Psalm 9: 1 – 21

Skriflesing: Psalm 9: 1 – 21
Fokusvers: Psalm 9: 11

Tema: God laat jou nooit in die steek nie. Bely daarom – vol vertroue – sy Naam.

Inleiding

Psalm 7 en Psalm 9 behandel soorgelyke inhoud. Waar ons verlede week na Psalm 7 gekyk het,
handel vanoggend se preek oor Psalm 9. Baie van u sal onthou dat ons in verlede week se preek
raakgesien het dat God ons Énigste Regter is. In Psalm 7 verwoord die digter ook sy gevoel
teenoor iemand wie hom diep teleurgestel het. ‘n Sg. “goeie vriend” van hom het hom in die rug
gesteek, en daarom roep die digter, Dawid, vir God aan om oor hierdie valse beskuldiging te
oordeel.

God laat jou nooit in die steek nie

Psalm 9 bespreek soortgelyke temas as Psalm 7 en tóg is daar ‘n duidelike klemverskuiweing.
Waar Dawid, in Psalm 7, vol benoudheid en angs was, het hy, in Psalm 9, vrede en selfs vreugde
in die Here. Psalm 9 kan byna as ‘n vervulling van Psalm 7 beskou word. Alles waarvoor hy in
Psalm 7 gevra het, blyk asof die Here verhoor het vóórdat hy Psalm 9 geskryf het. In hierdie
“vervolgverhaal” hoor ons dan hoe die digter se vyande gevlug, gestruikel en omgekom het toe
God aan hulle verskyn het. Want juis híérvoor het hy in Psalm 7 gevra, nie waar nie? Hy het
gebid en gevra: “Help my, red my van almal wat my vervolg. Kom tog Here in U toorn. Kom my te
hulp, U wat bepaal het dat reg sal geskied.” Nóg iets waarvoor die digter in Psalm 7 gevra het, is
dat die Here oor alles en almal sal oordeel. In verlede week se Teksgedeelte vra hy: “Laat al die
volke rondom U kom staan. Neem hoog bó hulle U plek in op U regterstoel” (vers 8). En in
vanoggend se Teksgedeelte die vervulling:- “Toe U op U troon gaan sit het as Betroubare Regter,
het U aan my reg laat geskied. U het die nasies met vernietiging gedreig, die skuldiges laat omkom,
hulle naam het U vir altyd uitgewis.” ‘n Laaste wens van Psalm 7, wat in Psalm 9 bevestig word, is
die feit dat die vyand sélf in die gat sal val wat hulle vir die gelowige gegrawe het. Hierdie
gedagte word beide in Psalm 7 én Psalm 9 gevind: “Hulle voete is vasgevang in die net wat hulle
sélf gespan het” (Ps. 9: 16).
Ja, geliefdes, byna álles waarvoor daar in Psalm 7 gesmeek is, is in Psalm 9 vervul. En daarom is
die digter so onbeskryflik dankbaar teenoor God in hierdie Psalm. Waar Psalm 7 ‘n klaaglied
was, is Psalm 9 ‘n loflied! Omdat God die digter se gebed van Psalm 7 verhoor het, rig hy wéér ‘n
gebed tot God waarin hy sy groot dankbaarheid teenoor God-Drie-Enig verwoord. In vers 2 en 3
van hierdie Psalm bely Dawid: “Met my héle hart wil ek U prys, Here! Ek wil van U magtige
reddingsdade vertel. Oor U wil ek my verbly en vrolik wees. U Naam wil ek besing, o Allerhoogste.”
Die digter besef dat álle lof en eer en aanbidding Gód toekom en níémand anders nie. Dit is nie
hyself óf ‘n ander mens wat hom uit sy geweldige noodsituasie (van Psalm 7) gered het nie – dit
is die Hére.
Omdat ons in beide Psalm 7 én 9 die Here as Ewige Regter leer ken het, wil ons saam met die
Psalmdigter die Here loof! In vers 9 en 10 bely die digter drie eienskappe van God, as Regter.
Ons hoor, eerstens, dat die Here àltyd op sy regterstoel sit. Dit dui op God se Ewige Koninskap.
