Genesis 15:1-21

Teksgedeelte: Genesis 15:1-21

Fokusvers: v17-18

Tema: Die Here is altyd getrou aan die verbond wat Hy met ons gesluit het en daarom kan ons altyd op Hom vertrou.

Hoofpunte:

  1. Die Here is altyd getrou aan sy verbond wat Hy met ons gesluit het
  2. Ons kan daarom altyd op Hom vertrou

Inleiding

Broers en susters. Ons almal sukkel om te vertrou op die Here. Dit is dalk nie in ons gedagtes so nie, maar ʼn mens kan dit raaksien in ons optrede en in ons ongesonde bekommernis. Ons voel gereeld asof ons menslike plannetjies gaan faal en ons vertrou nie op die Here se versorging nie.

Dit beteken nie noodwendig dat ons ongelowig is nie. Weens ons sondige natuur sukkel ons egter voortdurend om op die Here te vertrou. Dit is ook die geval met Abraham. Hy wat genoem word die vader van die Gelowiges. Hy wat in Heb. 11 deel is van die geloofshelde, se geloof het ook met tye gewankel. Hy was soos ons, net ʼn mens.

Dit beteken egter nie dat ons kan voortgaan hiermee nie. Dit is iets waarvan ons ons moet bekeer. Ons moet daarin groei om deurlopend op die Here te vertrou. Dit is wat die Here in hierdie teksgedeelte vir Abraham – en so ook vir ons – wys. Die Here is altyd getou aan die verbond wat Hy met ons gesluit het en daarom kan ons altyd op Hom vertrou. Ons kan ook daarin groot troos vind. Ons is en bly kinders van die Here. Hy hou ons vas. Hy laat alles in ons lewens ten goede meewerk. Niks kan dit ooit van ons af wegvat nie, want hy het dit vir ons gedoen.

1. Die Here is altyd getrou aan sy verbond wat Hy met ons gesluit het

In ons teksgedeelte vra Abraham twee maal vir die Here om vir hom te wys dat hy op Hom kan vertrou. Dit is ʼn man wat reeds gewys het dat hy die Here vertrou. Hy het, omdat hy op die Here vertrou het, weggetrek van sy land en van sy huis en sy familie af.  Ons moet onthou dat dit in die dae voor selfone, karre en die internet was. As jy op hierdie manier weggetrek het van jou familie af, was jy maar eintlik so goed soos dood vir hulle en hulle ook vir jou. Jy sou hulle nooit weer sien nie.

Dit was ook voor die dae van treklorries. As jy wegtrek, kan jy net die besittings wat jy kan dra of kan vervoer met esels saam met jou neem. Abraham het daarom amper alles wat hy het agter gelos om te gaan waarheen die Here hom gestuur het. Hy doen dit omdat hy op die Here vertrou het.

Abraham het egter nie ʼn Bybel gehad nie. Die Bybel was nog nie geskryf nie. Abraham het niks gesien of gelees of gehoor van God wat aan hom “bewys” het dat die Here getrou is nie. Die Here het met Abraham gepraat en hom gestuur en Abraham het geluister.

In Genesis 12, net nadat die Here vir Abraham gesê het om weg te trek, sê hy vir Abraham dat hy sy nageslag groot sal maak en vir sy nageslag ʼn land sal gee om in te woon. Die Here sê dit weer vir hom in Genesis 13 en ook nou in ons teksgedeelte in Genesis 15.

Die rede hoekom die Here hierdie vir Abraham sê, is omdat dit die manier is wat die Here gekies het om weer in verhouding te tree met die mens na die sondeval. Die Here het die mens geskep om Hom te dien, en om met Hom in ʼn verhouding te lewe. Terloops, dit is ons elkeen se ware lewensdoel. Dit is waarom ons hier is, om die Here te dien. Ons elkeen is geroep om dit op ons eie unieke maniere te doen, maar dit is ons ware lewensdoel. Weens die sondeval is dit egter verwoes. Ons verhouding met God en met mekaar is deur die sonde vernietig. God besluit egter om weer hierdie verhouding te herstel. Hy kies vir homself ʼn groep mense uit en maak hierdie verhouding weer reg. Hy besluit om dit met Abraham en sy nageslag en deur Jesus Christus, met al die gelowiges te doen. Nie net kies Hy vir hom ʼn groep mense hier in die Ou Testament uit om Hom te dien nie, Hy gee ook vir hulle ʼn ruimte of ʼn land om dit in te doen. Hy leer hulle ook hoe om te lewe tot sy eer deur vir hulle sy wet te gee.

Hierdie groot plan begin met Abraham en daarom belowe die Here aan Abraham dat Hy vir hom ʼn groot nageslag sal gee en ʼn beloofde land waarin hulle kan woon.

