1 Korintiërs 11: 17 – 34

Skrifgedeelte: 1 Korintiërs 11: 17 – 34 (1983-Vertaling)

Fokusvers: 1 Korintiërs 11: 23 – 26 (1983-Vertaling)

Tema: Die heiligheid van die Nagmaal

Inleiding

Is die Nagmaal so besonders soos wat baie mense dink? Verdien die Nagmaal dit wérklik om “heilig” genoem te word? Dit wat ons vandag weer gaan beleef – is dit régtig nodig om dit die “heilige Nagmaal” te noem? Is dit nie dalk ‘n outydse manier van dink en praat nie?

Die heiligheid van die Nagmaal

Voordat die Heilige Gees hierdie vrae deur die apostel, Paulus, beantwoord, gee Paulus vir ons ‘n idee van wie sy gehoor was. Die eerste lesers van hierdie brief was gelówiges wat in die hawestad, Korinte, gewoon het. Korinte was een van die grootste, rykste en mees gesogte stede van Antieke Griekeland. Hierdie stad het twee hawens gehad waar mense van verskillende wêrelddele heen en weer kon reis. Die stad, Korinte, het as ‘n verbinding tussen Asië en Europa gedien. Daar was dus nie nét mense van een Taal en een Kultuur in Korinte nie. Daar was beslis nie slégs gelowiges in hierdie stad nie. En aangesien die inwoners van hierdie hawestad dan so uiteenlopend was, sou hulle natuurlik met mekaar verskil het.

Reeds in 1 Korintiërs 1 lees ons dat daar baie verdeeldheid onder die gelowiges van Korinte was. Ons lees hoe élkeen van hierdie lidmate gesê het: “Ek is van Paulus”, of “Ek is van Apollos”, of “Ek is van Sefas”, of “Ek is van Christus” (1 Kor. 1: 11-13). En weer – hier in hoofstuk 11 – lees ons van die verdeeldheid onder die gelowiges van Korinte. Paulus gaan sover as om te sê dat wanneer die gelowiges van hierdie gemeente saamkom, dit eintlik meer kwaad as goed doen. By meeste eredienste – en sélfs by die Nagmaal – is daar verdeling onder die lidmate en word daar partyskappe gevorm. Waarom? Want daar word meer klem op die méns se eie behoeftes en vermoëns geplaas as wat die klem op God-Drie-Enig geplaas is. Die oorsprong van hierdie verdeeldheid is omdat die gelowiges van Korinte hulle vertroue in ander ménse gestel het. Die eintlike rede waarom daar hierdie faksies rondom die Tafel van die Here ontstaan het, is omdat mense meer gefokus is op dit wat vir húlle belangrik is, as wat vir die Hére belangrik is.

Hierdie onderlinge verdeeldheid in die gemeente van Korinte was só erg dat die lidmate van hierdie gemeente hofsake met mekaar begin het. En dan kla die Here hierdie mense deur die apostel Paulus aan wanneer hy, in hoofstuk 6, vir hulle sé: “Gaan iemand van julle, wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, wérklik so vêr dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie?” Hierdie mense se saak is eintlik reeds verlore sê Paulus, want hulle sal eerder toesien dat ‘n óngelowige hulle onderlinge geskille uitorteer as wat hulle die raad en wysheid van ‘n medegelowige vra. Die lidmate van hierdie gemeente moes van beter geweet het, en in die eerste plek nooit met mekaar eers hofsake begin het nie. ‘n Ware gelowige lei eerder onreg (1 Kor. 6: 7 en 8). ‘n Ware gelowige soek nie die ondergang van sy/haar medebroer of -suster nie, maar draai áltyd eerder die ander wang (Matt. 5: 39).

Die gelowiges waarvan ons vanoggend gelees het, was egter nie so nie. Hulle het vir hulle eiewilligheid en hulle vermoë om skeuring te veroorsaak, bekendgestaan. Wanneer hulle tydens ‘n erdiens of tydens ‘n gemeente-aktiwiteit saamgekom het, dan het hulle nie mekaar as ‘n eenheid beskou nie. Hulle het nie die persoon wie oorkant of langs hulle gesit het, gesien as iemand waarmee hulle iets in gemeen het nie. Die gaping in rykdom, status of geleerdheid was net té groot. Dalk klink dit vir jou bekend? Dalk het jy ook al so in teenoor ander lidmate van hierdie gemeente gevoel. Asof julle net té min in gemeen het en net té veel verskil. Jou sienings en sy/haar sienings is totaal uiteenlopend.

