Rom. 12:1-8
Teksgedeelte: Rom. 12:1-8
Fokusvers: v1
Tema: Op grond van God se groot ontferming moet ons onsself aan Hom gee as lewende, heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
Hoofpunt 1: God het Homself grootliks oor ons ontferm
Hoofpunt 2: Daarom moet ons onsself gee as lewende heilige offers.
Hoofpunt 3: Hoe gee ons onsself as heilige lewende offers?
Inleiding
Broers en susters, om te offer, is ʼn ding van die Ou Testament. Vandag se gelowiges gee nie offers vir God nie. Op ʼn manier is dit reg. Ons offer nie meer soos in die dae van die Ou Testament nie. Dit is egter nie waar dat ons as gelowiges glad nie meer offer nie. Binne ons teksgedeelte sê Paulus egter vir ons dat ons moet offer.
Paulus dring daarop aan, hy vermaan ons as gelowiges om te offer. Maar wat moet ons offer? Ons moet onsself offer. Ons liggaam.
Hoofpunt 1: God het homself grootliks oor ons ontferm
Voordat ons egter verder kyk na wat dit beteken om onsself op te offer, moet ons eers kyk na die konteks waarbinne Paulus dit vir die gemeente in Rome en ook vir ons sê. Ons lees in die eerste vers:
“…op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is…”
Die term “groot ontferming van God” verwys na dit wat Paulus verduidelik het vanaf Hoofstuk 1 tot 11. Op grond van dit wat God vir ons gedoen het, wat ek in die brief vir julle verduidelik het, gee ons nou onsself as lewende offers vir Hom.
Paulus verduidelik in hierdie brief die evangelie van Christus in besondere diepte. Dit is om hierdie rede ʼn baie lang brief wat elke deel van die evangelie mooi uitlê. Hy doen dit omdat hy die kerk in Rome wil gebruik as wegspringpunt om die evangelie verder te versprei. Die gemeente in Rome moet daarom die evangelie baie goed ken sodat hulle hom hierin kan ondersteun.
Die brief kan rofweg ingedeel word onder die volgende drie temas. Dit is ook hoe die Heidelbergse Kategismus ingedeel is en ʼn goeie manier om die evangelie te onthou. Die eerste geel gaan oor dit waarvan ons gered is. Die tweede deel handel oor dit waardeur ons gered is en die laaste deel handel oor dit waarvoor ons gered is. Waarvan, waardeur en waarvoor.
Waarvan ons gered is, strek rofweg van hoofstuk 1-3, Waardeur van hoofstuk 4-11 en Waarvoor is dan van hoofstuk 12- 16. Ons teksgedeelte is heel aan die begin van “Waarvoor” ons gered is. Ons moet daarom eers vlugtig kyk na “waarvan” en “waardeur” ons gered is.
Die eerste 3 hoofstukke gaan in besonder oor waarvan ons gered is. Dit beskryf die diepte en die erns van ons sonde. In hoofstuk 3:10-11 lees ons dat almal sonde gepleeg het en daarom die straf van die ewige dood verdien. Daar is nie een mens wat uit sy eie uit die Here soek nie.
Dit is belangrik om jou sonde te ken, om te verstaan hoe jy totaal en al verlore is sonder Christus. Dit is belangrik, want hoe beter jy verstaan waarvan jy gered is, hoe meer gewig sal jou redding vir jou dra.
Aan die einde van hoofstuk 3 vind daar ʼn wending in die boek van Romeine plaas. Vanaf hoofstuk 3 tot en met Hoofstuk 11 verduidelik Paulus alles wat Christus vir ons gedoen het om ons te red van ons sonde wat hy in die eerste hoofstukke beskryf het. Dit gaan dus oor waardeur ons gered is. Dit is besondere troosryke hoofstukke wat die groot wonder van ons redding in Christus beskryf.
Dit laat ons met die besef dat ons geheel en al verlore is sonder Christus. Die diepte van ons sonde is swaarder as wat ons ooit kan dink. Christus het dit vir ons gedra aan die kruis. Die redding wat ons deur Hom geskenk is, is daarom groter as wat ons kan verstaan.