Hierdie verhouding wat God met sy mense maak, is nie net ʼn eenvoudige verhouding nie. Dit is ʼn verbond. Dit is ʼn woord wat ons gereeld by die kerk hoor. Maar weet ons werklik wat ʼn verbond is, en wat ʼn groot invloed dit  het op ons daaglikse lewe? ʼn Verbond is ʼn spesifieke tipe, amptelike verhouding met vasgestelde grense. Met ander woorde, hierdie amptelike verhouding moet op ʼn spesifieke tipe manier geskied. Die grense van hierdie verhouding word gestel deur beloftes en vereistes. Met ander woorde, die beloftes en vereistes bepaal die manier waarop die verhouding moet voortgaan.

Baie verhoudinge in ons lewens is eintlik verbonde. As ons getroud is, dan is ons in ʼn huweliksverbond. Toe ek met my vrou getrou het, het ek belowe om vir haar lief te wees en aan haar getrou te bly tot die dood ons skei en ek vereis dat sy dieselfde vir my sal doen. Dit is dus ʼn amptelike verhouding met beloftes en vereistes. Nog ʼn voorbeeld is ʼn werkgewer-werknemer-verhouding. Die werkgewer belowe om sy werknemer te betaal, maar vereis dat die werknemer vir hom sekere take doen of vir hom werk.

Die verbond wat die Here met ons gemaak het, is egter anders as die twee voorbeelde wat genoem is. In die bogenoemde voorbeelde kom die twee partye saam en besluit saam om in te stem tot die verbond. Hulle kan selfs in sommige gevalle onderhandel oor die spesifieke vereistes en beloftes wat daar gestel is. Dink maar aan die verhouding tussen die werkgewer en die werknemer. Die werknemer kan onderhandel en vra vir meer geld as hy meer werk doen, ens. Die twee partye staan op gelyke voet en stem saam in tot die ooreenkomste van die verbond.

Binne die verbond wat die Here met ons maak, staan die twee partye nie op gelyke voet nie. Ons moet nie dink dat ons op gelyke voet met God kan staan nie. Dit is arrogant. Binne hierdie tipe verbond is daar ‘n meerdere party en ʼn mindere party. Die meerdere party bepaal die grense van die verhouding. Hy bepaal die beloftes en vereistes.  Die Here gaan na Abraham toe en maak met hom en sy nageslag ʼn verbond. Abraham het nie ʼn sê daarin nie. Hy kan nie die grense onderhandel nie.

In die Bybel se tyd het dit gebeur wanneer een land ʼn ander land verower het. Dan het die koning van die groter en sterker land met die koning van die kleiner land in ʼn verbond gegaan en iets gesê soos: “Betaal aan ons belasting anders sal ons julle uitroei. Ons sal ook aan julle beskerming gee en as een van ons in ʼn oorlog betrokke raak met ʼn ander land, moet ons saam veg.”

Alhoewel die verbond wat die Here met ons sluit ook so ʼn verbond is, is dit nie een waar die Here ons domineer of uitbuit soos met die vorige voorbeeld nie. Dit is eerder een waardeur die Here ons red. Die beloftes wat Hy maak binne sy verbond is tot ons redding. Sonder hierdie verbondsverhouding met die Here, sal ons oorgelaat word aan ons sonde. Binne die verbond met God is ons in ʼn ewige lewende verhouding met Hom en kry ons ook die ewige lewe. Daarom verwys baie mense na hierdie verbond as die genadeverbond.

Genade is onverdiende guns. Dit is ʼn goeie ding wat iemand aan ons doen wat ons nie verdien nie. Ons het weens ons sonde, ons verhouding met God gebreek. Ons verdien daarom sy ewige straf en die ewige dood, maar die Here kom in sy groot genade en Hy tree weer met ons in ʼn Verbond. ʼn Verbond wat lei tot ons redding. Die genadeverbond.

Die kern van die verbond wat die Here met ons maak is- Ek sal vir jou ʼn God wees en jy moet vir my ʼn volk wees. Die Here maak daarom aan ons ʼn belofte dat Hy met ons ʼn pad stap; dat Hy ons God en Vader is wat ons beskerm en vir ons sorg. Hy laat alles in ons lewens ten goede meewerk sodat ons in ons geloof groei- die goeie en die slegte. By Hom het ons ook die ewige lewe.

Hy vereis dan van ons gehoorsaamheid aan sy wet. Ons moet Hom heelhartig dien, want ons is sy volk. Ons moet sy naam groot maak en Hom eer. Ons moet Hom aanbid. Ons moet ook onthou dat dit die rede is waarom God ons geskep het. Ons doen daarom waarvoor ons gemaak is en dit bring vir ons baie vreugde.

