se uiverkore volk te maak. Mag jy ook terugdink aan verlede week se preek en vir jouself opnuut afvra: “Besef ek wérklik watter groot voorreg dit is om deel van hierdie gemeente te wees?

Ons físiese reaksie op God se liefde

‘n Laaste beeld waarna ons vandag gaan kyk om God se doel met die gemeenskaplikheid van sy kinders te verstaan, is dié van die een liggaam met baie lede. In 1 Korintiërs 12 kom ons weer diep onder die indruk van hoe belangrik ons, as medegelowiges, vir mekaar – maar óók vir die Here is. Tydens ons onlangse huisbesoek-tema het ons vanuit ‘n ánder Skrifgedeelte ook gehoor dat die Kerk die liggaam van Christus is. Die Apostel, Paulus, maak dus gereeld van hierdie beeld gebruik as hy van die Kerk praat.

Vir ons is dit tog logies dat ons ledemate nie sonder ons liggame kan funksioneer nie. ‘n Arm – op sy eie – kan niks doen nie. Sonder ‘n mens se liggaam beteken ‘n mens se hande ook niks. ‘n Mens se ledemate het nét ‘n doel en ‘n funksie as hulle deel van die léwende liggaam is. Dit is presíés hoe dit in ‘n gemeente werk, geliefdes. Net soos ‘n ledemaat niks sonder die liggaam kan doen nie, net só beteken ‘n lidmaat nie regtig iets as hy/sy nie deel is van die Kerk – die liggaam van Christus nie. Vérder maak Paulus dit duidelik dat die liggaam se ledemate nie net die liggaam nodig het nie, maar óók die ánder ledemate van daardie liggaam. Elke ledemaat aan die liggaam, het mekáár nodig, want elkeen dien ‘n ander doel in die liggaam.

Net omdat ‘n voet bv. nie ‘n hand of ‘n oor is nie, beteken dit tog nie dat dit oorbodig is nie. Ons mag nooit dink dat ons nie ‘n doel het in hierdie gemeente nie, geliefdes. Elke liewe een van ons het ‘n funksie om hier te verrig – ‘n rol wat ons hier behoort te speel. Ek mag nooit dink: “Ek beteken nie regtig iets in die gemeente nie, en daarom sal niemand my op ‘n Sondag mis” nie. Ons elkeen het ‘n roeping in hierdie gemeente. En Kerkbywoning is belángrik. Dit is iets wat ek in gehoorsaamheid aan die Here doen omdat ek wéét dat Hy dit van my vra. Wanneer Hy my deel maak van sy liggaam, wie is ek om myself eenkant te hou? Wie is ék om myself aktief af te sny?

Wanneer ek myself vanuit die gemeente onttrek, dan doen ek dit altyd uit selfsug, geliefdes. Want dan fokus ek op my éie behoeftes en nié op dit wat Gód van my verwag nie. Wanneer ek nie eredienste en funskies en gemeente aktitwiteite bywoon nie, dan sê ek eintlik daarmee: “Ek het nie ander mense nodig nie.” “Ek en my God – óns sal regkom.” Geliefde in die Here, dink mooi wat jy sê wanneer jy só redeneer. Wanneer jy jouself vir maande – of selfs jare – eenkant hou, dan sê jy eintlik daarmee dat jy niks met die liggaam van Christus te doen wil hê nie. Dat jy God se liefde verwerp, want jy wil nie deel wees van die wonderlike volk, of kudde, of wingerd, of liggaam, of gemeente waarin Hy jou geplaas het nie.

Dit is nodig dat ons die fokus op die “Eie Ek” moet verskuif na Gód en na ons médemens. In die Here se genade maak Hy ons deel van hierdie gemeente sodat ons ‘n liefde vir God en vir ons naaste sal aanleer en óók sal uitvoer. Geliefdes, dit is duidelik vanuit ons Skrifgedeelte dat ons nié kan sê ons het die Hére lief, maar dan wil ons níks met ons medegewlowiges te doen wil hê nie. Wáre, égte, gelowiges het die Here lief maar hulle het ook die lidmate van die gemeente lief. Die een kan nie sonder die ander nie. Paulus druk dit baie sterk uit wanneer hy in ons fokusvers sê: “As iemand sê: ‘Ek het die Here lief’, maar hy haar sy broer, is hy ‘n leuenaar.

En ja, dit is só dat daar soms iemand in die gemeente is wat ons dalk, deur hulle optrede, teleurstel. Dalk laat iemand in die gemeente jou ongemaklik voel. Maar dit wat ánder mense sê of doen, mag nooit ons uit die Kerk uit hou nie, geliefdes. Dit is dán wat ‘n mens die sónde moet haat, en nie die sondaar nie.

Ons fokusvers gaan verder wanneer dit sê: “want wie sy broer – wie hy kan sien – nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nié kan sien nie.” Die werkwoord wat hier vir “sien” gebruik word, is nie om maar net iemand een maal te sien, of om net vinnig na iemand te kyk nie. Dit is om iemand gereeld te sien – dit is om iemand voortdúrend voor oë te hê. Dit is om geleentheid te hê om met iemand verhouding te bou. Wanneer ‘n mens dus nie iemand eers iemand kan liefhê wat jy – soos hier by die kerk – voortdurend kan sien nie, hoe sal jy die Here kan liefhê? Nee, geliefdes, omdat God ons eerste liefgehad het, behoort ons Hom lief te hê – maar óók ons medegelowiges – die mense wat vandág saam met my in die Kerk sit. Die lidmate van hierdie gemeente.

Slot

In reaksie op God se liefde vir ons, reageer ons in fisiese wederliefde. Dit beteken dat ek, met dankbaarheid teenoor die Here, gehoorsaam is en my plig besef om, as lid van sy liggaam, my funksie hier te verrig. Omdat God my eerste liefgehad het, het ek ook my medemens lief en kom bedien ek hom/haar met my gawes.

Die Kerk is geweldig belangrik, geliefdes. En net só ook die lidmate. Ons het bely: “dat niemand, wat sy/haar stand en status ook al is, hom/haar in selftevredenheid van hierdie geloofsgemeenskap afsydig mag hou nie.” Gaan dit – van vandag af – ook jou persoonlike belydenis oor hierdie gemeente word? Of gaan jy áánhou volhard in verskonings en leuens? Amen.