Josua 1: 1 – 9

Skrifgedeelte: Josua 1: 1 – 9 (2020-Vertaling)

Fokusvers: Josua 1: 9 (“)

Tema: Omdat God áltyd by jou is, hoef jy nie in 2024 paniekbevange te wees nie.

Inleiding

Dit is normaal om hierdie tyd van die jaar angstig te wees. Soveel onsekerheid lê voor. Vir baie kinders is dit die begin van ‘n nuwe fase by die skool. Graad 1 of graad 8 lê dalk voor. ‘n Nuwe skool met nuwe maatjies en onderwysers. Dalk begin jy hierdie jaar te werk of dalk moet jy universiteit toe gaan. Hierdie jaar is dalk die eerste keer wat jy as afgetredene geklassifiseer gaan word. Dalk is dit hierdie jaar wat jy met daardie gevreesde mediese behandeling moet begin.

Die Here is oral by jou – orál waar jy gaan

Maak nie saak wát vir ons hierdie jaar voorlê nie – die mééste van ons voel angstig oor die onbekede wat hierdie nuwe jaar vir ons gaan inhou. Elke keer as ons in ‘n nuwe fase ingaan, voel ons tot ‘n mate onseker. Maak nie saak of dit ‘n nuwe graad op skool is, of ‘n nuwe nuwe beroep is of selfs net die volgende jaar is wat ons ingaan nie – tot ‘n mindere of ‘n meerdere mate voel ons  paniekbevange oor wat ons toekoms vir ons inhou.

Josua – waarvan ons gelees het – het hierdie gevoel met ons gedeel. Josua was die opvolger van Moses. Die Here gee aan Josua die opdrag om dít, waarmee Moses begin het, te voltooi. Wat ‘n roeping om te vervul? Dink net aan die spreekwoordelike “groot skoene” wat Josua nou moes vol staan! Soos ons weet was Moses sekerlik een van dié béste leiers wat die volk, Israel, al ooit gehad het. Hy het die voorreg gehad om gerééld na die Here se Stem te luister. Die Almagtige God het op ‘n gereelde basis aan Moses verskyn en hy was gereeld in die Here se heilige teenwoordigheid. Iets wat egter opvallend is, is dat ons lees dat Josua Moses se “kneg” of “helper” of “dienaar” was. Josua het dus feitlik in-diens-opleiding by Moses ontvang. Dit sou dan natuurlik hierdie taak van hom – as nuwe leier van Israel – ‘n bietjie makliker maak.

Tog kom ons, as lesers, agter dat Josua se roeping ‘n moeilike roeping moes wees. Daar staan nie pertinent dat Josua “bang” was of “nie kans gesien het vir dít wat op hom wag nie”, maar tog kan ons dit aflei. Josua erken nie sélf dat hy skrikerig is nie, maar tog het ons ‘n sterk vermoede daarvoor oor dít wat die Here vir hom gesê het. En dit is die belangrike hier, geliefdes: dit is die Hére wat in Josua 1 praat, en nie ‘n méns nie. Josua word nie deur sy medemens genader nie. Dit is nie een van sy volksgenote of ‘n koning of ‘n leier van ‘n ander volk wie aan hom hierdie opdrag gee nie, maar die Hére. Dit is die Almagtige Gód wat aan hom hierdie opdrag gee.

En wat was die opdrag? Josua moes Moses se roeping voltooi. Hy moes die volk, Israel, in die Beloofde Land inlei. Iets wat Josua egter op hierdie groot opdrag sou voorberei, is die feit dat hy nie nóú – hier in Josua 1 – dit vir die eerste keer hoor nie. Reeds in Deuteronomium 31 – toe Moses nog geleef het – ontvang Josua hierdie opdrag (vgl. vers 1 – 3): “Die Here het Josua, seun van Nun, die opdrag gegee en vir hom gesê: “Wees dapper en sterk, want dit is jy wat die Israeliete moet inbring in die land wat Ek met ‘n eed aan hulle beloof het. Ek sal met jou wees” (vers 23).

