Filemon 1:1-25

Teksgedeelte: Filemon 1:1-25

Fokusvers: 15-19

Tema: God het ons broers en susters van mekaar gemaak en ons moet mekaar ook so hanteer.

Hoofpunt 1: God het ons broers en susters van mekaar gemaak.

Hoofpunt 2: Ons moet mekaar soos broers en susters hanteer.

Inleiding

Was u al ooit in ʼn situasie waar jy iemand moes vergewe? Iemand het verkeerd teenoor jou opgetree, hulle het jou heeltemal ingedoen en jou baie skade berokken. Die gevolg hiervan is dat julle verhouding heeltemal verbreek is. Daar is ook kwaad en seer gevoelens binne-in jou hart.

Vergifnis is waarskynlik een van die moeilikste dinge wat ons as Christene moet doen, tog is dit een van die kerndinge wat God deur Christus vir ons gedoen het. Hy het ons vergewe vir die sonde wat ons teen Hom gedoen het. Om iemand te vergewe is vir ons baie moeilik, want ons is persoonlik tenagekom. Ons is persoonlik seergemaak en ons sukkel om daardie seer te verwerk. Tog is dit iets wat ons as Christene moet doen.

Hoofpunt 1: God het ons broers en susters van mekaar gemaak.

Broers en susters, dit is wat Paulus hier van Filemon vra. Hy vra vir hom om een van sy slawe, wat hom op een of ander manier tenagekom het, te vergewe en te ontvang as ʼn broer in die geloof.

Die boek van Filemon is ʼn unieke boek in die Bybel, omdat dit ʼn persoonlike brief is wat Paulus vir Filemon geskryf het, soortgelyk aan die briewe aan Timoteus en Titus. Filemon was ʼn Griek wat in Kolosse gewoon het en tot bekering gekom het. ʼn Besondere ding wat hy gedoen het, is dat hy sy huis beskikbaar gestel het sodat gemeentelede daar bymekaar kan kom.

Dit was die geval in die vroeë kerk. Daar was nog nie kerkgeboue en groot formele gemeentes soos wat ons vandag het nie, nee, die kerk het bestaan uit klein groepe mense wat in huise bymekaargekom het.

Daar moet ook genoem word dat die Christene in daardie tyd baie radikale vervolging ervaar het. Dit was daarom ʼn baie gevaarlike ding wat Filemon gedoen het. Die Romeinse Ryk was aan bewind in daardie tyd en hulle het enige iemand vervolg wat ʼn ander heerskap as die van die keiser aangehang het. Mense wat dus gesê het dat Jesus is die enigste Here is, is vervolg.

Paulus spreek egter vir Filemon aan as ʼn mededienskneg van die Here. Filemon was dus duidelik ʼn man wat met ywer en erns die Here gedien het. Ons hoor dan dat Filemon ʼn slaaf gehad het met die naam van Onesimus. Onesimus het vir Filemon op ʼn manier tenagekom en van hom af weggevlug. Ons weet egter nie presies wat Onesimus gedoen het nie. Die boek sê nie spesifiek vir ons nie.

Baie mense spekuleer dat hy moontlik geld gesteel het. Hulle dink dit is waarskynlik, want Onesimus het na Rome toe gevlug, waar hy vir Paulus ontmoet het waar Paulus in die tronk was. Hy sou waarskynlik geld nodig gehad het om van Kolosse af tot in Rome te kom.

Presies wat Onesimus gedoen het maak egter nie saak nie. Wat wel saak maak, is dat dit rof genoeg was dat Onesimus gevlug het en dat Paulus hierdie brief moet skryf om die verhouding tussen die twee weer te herstel. Dit is die wonder van hierdie brief. Die Here leer vir ons deur hierdie brief hoe ons as gelowiges mekaar moet hanteer, veral in tye wat daar konflik tussen ons is. Hy leer ons dat ons mekaar moet vergewe, omdat Christus ons vergewe het en omdat ons nou deel van sy liggaam is. God het ons broers en susters van mekaar gemaak en ons moet mekaar daarom so hanteer.

