Skrifgedeelte: Psalm 23: 1 – 6
Fokusvers: Psalm 23: 1
Tema: Omdat die Here my Herder is, ly ek nie gebrek nie
Inleiding
N.a.v. ‘n hele paar lidmate in ons gemeente wie onlangs geliefdes aan die dood afgestaan het, of wie geraak is deur ‘n familielid of vriend wat ernstig siek is, kyk ons vanoggend na Psalm 23.
Psalm 23 is seker een van die bekendste en mees geliefde Psalms van ál die Psalms. Ons kan met groot sekerheid sê dat die mééste gelowiges hierdie Psalm góéd ken. Dalk het jy ook al dit in die laerskool reeds gememoriseer sodat jy dit uit jou kop uit kon opsê. Dalk het jy ook al ‘n vers van hierdie Psalm vir iemand gelees of aangestuur toe hulle deur ‘n baie moeilike tyd gegaan het. Dalk het jy ook al moedeloos – maar hoopvol – vir die predikant gevra: “ag, dominee, lees maar vir my énige iets – al is dit net Psalm 23”.
Die Here is my Herder
Psalm 23 is egter nie maar nét ‘n Psalm nie, geliefdes. Al is dit ‘n bekende Psalm mag ons nooit dink dat dit ‘n minderwaardige Psalm is nie. Een van die verklaarders sê – terég – dat die inhoud van Psalm 23 al meer mense se pyn en leed genees het as al die geneeshere van die wêreld. Mag elkeen van ons vandag die dieper betekenis van Psalm 23 ontdek en opnuut getroos word deur hierdie besonderse Psalm.
Psalm 23 is deur Dawid geskryf. Soos ons weet, was hy ‘n skaapwagter voordat Dawid die koning van die volk, Israel, geword het. Ons lees die geskiedenis daar in 1 Samuel 16 – Hoedat die priester, Samuel, vir een van Isai se seuns as die nuwe koning van Israel moes salf. Nadat nié één van die seuns geskik was vir hierdie besonderse amp nie, vra Samuel: “Is dit al die jong manne?” Toe antwoord hulle hom: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Ons weet dan hoe Dawid daardie dag as koning gesalf is – al was hy die ongewilde en onwaarskynlike keuse. Ook in Psalm 78: 70 – 72 lees ons: “Die Here het Dawid, sy dienskneg, gekies en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter lammerooie het Hy hom laat haal om Jakob, sy volk, op te pas – Israel, sy eiendom. Dawid het hulle met ‘n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei.”
Dawid was dus iemand wie skape verstáán het. Hy het góéd geweet wat dit verg om die herder van ‘n kudde te wees. In daardie tyd was dit algemeen om jou eie trop skape te hê, en nie ongewoon vir ‘n kind om sy ouers se skape op te pas nie. Die skaapwagters van destyds het ook nie noodwendig hul eie afgebakende plase of gebiede gehad nie. Wanneer die weiding in ‘n sekere gebied min geraak het, sou die skaapwagter sy skape na ‘n ander gebied toe lei met volop weiding en water. Die meeste van ons is bekend met die feit dat die skaapwagters van destyds vóór die skape uitgeloop het om hulle te lei. Hulle het nie – soos baie skaapwagters van vandag – die skape van agter af aangejaag deur te fluit, te skreeu en met hulle hande te klap nie. Hulle het die skape van trauma probeer spaar deur hulle op ‘n rustige manier te lei en te stuur – eerder as om hulle aan te jaag.
Daar is ‘n réde hiervoor geliefdes – die herder van daardie kudde sou dan eerste die gevaar raakgesien het. Hy sou pro-aktief kon optree deur te besluit of hy namens sy kudde gaan veg of dat hy eerder saam met hulle van die gevaar gaan wegvlug. Juis omdat skape so weerloos is, is hulle dírek van hulle herder afhanklik. Dit is hy wat hulle met sy hand versorg. Wat hulle met ‘n sagte hand lei langs stille waters wat hulle laat neerlê en rus in die groenste weivelde. Dit is hy wat die gevaar van hulle weghou deur roofdiere te verjaag. Dit is die hérder wat sy skape ook met sy staf nader trek indien hulle uit die trop beweeg of hulle met daardie sélfde staf uittrek indien hulle in ‘n klipskeur vassit. Dit is hy wat die lammers op sy skouers of in sy drasak dra as hulle uitgesak het of beseer is.