Josua ontvang dus nou ‘n geweldige verantwoordelikheid. Hy word skielik leier van die Here se eiendom. Hy word nou gekies om God se volk vêrder te lei – tótdat hulle in die land, Kanaän aankom. Iets wat hierdie opdrag van die Here egter nóg méér angswekkend maak, is die feit dat die Here in vers 2 sê dat Josua die volk deur die Jordaan-rivier moet lei. Vir hulle om in die Beloofde Land in te kom, moes hulle een laaste hekkie oorbrug: Die Jordaan-rivier. Soos enige ander groot rivier, is hierdie ‘n gevaarlike rivier. Weens die steil hellings in die omgewing is die Jordaan-rivier óók ‘n rivier wat gewéldig vinnig vloei. Ons lees in Josua 3 dat hierdie rivier gewoonlik vól was en dat die water oor ál sy oewers geloop het.

Tog – ten spyte val al hierdie angs en onsekerheid – het die Here sy nabyheid aan Josua beloof. Die Almagtige Verbondsgod het lánkal rééds met ‘n eed beloof dat sy kinders die Beloofde Land sal binnegaan. En nou word hierdie belofte wéér opnuut aan Josua bevestig. Soos wat die Here in Deuteronomium 11 aan Moses beloof het, bevéstig die Here nou aan Josua: Oral waar Josua en die volk trap, sal hulle eiendom word. ‘n Hele vrugbare gebied word nou aan hulle gegee. God se belofte gaan in vervulling! En sy kinders het NIKS om te vrees nie. In vers 5 ontvang Josua daardie wonderlike geruststelling van God: “Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie” (vgl. Hebr. 13: 5).

God beloof dus sy getrouheid – maar óók sy konstante nabyheid én sy heilige teenwoordigheid aan Josua. Hierdie troosvolle belofte van God herinner ons aan God se woorde aan die profeet, Jesaja in Jesaja 43 as Hy sê: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.” Soos ons weet is dit egter nie net híér waar die Here sy getrouheid aan ons bekendmaak nie. Die hele Bybel is vol van God se wonderlike beloftes wat nie nét vir daardie persoon bedoel is nie, maar vir élke gelowige wat dit lees. En dan sien ons nog boonop hoe hierdie beloftes in vervulling gaan. Elkeen van ons is getuies van God wat getrou bly aan sy Woord. Wat wérklik dít uitvoer wat Hy aan sy kinders gesê het.

Juis dít – God se beloftes – God se getrouheid – het aan Josua die waagmoed gegee om hierdie geweldige verantwoordelikheid na te kom. Omdat Josua oortuig was van God se konstánte nabyheid sien hy kans om die volk, Israel, deur die Jordaan-rivier te lei tot in die Beloofde Land in. Selfs al lyk dit onmoontlik en selfs al is dit ‘n moeilike taak, doen Josua dít waarvoor selfs ván die braafste mense nie kans sou sien nie. Te danke aan die Heilige Gees, Wie kragtig in Josua werk, twyfel Josua nie vir één oomblik in die God se betroubare Woord nie.

Moet, daarom, nie in 2024 paniekbevange wees nie

Maar, geliefdes, die wonderlike troos van Jesaja 1 stop egter nie hier nie. Nie nét beloof die Here dat Hy áltyd by Josua en sy volk is nie, Hy bemoedig sy dienaar selfs vérder deur hom vier keer te vra om dapper en sterk te wees. Die Getroue Verbondsgod gee vir Josua verskeie kere perspektief in hierdie gedeelte, geliefdes. Hy plaas Josua se fokus weer op die regte plek sodat Josua met ‘n lus en ‘n ywer sy opdrag kan uitvoer. Die Here gee drie redes waarom Josua dapper en sterk behoort te wees.

Eerstens behoort Josua baie sterk en vol moed te wees want Hy is gekies om die volk, Israel, na die land Kanaän toe te lei. Nie nét is die fisiese pad daarheen uitdagend nie, die figuurlike pad na die Beloofde Land is óók moeilik. Hy is ‘n nuwe leier wat die skoene van ‘n uitstekende vorige leier moet volstaan. Sal die volk, Israel, na hom luister? Sal hulle hom volg soos wat hulle Moses gevolg het? Natuurlik sal hulle – die Here het dit aan hom beloof. Josua se naam beteken boonop “Verlosser” – daarom behoort hy nie paniekbevange te wees nie.

