Teksgedeelte: Gen. 28: 1-22
Fokusvers: v16-v17
Tema: Die Here is hier. Besef ons dit?
Hoofpunt 1: Die Here is hier.
Hoofpunt 2: Die Here is hier. Besef ons dit?
Agtergrond (voor skriflesing)
Om die hoofstuk wat ons gaan lees reg te verstaan, moet ons eers die konteks of geskiedenis waarbinne dit staan, bespreek.
Dit is die geskiedenis van Jakob wat na die land van Paddan-Aram toe trek om daar vir hom ʼn vrou te soek. Voordat ons egter na hierdie gebeure kyk, kom ons begin eers by die begin.
Jakob en Esau is tweelingbroers en hulle is die seuns van Isak. Isak is Abraham se seun wat Abraham moes offer, maar die Here het ingegryp en ʼn ram gegee in die plek van Isak. Abraham is later dood en Isak het met Rebekka getrou. Hulle het ʼn tweeling saam gehad. Dit is Jakob en Esau. Jakob is die jongste, aangesien hy net na Esau gebore is. Hy het aan Esau se hakskeen vasgehou met geboorte en so op hierdie manier na hom uitgekom.
Eersgeboortereg was in daardie dae ʼn baie groot ding. Die eersgeborene het meer van die pa geërf as die ander kinders, indien hy nie alles geërf het nie. Esau het eersgeboortereg gehad.
Esau word beskryf as ʼn man van die veld wat baie lief daarvoor was om te jag. Jakob was egter iemand wat verkies het om by die huis te bly. Daar word ook beskryf dat Esau ʼn baie harige man was en dat Jakob nie so harig was nie.
Dit het egter gebeur dat Jakob een dag vir Esau mislei het om sy eersgeboortereg aan hom te verkoop. Esau kom terug na ʼn lang dag in die veld. Hy was baie moeg en baie honger. Jakob is besig om lensiesop te maak. Esau vra vir Jakob of hy van die sop kan eet. Jakob misbruik toe Esau se moegheid, hongerte en onwysheid om hom te oortuig om sy eersgeboortereg aan hom te verkoop vir lensiesop.
Hy het ook later hulle pa se seën van Esau af gevat deur vir sy pa te jok. Toe hulle pa Isak al baie oud en blind was, het hy vir sy oudste seun Esau gesê om te gaan jag en die vleis gaar te maak sodat hy, nadat hy daarvan geëet het, vir Esau kan seën en vir hom alles kan gee. Esau moes alles by Isak erf.
Isak en sy ma Rebeka het egter ʼn plan beraam om hierdie seën van Esau te steel. Hulle het vir hom bokvel op sy arms en nek gesit sodat as Isak, wat al blind was, aan hom raak, hy harig sou voel soos sy broer Esau. Hy het ook Esau se klere aangetrek sodat hy soos die veld ruik. Hulle het terwyl Esau besig was om te jag, twee van hulle eie bokkies geslag, gaargemaak en vir Isak voorgehou. Op hierdie manier het Jakob gemaak asof hy Isak was en hy het sy eie pa en broer bedrieg om sy pa se seën te kry.
Hierna wou Esau hom doodmaak vir dit wat hy gedoen het. Dit was dus ʼn goeie idee vir hom om nie meer by die huis te bly nie. Sy ma het ook vir sy pa gesê dat hy nie soos sy broer ʼn Kanaänitiese vrou moes neem nie.
Om hierdie redes stuur sy pa hom weg. Hy moes na Laban, sy oom, toe gaan om een van sy dogters as vrou te neem. Dit was in daardie tyd nie vreemd om met jou niggie te trou nie. Dit was baie algemeen.
Ons bevind ons dan nou by ons teksgedeelte vanoggend wat ek vir ons saam gaan lees.
Inleiding
Broers en susters, is God vir ons ʼn werklikheid? Is God vir ons meer as net ʼn teorie of ʼn idee? Lewe ons werklik asof God hier is, asof Hy werklik ʼn effek op ons lewens het? Besef ons dat die geestelike wêreld werklik bestaan?
