Rom. 8: 28-39

Teksgedeelte: Rom. 8: 28-39

Fokusvers: v38-v39

Sondagsafdeling: Sondag 1 – V&A 1&2

Tema: Ons behoort in lewe en in sterwe aan Christus omdat Hy ons losgekoop het van ons sonde sodat ons nou tot eer van Hom kan lewe

Hoofpunt 1: Ons behoort in lewe en in sterwe aan Christus.

Hoofpunt 3: Hy het ons losgekoop van die sonde sodat ons nou tot eer van Hom kan lewe.

Inleiding

Broers en susters, ons het vanoggend die voorreg om na die woord van die Here te luister, en ook na dit wat ons vanuit die Woord bely. Baie mense voel dat die belydenisskrifte nie relevant of nodig is nie, want ons het mos die Bybel. Op ʼn manier is dit waar, maar wie van ons kan sonder enige bystand en hulp werklik self die Bybel reg interpreteer? Wie kan alles maklik op sy eie dadelik verstaan as hy dit lees?

Die Here het sy Woord aan ons gegee, maar Hy gee ook aan ons predikers en medegelowiges wat die Woord aan ons duidelik maak. Hy stuur natuurlik ook sy Heilige Gees om te werk in die harte van die gelowiges om die Woord vir hulle te belig.

Dit sal baie onwys wees om nie van die gawe van medegelowiges gebruik te maak nie. As gelowiges moet ons besef dat ons mekaar nodig het en dat die Here ons ook so vir mekaar gestuur het. Die kerk deur die eeue het dit agtergekom en daarom het hulle bymekaargekom en belydenisskrifte opgestel wat verduidelik wat die Woord sê. Dit hou die inhoud en boodskap van die Woord op ʼn manier aan ons voor wat vir ons makliker is om te verstaan. Dit som dit ook op. Dit trek vir ons lyne wat net jare se studie duidelik kan maak, daarom het ons die Belydenisskrifte nodig, al het ons die Bybel. Iemand wat dink hulle het dit nie nodig nie, is eintlik op ʼn manier arrogant, want hulle dink dat hulle sonder die gawe van medegelowiges die Bybel kan verstaan.

Die Belydenisskrifte is dan ook deur die eeue deur die kerk onder die leiding van die Heilige Gees getoets, om seker te maak dat dit werklik in ooreenstemming is met die Woord. Die toetsperiode is egter nie verby nie, ons het steeds die verantwoordelikheid om dit te toets aan die Woord van die Here. Dit is juis omdat ons glo dat die Belydenisskrifte sê wat die Bybel sê, dat ons dit met soveel erns deur die jare beproef het.

Dit is daarom nie net nog ʼn menslike dokument nie. Die Belydenisskrifte eggo die woord van God. Die Woord van God is vir alle tye relevant en daarom is die Belydenisskrifte self ook vandag steeds relevant. Dit is daarom belangrik dat ons moeite doen om die Belydenisskrifte te lees en te ken, want dit gee vir ons die kern en noodsaaklike boodskap van die Bybel deur. Wanneer ons dan op ons eie Bybel lees, sien ons die breër lyne raak en die Bybel is dan vir ons makliker om te verstaan.

Die Belydenisskrifte is nodig en relevant en daarom moet ons oor die inhoud daarvan vanuit die Bybel preek en leer.

Hoofpunt 1: Ons behoort in lewe en in sterwe aan Christus.

Ons begin dan vandag met die eerste Sondag van die Heidelbergse Kategismus. Hierdie eerste afdeling dien as inleiding vir die res van die Belydenisskrif. Dit begin op ʼn werklik besonderse manier. Dit vra ʼn vraag vir jou persoonlik. Dit begin nie net eenvoudig soos ʼn handboek deur net feite oor die geloof te noem nie, nee, dit vra ʼn vraag. En dit vra ʼn vraag vir jou persoonlik. Dit is die wonder van hoe die Heidelbergse Kategismus opgestel is. Die bied nie net inligting nie. Dit werk met jou diepste menswees op ʼn persoonlike manier, deur vrae te vra.