‘n Gemeente kan egter met ‘n menslike liggaam vergelyk word. Aan ‘n mens se liggaam is daar baie verskillende lede wat verskillende fuksies verrig. Selfs al het ‘n mens bv. lelike krom tone, vorm dit deel van jou liggaam. Selfs al kry jy soms skaam vir iets aan jou liggaam, is daardie ledemaat déél van jou liggaam – dit kan nie anders nie. En selfs al voel jy asof jou ore nie by die res van jou gesig pas nie, en selfs al het jy ‘n konstante stryd om jou hare mooi te laat lyk – is dít die ore of die hare of die hande wat die Here vir jou gegee het. Die res van jou liggaam het daardie ledemaat nódig waarin jy so ‘n afsku het. Selfs al is jou voete bv. op ‘n heel ander plek en lyk hulle totaal anders as jou oë, vorm beide hierdie ledemate deel van jou liggaam. Hulle verwerp nie mekaar nie. Nie een ledemaat van jou liggaam het ‘n afsku in ‘n ander ledemaat nie – inteendeel hulle het mekaar nodig, want dit verg ‘n baie spesifieke ledemaat om daardie unieke fuksie te verrig. Al die ledemate van jou liggaam vorm ‘n perfekte harmonie sodat jou héle liggaam rég kan fuksioneer.

‘n Gemeente se werksaamhede is baie soortgelyk aan ‘n mens se lewende liggaam. Net so min soos wat die ledemate van ons liggaam mekaar afkraak en verwens – net so min mag ons dit in die gemeente doen, geliefdes. Wie is ek om vennynig teenoor iemand anders in hierdie gemeente te wees? Ek is ook maar net ‘n doodgewone lidmaat soos hy/sy. Kom ons staan eerder verwonderd voor die grootheid van die God van hierdie gemeente – dat Hy my waardig ag in in hierdie gemeente – ten spyte van al my tekortkomings. Maar dat Hy nét so veel my medegelowige waardig ag om deel van sy liggaam te wees – ten spyte van wat ék van daardie persoon dink.

Die gelowiges van Korinte het egter altyd met hulle éie vooropgestelde idees na vore getree. Selfs wanneer hulle Nagmaal gevier het, het hulle ‘n verskuilde agenda gehad. Vir hulle het dit nie oor die eenheid in die Kerk of oor die wonderlike liefdesdaad van Christus gegaan nie. Nee, hierdie mense het met die verkeerde intensies Nagmaal gaan gebruik. Ons lees in verse 20 tot 22 hoe hierdie gelowiges op ‘n selfsugtige, sondige, manier die gemeenskaplike maaltyd gebruik het. Dit is duidelik dat hulle op ‘n heel ander manier saamgekom het as wat ons vandag saamkom. In daardie tyd was dit die gebruik dat lidmate hul éie kos en drank saamgeneem het na die gemeenskaplike maaltyd. Die manier waarop hulle Nagmaal gevier het was dan om ‘n volledige ete saam te eet – amper soos ons Nagmaalsetes van vandag. Ons hoor egter dat hierdie etes soms in verdeeldheid onder die lidmate ontaard het. Dié wie baie gehad het, het nie hulle kos en wyn met die ander gedeel nie. Hierdie mense het nie eens vir mekaar gewag voordat hulle begin eet het nie. Dit het veroorsaak dat daar ‘n groep mense was wie oorvloed gehad het – wie letterlik dronk aan die Nagmaalstafel geword het – en ánder wie honger gely het.

Hierdie mense het die doel van die Nagmaal heeltemal vergeet. Hulle het totaal en al vergeet dat die Nagmaal oor Christus gaan en nie oor hulle eie behoeftes nie. En daarom wys die apostel Paulus hulle maar net wéér op ons Here, Jesus Christus. Tydens die Nagmaal behoort die klem dus nie op die lidmate en op die kwaliteit kos en wyn te val nie, maar op ons Verlosser, Christus. Met die inspirasie van die Heilige Gees haal Paulus Jesus Christus se direkte woorde aan waar Jesus die Nagmaal ingestel het. Hy doen dit om sy argument sterker te maak, maar óók om die lidmate daarop te wys dat dit ‘n Maaltyd is waar Jesus Christus Sélf teenwoordig is. Aangesien die gelowiges van Korinte ligsinnig was tydens die Nagmaal, wys Paulus hulle op die erns en ook op die heiligheid van die Nagmaal.

