Teksgedeelte: Mat. 6: 25-34
Fokusvers: v33
Tema: God sorg vir ons, daarom moet ons nie bekommerd wees nie en onsself beywer vir die koninkryk van God.
Hoofpunt 1: God sorg vir ons
Hoofpunt 2: Ons hoef nie bekommerd te wees nie
Hoofpunt 3: Ons moet eerder onsself beywer vir die koninkryk van God.
Inleiding
Broers en susters, angs en bekommernis is ʼn universele probleem van die mens. Ons almal is bekommerd. Daar is baie dinge waaroor ons bekommerd kan wees. Ons is dalk bekommerd oor die toestand van ons land en ons gemeenskap. Ons kan bekommerd wees oor die komende verkiesing. Ons kan bekommerd wees oor die werk wat ons doen; oor hoe die boere op die oomblik swaar trek. Ons kan bekommerd wees oor ons kinders of ons familie se veiligheid.
Ons as mense is so angstig dat ons nodig het om te vlug na verskillende dinge toe om ons te kalmeer. Ons vlug na vermaak of na ander dinge toe, soos alkohol en nikotien. Dit kan moontlik selfs iets wees soos koffie. Ons het verskillende dinge nodig om te “cope” met die spanning van die lewe.
Die feit van die saak is dat ons mense baie bekommerd is. Die vraag is egter of ons as Christene bekommerd is oor die regte dinge en/of op die regte manier. As ons die bogenoemde ontvlugtingsmiddele die hele tyd nodig het en daaraan verslaaf raak, dan is die antwoord waarskynlik nee.
Hoofpunt 1: God sorg vir ons.
Ons teksgedeelte sê op drie plekke vir ons om nie bekommerd te wees nie. In vers 25, 31 en 34. Dit is merkwaardig want die teksgedeelte wat ons gelees het, is deel van die Bergpreek van Jesus. Dit is Jesus self wat vir ons hierdie leer. Die Bergpreek is die eerste preek van Jesus wat vir ons in die Bybel opgeteken staan in die evangelie volgens Matteus. Die groot tema van al Jesus se prediking is die koninkryk van God. Dit is wat Hy verkondig het. Hier in die Bergpreek handel dit grootliks oor hoe ons as burgers van die koninkryk van God behoort te lewe, maar nog dieper, gaan dit eerder oor wie ons behoort te wees. Dit gaan oor die eienskappe van ʼn burger van die koninkryk van God. As ons hierdie eienskappe het, sal ons ook anders lewe. Ons is totaal anders as die mense van die wêreld en daarom lewe ons ook anders as die mense van die wêreld. Die spesifieke eienskap van ʼn burger van die koninkryk van God, wat Jesus vir ons hier leer, is dat ons nie soos die ongelowiges bekommerd is oor die dag van môre nie, maar dat ons onsself juis eerder beywer vir die Koninkryk.
Die bekommernis waaroor die teksgedeelte dan gaan, is ʼn ongesonde en sondige bekommernis oor die materiële. Die teksgedeelte waarsku nie teen ʼn gesonde bekommernis of eerder besorgdheid nie, nee, dit waarsku teen angs en bekommernis oor die materiële dinge wat gewortel is in ʼn wantroue op die Here se sorg. Jesus probeer nie hier vir ons ʼn gesindheid aanleer waar ons net nie oor enige iets omgee nie. Daar is dinge waaroor ons as Christene besorgd moet wees, soos juis die koninkryk waarna ons later meer gaan kyk.
Dit handel dan spesifiek oor die afgod van materialisme en die bekommernis wat daarmee gepaard gaan. Jesus praat spesifiek oor die dinge wat jy gaan eet, wat jy gaan drink en wat jy gaan aantrek. Dit is die materiële dinge waaroor die mens omgee.
Wanneer ons materialisme verafgod, het dit altyd die gevolg van permanente angs. Jy is altyd angstig, want ons as mense kan nooit genoeg hê nie. Sodra ons het waarvoor ons gewerk het, dan word ons weer daarmee ontevrede en ons werk weer vir nog iets. Ons is vasgevang in ʼn siklus van begeerte, want ons wil net heeltyd meer hê. Ons is dan ook angstig dat ons die dinge wat ons het, gaan verloor. Hoe meer dinge jy het, hoe meer dinge kan jy verloor. Dit kan dan ook nog meer angs veroorsaak. Ons is bekommerd oor wat ons môre gaan eet, drink en aantrek. Ons sien raak dat die aardse dinge waarop ons staatmaak, kan faal en eventueel gaan faal.
Jy vind dan jou sekuriteit en rus nie in die sorg van die Here nie, maar eerder in hoe groot die getal is in jou bankrekening, hoeveel spaargeld jy bymekaar gemaak net. Jy vind dit in hoe hoog jou mure is wat rondom al jou dinge gebou is.
