Skriflesing: 1 Korintiërs 2: 1-9 (1983 Vertaling)
Fokusvers: 1 Korintiërs 2: 2, 7 (1983 Vertaling)
Tema: Christus die Gekruisigde; die Wysheid van God.
Inleiding
Daar is vandag allerhande wenke om te sorg dat mens ‘n beter openbare spreker kan word. Enige persoon wat voor ‘n groep mense optree, wil gráág die gehoor se aandag behou. Dieselfde het vir die openbare sprekers van die Nuwe Testamentiese gegeld. Hulle wou ook graag die gehoor se aandag behou. Maar – soos baie sprekers vandág – was was óók daarop uit om die guns van die mense te wen. Want, in daardie tyd, was jy as ‘n suksesvolle openbare spreker beskou indien jy baie aanhangers gehad het. Hoe beter jou woordkuns, debattering- en oorredingsvermoë was, hoe meer aanhangers het jy gehad. Vir die Grieke was wysheid ook baie belangrik (1 Kor. 1: 22). Die openbare sprekers met sg. uitsonderlike wysheid, sou dan die héél mééste aanhangers gehad het. Húlle was gesien as die mees suksesvolle sprekers. Ons kan net dink hoe die openbare sprekers met mekaar gekompeteer het vir meer en meer aanhangers.
Christus die Gekruisigde
In ons teksgedeelte lees ons dat Paulus egter ánders as sy tydgenote opgetree het. Hy hou nie noodwendig by ‘n kort, treffende, inleiding nie. Ál sy preke bestaan nie uit drie hoofpunte nie. Hy beskou nie die ander openbare sprekers as sy kompetisie nie. Hy soek nie aanvaarding by sy gehoor nie. Hy loop nie met ʼn heuningkwas rond nie. Nee, Paulus volg ʼn ander strategie as die ander openbare sprekers van sy tyd.
Hy bring vir hulle ʼn eenvoudige boodskap en verwar hulle nie met ‘n hoë taalregister nie. Verder wil hy juis die fokus van homself afhaal. Hy verskuif die gehoor se fokus na Iemand anders as hyself. Hy wil ál die aandag op Jesus Christus plaas. Paulus praat nie met die mense oor hoe goed hysélf óf die Korintiërs is nie – hy praat met hulle oor hoe goed Jesus Christus is. Paulus verskuif ook die fokus na iets anders: hy fokus nie op die retoriek of die Griekse wysheid nie. Paulus se fokus is op die kruis. Hy vertel hulle eenvoudig dat Christus aan die kruis moes sterf vir al hulle sondes. Dat Jesus Christus ál hulle straf op Hom geneem het. So het Christus álle gelowiges van die ewige straf van God verlos. Paulus herinner die Korintiërs dat hulle moet onthou wat hy vir hulle geleer het toe hy hulle besoek het met sy tweede sendingreis (vgl. Hand. 18: 1-17). Soos Johannes die doper wys Paulus weer vir hulle “daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1: 29).
Geliefdes, Jesus Christus se kruisiging is die hart van die Evangelie. Dit is wat ons élke Sondag verkondig. Ons het vandág weer die geleentheid om dit aan te hoor! Elke dag – maar verál op ‘n Sondag – het ons die geleentheid om in die besónder aan Christus se kruisiging te dink. Die geleentheid om ons geloof te versterk. Dit is egter nie altyd maklik of lekker om aan Christus se kruisiging te dink nie. Dit is ‘n hartseer Waarheid wat ons laat besef wat dit van Christus geverg het om ons van ons sondes vry te spreek. Ons lees in vers 3 dat Christus se kruisiging vir Paulus bewus gemaak het van sy swakheid. Omdat Paulus gedurig aan Christus se selfopofferende liefde gedink het, het hy met vrees en bewing na die gemeente in Korinte gekom. Nie omdat hy vir die mense bang was nie, maar omdat hy verstaan het wat Christus moes deurmaak in sy – en húlle – plek.
