Psalm 7: 1 – 18

Skriflesing: Psalm 7: 1 – 18

Fokusvers: Psalm 7: 9

Tema: Onskuldig voor die Regter?

Inleiding

Een van die groter terugslae in die lewe is as iemand – wie jy vertrou – jou in die steek laat. Dit kán wees dat ‘n baie goeie vriend van jou, jou in die rug steek. Dit kán gebeur dat iemand, wie jy met jou léwe vertou, teen jou draai. Dit mág wees dat daardie persoon, waarvan jy dit die minste verwag, iets doen of sê wat jou diep teleurstel. Dalk het jy óók al dit ervaar. Dalk was dit jou kind of jou ma/pa of selfs jou huweliksmaat wat iets aan jou gedoen het wat jou totaal en al uit die veld geslaan het.

Onskuldig voor die Regter?

Verraad – Dit is sekerlik een van die érger dinge wat ‘n gelowige kan oorkom. Daardie sg. “goeie vriend” met wie jy járe lank nóú saamgeleef het, word skielik jou verraaier. Die teleurstelling en die seer is byna onbeskryflik wanneer dit gebeur.  Die psalmdigter van Psalm 7 probeer om hierdie gevoel te verwoord. In Psalm 7 is vir ons duidelik dat die digter, Dawid, van iets valslik beskuldig word. Hierdie Psalm is ‘n gebed wat in groot benoudheid gebid word. In Psalm 7 begin Dawid onmiddelik met die Here te praat oor mense wat hom agtervolg en hom soos ‘n leeu wil verskeur. Daarom smeek hy die Here om genade dat God hom sal verlos van álmal wat hom agtervolg.

In vers 4 tot 6 roep Hy die Here in sy nood aan wanneer hy sê: “Here, my God, as ek iets gedoen het, as daar onreg aan my hande kleef, as ek my vriend kwaad aangedoen het, my teestander sonder rede beroof het, mag die vyand my dan agtervolg en inhaal, mag hy my lewe in die grond vertrap en my eer deur die modder sleep.” Psalm 7: 1 sê dat die digter hierdie gebed bid na aanleiding van die woorde wat Kus, die Benjaminiet, vir hom gesê het. Dawid neem dus sy toevlug tot God en pleit vir beskerming en verlossing van hierdie wrede vyand van hom. Die Psalmdigter stel homself bloot en lê sy hele lewe voor die Almagtige oop. Hiermee verklaar hy eintlik sy onskuld voor God as hy sê: “Here, as ek iets gedoen het – as daar onreg aan my hande is of as ek my vriend kwaad aangedoen het – laat daar dan maar érge goed my oorkom” “As dít waarvan my vriend my beskuldig wáár is – laat dan maar toe dat dat my lewe vernietig word.

Juis omdat Dawid hierdie Psalm as reaksie op Kus, die Benjaminiet, se woorde skryf, kan ons aflei dat die digter en hierdie Benjaminiet mekaar góéd moes ken. Maar nou word die Psalmdigter deur hierdie sg. “vriend” valslik beskuldig. Volgens hierdie Benjaminiet het Dawid iets verskrikliks gedoen, maar volgens Dawid, sélf, is hy onskuldig. Ons weet egter dat Dawid nie net een vyand gehad het nie. Dit was nie nét Kus, die Benjaminiet, wie hom valslik beskuldig het nie. In Psalm 7: 2 hoor ons Dawid vra: “Here, verlos my van álmal wat my vervolg, anders verskeur húlle my soos ‘n leeu wat sy prooi wegsleep.

Die digter van Psalm 7 het egter net mooi die téénoorgestelde gedoen waarvan hy beskuldig word. Ons lees o.a. in 1 Samuel 24 hoedat Dawid bv. Saul se lewe gespaar het toe hy die geleentheid gehad het om hom dood te maak. Dit is algemeen bekend dat Dawid en koning Saul groot vyade was. Omdat Saul jaloers was op die gewildheid wat Dawid, as nuwe koning, verwerf het, het hy hom agtervolg met die doel om Dawid dood te maak. Toe Dawid egter op ‘n dag die geleentheid gehad het om vir Saul dood te maak, het hy dit níé gedoen nie. Dawid net ‘n stukkie van Saul se kleed afgesny om hom te wys hoe náby aan Saul was en hoe steeds die régte ding gedoen het – selfs al was daar ‘n geleentheid vir wraak.