Hy het die ewige straf van die almagtige God gedra. Ons kan ons nie indink hoe swaar dit moes wees nie. Die fisiese dood aan die kruis wat Hy vir ons gedra het, was nie die hoogtepunt van die straf wat hy vir ons gedra het nie. Dit is ʼn baie grusame manier om fisies doodgemaak te word, maar baie mense in daardie tyd is gekruisig deur die Romeine. Nee, die hoogtepunt van die straf wat Christus gedra het, is dat Hy Godsverlatenheid vir ons ervaar het.
Die is iets wat ons verstand nie wil verstaan nie. Hoe kan Christus, wie self God is, Godsverlatenheid ervaar? Godsverlatenheid beteken nie dat God nie daar teenwoordig is nie. God is alomteenwoordig. Daardie woord beteken dat die Here al sy goedheid en genade van Christus af ontneem het. Al wat Christus ervaar het, is God se aktiewe en ewige toorn en straf op die sonde. Hy het ʼn ewige straf in ʼn tydelike tydperk ervaar. Hoe swaar en hoe groot dit moes wees, kan ons nie verstaan nie.
Hy het egter nie net gesterf vir die sonde nie, Hy het ook die dood oorwin. Hy het ons hierdeur nuwe mense gemaak. Ons is nou God se kinders vir wie Hy lief is. Ons het gegaan van vyande van God, wat sy ewige straf verdien, na God se kinders vir wie Hy lief is. Is dit nie werklik merkwaardig nie?
Rom. 8:31-35 staan hier besonders uit:
“ 31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?”
Hier, in die teksgedeelte wat ons saam gelees het, is daar dan die volgende wending. Paulus begin nou beskryf hoe ons moet lewe as hierdie nuutgemaakte mense. Dit is met ander woorde waarvoor ons gered is. Dit is op grond van dit wat God vir ons gedoen het deur Christus dat ons nou onsself vir Hom moet offer, dat ons vir hom moet lewe.
Hoofpunt 2: Daarom moet ons onsself gee as lewende Heilige Offers.
Soos ons reeds aan die begin genoem het, dring Paulus aan by sy medegelowiges, hy vermaan hulle om op grond van die wonderdade van God, op grond van sy genadige ontferming, hulself aan hom te offer.
Ons kan onsself afvra of ons dit doen met ons medegelowiges. In die eerste plek, vertel ons hulle van God se groot ontferming oor ons? Deel ons hulle mee hoe groot die genade van God is? En spoor ons hulle dan aan om daarvolgens hulself te gee aan God as heilige lewende offer? Broers en susters, dit is nodig dat ons as gelowiges mekaar sterk aanspoor en bemoedig om te groei in die geloof. Ons het hierdie taak teenoor mekaar. Kom ons kyk dan nou saam na wat dit beteken om onsself op te offer.
As ons dan kyk na hierdie eerste vers, staan daar in die Grieks dat ons ons liggame moet opoffer. Dit klink dalk vir ons vreemd, maar Paulus lê aspris hier die klem. Geloof is iets wat jy met jou hele liggaam en hele hart en hele verstand doen. In vers twee lees ons in besonder van die verstand, maar hier in die eerste vers, lê Paulus die klem op ons liggame.
Daar is mense wat dink dat geloof net ʼn kop-ding is. Dit is net ʼn verhouding- ding. Dit gaan net oor hoe jy voel en wat jy ervaar. Dit is dit, maar geloof is nie net dit nie, dit is ook ʼn praktiese ding. Dit gaan ook oor wat jy sê en wat jy doen. Dit gaan oor wat jy doen met jou hande en jou voete, met jou oë en jou ore en met jou lippe en jou tong. Hoe gebruik ons ons liggame elke dag om die Here te loof? Hoe getuig jou dade daarvan dat jy ʼn kind van die Here is? Jy moet jouself, jou liggaam, opoffer tot eer vir die Here. Dit is ʼn vraag vir ons elkeen persoonlik. Om ʼn gelowige te wees, beteken meer as om net op Sondae kerk toe te kom. Hier staan nie dat ons ons liggame net op Sondae moet opoffer nie, ons moet dit deurlopend doen.