Verder behoort Josua sterk en vol moed te wees sodat hy die hele wet van Moses nougeset kan uitvoer. As leier van die volk is Josua ook hul geestelike leier. Sy volksgenote hou hom dop en kyk op na hom as hul voorbeeld. Dit is nie altyd maklik om – in élke situasie – God se wil volkome uit te voer nie. Dit verg selfdissipline. Dit verg innerlike krag. En daarom behoort Josua homself aktief in te span om, in alle omstandighede, God se wil uit te voer, want hy is ‘n voorbeeld vir die hele volk. Laastens behoort hierdie dienaar van God hom nie laat afskik deur énige iets nie, want die Here sy God is by hom, óral waar hy gaan. Indien die verantwoordelikheid, as nuwe leier, óf die mense óf die pad na die Beloofde Land óf die groot rivier óf die mense van Kanaän hom oorweldigend is, behoort hy aan die Here se Woorde van ons fokusvers vas te hou.

En dit is presies wat die Here ook van jou en van my hierdie jaar verwag. God sal nie een van ons óóit in die steek laat óf verlaat nie. Ons het eintlik nóg meer rede as Josua om dit te glo, geliefdes, want die Ware Verlosser het rééds aan ons verlossing gebring. Met sy kruisdood is Jesus Christus deur God, die Vader, verlaat sodat ons nooit weer verlaat sal word nie. Met sy opstanding uit die dood bewerk Hy vir ons permanente burgerskap in die Ewige Kanaän. Al wat die Here van ons, as sy kinders vra, is om getrou te wees soos wat Hy getrou is. God verwag van ons om ons deel van die Verbond na te kom, geliefdes. En dan help Hy ons ook nog boonop daarmee: deur sy Heilige Gees maak Hy ons sterk en vol moed sodat ons sonder twyfel in Hom sal glo. Nie één van ons is, van nature, dapper en braaf genoeg om die onbekende aan te pak nie, en daarom aktiveer Hy ons daarvoor deur sy Gees. Hy herinner ons aan sy Verbondsbeloftes – wat vandag stééds geld – sodat ons sal kans sien vir dít wat hierdie jaar vir ons voorlê.

Geliefdes, die hele Bybel is deurtrek van God se getrouheid. Ons sien nie nét in Josua 1 hoe God se beloftes in vervulling gaan nie – ons sien dit op verskeie plekke in God se Woord raak. In sy liefde vir ons rig Hy weer die fokus op Hom en op sy Alomteenwoordigheid. Hy leer ons verskeie kere dat Hy óral by ons is – wáár ons ook al gaan. Dat Hy ten vólle in beheer is – selfs al lyk die toekoms vir ons donker. Daarom bely ons o.a. in Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13 dat “hierdie leer aan ons ‘n onuitspreeklike troos bied wanneer ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie, maar dat álles deur die beskikking van ons Hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met Vaderlike sorg en heers só oor alle skepsels dat – sonder die wil van ons Vader – nie een enkele haar van ons koppe of selfs nie ‘n mossie op die grond kan val nie. Ons vertrou hierop, omdat ons wéét dat Hy die duiwel en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons, sonder sy toelating en wil, geen skade kan aandoen nie.

Slot

Maak nie saak wát vir ons hierdie jaar voorlê nie – die mééste van ons voel angstig oor die onbekede wat hierdie nuwe jaar vir ons gaan inhou. Elke keer as ons in ‘n nuwe fase ingaan, voel ons tot ‘n mate onseker en selfs bang. Ons ontvang egter vandag toerusting vanuit God se Woord om gereed te wees vir 2024.

Nét soos die Here by Josua was en sy konstante nabyheid en sorg aan hom beloof het, net só beloof Hy dit aan elkeen van ons. Selfs al is hierdie ‘n onbekende jaar met baie onsekerheid, beloof die Here sy volle teenwoordigheid aan ons. Van een ding kan ons seker wees, geliefdes, en dít is dat God hierdie jaar élke oomblik met élkeen van ons sal wees. Wees daarom nie paniekbevange nie, en moet jou deur niks hierdie jaar laat afskrik nie. Want die Here, jou God, is by jou – óral waar jy gaan. Amen.