In die geloof kom Dawid tot die besef: nét soos wat die Psalmdigter sy skape gelei en versorg het, net só lei en versorg die Here hom. Soos ‘n skaapwagter voorsien die Verbondsgod in álles wat vir sy kinders nodig is. God beskerm, én bewaar, én lei én versterk sy kinders nóg veel béter as wat die béste skaapwagter sy kudde kan oppas. God openbaar Homself baie spesifiek as die Herder van sy kudde in Psalm 23 om sy intieme betrokkenheid by sy kinders aan te toon. Hy is nie vêr van ons verwyder nie, geliefdes – maar Hy leef saam met sy skape. Die Here lei ons, as sy skape, na groen weivelde – na water waar daar rusplek is. Ons besef dat Hy dit in híérdie lewe reeds doen – maar hoeveel te meer dui hierdie belofte van éwige rus en éwige vrede nie op die Éwige Lewe nie? Dit is vir ons, wie onlangs ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, ‘n geweldige troos. Hy/sy ervaar nóú reeds hierdie troos waaraan hy/sy só vasgehou het. Want die Here is ook geliefde se Herder. Hy het hom/haar regdeur hierdie lewe gelei deur sy Heilige Gees. Hy het jou geliefde op sy skouers gedra toe hy/sy sélf nie meer kon nie. Die Here het jou geliefde sy sagte Hand kom haal en hom/haar neergelê op sy/haar éwige rusplek.
Maar, geliefdes, al het iemand naby aan jou gesterf, gee die Herder van Psalm 23 aan hom/haar ook nuwe lewenskrag, soos ons in vers 3 lees! Deur sy genade ontvang daardie persoon die ewige lewe en die belofte dat sy/haar liggaam en gees weer op die laaste dag verenig sal word wanneer ‘n gelowige uit die dood sal opstaan. Selfs al moes hy/sy onlangs in die donker kloof van die dood ingaan, was die persoon wie vir jou dierbaar is, nie bang nie. Want sy/haar Hérder was élke oomblik by hom/haar. Sy stok en sy staf: dié het jou geliefde vertroos.
Daarom ly ek nie gebrek nie
Maar die Here is nie maar nét jou geliefde se Herder nie. Hy het nie maar alleen hòm/háár deur die aardse lewe gelei en versorg en beskerm totdat hy/sy nou die Ewige Lewe ingaan het nie. Die Here is ook jóú Herder, geliefde! En omdat Hy jou persóónlike Herder is, kom jy ook niks kort nie. Omdat die Here jou Herder is, ly jy, as gelowige, nie gebrek nie. Dit is omdat God in álles voorsien wat vir hierdie lewe nodig is. Alléén die Hére maak dit vir ons moontlik om alles te kry wat ons in hierdie lewe benodig. En daarom gee Hy nie noodwéndig alles wat ons begeer nie. Maar wél alles wat ons benodig. In sy liefde versorg die Here ons op ‘n fisiese én geestelike manier:
Físies sal Hy toesien dat sy kinders nooit honger ly of eensaam is of in lewensgevaar verkeer nie – en wanneer dit wél vir ons so voel sal God aan ons núwe perspektief gee deur sy Gees. Ons word ál meer daarvan oortuig dat die lyding wat ons dalk nou – in hierdie lewe – moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Rom. 8: 18). Wanneer die Heilige Gees ons oë rig op ons Herder se gééstelike versorging, dan besef ons maar net wéér dat dít ware sëën van die Here is – die feit dat God ons sal áánhou versorg – tot in lengte van dae.