Daar staan spesifiek dat ons “lewende” offers vir hom moet wees. Dit beteken dat dit iets is wat ons deurlopend in ons lewens moet doen. Dit is anders as die offers van die Ou Testament, waar die offers aan die Here moes doodgaan. Dit is nie meer die geval nie. Christus het klaar finaal doodgegaan. Sy dood was genoeg. Die Here soek nie nou dooie offers nie. Hy soek lewende offers.
Om jouself te offer beteken dat daar dinge gaan wees wat jy moet opoffer. Daar is dinge wat jy gaan verloor. Daar is dinge wat jy moet opgee. Dit is enige iets wat tussen jou en die Here kom. Enige sonde wat jy doen. Enige iets wat maak dat jy hom nie voluit kan dien nie. Dit is dinge wat jy gaan verloor. Dit is waarskynlik dinge waarvoor jy baie lief is. Dinge waarvan jy baie hou, maar dit verhoed dat jy in jou geloof groei. Dit verhoed dat jy jouself ten volle vir die Here kan opoffer. Daardie dinge sal jy dan moet verloor.
Dit kan ook dinge wees wat nie op sigself sleg is nie, maar dit is dinge wat te belangrik en te prominent in jou lewe is. Watter dinge is in ons lewens so belangrik en neem soveel tyd op, dat ons nie onsself ten volle aan die Here kan offer nie.
As ons dan verder lees, sien ons daar staan dat ons onsself as “heilige” offers moet gee wat vir Hom “aanneemlik” is. Die woord “heilig” beteken “afgesonder”. Dit beteken anders, eenkant gesit, nie soos die res nie. Dit het ook die betekenis van skoner, of beter. God is die een wat volmaak heilig is. Hy is geheel en al anders en beter as enige iets anders in die skepping.
As ons onsself vir Hom offer, beteken dit dan dat ons werklik anders moet wees as die wêreld, afgesonder en heilig vir Hom. Dit beteken ook dat ons dit moet doen volgens sy wil en woord, sodat dit vir Hom aanneemlik is
Hoofpunt 3: Hoe gee ons onsself as heilige lewende Offers?
Die groot vraag is dan egter: hoe moet ons dit doen? Prakties? Die teksgedeelte wat ons saam gelees het, vertel ons spesifiek van drie maniere om dit te doen. Voordat ons egter na hulle kyk, moet ons eers vir mekaar sê dat ons dit nie vanuit eie krag doen nie. Ons doen dit alleen deur die krag van die Heilige Gees.
Dit is Hy wat in ons harte kom woon en werk het. Dit is Hy wat ons harte sag gemaak het en daarom is ons nuwe mense wat onsself stel as offers vir God. Dis is alleen deur Hom wat ons dit kan doen. Ons kan dit nie alleen regkry nie. Dit bly egter ons eie verantwoordelikheid. Dit is dinge wat ons moet doen.
Die drie maniere wat ons teksgedeelte dan vir ons leer hoe ons onsself as offers vir God moet stel, is deur eerstens jou gemoed te vernuwe (v2), tweedens, jouself in die regte lig te sien (v3) en laastens deur dit saam te doen as een liggaam van Christus (v4-8).
Vernuwe jou gemoed
Ons lees in vers 2 van die eerste manier hoe ons onsself aan die Here kan offer. Daar staan dat ons ons gemoed moet vernuwe. Ander vertalings sê dat ons ons verstand moet vernuwe. Wat beteken dit?
Dit beteken dat ons die manier hoe ons dink en hoe ons dinge benader, moet verander. Ons moet ons wêreldbeskouing of -oogpunt verander. Dit gebeur van twee kante af, van binne en van buite af. Ons moet onsself van buite af omring met die dinge van die Here. Ons moet die Woord van die Here inneem, betrokke wees by gesprekke oor die Woord van die Here, na preke luister en Bybelstudie doen. Op hierdie manier vul ons ons verstand met die Woord van die Here. Die Heilige Gees werk dan binne-in ons en verander ons gemoed. Hy verander ons manier van dink. Ons menswees en gesindheid is dan een wat uit die Woord van die Here spruit.
As ons dit doen, sê vers 2 dat ons dan sal kan onderskei wat die wil van die Here is. Dan is ons onderskeidingsvermoë gevorm deur die Woord van die Here, waarin ons sy wil vind. Ons sal dan weet wat goed en wat sleg is, want ons het geleer vanuit die Woord wat goed en wat sleg is.