Hiermee sê ek hoegenaamd nie dat ons nou onverskillig moet wees nie. Ons moet dit wat die Here vir ons gee, oppas. Ons moet ook onsself oppas. Daarom moet ons ons deure sluit en ons moet spaar vir die dag van more, maar ons moet nie ons ware rus vind in die menslike planne wat ons gemaak het nie. Ons vind ons ware rus in die Here en daarom hoef ons nie bekommerd te wees nie, want die Here sorg vir ons.
Ons kry egter die opdrag om verantwoordelik om te gaan met dit waarmee die Here ons seën in Spreuke 6:6-8.
“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.”
Jesus verduidelik op ʼn baie besonderse manier dat ons nie moet bekommerd wees nie, want die Here sorg vir ons. Hy sorg vir die voëls van die hemel en vir die blomme van die veld. Hoekom sal Hy dan nie vir ons sorg nie? Jesus sê vir ons, kyk na die voëls van die hemel. Hulle saai nie en hulle maai nie, maar tog sorg die Here vir hulle. Hy sê ook dat ons moet kyk na die lelies van die veld. Hulle swoeg nie en maak nie klere nie. Tog is Salomo in al sy prag nie so mooi soos hulle nie. Die Here gee kos vir die voëls en hy beklee die lelies van die veld. Die Here is die een wat alles onderhou en daarom sal Hy selfs nog meer vir ons, sy kinders, onderhou.
Ons kan dit met sekerheid weet, want God het ons sy kinders gemaak. Ons lees hierdie spesifiek in Joh. 1:12-13:
“12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.”
Hy het ons so lief gehad dat Hy sy eniggebore Seun vir ons gestuur het om ons sy kinders te maak. Ons is uit ons eie nie kinders van God nie. Ons is eintlik uit ons eie vyande van God. Vanaf die sondeval het ons as mens teen God gedraai en daarom verdien ons die straf van die dood. Ons het gedraai teen die Almagtige God en ons was teenoor Hom ongehoorsaam. Daarom verdien ons die straf vir ons ongehoorsaamheid. Uit ons eie uit is ons nie kinders nie, maar vyande. God het egter in sy groot barmhartigheid vir ons sy Seun gestuur om die straf wat ons verdien het, vir ons te dra. Hy het doodgegaan vir ons sondes. Hy het egter nie net doodgegaan nie, maar Hy het die dood oorwin. Hy lewe en ons lewe deur Hom. Hy het die dood oorwin en ons skoongewas van ons sonde sodat ons nou vlekkeloos voor die Here staan. As die Here nou na ons kyk, sien Hy nie ons ou mens raak nie, maar Hy sien sy Seun raak. Hy sien sy kind raak vir wie Hy lief is. Daarom is ons nou kinders van God en daarom sorg God vir ons. Daarom hoef ons nie bekommerd te wees oor die dag van more nie.
Dit beteken egter nie dat alles altyd net goed sal gaan nie. Die Here bepaal in sy almag en alwetendheid die pad wat Hy met ons elkeen loop. Hy laat toe dat dit soms met ons sleg gaan, maar Hy laat dit altyd toe met ʼn rede. Hy gee ook altyd uitkoms op sy tyd en op sy manier. Hy belowe egter in Rom. 8 dat Hy altyd alles ten goede sal laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Hy laat alles meewerk sodat ons kan groei in ons geloof en in ons heiligmaking.
Hy belowe ook in vers 33 van ons teksgedeelte dat hy altyd vir ons alles sal gee wat ons nodig het. Hier staan nie dat Hy altyd alles vir ons sal gee wat ons wil hê nie, hier staan egter dat hy alles vir ons sal gee wat ons nodig het. Hy weet wat ons ware grootste behoeftes is en daarvolgens sorg hy vir ons. Wat ons nodig het, is soms vir ons onaangenaam en swaar, soms is dit vir ons wonderlik, maar Hy weet presies wat ons nodig het en Hy gee dit vir ons.
Dit is ook nie goed dat ons kry wat ons wil hê nie. Ons vind hierdie wysheid weer in Spreuke 30:8-9:
“… gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die Here? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”
Hoofpunt 2: Ons hoef nie bekommerd te wees nie
Omdat ons weet dat die Here vir ons sorg moet ons as gelowiges dan nie bekommerd te wees oor die dag van more soos die ongelowiges nie. Ons teksgedeelte sê dat die ongelowige bekommerd is oor dit wat hy gaan aantrek of dit wat hy gaan eet. Dit is omdat die ongelowiges staatmaak op verganklike aardse dinge en daarom moet hulle bekommerd wees. As gelowiges maak ons staat op die Here. Sy sorg is vas en seker. Ons moet daarom nie bekommerd wees nie.