Die Here het net een verbond met ons en deur die Bybel lees ons van verskillende bedieninge daarvan. Ons lees van herbevestigings, versterkings en uitbreidinge op die verbond, maar dit bly  een verbond. Dink maar aan die bediening van die verbond wat God gemaak het met Noag, met die volk van Israel en met Dawid. Ook so met Abraham, waarvan ons vanoggend gelees het. Die Here kom en hy bevestig weer die verbond wat Hy met Abraham gemaak het.

2. Ons kan daarom altyd op Hom vertrou

Soos reeds genoem, het ons hier van ʼn keer gelees waar Abraham se vertroue op God gewankel het. Die Here kom aan die begin van hoofstuk 15, in vers 1, na Abraham toe en Hy herinner hom dat Hy by hom is en dat sy beloning groot sal wees. Hierdie beloning verwys na Abraham se nageslag. Hier is Abraham steeds Abram, dit is voordat die Here vir hom ʼn nuwe naam gegee het. Abram sukkel hier om op die Here te vertrou. Hy dink nie hy kan ʼn groot nageslag kry nie, want hy het nog nie kinders nie en daarom vra hy vir die Here in vers 2-3: “Here wys vir my dat ek ʼn groot nageslag sal hê”. Hy het gedink sy nalatenskap sal alleen deur sy diensknegte kan kom.

Die Here vat dan vir Abram in vers 4-5 in die nag buite na die sterre toe en Hy wys vir Abram al die sterre en sê vir hom: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre van die hemel”. Hier in die Karoo is daar werklik baie mooi sterre. Daar waar ek vandaan kom, is daar darem sterre, maar nie so baie soos hier nie. Toe God vir Abram die sterre gewys het was daar nog nie so baie mense op die aarde soos vandag nie. Daar was ook nog nie elektrisiteit nie, en daarom ook nog nie ligbesoedeling nie. Hy kon daarom baie sterre sien, soortgelyk aan die sterre wat mens op ʼn plaas in die Karoo sien, dalk selfs net nog meer. Die Here sê vir hom, jou nageslag sal so baie wees soos die sterre in die hemel en Abram glo dit.

Dit is merkwaardig dat daar in vers 6 staan dat hierdie geloof vir die Here goed was. Die ou vertaling sê dat dit tot sy geregtigheid getel het. Dit is daarom duidelik vir die Here goed as ons op Hom vertrou en ons moet daarom daarin groei om dit werklik te doen in ons daaglikse lewens.

Die Here sê dan in vers 7 vir Abram dat hy vir sy nageslag die beloofde land sal gee, maar Abram vra dan weer vir die Here in vers 8 om “vir hom te wys” dat Hy vir sy nageslag die beloofde land sal gee. Sy geloof wankel weer. Daar gebeur dan in die res van die verse iets werklik merkwaardig. Die Here antwoord vir Abram op ʼn besonderse manier.

Hy se vir Abram: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.” Abram doen dit en sny dan die groot diere in die helfte en pak hulle so oorkant mekaar dat dit ʼn tipe tonneltjie maak waardeur ʼn mens kan loop. Dit klink vir ons besonder vreemd. Hoekom sal Abram dit doen? Dit was die manier hoe die mense in die Bybelse tyd ʼn verbond gesluit het. Ons lees ook van hierdie manier om ʼn verbond te sluit in Jer. 34:18.

Vandag het ons die gebruik om op ʼn papier te teken of blad te skud, maar in daardie dae het hulle ʼn verbond gesny. Soveel so dat wanneer ons in die Bybel lees “Hulle het ʼn verbond gesluit” staan daar altyd meer direk in die Hebreeus “Hulle het die verbond gesny”. Hulle sny ʼn verbond. Die bedoeling is dan dat albei of een van die partye deur die tonnel van karkasse loop en daarmee sê hulle “Mag ek soos hierdie diere verskeur word indien ek nie getrou is aan die verbond wat ek gemaak het nie”

Die Here laat dan ʼn diep slaap, groot donkerte en angs oor Abram kom. Abram kan niks doen nie. Hy ervaar angs. Hy ervaar die vrees van die Here, want hy besef dat hy kan niks doen nie. Hy sien dan hoe ʼn rokende oond en ʼn brandende fakkel deur die karkasse deur beweeg. Dit is God self wat deur die karkasse beweeg. God openbaar homself hier op ʼn manier wat ons kan sien en kan verstaan. God se grootheid en heerlikheid is so groot dat ons dit nooit met ons menslike verstand sal kan verstaan nie en ook nooit met ons menslike oë kan sal sien nie. Niemand kan God sien en bly lewe nie. Daarom verskyn Hy aan Abram op ʼn manier wat hy tog kan sien en verstaan. Die Here gebruik gereeld beelde van vuur wanneer Hy homself op hierdie manier openbaar. Dink maar aan die brandende bos. Ons kan ook dink  aan die vuurkolom in die woestyn en die lig en die rook op die berg Sinai.