Geliefdes, wanneer ons iets verstaan van wat ons Verlosser moes deurmaak in ons plek, besef ons ons eie swakheid. Dit gee aan ons ontsag/respek vir God. Juis wanneer ons ons eie onvermoë besef, dan kom God se álvermoë – God se almag – duidelik na vore.
Die boodskap van die kruis maak my, as gelowige, egter ook dankbaar, want ek besef daar is vir élkeen van my sondes betaal. Te danke aan Christus se kruisiging, is my sondes deur God vergewe. Ek het nou vrede by God. Ek leef in ‘n intieme verhouding met my Vader, maar dit is nét moontlik omdat die Gekruisigde betaal het vir al my sonde. Ja, al voel Paulus onbekwaam vir die roeping wat die Here aan hom gegee het, is hy bereid om dit te doen. Hy ervaar vrede met God, want die Heilige Gees werk krágtig in hom. Die Heilige Gees rus hom volkome vir daardie roeping toe. Soos ons geloof met élke erediens versterk word, so is Paulus se geloof in Korinte ook versterk. Ons lees in Handelinge 18: 9 en 10 dat die Here een nag aan Paulus die versekering rakende die Korintiërs gegee het: “moet nie bang wees nie, hou aan met preek en moet nie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”
Die Heilige Gees troos en bemoedig Paulus (en ons) met hierdie woorde. Hy laat Paulus besef dat die Korintiërs se geloof nie afhang van sy vermoë om te preek nie. Ons lees vers 4 dat die Boodskap van die Kruis hulle oortuig het, en nie Paulus se welsprekendheid nie. Dit is nie Paulus se manier van preek wat die Korintiërs oorreed het om gelowiges te word nie. Hulle is nie oortuig omdat Paulus goed kon redeneer nie. Hulle is nie oortuig omdat dit Paulus, as mens, se wyse woorde was nie. Nee, die Boodskap van die Kruis oortuig hulle omdat die Heilige Gees aan hulle die gawe van geloof gee.
Die Heilige Gees demonstreer aan hulle iets wat hulle nog nie verstaan nie. Wanneer iemand iets aan jou demonstreer, dan wys hy/sy vir jou hoe iets werk wat jy nie ken nie. Tydens hierdie demonstrasie kan jy – vir die eerste keer – met jou eie oë sien hoe iets werk. Dit is presies wat die Heilige Gees aan ons doen. Hy maak ons geloofsoë oop om te kan insien dat Christus régtig gekruisig is en dat Hy wérklik uit die dood opgestaan het. Die Heilige Gees oortuig ons óók dat ons glo dat ons ou mens saam met Christus gekruisig is (vgl. HK Sondag 16). Ja, die Here oortuig ons daarvan dat ons verlosde kinders van God is. Dít is die Wysheid van God, geliefdes: nl. dat Jesus Christus ons verlos deur te sterf op Golgota (vgl. 1 Kor. 1: 24). God se Wysheid is ‘n misterie. God se Wysheid is ‘n geheimenis – dit is iets wat verborge is – totdat die Here dit aan ‘n mens bekendmaak. En daarom lees ons dat almal nie hierdie geheimenis sal verstaan nie.
Die Wysheid van God
Vir die óngelowiges is die Boodskap van Christus aan die kruis, nie wysheid nie, maar dwaasheid. Hulle beskou dit as pure onsin om vas te hou aan wat Christus aan die kruis vir ons gedoen het. Vir die óngelowiges is Christus aan die kruis ‘n hulpelose en hopelose Figuur, sonder krag en sonder mag. Vir hulle is dit sinneloos dat mens jou hoop op so ‘n persoon sal stel.