Hierdie beteken egter nie dat ons die emosie van “kommer” of “besorgdheid” as heeltemal sondig ag nie. As gelowiges is daar egter dinge waaroor ons op ʼn gesonde manier bekommerd of eerder besorgd moet wees. Soos reeds genoem, probeer Jesus nie hier vir ons ʼn ingesteldheid aanleer waar ons net nie oor enige iets omgee nie. Ons moet omgee en besorgdheid hê oor die regte dinge op die regte manier waar ons steeds vertrou op die Here.
Ons teksgedeelte sê vir ons dat ons onsself moet beywer vir die koninkryk van God. Ons sal later dieper hierop ingaan, maar dit is iets waaroor gelowiges besorgd moet wees. Ons moet op ʼn gesonde manier besorgd wees oor ons medegelowiges en ons families. Die Here het ons juis aan mekaar gegee sodat ons oor mekaar sorg kan dra en besorgd oor mekaar kan wees.
Daar is ook ʼn gesonde manier hoe ons besorgd kan wees oor ons beroepe, ons daaglikse werk. Die beroep wat ons beoefen het die Here tog vir ons gegee en ons moet dit tot eer van sy naam doen. Dit maak nie saak waarmee ons onsself besig hou deur die dag nie, die Here het ons daar geplaas en ons moet dit tot eer van sy naam doen. Ons moet egter nooit ons beroepe of ons families of enige iets anders verafgod nie. Dit is juis wanneer ons dinge verafgod dat ons op ʼn sondige manier daaroor bekommerd is.
Ons moet daarom elkeen vir onsself afvra: Waaroor is ons bekommerd en op watter manier is ons daaroor bekommerd? Ons moet met onsself eerlik wees. Is ons op hierdie manier bekommerd? Is ons bekommerd op ʼn manier wat daarvan getuig dat ons nie op die Here vertrou nie? As ons is, en ons weet waaroor, dan sal ons agterkom watter dinge ons in ons lewens verafgod. Ons moet ons dan daarvan bekeer en rus vind in die Here. Ons moet tot Hom bid en vir Hom vra om in ons harte te werk deur die Heilige Gees. Dit is juis Hy wat ware vrede en geloof in ons harte bewerk.
Hoofpunt 3: Ons moet eerder onsself beywer vir die koninkryk van God.
Wat werklik merkwaardig is, is dat Jesus vir ons in ons fokusvers sê dat ons nie moet bekommer oor die dag van more nie, maar dat ons eerder onsself moet beywer vir die koninkryk van God. Dit is waaraan ons ons energie moet spandeer. Dit is waaroor ons moet omgee. Ons moet nie ons eie aardse koninkryke opbou nie. Ons moet die koninkryk van God opbou.
Die teksgedeelte sê egter spesifiek nie dat ons moet “bekommerd” wees oor die koninkryk van God nie. Ons weet God is in beheer van sy koninkryk en daarom is ons nie daaroor bekommerd nie, dit is egter waarvoor ons onsself moet beywer. Dit is waarvoor ons moet bid. Dit is waaroor ons moet sorg dra.
Dit beteken nie dat ons elkeen ons daaglikse werk moet los en sendelinge word nie. Nee, die Here het sommige vir daardie taak geroep, maar die meerderheid van ons het hy geroep om die koninkryk te bevorder hier waar ons is. Ons moet die koninkryk van die Here opbou juis hier waar Hy ons geplaas het. Ons is hier met ʼn rede. Ons moet dit doen hier in ons eie gemeenskap, met die mense met wie ons almal elke dag te doen kry. Ons doen dit deur te lewe soos burgers van daardie koninkryk. Ons lewe heeltemal anders. Ons doen dit ook deur met woord en daad, tydig en ontydig, te verkondig dat die Koning van hierdie koninkryk weer kom.
Ons teksgedeelte sê in besonder dat ons dit doen deur nie bekommerd te wees soos wat die ongelowiges bekommerd is nie. Ons doen dit deur draers van hoop te wees in ʼn hopelose wêreld. Ons doen dit deur in vrede te lewe in ʼn wêreld vol van chaos en geweld. Ons doen dit deur op die Here te vertrou en nie op onsself nie, al gaan dit hoe goed of hoe sleg.
Ons moet daarom nie kla en moedeloos word nie. Hou moed in die Here en beywer jouself vir sy koninkryk.
Slot
Broers en susters, ons het vanoggend begin deur te sê dat ons as mense baie bekommerd is. Ons is bekommerd oor die dag van more. Jesus het ons egter in die deel van die Bergpreek wat ons gelees het, geleer dat ons nie moet bekommerd wees vir die dag van môre nie, want ons weet dat die Here vir ons sorg, want ons is sy kinders. Ons kan daarom ware vrede in Hom vind. Ons moet ook daarom onsself eerder beywer vir die koninkryk van God waarvan ons burgers is.
Amen