Die Nagmaal is die enigste Ete wat vir die Here afgesonder word. Omdat dit ‘n heilige oomblik is wanneer ons Nagmaal gebruik, daarom plaas God-Drie-Enig dit eenkant sodat dít wat hier aan Tafel gebeur tot sy eer en tot sy lof sal strek. Ons, wie Nagmaal gebruik, behoort dus met die regte gesindheid hier kom aansit, geliefdes. Ons behoort die nodige agting en respek vir die oomblik te hê en ons behoort élke keer te besef dat die Nagmaal totaal en al heilig is. Dit is nie maar net nóg ‘n ete – nóg iets wat ons in die verbygaan doen nie. En daarom spreek Paulus die gelowiges van sy tyd aan en sê: “Het julle dan nie huise om in te eet en te drink nie?” Nee, wanneer ek Nagmaal kom gebruik, dan moet ek weer daaraan dink dat Christus se bloed wérklik gevloei het en dat sy liggaam wérklik aan die kruis gebreek het – as betaling vir my, persoonlike, sondes.

Daarom hou die ouderlinge van die gemeente ook toesig oor dít wat hier aan Tafel gebeur – want dit is ‘n heilige ete – ‘n heilige oomblik waar ons die Here se teenwoordigheid op ‘n baie besonderse manier mag beleef. Alles wat tydens die Nagmaal gebeur, behoort ordelik te wees, want dit is die Hére se Maaltyd. Ons kan nie, soos die lidmate van Korinte, maar net hier kom maak soos ons wil nie. Die Nagmaal gaan nie oor ons eie behoeftes en oor watter mense saam met my hier sit nie. Die Nagmaal gaan nie oor of ék ongemaklik met die persoon langs my voel en of ek dit eerder verkies om oorkant iemand anders aan Tafel te sit nie. Die Nagmaal gaan oor dít wat Jesus Christus namens álle gelowiges gedoen het. Wanneer ek die brood neem en eet, dan onthou ek dat Jesus Christus met sy heilige liggaam betaal het vir al my sondes. Wanneer ek van die wyn drink, dan dink ek weer daaraan dat Christus se heilige bloed my rein was van al my sondes.

Daarom is dit só belangrik om onsself reg te ondersoek voor elke Nagmaal, geliefdes. In die week voor Nagmaal behoort ek élke dag myself voor te berei vir hierdie heilige ete. Elkeen van ons behoort met die suiwerste bedoeling vandag hier kom aansit, geliefdes, sodat ons nie soos die onvanpaste Korintiërs is nie. Baie van ons sal dalk vandag maklik kan vinger wys na hierdie mense wat dronk was tydens die Nagmaal. Ons sal dalk maklik oordeel oor die mense in Paulus se tyd wat hul medegelowiges laat honger ly het aan Tafel. Maar is ons nie maar nét so skuldig soos hulle wanneer ons bv. die Nagmaal verruil vir iets ánders wat vir ons belangrik is nie? In vandag se tyd is daar sommige mense wat graag ‘n ander funksie bywoon – selfs al het die gemeente daardie dag Nagmaal. Dit is nie vreemd om te soms hoor dat iemand die verskoning gebruik dat hulle op vakansie is of by hul vriende of familie is met die volgende Nagmaal nie. Waarom sê ons “ja” vir ánder dinge wanneer ons wéét dat dit Nagmaal is? Besef ons dan nie dat dit ‘n besonderse oomblik saam met die Here is nie? Besef ons dan nie dat die Nagmaal Heilig is nie? 

Slot

Wanneer ons die voorreg het om Nagmaal te gebruik, dan gaan dit nie oor onsself of ons eie behoeftes nie. Dit gaan oor ons énigste Verlosser, Jesus Christus. Wanneer ons Nagmaal gebruik, dan behoort ons die erns van hierdie sakrament te besef, geliefdes.

Die Nagmaal is ‘n Heilige Ete waar ons aan die dood van ons Here, Jesus dink. Die Here sonder dit vir ons af sodat ons sal besef wat dit van Jesus Christus geverg het om ons van ons sondes vry te spreek. Mag elkeen van ons die nodige agting en respek vir die Nagmaal hê en mag ons moeite doen om hierdie ete-uitnodiging by te woon. Mag ons ons eie agendas en vooropgestelde idees eenkant toe skuif, geliefdes, en mag ons gefokus bly op Hóm na Wie die Heilige Nagmaal heenwys. Amen.