Die antwoord staan net onder die vraag en dit is daarom maklik om net vinnig aan te hou lees en die belydenisskrif te hanteer soos ʼn handboek, maar dan bestudeer ons dit nie op die regte manier nie. Ons moet die vrae van die Heidelbergse Kategismus vir onsself indringend en met erns vra. Ons moet soek vir die antwoord in ons eie harte en daarna moet ons kyk na die antwoord wat vir ons uit die Bybel uit gegee is.

Die vraag wat dan vanoggend vir ons op die tafel is, is: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Wat is jou enigste ware troos? Waar vind jy rus? Wat blus die angs wat die lewe in jou hart laat opvlam?

Broers en susters, dit is die groot vraag van die lewe. Dit is die vraag wat elke mens op aarde mee gekonfronteer word, of hulle dit besef of nie. Dit is die ding waarna alle mense streef. Ons almal soek troos. Ons almal soek rus. Die realiteit van die lewe is dat, sonder geloof in Christus, daar geen ware rus in hierdie lewe is nie. Sonder Christus is daar net onsekerheid en angs. Die dinge van die lewe is onseker en betekenisloos. Dit word net al hoe meer betekenisloos hoe meer jy daaraan dink. Sonder Christus het niks van die dinge waarmee ons onsself in hierdie lewe besig hou, enige ewigheidswaarde nie. As ons dan dink dat die lewe sonder Christus sonder troos is, hoeveel te meer is die sterwe dan sonder troos. Vir die ongelowige is daar net onsekerheid en angs na die dood. Ek wonder gereeld waar ʼn ongelowige sou troos vind by die doodsbed van ʼn ander, of as hulle self op hulle eie doodsbed lê.  

Die ongelowige mens probeer so hard om troos en rus in ander dinge te vind. Hulle spandeer al hulle tyd en energie om allerhande afleidings in die hande te kry. Enige iets om hulle te laat vergeet van die swaar realiteit van die lewe en die sterwe.

Hulle maak gebruik van baie verskillende wêreldse dinge om hulle aandag af te lei van die swaar van die lewe en die onsekerheid wat hulle het na dit dood. As hulle nie daarmee besig is nie, dink hulle verskillende filosofieë en afgode uit om te probeer troos vind, maar dit is alles tot niet en vals.

Ons moet dan nou onsself elkeen persoonlik die vraag vra: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Waarin vind jy werklik jou troos? Vind jy jou troos in aardse dinge? Strewe jy ook en maak jouself moeg agter ander afleidings of filosofieë aan? Of vind jy werklik jou troos daarin dat jy nie aan jouself nie, maar aan Christus behoort?

Hoofpunt 2: Hy het ons losgekoop van die sonde.

Glo ons die beloftes wat ons gelees het in Romeine 8 wat vir ons geëggo word in dit wat ons bely vanuit Sondag 1? Vind ons werklik troos daarin dat ons in lewe en in sterwe aan Christus behoort? Getuig ons optrede en gedagtes daarvan? Wat beteken dit werklik dat ons in lewe en in sterwe aan Christus behoort?

Kom ons kyk eerste na wat dit beteken om troos in Christus te vind vir hierdie lewe. Om dit te doen, gaan ons kyk na wat die apostel Paulus geskryf het vir die gemeente in Rome vanuit Rom. 8: 28. Paulus sê in hierdie vers, net soos ons dit bely in Sondag 1, dat God alles wat met ons gebeur in hierdie lewe ten goede vir ons laat meewerk. Ons Belydenisskrif stel dit sterk deur te sê dat daar nie eers een haar van ons kop af sal val as dit nie die wil van die Vader is nie. Hy is werklik ten volle in beheer van alle dinge. Hy is volkome almagtig en soewerein. Alles gebeur altyd volgens sy ewige plan. Hy laat dan in hierdie plan alles ten goede vir sy kinders meewerk.