Hoofpunt 1: Die Here is hier
Baie van ons het die voorreg om groot te word in gelowige huise. Ons woon ook in ʼn land waar, volgens die sensusopnames, 80% van die land se mense Christene is. Ons kan onsself afvra: lyk ons land werklik soos een waar 80% van die mense Christene is? Die antwoord is nee. Ons land spreek nie werklik van een waar die meerderheid mense werklik gelowiges is nie. As dit rêrig so was, sou ons land waarskynlik baie anders gelyk het.
Wat eerder in ons land heers, is ʼn tipe deïsme. Dit is dalk ʼn groot woord wat ons nie ken nie, maar dit is iemand wat glo dat daar ʼn god is, maar hulle glo nie werklik dat hy ʼn invloed op ons lewens het nie. Hulle glo nie dat hy persoonlik betrokke is nie. Hy is maar net iemand wat ver weg bo ons lewe en nie werklik omgee oor wat op aarde aangaan nie.
Iemand wat op ʼn deïstiese manier sy godsdiens beoefen, sal saam sy oë toemaak as daar gebid word, dalk selfs sy hoed afhaal, maar in sy eie persoonlike lewe bid hy nooit self nie. Dit is iemand wat stilbly en probeer luister as daar geopen word met skriflesing by ʼn geleentheid, maar die Woord verander nie werklik sy lewe nie en hy lees ook nooit self Bybel nie. Dit is iemand wat met spesiale geleenthede kerk toe gaan, soos troues, begrafnisse, Kersfees, nagmaal ensovoorts, maar kerk toe gaan is die deel van sy menswees nie. Dit is nie iets waarna hulle werklik ʼn groot behoefte het of smag nie. Kerk toe gaan is net iets wat hy doen as dit gerieflik genoeg is, of as dit ʼn gepaste geleentheid is. Dit is iemand wat rustig bystaan as daar rondom hom oor God gepraat word, maar hy self het nie werklik ʼn diepe smagting tot die Here nie. Geloof is net ʼn klein afdeling van sy kultuur, gewoontes of tradisies.
Ons elkeen moet ons self afvra of ons nie eintlik self so lewe nie? As ons aan ons lewens dink en dit beplan, is God ten alle tye in die prentjie? Wanneer ons besluite neem, raadpleeg ons eers die wil van God of staan ons eie wil en ambisie voorop? As ons kyk na ons gedagtes en ons lewens, lewe ons asof God hier is? Of lewe ons asof Hy ver weg is?
Jakob is iemand wat gelewe het asof God ver weg is. Hy het altyd eerder staatgemaak op sy eie vermoëns, krag en slim planne. Hy het altyd net sy eie voordeel gesoek en nie omgegee op wie hy trap om dit te kry nie. Sy oupa was Abraham. Hy wat genoem word “die Vader van die gelowiges”. Sy pa, sover ons weet, was ook duidelik ʼn gelowige. Hy het dus in ʼn goeie huis grootgeword met goeie voorbeelde in sy lewe. Hy het van kleins af grootgeword met die idee dat God bestaan, maar dit is nie duidelik dat hy self ʼn persoonlike verhouding met God gehad het nie. Sy optrede wys juis die teenoorgestelde.
Soos ons vroeër deur sy geskiedenis gegaan het, kan ons agterkom dat, wanneer hy ʼn besluit moet neem, is die vraag nie: “wat is die wil van God?” nie. Die vraag is eerder: “wat is in dit vir my?”. Toe sy broer moeg en honger by die huis kom, misbruik hy die geleentheid om sy broer in te doen. Hy het saam met sy ma sy pa mislei vir eie gewin.
Hy het by sy pa en oupa geleer dat God bestaan. Hy het waarskynlik self geglo dat God bestaan, maar hy het nie gelewe asof God bestaan nie. Ons moet onsself elkeen nou ook afvra of ons dit nie ook doen nie? Lewe ons nie ook gereeld vir onsself en nie vir die Here nie?