Dit is die Here self wat deur die karkasse beweeg het. Dit is Hy wat self sê: “Mag ek verskeur word soos hierdie diere as ek nie getrou is aan die verbond wat ek met jou gesluit het nie”. God kan nie in twee geskeur word nie. Wanneer iemand vir ons vra om te verduidelik wat dit beteken dat God almagtig is, sal ons sê “dit beteken dat hy enige iets kan doen” of “Hy kan alles doen”. Alhoewel dit amper waar is, is dit nie heeltemal waar nie. Daar is dinge wat die Here nie kan doen nie. Hy kan nie teen homself gaan nie. Hy kan nie sondig nie. Hy kan Homself ook nie vernietig nie. God kan nie in twee geskeur word nie. Hy kan ook nie jok nie en daarom kan ons altyd op Hom vertrou.

Daarom is dit wat God hier doen, so besonder merkwaardig. Hy kom na Abram toe, en so ook na ons toe, en sê vir ons dat Hy altyd aan ons getrou sal bly. Die Hebreërs se skrywer, wanneer hy oor hierdie stuk praat, sê in Heb.6:13 dat God hier by homself sweer, omdat Hy self die hoogste ding is waarby hy kan sweer. Is dit nie merkwaardig nie? God sweer by homself dat Hy getrou sal bly aan sy verbond. Ons kan daarom ook weens die sekerheid wat ons het in die Here werklik troos en rus in Hom vind.

Uit ons eie uit kan ons egter nie hierdie glo nie. Soos ons reeds genoem het, wankel ons geloof gereeld weens ons sondige natuur. Ons is daarom afhanklik van die Heilige Gees wat in ons harte werk om in God te glo en vertroue in ons harte te kweek. Wanneer ons geloof wankel, moet ons daarom bid dat die Here weer vertroue in ons harte sal bewerk deur sy Heilige Gees. Dit is maklik om dit nou vir mekaar te sê, maar dit is werklik noodsaaklik dat ons dit doen wanneer dit oorgaan na die praktyk toe. Wanneer ons angstig is oor die dinge van die lewe. Dan moet en kan ons weet dat, maak nie saak wat gebeur nie, ons lewe in ʼn vaste en amptelike verhouding met God wat Hy self ingestel het en waaraan Hy getrou bly. Dit beteken dat Hy ons God is en Hy sorg en beskerm ons . Deur Hom het ons die ewige lewe. Ons moet nie vaskyk in ons daaglikse teëspoed en hoop verloor nie. Ons kan weet dat die Here het met dit alles ʼn ewige plan en Hy is die een wat uitkoms gee op sy tyd en op sy manier.

Dit is omdat die Here nie net met Abram ʼn verbond gesluit het nie. Deur ons Here Jesus is ons ook deel van die verbond van die Here. Die Here maak hier ʼn verbond met Abraham en sy nageslag. Hy maak dus ʼn verbond met die Jode. Ek twyfel of ons wat hier sit Joodse voorgeslagte het. Daarom is dit net deur Jesus wat ons deel het aan die verbond.

In Gal. 3:29 staan daar: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Wat werklik merkwaardig is, is ook dat Christus namens ons die vereistes van die verbond nagekom het. God sê vir ons- Ek sal vir Jou ʼn God wees en jy moet vir my ʼn volk wees. Dit beteken dat ons volkome gehoorsaam moet wees aan sy wet. Dit is die vereisteswaaraan ons moet voldoen om deel te wees van die verbond van God. Ons kan dit egter nie doen nie. Dit is nie vir ons moontlik nie. Ons sondig elke dag. Christus kom egter en hy is namens ons volledig getrou aan die wet van die Here. Hy dra ook die straf wat ons verdien het omdat ons ontrou was. Sy liggaam word verskeur soos wat die diere in die helfte geskeur is. Hy dra ons verdienste en ons kry sy verdienste.

Nie net maak God met ons ʼn verbond nie, deur sy Seun onderhou Hy ook die verbond namens ons. Ons is daarom deur Christus deel van die verbond en niks kan dit van ons af wegneem nie. Dit is ‘n ware genadeverbond.

Slot

Broers en Susters dit is die geval dat ons geloof soms wankel. Weens ons sonde sukkel ons om in hierdie bedeling deurlopend op die Here te vertrou. Die Here het egter vir ons vanoggend gewys dat Hy altyd getrou bly aan ons. Hy sweer by homself dat hy getrou sal bly aan sy beloftes. Daarom kan ons altyd op die Here vertrou, en moet ons ook so doen in ons lewens.

Amen.