Efesiërs 2:1-10

Efesiërs 2:1-10 – HK Sondag 1 V&A 2.

Teksgedeelte: Efesiërs 2:1-10

Fokusvers: v4 – v5

Sondagsafdeling: HK Sondag 1 V&A 2

Tema: Ons is gered van ons sonde, deur Christus om goeie werke te doen.

Hoofpunt 1: Ons is gered van die Sonde

Hoofpunt 2: Ons is deur Christus gered

Hoofpunt 3: Ons is gered om goeie werke te doen

Inleiding

Broers en susters, ons het met die vorige preek oor die Heidelbergse Kategismus Sondag 1 gesê dat hierdie belydenisskrif op so ʼn manier opgestel is dat dit met jou persoonlik werk. Dit vra eers vir jou persoonlike vrae wat jy in jou hart vir jouself moet antwoord, voordat jy na die antwoord kyk wat uit die Bybel uit saamgestel is.

Die vraag wat vandag vir ons elkeen op die tafel is, is watter dele van die evangelie moet jy ken om werklik troos daarin te vind vir die lewe en die sterwe. As ons die vraag op ʼn meer direkte en persoonlike manier vir onsself vra, kan ons vra: “ken ons die evangelie?” en “vind ons daarin troos?”.

Ken jy die evangelie? Vind jy daarin troos?

Iets wat egter baie mooi van die Heidelbergse kategismus is, is dat dit die evangelie opbreek in kleiner dele sodat dit makliker is om te verstaan. Dit vra: “Hoeveel dinge moet jy weet…”, met ander woorde, watter aspekte van die evangelie moet jy ken om werklik ʼn goeie begrip daarvan te hê? Ons gaan in hierdie bedeling nooit die evangelie in sy volheid kan begryp nie. Dit is vir ons te groot, maar ons kan dit leer ken soos wat God dit aan ons in sy Woord openbaar en soos wat ons tyd met sy Woord spandeer. Dan leer ons deur die loop van ons lewens met die Here die evangelie ken. Daar is ʼn paar dele in Paulus se briewe waar hy die evangelie in drie dele aan ons openbaar en dit is dié drie dele waarvan die Heidelbergse Kategismus praat.

Dit is die drie dinge wat jy moet weet om werklik troos te ervaar in die evangelie. Hierdie drie dinge is:

  1. Jy moet die diepte van jou sonde waarvan jy verlossing nodig het, ken.
  2. Jy moet die grootheid van jou verlossing ken.
  3. Jy moet dan ook weet hoe jy behoort te lewe as reaksie op jou verlossing.

Om hierdie drie dinge nog makliker te onthou, moet ons net die volgende drie woorde onthou: waarvan, waardeur en waarvoor. Ons moet weet waarvan is ons gered, waardeur is ons gered en waarvoor is ons gered?

Toe ons vroeër die jaar saam stilgestaan het by die brief aan die Romeine, het ons gesê dit is rofweg hoe die brief self ingedeel is. Die eerste deel handel oor die sonde, dan handel dit ook Christus se verlossingswerk en daarna gaan dit oor die lewe wat ons behoort te lei as reaksie hierop.

Ons het toe reeds gesê dat dit is hoe die Heidelbergse Kategismus ingedeel is. Die sonde van die mens word bespreek van Sondag 2 tot 4. Die verlossing deur Christus word bespreek van Sondag 5 tot 31 en dan laastens word die lewe as reaksie op die verlossing bespreek van Sondag 32 tot 52. Dit is daarom baie gepas dat die drie dele genoem word in Sondag 1, want Sondag 1 dien as inleiding tot die res van die Heidelbergse Kategismus.  

Nog ʼn teksgedeelte waar ons hierdie indeling kan sien, is Efesiërs 2:1-10. Paulus leer duidelik hier vir die gemeente in Efese wat hulle sonde en verlossing is, en ook hoe hulle hierop moet reageer.

Vers 1-3 handel oor die sonde, vers 4-9 handel oor ons verlossing en dan handel vers 10 oor hoe ons hierop reageer. 

Hoofpunt 1: Ons is gered van die Sonde

Ons kyk nou eerste na “waarvan” ons gered is. Ons is gered van die sonde. Die heel belangrikste ding om raak te sien, is dat ons dood was in ons sonde, volgens vers 1. Ons was nie net siek nie, ons was nie goeie mense met slegte gewoontes nie. Ons was dood.