Van ewigheid tot in ewigheid is dit die Almagtige God wat leef en regeer. Anders as mense – en
selfs magtige volke – is God nie verganklik nie. Hy is die Alfa en die Omega. Die Eerste en die
Laaste. Aangesien Hy alle mense geskep het, het Hy die finale sê oor hulle lewens. Daarom is dit
alléén God wat oor álle mense oordeel. Dawid sê vérder dat die Here reeds gereed is vir die
oordeel. Soos ons verlede week gehoor het, oordeel God, die Vader ons deur sy Énigste Seun,
Jesus Christus. Nadat Jesus God se kinders met sy kruisdood verlos het, staan Hy op uit die
dood. Daarna vind sy hemelvaart plaas, sodat Jesus Christus dáár sy plek, as Ewige Regter, kan
gaan inneem. Hy is dus klaar gereed vir die finale oordeel soos Psalm 9: 9 sê. Laastens hoor ons
hoedat die Psalmdigter bely dat God ‘n regverdige uitspraak oor álle mense lewer. Vir die
óngelowige sê Hy: “Veroordeel, op grond van dit wat jy oor jouself gebring het.” Maar vir die
gélowige se Christus: “Vrygespreek, op grond van dit wat Ék namens jou gedoen het” (Matt. 25: 31
– 46). En daarom wil die digter van Psalm 9 die Here loof en prys vir die wonderlike uitkoms wat
Hy lankal reeds beloof het.
Die groot tema van Psalm 9 is dat die Here sy kinders nóóít in die steek laat nie. Dít wat Hy
beloof het, voer Hy áltyd uit, geliefdes. Aangesien die Heilige Gees vollédig in die digter se hart
woon, lê Hy Self die woorde in Dawid se mond. Dit is die Heilige Gees wat aan die digter – én
aan ons – daarop wys dat God ons nie in die steek kán laat nie. Waarom gee hierdie wete aan
ons soveel troos, geliefdes? Dit troos ons omdat ménse ons so maklik in die steek kan laat. Juis
omdat ménse nie altyd by hulle woord hou nie, vertrou ons nie so maklik nie. Dit veroorsaak dat
ons baie keer dink dat Gód sal optree soos wat ons medemens optree. Dat God ook bv. een ding
sê en iets totaal anders sal doen.
Maar, geliefdes, juis omdat God so totaal ánders as álle mense is, is dit buite sy karrakter om
ons in die steek te laat. Die digter van Psalm 9 bely so mooi in ons fokusvers: “Here, U laat dié
wat vra na U wil, nie in die steek nie.” Dit mag dalk soms vir ons voel asof die Here van ons
vergeet het. Soms voel dit soos ‘n ewigheid wat verby gaan – asof daar geen vordering en
uitkoms is nie. Soms voel dit vir ons asof ons bid en smeek, maar niks gebeur nie. Ons
omstandighede bly onveranderd. In daardie tye behoort ons egter aan ‘n Skrifgedeelte soos
Psalm 9: 11 vas te hou wat bely dat die Here nie sy kinders in die steek sal laat nie. Of Hebreërs
13: 5 waar daar staan: “God Self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat
nie.” Selfs wanneer Jesus sy dissipels, hier op aarde, moet verlaat, dan gee Hy aan hulle die
versekering: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie, Ek kom wéér na julle toe” (Joh. 14: 18).
Ons hoor egter nie net één maal hierdie troos Psalm 9 nie. Weer bevestig die Here sy
betrokkenheid in ons lewe in Psalm 9: 13: “Die Here vergeet nie die magteloses se hulpgeroep nie.”
En wéér in vers 19: “Die behoeftiges sal nie vir altyd vergeet word nie; die magteloses se hoop is nie
vir altyd verlore nie.”