En juis hieroor – juis omdat Dawid beweer dat hy óók teenoor híérdie vyand van hom onskuldig is – roep hy die Here as Regter aan. Dawid besef dat Iemand ánders sal moet oordeel oor hierdie konflik-situasie. Hy beweer hy is onskuldig – dat hy nie dit gedoen het waarvan hy beskuldig word nie. Maar Kus, die Benjaminiet, beskuldig hom egter van kwaad wat hy gedoen het, en onreg wat hy gepleeg het. In ware geloof kom Dawid tot die besef dat dit alléén God is wat oor hierdie situasie kan oordeel. Dawid besef dat God Alsiende is, en dat Hy van hierdie valse beskuldiging weet. Saam met die digter van Psalm 121 sou hy bely: “Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie en Hy slaap nie” (vers 4). Vir hom is soos die skrywer van Klaagliedere sê: “U verdedig my saak, Here, U red my lewe. U dien die onreg teen my, Here, lewer tog uitspraak in my guns. U sien hoe hulle my haat, hoe hulle teen my saamspan.. Straf hulle, Here, volgens wat hulle gedoen het” (Klaagl. 3: 58-64).

Die digter van Psalm 7 erken dat God ál Een is Wie mense kan oordeel (vers 7). Hy is ál Een Wie kan reg spreek oor volke (vers 9). Deur die insig van die Heilige Gees kom Dawid tot die besef dat God nie nét oor hierdie geskil tussen hom en Kus sal oordeel nie – Hy gee selfs uitspraak oor die vólke. In vers 8 lees ons: “Laat die volke rondom U kom staan; neem tog U plek in op U regterstoel!” Dit laat ons dadelik aan Psalm 110 dink, nie waar nie? Daar waar die digter skryf: “Die Here het vir my Heer gesê: ‘Kom sit aan My regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak.” Vers 6 van hierdie Psalm sê hy: “Onder die nasies voltrek Hy die vonnis”.

Die Regter waaroor Psalm 110 profeteer, is natuurlik ons Here, Jesus Christus. Hy is die Énigste en Wáre Regter. Bo al die regeerders en regters van hierdie aarde, sit ons Here, Jesus op sy troon en oefen Hy sy outoriteit oor alle mense uit op ‘n regvérdige manier uit. En daarom roep die skrywer van Psalm 7 ook Hom op om oor sy saak te oordeel. In ons fokusvers pleit hy: “Oordeel my op grond van my geregtigheid, Here, op grond van my onberispelikheid.” Met hierdie woorde voer Dawid aan dat hy eintlik totaal en al onskuldig is. Iemand wie “onberispelik” is, is iemand waarop daar geen kritiek ingebring kan word nie. Dawid smeek God-Drie-Enig om raak te sien dat hierdie bewerings, wat teenoor hom ingebring word, váls is.

Na Wie béter as Gód kan ‘n mens in ‘n tyd soos hierdie gaan, geliefdes? God Wie regverdig oordeel deur sy Enigste Seun Jesus Christus, maar óók God Wie medelye met ons het. Wanneer een van sy kinders valslik beskuldig word, dan verstáán ons Regter, Jesus Christus, waardeur ons gaan. Dit is nie nét Dawid of nét u wat weet hoe dit voel om deur jou naaste in die steek gelaat te word nie. Ons Here, Jesus Christus het dit óók beleef. Hy is twee keer diep teleurgestel deur dié mense wie veronderstel was om sy nááste te wees. Sy geliefde dissipel, Petrus, verloën Hom deur drie keer te ontken dat hy énige iets van Jesus weet of énige iets met Hom te doen gehad het (Mark. 14: 30, 31, 66-72). Nóg ‘n navolger van Jesus Christus, Judas Iskariot, het Jesus dieselfde nag verraai. Die Joodse leierpriesters het hom ‘n groot bedrag geld aangebied indien hy hulle sou help om Jesus gevange te neem. En dan lees ons in Markus 14: 43 en verder hoedat Judas Iskariot mense na Jesus toe gevat het en hoe hulle die Messias met stokke en swaarde gevange geneem het.