Dooie mense kan hulleself nie red nie. Dit is ʼn groot ding wat ons moet besef. Ons kan nie onsself van ons sonde red nie. Ons het nie die vermoë nie. Ons is volkome afhanklik van God om ons weer lewend te maak uit die dood.

In vers 2 en 3 verduidelik die drie bronne van sonde waarin ons dood is. Dit is die wêreld, die duiwel en die vlees.

Die eerste bron van die sonde is die wêreld. Ons het gewandel volgens die weë van die wêreld. Na die sondeval is die hele wêreld in vyandskap met God. Die wêreld is heeltemal teen God. Daar is ʼn smal weg en ʼn breë weg.  Dit beteken as ‘n mens na die wêreld kyk, is die Christene altyd in die minderheid. Baie van ons het die voorreg om baie beskermd grootgeword het en lewe steeds in meestal Christelike kringe, maar die wêreld is onvermydelik.

Dit wag vir ons om elke hoek en draai. Dit is duidelik wanneer ons die nuus lees en op feitlik alle media wat ons inneem. Of dit sosiale media is en of dit vervolgreekse of flieks is, dit voel soms vir my of baie min daarvan gepas is vir ʼn Christen om te kyk. Hulle laster in feitlik al die reekse.

Dit is omdat die wêreld onder die mag van die duiwel is. Ons teksgedeelte praat van die owerste van die mag van die lug. Dit is ʼn verwysing na die duiwel of die satan. Hy is die een wat regeer in die harte van hulle wat nie God se kinders is nie, al weet hulle dit nie. Dit is ironies. Hy regeer ook in die harte van ateïste.

Wanneer ons dink aan die invloed van die duiwel, is die uitdaging om op ʼn korrekte en gebalanseerde manier daaraan te dink. Daar is ʼn sloot aan beide kante van die pad. As ons die invloed van die duiwel oorbeklemtoon, dan is ons geneig om die skuld van die mens af weg te neem. Dit is nie ek wat die sonde doen nie, dit is die duiwel wat my dit laat doen. Dit is nie waar nie, dit is die duiwel wat jou op slinkse maniere mislei en tempteer om die sonde te doen, dit is egter steeds jy wat die sonde doen. Ons moet egter ook nie die invloed van die duiwel onderbeklemtoon nie. Dit is presies wat hy wil hê. Ons moet besef hy is ʼn realiteit. Hy is aan die werk. Hy loop op die aarde rond soos ʼn brullende leeu.

Die laaste bron van die sonde wat daar dan in hierdie teksgedeelte bespreek word, is die vlees. Ons eie vlees. Ons is nie mense wat net weens die slegte invloed van die duiwel en van die wêreld begin sondig het nie. Ons is uit ons eie uit sondig. Ons vlees is van nature teen God gedraai. Al sou ek in ʼn vakuum gelewe het, sou ek steeds teen God gesondig het.

Ons teksgedeelte sê dat ons almal van nature kinders van God se toorn is. Ons is in ons aard, in ons grein, ʼn mens kan amper sê in ons programmering, teen God bedraad. Dit is wat dit beteken om in sonde ontvang en gebore te wees.

Dit is egter nie hoe God ons gemaak het nie. Na die Sondeval is ons met die sonde besmet, sodat ons van nature vyande van God is. Omdat ons van nature vyande van God is, verdien ons ook sy ewige en regverdige straf.

Broers en susters, dit is wie ons sonder Christus is. Ons is sondaars, wat lewe in ʼn sondige wêreld wat onder die beheer van die duiwel is, hy wat teen God is.

Dit is egter nie waar die teksgedeelte stop nie.  

Hoofpunt 2: Ons is deur Christus gered

Vers 4 begin met ʼn “maar”. Daar staan: “maar God”. God gryp hier in en verander die omstandighede van die mens. Ons kyk daarom nou na die tweede deel, “waardeur” is ons gered. Ons is gered deur God se liefde wat Hy die sterkste aan ons geopenbaar het deur Christus.  

Hy het in sy groot liefde ons lewend gemaak uit die dood. Die manier hoe Hy dit gedoen het, is deur sy eniggebore Seun te stuur om vir ons dood te gaan sodat ons kan lewe. Ons het weens ons sonde die ewige straf verdien. Hierdie straf is die ewige dood. Dit is ʼn permanente bewustelike ervaring van die Here se toorn.