Hierdie ten goede meewerk beteken nie dat alles altyd met ons sal goed gaan nie, nee, God laat die goed en sleg in sy almag alles ten goede meewerk vir ons. Hierdie “ten goede meewerk” lees ons in vers 29 beteken dat ons al hoe meer gelykvormig sal word aan sy Seun. God laat alles wat met ons gebeur, presies volgens sy almag gebeur, sodat dit ons sal laat groei in die beeld van sy Seun. Dit is sodat ons al hoe meer en meer kan lewe in gehoorsaamheid aan God, soos wat Jesus gelewe het.

Is dit nie ware troos nie, broers en susters? Die Here troos ons in al die dinge van hierdie lewe. Dit maak nie saak wat met ons gebeur nie, Hy laat alles ten goede meewerk. Natuurlik vind ons nie net troos in Christus vir hierdie lewe nie, maar ook in sterwe.

Ons lees dan verder in Rom. 8:32-34 dat God nie sy eie seun gespaar het nie, maar Hom gestuur het om vir ons elkeen te red. Hy het gesterf vir ons sondes, maar nie net dit nie, Hy het ook opgestaan uit die dood – Hy het die dood oorwin sodat ons nou kan lewe. Dit is ons enigste troos in sterwe. Ons weet deur Christus sterf ons in werklikheid nie. Die dood se angel is uitgehaal. Ons hoef nie meer die dood te vrees nie.

Ons bely ook dat ons deur Christus verlos is van die heerskappy van die duiwel. In Rom. 8:38-39 staan daar dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping, ons van die liefde van God kan skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Dit is werklik merkwaardig. Christus het met sy bloed ons skoon gewas van ons sonde en vrygekoop van die heerskappy van die duiwel. Ons behoort nou aan Hom. Ons is deur Christus lede van God se volk. Ons is deur Christus kinders van God.

Hoofpunt 3: Hy het ons losgekoop van die sonde sodat ons nou tot eer van Hom kan lewe

Ons moet daarom nou soos kinders van God lewe. Die laaste sin van ons belydenis sê dat die Here vir ons, sy kinders, die Heilige Gees gestuur het om te dien as versekering daarvan dat ons werklik sy kinders is en ook sodat ons deur die krag van die Heilige Gees gewillig tot eer van Hom kan lewe.

Die Heilige Gees wat in ons is, verseker ons daarvan dat ons werklik die Here se kinders is. Hy kom werk in ons harte. Hy verander ons harte sodat ons werklik tot die besef kom van die troos wat ons in Christus het. Hy bewerk en kweek die geloof binne ons. As Hy in ons harte is, kan ons met sekerheid weet dat ons God se kinders is en kan ons ook met sekerheid die troos ervaar.

Dit is ook die Heilige Gees wat in ons harte werk en ons lei sodat ons tot eer van God kan lewe. As ons kinders van God gemaak is deur die redding van Christus en deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens, kan ons nie anders as om vir God te lewe nie.

Dit is iets wat stelselmatig deur ons lewens gebeur. Soos wat God alles in ons lewens ten goede laat meewerk en soos wat die Heilige Gees in ons harte werk, groei ons in ʼn lewe van dankbaarheid.

Dit beteken dat ons lewe volgens die wil van God soos wat Christus gelewe het. Ons moet die woord van God leer ken en daarvolgens lewe. Ons moet lewens lewe wat daarvan getuig dat ons kinders van God is. Ons lewe ʼn lewe van Godsdiens omdat ons kinders van God is

Slot

Broers en susters, ons het vandag die voorreg gehad om die Woord van die Here te lees en ook dit wat ons vanuit die Woord van die Here uit bely. Ons kan aan die hand van die Heidelbergse Kategismus die volgende vraag gevra: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?.

Dit is ʼn persoonlike vraag vir ons elkeen. Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Dit is dat ek nie aan myself nie, maar aan Christus behoort. Hy het my gered van my sonde en my verlos van die heerskappy van die duiwel. Hy laat alles in hierdie lewe ten goede vir my meewerk, en ek vind ook in die sterwe my troos in Hom. Hy stuur aan my die Heilige Gees wat in my hart woon en werk, sodat ek kan weet dat ek werklik sy kind is en sodat ek ook die krag en die leiding het om werklik vir Hom te lewe.

Amen