Bely daarom – vol vertroue – sy Naam

Daarom – omdat ons God se getrouheid so duidelik raaksien – wil ons sy Naam bely. Ons wil
saam met ons medegelowiges sê dat ons in die Here se bestaan en óók in sy versorging glo. Ons
glo dat Hy – op sy tyd – uitkoms sal gee, want Hy is ons Getroue God. Hy is ons Here – soos ons
Hom in Psalm 9 leer ken. Die digter gebruik juis hierdie Naam van die Here om ‘n baie spesifieke
eienskap van Hom uit te lig. Hy is die Verbondsgod wat sy Woord gestand doen. Hy beloof sy
konstante beskerming en versorging aan ons, maar dan vra Hy van ons om Hom te bly vertrou –
Hy vra van ons om, sonder énige twyfel, in Hom te bly glo.
Wanneer ons – soos vandag – ons Here se getrouheid opnuut besef, dan wil ons ons
dankbaarheid teenoor Hom verwoord. As ons weer so aan ‘n einde van nóg ‘n jaar kom, en
terugkyk op alles wat hierdie jaar plaasgevind het – hoe die Here élke liewe dag met ons was –
dan kan ons nie ánders as om sy Naam te bely nie. Hy het ons nie een oomblik alleen gelaat nie –
Hy het ons beslis nie verlaat nie. Selfs al het ‘n mens dalk deur moeilike tye gegaan was die Here
áltyd daar. Hy het egter nie nét die afgelope jaar aan ons bewys dat Hy ons nie in die steek sal
laat nie, Hy doen dit regdeur ons lewe – regdeur die geskiedenis.
Mag ons, as gemeente, op sy getrouheid fokus, geliefdes. Ook in hierdie onsekere tyd waar ons
‘n nuwe predikant moet beroep, sal God ons nie in die steek laat nie. Hy sal aanhou sorg vir
hierdie gemeente van Hom en, deur sy genade, sal Hy weer iemand hierheen stuur. Die Heilige
Gees berei nou daardie persoon vir die gemeente voor, net soos wat Hy u voorberei op sy koms.
Laat ons, daarom, vir die nuwe predikantspaar bid, geliefdes, ongeag van wie die Here hierheen
wil stuur.
Kom ons vertrou opnuut op God, geliefdes, vir álles wat ons in hierdie lewe nodig het. God is
bewus van die swakker pryse in ons boerderye aangebied word. Hy is bewus van die feit dat ons
omgewing reën benodig. Die Here is bewus van my chroniese siekte of daardie gevoel van
eensaamheid en moedeloosheid wat my soms beetpak. Hy sal U nie in die steek laat nie. Hy het
reeds bepaal wat die uitkoms is en wanneer Hy dit sal gee. Al wat Hy van ons, in die tussen tyd
vra, is dat ons op Hom vertrou. Dat ons élke dag na Hom sal opkyk met ‘n verwagting wat vas en
seker is. Want Hy is getrou, geliefdes. Hy doen áltyd dít wat Hy beloof het.
Mag elkeen van ons opsoek wees na die vervulling van sy Verbonsbeloftes. Soos die digter van
Psalm 9, behoort ons gedurig op die uitkyk te wees vir dié dinge wat wél plaasvind. Byna álles
waarvoor die digter in Psalm 7 gevra het, is deur die Here verhoor. Psalm 9 kan dit bevestig.
Daarom die vraag: “Waarop fokus ons in hierdie lewe?” Op die s.g. “lang” wagtydperk voordat God
ons gebede verhoor? Of al die kere wat die Here nie “vinnig genoeg” reageer nie? Of sien ons sy
getrouheid raak, geliefdes? Erken ons al die kere wat Hy wél ons gebede verhoor het? En het
ons genoeg dankbaarheid daarvoor?

Slot

Die tyd wat tydens hierdie aardse lewe verloop, is so min teenoor hoe lank die ewige lewe gaan
wees. Soms voel dit vir ons asof die uitkoms nét nie wil aanbreek nie. Twee jaar is dalk al verby
en daar is nie énige beterskap nie. Jy bid dalk jare lank vir iets en wag stééds dat God jou gebed
verhoor. Maar wat vir óns soms soos ‘n ewigheid kan voel, is ‘n baie kort tydjie in die Here se oë.
Een ding is egter seker – die Here sal dié wat op Hom vertrou nié in die steek laat nie. Hy is die
Almagtige wat vanuit die hemel regeer. Hy sien alles raak wat met ons, hier op aarde, gebeur.
Christus het rééds die mag van die sonde vernietig. Die duiwel is verslaan. Sal Hy dan nie ook
ons gebroke gebede verhoor nie? Natúúrlik kan Hy, geliefdes! Op sy tyd en op sy wese.
Aangesien ons Here áltyd getrou bly aan dít wat Hy beloof, verwag Hy van ons om Hom te
vertrou. Kom ons erken, daarom, openlik dat die Here ons nooit maar nooit in die steek sal laat
nie, geliefdes. Amen.