God is volkome regverdig en daarom moet Hy die sonde straf. Regverdigheid is wanneer jy kry wat jy verdien. Die Here is egter ook volkome genadig. Genade is onverdiende guns. Dat die Here ons gered het van die straf op ons sonde, is genade. Dit is iets wat ons nie verdien nie. Nie een van ons verdien om vanoggend hier te wees nie. Dit is alles as gevolg van die Here se liefde en genade wat ons hier kan wees.

Vers 9 van ons teksgedeelte sê ons is gered uit genade, deur geloof. Geloof is ʼn geskenk van God. Dit is Hy wat in ons harte werk deur die Heilige Gees sodat ons kan glo. Dit is die Heilige Gees wat in ons harte woon en dit verander. Hy verander ons in ons natuur. Vroeër was ons van nature kinders van God se toorn. Nou is ons van nature kinders van God.

Waar ons bedrading vroeër teen God was, is ons bedrading nou vir God. Ons ingesteldheid en hartsbegeertes het verander. Ons het vroeër net afgode gesoek, maar nou soek ons God. Vroeër het ons meer omgegee oor onsself of enige ander afgod. Enige iets wat vir jou belangriker is as God, is ʼn afgod. Die Heilige Gees kom egter en verander jou hart sodat jou hoofsmagting en -begeerte nou tot God is.

Dit beteken egter nie dat ons sondeloos is nie. Dit beteken net dat ons natuur, ons bedrading nou anders is. Ons kry dit egter steeds nie reg om in hierdie bedeling volkome volgens die wil van God te lewe nie, maar ons wil dit baie graag doen. Dit is ons grootste begeerte en daarom doen ons goeie werke.

Hoofpunt 3: Ons is gered om goeie werke te doen.

Die goeie werke is ons reaksie op die redding. Ons is nou by die derde deel. Dit is “waarvoor” ons gered is.

Dit is die verkil tussen ware Christenskap en ander gelowe. Baie mense dink hulle moet goeie werke doen om gered te word. As Christine doen ons egter goeie werke omdat ons gered is. Omdat die Heilige gees ons harte verander het, wil ons nou goeie werke doen. Hy gee ons die krag en die leiding om dit te doen, maar dit is egter steeds ons eie verantwoordelikheid.

Ons teksgedeelte sê in vers 10 dat ons nou in Christus geskape is tot goeie werke. Ons is nou nuwe skepsels en as nuwe skepsels doen ons goeie werke tot eer van God. God het deur Christus ons bedrading kom verander. Ons dien nou nie meer afgode nie, maar ons dien God.  Ons wil aan Hom eer en heerlikheid bring.

In vers 7 lees ons dat God hierdie gedoen het sodat sy goedheid en genade deur die eeue betoon kan word. Ons doen daarom ook goeie werke tot eer van God. Ons maak sy naam, wat ons in genade gered het, groot. Ons doen dit elke dag in ons daaglikse lewens. Dit is nou wie ons is.

Ons het egter reeds genoem dat ons dit nie elke dag regkry nie. Ons is nie in hierdie bedeling sondeloos nie, maar dit is iets waarin ons groei. Ons groei op die pad van heiligmaking. Soos wat die Heilige Gees in ons harte werk en ons ʼn pad saam met die Here stap, so groei ons ook in heiligmaking. Heiligmaking is ʼn proses wat ʼn gelowige in sy lewe deurbring waar hy al hoe meer en meer volgens God se wil lewe. Dit is ook ʼn proses met goeie en slegte dae. Dit is nie konstante opwaartse groei nie. Dit gaan soms op en soms af, maar deur die genade van God is dit egter steeds ʼn proses van groei.

Dit is wat ons elkeen as gelowiges in ons lewens ervaar. Soos wat ons ʼn pad met die Here stap en soos wat ons elke dag bekeer, groei ons in ʼn lewe in wat Hom meer en meer eer.

Slot

Broers en susters, vandag het ons elkeen vir onsself afgevra: ken ons die evangelie? Dit is die belangrikste vraag wat ons ooit vir onsself kan vra. Vind ons werklik troos daarin? Besef ons die wonder van die evangelie?

Om hierdie vraag te antwoord, het ons gekyk na die drie dele van die evangelie soos dit vir ons in die Heidelbergse Kategismus en ook in Efesiërs 2 geleer word. Ons het gekyk waarvan, waardeur en waarvoor ons gered is.

Ons is gered van ons sonde, deur Christus sodat ons goeie werke doen om God te eer.

Mag dit vir ons elkeen waar wees en mag ons daarin troos vind.

Amen.