Hoofpunt 2: Die Here is hier. Besef ons dit?
Na al die gebeure, op pad na Paddan-Aram toe om daar vir homself ʼn vrou te soek, tree die Here in. By die plek met die naam van Haran, met sononder, neem Jakob ʼn klip en gebruik dit as ʼn kopkussing. Hy raak toe aan die slaap en hy sien in sy droom ʼn leer wat strek van die aarde tot by die hemel. As ‘n mens na die Hebreeus kyk, is dit moontlik kliptrappe wat na boontoe gaan. Hy sien ook engele wat op en af beweeg op die leer. Dit is ʼn vreemde ding om van te droom. Wat beteken hierdie droom? Hoekom het die Here vir Jakob hierdie droom laat sien?
Hierdie droom beteken dat die geestelike sfeer ʼn realiteit is. Daar is nie net die fisiese dinge van die aarde nie. Die engele wat op en af beweeg, beteken ook dat die geestelike sfeer ʼn invloed het op die fisiese. Dit beteken God is hier. Hy het ʼn effek op hierdie aarde. Hy is persoonlik betrokke. Hy sit nie net saam met sy engele in die hemel en gee glad nie om oor wat op hierdie aarde gebeur nie. Daar is ʼn konneksie tussen die geestelike wêreld en die fisiese wêreld.
Ons sien dit veral in Jakob se reaksie in ons fokusverse, verse 16-17 :
“ 16 Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
17 Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.” ”
Jakob het sy hele lewe gelewe en nie werklik in ag geneem dat God werklik persoonlik betrokke is hier op aarde nie. Hy het sy hele lewe van God gehoor en Hom waarskynlik op ʼn manier aanvaar en in Hom geglo, maar God was nooit werklik vir hom ʼn realiteit nie. Hy het nooit werklik ʼn persoonlike verhouding met God gehad nie. Hy het net gefokus op die fisiese dinge voor hom.
Deur hierdie droom het God hom letterlik en figuurlik laat wakker skrik. God wys vir hom die ware realiteit. God wys vir Hom: Ek is hier, Ek het ʼn effek op die wêreld. Ek is persoonlik betrokke. Ek is nie net ver weg en onhaalbaar nie. Ek is hier. Vandag is dalk ook ʼn geleentheid vir elkeen van ons om wakker te skrik en vir onsself af te vra: hoe lewe ons? Lewe ons met God in ons harte?
Jakob besef dit met ʼn skok. Hy het bang geword. Broers en susters, dit is die gepaste reaksie as jy besef God is hier. As jy werklik besef dat Hy, wat almagtig is, wat alles geskep het, hier is. Dat Hy omgee en nie net dit nie, in sy almag bepaal Hy alles wat gebeur. Dink vir ʼn oomblik en besef wat dit werklik beteken en behels. God is ʼn werklikheid. Hy bestaan. Hy beheer alles. Voor Hom is jy nietig. Voor Hom is jy klein. Voor Hom is jy magteloos.
Jakob, wat gedink het dat hy altyd op homself kon staatmaak, op sy eie krag en vermoë om mense in te doen, kon dit nie hier doen nie. Hy kon met sy skelmstreke elke situasie in sy guns swaai, maar hy kon dit nie met God doen nie. Hy besef dit. Hy word bang. Die vraag is of ons dit besef? Besef ons dat ons nie met God kan speel nie, dat ons nie met slim praatjies en verskonings Hom in ons guns kan swaai nie? Hy is God en ons is net mense.
Die wonderlike is dat ons almagtige God met ons in ʼn wonderlike en liefdevolle verhouding wil wees. Besef ons wat ʼn groot wonder en groot genade dit is? Ons het, net soos Jakob, ook ʼn gebeure waar God sy teenwoordigheid aan ons gewys het. Inteendeel, God het op nog ʼn sterker en nog ʼn duideliker manier vir ons gewys. Hy het dit gedoen deur sy Seun, ons Here Jesus Christus. Hy wat self God is, het aarde toe gekom en mens geword. Hy is die skakel tussen hemel en aarde. Hy het dit vir ons gewys in sy werke hier op aarde, en Hy het dit ook self gesê in Johannes 1:52. Hy sê vir sy dissipels:
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.”