Wanneer ons aan ons geestelike versorging, deur Hom, dink, dan staan ons verstom, geliefdes! Want in God se onbeskryflike liefde vir sy kinders laat Hy sy Enigste Seun “Skaap” word sodat óns deel kan word van sy kudde. In die geloof kan óns ook soos Johannes die Doper bely: “Kyk! Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1: 29). Jesus Christus is egter nie nét “Lam van God” nie, maar óók “Herder van God se kudde”. In Johannes 10: 11 maak Hy Homself só aan ons bekend: “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder lê sy lewe vir sy skape af.” Christus se liefde vir sy skape was – en is – só eg dat Hy bereid was om deur God vervloek te word om sy lewe vir God se uitverkore kinders af te lê. Hy was bereid om in die dal van doodskaduwee in te gaan toe God Hom verlaat het en toe dit vir drie ure totale duisternis aan die kruis was – sodat óns geen onheil hoef te vrees nie.
Selfs al is iemand náby aan ons met ‘n ernstige siektetoestand gediagnoseer – selfs al staan ons dalk binnekort langs die oop graf van ‘n geliefde – is ons nie bang nie. Want ons wéét dat God by ons geliefde is – maar dat Hy óók hier by óns is. Hy tróós ons vandag – Hy réd ons en kéér dat ons nie emosioneel totaal en al vergaan nie. Ons en ons geliefdes behoort tot in alle ewigheid aan die Here – met liggaam én siel. Dít is die manier waarop ons Goeie Herder ons wil troos en versorg – físies maar verál gééstelik (Heidelbergse Kategismus Sondag 1).
Maar dan is hier selfs ‘n vérdere – ‘n tweede – beeld wat ons in Psalm 23 kry. Psalm 23 praat nie nét van God as ons Herder nie, maar gebruik ook die beeld van ons wat eregaste by God se tafel mag wees. Hierdie laaste twee verse van die Psalm wil ons íéts van God se Koninskap bekendmaak wanneer ons woorde lees soos: “U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teëstanders. U maak my hoof vet met olie. My beker loop oor.” Nadat ‘n koning van destyds sy weermag in oorwinning gelei het, is daar oordadig fees gevier. Ons moet onthou dat ons aan die begin van die preek gesê het dat Dawid ‘n skaapwagter was voordat hy koning oor Israel geword het. Dawid gebruik dus twee beelde in Psalm 23 wat hy góéd ken: nl. “herderskap” en “koninklike oorwinning”. Maar juis dít wat die beelde van Psalm 23 so besónders maak is dat dit nie slégs op Dawid se lewe van toepassing is nie. In wérklikheid dui hierdie twee beelde op ons Here, Jesus Christus! Ons het reeds gesien hoedat Psalm 23 ‘n heenwysing na Jesus Christus as Goeie Herder is, maar in hierdie lááste gedeelte wys dit ook heen na Hom as die Énigste Oorwinnaar-Koning!
Toe Jesus Christus daardie Sondag-oggend uit die dood uit opstaan, het Hy die sonde én die dood oorwin. Daarom ontvang ons vanoggend die troos dat daar vir ons geliefde ‘n Ewige Lewe voorberei is. Dat hy/sy nóú mag aansit aan die Here se hémelse Tafel en dat ons geliefde in sy oorwining oor die dood mag deel. Jou mendegelowige het reeds in hierdie lewe die voorreg gehad om deur die Here se goedheid en troue liefde gevolg te word, soos ons in vers 6 lees. En – soos ons weet – ervaar hy/sy dit nou vollédig en tot in alle ewigheid!
Slot
Die Here kom troos elkeen van ons vanoggend deur aan ons te bevestig dat Hy by jou geliefde wás – by daardie teaterbed – op daardie ongelukstoneel – maar dat Hy ook stééds jou geliefde se Herder ís. Ons word vanoggend selfs vêrder getroos deurdat die Here nie nét sy/háár Herder is nie – Hy is ook jóú Herder! Hy wil jóú, wie agterbly, tróós, en van gevaar wégruk, en op sy skouers dra en jóú ook laat neerlê waar die weivelde groen is. Waar die waters stil, en vol vrede, is.
Mag jy deur Psalm 23 getroos wees soos wat hierdie Psalm jou geliefde getroos het. Amen.