Paulus stel dit eintlik baie sterk in 1 Korintiërs 1. Daar skryf hy dat die ongelowige wêreld die gelowiges afmaak as morone of idiote weens hulle geloof in die Gekruisigde. Hierdie mense meen dat Christus nie God is nie en dat Hy niks vir ons kan beteken nie. Ongelowiges beskik dus nie oor God se Wysheid nie, geliefdes. Anders sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie – selfs aan die kruis bly Jesus Christus stééds die Here van die heerlikheid. Wat moet ons houding teenoor ongelowiges wees? Al wat ons kan doen, is om te bid dat ons geduldig met hulle sal wees en ons kan ook bid dat hulle God se Wysheid sal ontvang.
God se Wysheid is ‘n geheimenis wat Hy slegs aan sy kinders bekendmaak. God gee nie nét sy Wysheid aan slim of geleerde mense nie. God se Wysheid word aan élkeen gegee wat Hom daarvoor smeek – maak nie saak wie jy is nie. As jy God se kind is, ontvang jy die Wysheid om te glo dat Jesus Christus se kruisiging genoeg is om te sorg dat al jou sondes betaal is. God se Wysheid is, verder, om vas te glo dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het, dat Hy nou langs God die Vader sit. God se Wysheid is om seker te wees dat jy ook eendag uit die dood sal opstaan. Omdat ons God se uitverkore kinders is, ontvang ons die Wysheid wat geen oog gesien het, geen oor gehoor het, en in die hart van geen mens opgekom het nie. Iets totaal en al nuuts wat alléén die Heilige Gees aan ons kan demonstreer.
Iemand wat al hierdie dinge glo en dit aan ander oorvertel is die een wat wérklik wys is. Ons moet nie dink iemand is wys as hy/sy ons beïndruk met wêreldse kennis nie. Iemand wat régtig wys is, sal sy/haar eie tekortkominge erken sodat God se volmaaktheid al meer op die voorgrond kan kom. Só iemand is nie op menslike wysheid ingestel nie, maar fokus slégs op die Wysheid van God. Só ‘n persoon maak nie op sy/haar eie oorredingsvermoë staat nie, maar vertrou dat die Heilige Gees die mense voor hom/haar sal oortuig.
Ses jaar terug het u ‘n nuwe predikant ontvang. Verseker het u sekere verwagtings van my gehad. Moontlik het u gewonder met watter wysheid ek hierdie gemeente gaan kom bedien. Van my kant af was daar ook sekere verwagtings oor die bediening hier. Maar sommer góú het ek my eie swakheid besef. Ek het ook besef – en besef stééds – hoe groot hierdie roeping is. En daarom het ek – van die begin af – my voorgeneem om na julle toe te kom met maar Een Boodskap. Ek wou slégs met julle praat oor Jesus Christus en Hom as die Gekruisigde. Ek vertrou dat die Heilige Gees my ten volle hiervoor toegerus het. Maar dit is u wat hiervan rekenskap moet gee. Was die jong dominee getrou aan sy voorneme? Na wie toe het hy ons oor hierdie afgelope ses jaar gelei? Wie het hy met elke Bybelstudie en preek en toerustingsgeleentheid aan ons bekendgemaak? Homself – of die Gekruisigde, Jesus Christus?
Genadiglik is julle geloof nie op hierdie jong dominee gegrond nie, maar alleen op die krag van die Heilige Gees. Mag u stééds die Wysheid van God soek, en nie mensgemaakte wysheid nie. Mag u heeltyd Christus aan die kruis raaksien wanneer u terugdink aan my bediening hier. Alléén deur Hóm is ons volkome aanvaarbaar by God. Mag ons, almal saam, God loof vir sy verlossing. Hy is waarlik die Here van die heerlikheid.
Slot
Geliefdes, die Boodskap van die Kruis, wat week na week aan julle gebring is, het julle oortuig om in God te bly glo. Nie deur ‘n welsprekende predikant wat aan die voorpunt is van die “moets- en die moenies” van Kommunikasie nie – allermins – maar deur die Krag van die Heilige Gees. Dit is Hy Wie ons álmal gerig het op God se Wysheid.
Bly alléén op Hom vertrou. Wees opsoek na sy Wysheid en nie na die sg. “wysheid” wat mense wil bring nie. Amen.