Ons Here, Jesus Christus, verstáán dus die skok en die ontnugtering wat ‘n mens beleef wanneer iemand náby aan jou, jou verraai. Hy verstáán hoe dit voel wanneer iemand ‘n gelowige in die rug steek. Hy wéét waardeur ‘n mens gaan as die duiwel – die “vader van die leun” – jou valslik beskuldig en jou laat twyfel in jou geloof. Juis hieroor – omdat ‘n vertroueling Hom in die rug gesteek het – is Hy gekruisig. Al is Hy totaal en al ónskuldig, behandel sondaar-mense Hom asof Hy die Grootste Misdadiger is. Ménse vel ‘n oordeel oor Hóm – selfs al is Hy die Hoogste Regter, besluit ménse wat sy vonnis behoort te wees. Hulle hang Hom aan ‘n houtkruis op en spoeg op Hom en martel Hom totdat Hy sy laaste asem uitblaas.

Maar, geliefdes, niks van hierdie dinge gebeur sónder dat God, die Vader, daarvan weet nie. Want ons Here, Jesus Christus móés sterf as betaling vir élke sonde wat élke gelowige teen Hom en teen hul medemens doen – óók vir dié kere as ons, wie hier sit, God diep teleurstel. Aangesien God egter Almagtig is en nie onreg duld nie, wek Hy weer sy Seun uit die dood uit op. Met die krag van die Heilige Gees vaar Jesus Christus na die hemel toe op om sy plek, as Ewige Regter, te gaan inneem. Hy heers nou oor álle volke en regeerders van hierdie wêreld. Hy, alleen, oordeel oor dít, wat hier op aarde, maar óók in die heelal gebeur. Selfs al dink ménse dat hulle by magte is om oor iets/iemand te oordeel – is Gód ons Énigste Regter. Selfs al dink ménse niemand sal agterkom as hulle iemand valslik beskuldig of selfs al besef hulle nie hoe séér hulle hul medemens maak met hulle woorde wat voel soos messe wat in ‘n mens se rug ingeboor word nie.

Geliefdes, ons ontvang vanoggend die troos dat God van alles weet wat met ons, hier op aarde, gebeur. Hy sien al die onreg raak. Al die teleurstellings. Al die beskuldigings en verraad. Saam met Dawid bely elkeen van ons ook vanoggend: “God wat die opregtes help, Hy is my Beskermer. God is die betroubare Regter wat áltyd die skuldiges straf” (Ps. 7: 11 en 12). Dit is waar wat die digter van Psalm 7 oor die skuldiges sê: “Kyk, wie bevrug raak met onreg, en swanger is van gemeenheid, gee geboorte aan bedrog” (vers 15). God sal sorg dat dié mense, wie vir sy kinders ‘n gat grawe, sélf daar in val (vers 16).

Maar mág ‘n mens, soos Dawid, vir die Here sê dat jy onskuldig is? Staan ons wérklik onskuldig voor die Regter? Mag ons daarop aanspraak maak dat ons onberispelik is? Alleen deur Christus mag ons dit doen, geliefdes! Aangesien Hy rééds die vólle prys vir my sondes betaal het, beskou God, die Vader, my as onskuldig. Te danke aan Christus kan niémand énige kritiek teen ons inbring nie. Wat ‘n wonderlike troos, nie waar nie!? Onthou dit volgende keer as jou gewete jou só aankla dat jy nie kan slaap nie. Herinner jouself aan die vryspraak wat Christus se liefdesdaad aan die kruis vir jou gee – verál wanneer jy deur iemand vals beskuldig word.

Slot

Een van die groter terugslae in die lewe is as iemand – wie jy met jou léwe vertrou – jou in die steek laat. Verraad is sekerlik een van die érger dinge wat ‘n gelowige kan oorkom. Wat gaan ek doen wanneer iemand my in die toekoms teleustel? Hoe gaan ek reageer wanneer iemand my skielik in die rug steek? Ek gaan nie daardie vyand van my probeer bewys dat ek onskuldig is nie. Dit gaan niks help nie. Ek gaan nie terugbaklei of toelaat dat hierdie teleurstelling en seer my letterlik teen die grond platdruk nie.

As gelowige, gaan ek onmiddelik na my Vader toe. In die geloof smeek ek Hom om sy genade oor my situasie en my lewe. Ek maak sy Woord oop en herinner myself aan die Blyé Boodskap – die Goéíe Nuus – naamlik dat ek onskuldig verklaar word te danke aan Jesus. Hy is my Regvérdige Regter. Sy oordeel is altyd billik teenoor sy geliefde kiders. Want Hy sien álles raak – óók die onreg wat ek soms moet ly. Amen.