Jesus is die leer. Hy is die konneksie tussen hemel en aarde. Hierdie visioen wat Jakob gesien het, is ʼn vooruitskouing van wat Jesus gedoen het. Hy is Immanuel. Dit beteken God met ons. God wys vir ons deur Jesus op die duidelikste manier dat Hy werklik persoonlik betrokke is, dat Hy werklik oor ons omgee en met ons in ʼn verhouding wil lewe. Soveel so dat Hy sy eniggebore seun vir ons gestuur het.
Vir die Christen is dit nog meer die geval. Vir die gelowige is Christus die middelaar tussen ons en God. Hy is die een wat ons daartoe in staat stel om met God ʼn verhouding te hê. Uit ons eie is ons vyande van God. Ons verdien sy ewige en regverdige straf vir die sonde wat ons gedoen het. Christus het gekom en ons sondes vir ons gedra, sodat ons kan lewe. Hy het op hierdie manier dit ook vir ons moontlik gemaak om met God in verhouding te lewe. Hy is die middelaar. Hy is die konneksie tussen hemel en aarde.
As gevolg van wat Jesus gedoen het, weet ons nie net dat God hier is nie, ons weet ook dat hy werklik intiem en persoonlik betrokke is by ons elkeen. Deur Jesus is God ons Vader en ons is sy kinders. Hy is nie net betrokke in die wêreld rondom ons nie, maar ook in ons harte. Hy het sy Heilige Gees gestuur om in ons harte te woon. Hy is altyd by ons en Hy gee vir ons krag, leiding en troos. Ons lewe daarom ook ons lewens op hierdie manier – soos mense wat God se kinders is wat bekragtig is deur die Heilige Gees.
Ons moet daarom nie lewe asof God ver weg is nie, maar ons moet lewe asof God hier, naby en binne ons is. Asof ons met Hom ʼn persoonlike vader-kind-verhouding het deur Jesus Christus. Ons moet lewe met die besef dat Hy my Vader is en Hy is almagtig. Ek moet daarom die regte agting en respek vir Hom hê, maar ook werklik troos en rus daarin vind dat hy my Vader is. Ons moet ook lewe soos wat Hy wil hê ons moet lewe tot eer van sy naam. As ons werklik ʼn verhouding met God het, kan ons nie anders as om volgens sy wil te lewe nie.
Die Here stap met ons ʼn pad deur ons lewens, net soos wat hy ʼn pad met Jakob gestap het. Hierdie gebeurtenis waarvan ons gelees het, was een waar Jakob ʼn bietjie tot inkeer gekom het, maar hy het eers later in sy lewe werklik tot bekering gekom – dit is nadat hy met God gestoei het. Dit is egter ʼn preek vir ʼn ander dag.
Slot
Broers en susters, ons het begin deur te sê dat baie mense in ons land sê dat hulle Christene is. Dit is egter nie werklik die geval as ons kyk na hoe dit in ons land gaan nie. Dit is omdat daar so baie mense in ons land is wat dink daar is ʼn god, maar hulle lewe asof hy baie ver is, asof hy nie werklik ʼn invloed op ons lewens het nie.
Ons het egter in die geskiedenis van Jakob gesien dat God vir ons gewys het dat Hy nie ver weg is nie. Hy is betrokke hier in hierdie lewe. Hy het homself deur Christus nog sterker aan ons geopenbaar. Christus is die konneksie tussen hemel en aarde. Hy is God wat mens geword het. Hy is ook die middelaar tussen ons en God. Dit is alleen deur Hom wat ons tot God kan nader. God het ook die Heilige Gees gestuur om in ons harte te woon. Dit is Hy wat vir ons krag gee en ons lei om volgens die Woord van God te lewe.
Daarom moet ons nie lewe asof God ver is nie. God is hier. Daarom lewe ons met Hom in ons harte.
Amen.