Sien jouself in die regte lig
Ons lees dan in vers 3 dat ons nie te veel van onsself moet dink nie, maar dat ons eerder onsself moet sien soos wat God ons sien. Wanneer ons onsself wil offer vir die Here, is daar dalk ʼn deel van ons sondige natuur wat ons verhoed om dit werklik ten volle te doen. Dit is ons eie selfbeeld.
Ons kan dalk te veel van onsself dink. Dit veroorsaak dat ons op ons eie krag en insigte wil staatmaak, eerder as om in af afhanklikheid van God deur die krag van die Heilige Gees te dien. Dit is ook moontlik dat ons te min van onsself dink. Ons sal dan dink dat ons nie gawes het nie. Ons het nie die vermoë om te dien nie. Ons voel dalk asof ons nie enige iets vir die Here nie werd is nie.
Beide is egter vals. Die manier hoe ons werklik ʼn gesonde selfbeeld kan hê, is deur eerder ʼn Christusbeeld te hê. Ons moet onsself sien soos wat God ons sien. Soos wat ons werklik is. Ons is sondige mense. Dit is waar. Ons is klein en nietig. Dit beteken egter nie dat ons niks werd is nie. Christus het gekom en ons nuut gemaak. Ons is kinders van God. Ons is die erfgename van die koninkryk van God. God het ons, het vir jou, persoonlik, so lief gehad dat hy sy eniggebore seun vir ons gestuur het om vir ons dood te gaan sodat ons kan lewe.
God het ons liewer as wat ons ooit sal kan verstaan en hy het vir ons elkeen gawes gegee om te kan dien in sy koninkryk. Hy het vir ons elkeen gawes gegee. Ons is daarom nie nuttelose mense nie. Nie een van ons nie. Ons is elkeen waardevol in die koninkryk van die Here en het vir ons elkeen gawes gegee om mekaar te dien.
Daar is ook nie een gawe wat belangriker as ʼn ander is nie. Voor die Here staan ons elkeen gelyk in sy beeld geskape. Ons almal is belangrik en ons elkeen het mekaar nodig.
Lewe saam as een liggaam van Christus
Daarom gaan Paulus ook organies oor na die laaste een toe. Ons moet daarom ook saam lewe as liggaam van Christus. Wanneer ons onsself opoffer vir die Here, doen ons dit nie alleen nie. Ons doen dit saam met mekaar as een liggaam en ons help mekaar om dit te doen. Ons staan mekaar elkeen met ons unieke gawes by om saam te lewe tot eer van die Here. Ons doen dit deur mekaar te dien, maar ook deur die mense rondom ons te dien.
Ons elkeen het unieke gawes gekry en ons gebruik die gawes om mekaar aan te vul. Daarom is daar so ʼn lang praktiese lys van dinge wat ons as gemeentelede in die kerk kan doen. Dit wys ook duidelik dat almal nie alles kan doen nie, maar almal kan iets doen en ons almal kan daarom deelneem.
Om onsself te stel as offer vir God, is daarom iets wat ons elkeen persoonlik moet doen, maar dit is nie iets wat ons privaat moet doen nie. Dit is iets wat ons saam doen, as gemeente, deur die krag van die Heilige Gees.
Slot
Broeders en susters, ons het vanoggend begin deur te sê dat om te offer, is iets van die Ou Testament. Dit was net nodig vir die mense van die Ou Testament om aan die Here offers te bring. Alhoewel dit op ʼn manier waar is, beteken dit nie dat ons nie ook aan die Here moet offer nie. Nee, ons word geroep om onsself aan die Here te gee as lewende en heilige offers wat vir hom aanneemlik is.
Ons doen dit op grond van die ontferming van die Here. Op grond van dit wat hy vir ons gedoen het. Op grond van dit waarvan en waardeur Hy ons gered het, moet ons nou vir Hom lewe. Drie maniere hoe ons dit prakties kan doen, is deur ons verstand te vernuwe, onsself te sien soos wat God ons sien en dit saam te doen as liggaam van Christus.
Ja, broers en susters, op grond van die groot ontferming van God: gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
Amen