Dit is die basis waarop ons verhoudinge met mekaar as Christene gebou is. In vers 15 en 16 verduidelik Paulus vir Filemon dat hy vir Onesimus in Rome ontmoet het. Die brief verduidelik nie presies hoe dit gebeur het nie, maar dat die Here toe vir Paulus gebruik het om Onesimus tot geloof te bring. Onesimus is daarom nou ʼn medegelowige, ʼn mede-erfgenaam van die ewige lewe. ʼn Broer in die geloof en daarom moet Filemon hom nie net as ʼn slaaf terugneem nie, maar as ʼn medegelowige, as ʼn broer.

Kyk hoe mooi stel Paulus dit in vers 15. Hy sê:

“Miskien het die Here hom op hierdie manier hom vir ʼn rukkie van jou af geskei, sodat jy hom vir altyd kan terug hê”. Met ander woorde: “Jy het hom nou vir ʼn rukkie as slaaf verloor, sodat jy hom vir altyd as broer mag terugkry”.

Hierna sê hy nog ʼn wonderlike ding. Hy sê dat Onesimus, wat vroeër onbruikbaar was, nou vir jou bruikbaar geword het. Dit is mooi, want Onesimus se naam beteken letterlik “bruikbaar” of “nuttig”. Hy is nou juis nuttig, want hy het ʼn medewerker van die koninkryk van God geword.

Paulus sê ook dat hy wens dat Onesimus by hom kon bly, want hy is vir Hom baie nuttig. Hy help hom baie daar in Rome, maar hy besef dat die regte ding om te doen is om Onesimus eers terug te stuur na Filemon toe om vrede te maak. Paulus sê egter: as ek hom vir jou stuur, is dit asof ek vir jou my eie hart stuur. Dit is baie mooi. Paulus het so lief geword vir Onesimus dat hy sy eie hart geword het.

Die laaste ding wat Paulus doen wat baie mooi is, is dat hy sê dat, as Onesimus jou skade berokken het, om dit op sy rekening te sit. Ek sal betaal. Paulus is hier besig om die liefde van Christus teenoor sy medegelowiges uit te leef.

Klink dit nie bekend nie? Paulus is bereid om die skuld van sy broer te dra, want hy weet dat Christus sy skuld gedra het.  

Hoofpunt 2: Ons moet mekaar soos broers en susters hanteer.

Wat leer ons hieruit?

Die eerste ding wat ons leer, is dat alle gelowiges, maak nie saak wat hulle agtergrond is nie, wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie, ʼn eenheid onder mekaar het wat alle aardse skeiding verwyder. Dit is soortgelyk aan die boodskap wat Paulus aan die gemeente in Galasië in Galasiërs 3 vers 28 gegee het:

“28 Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29 En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Wanneer ons tot geloof kom, bly ons in ʼn sekere sin wie ons was. Jy bly ʼn vrou of ʼn man, ʼn ouer of ʼn kind, ʼn Afrikaner of ʼn kleurling of ʼn Xhosa. Dit het nie verander nie. Wat egter verander het, is dat jy nou ʼn kind van die Here is. In daardie sin is jy heeltemal ʼn nuwe mens en die manier hoe jy ander hanteer, is heeltemal anders as die mense van die wêreld.  Die manier hoe ons mekaar hanteer moet juis daarvan getuig dat ons nou heeltemal anders is.

Ons almal word deel van die volk van God deur die verlossing van ons Here Jesus Christus en ook deur die Heilige Gees wat in ons werk. Ons almal as gelowiges is nou deel van een volk, deel van die liggaam van Christus met dieselfde gees, die Heilige Gees, wat in ons werk. Ons het dit met mekaar in gemeen. Daarom is ons saam die gemeente van Jesus.

Dit is ook een van die wonders van die doop wat ons vandag die voorreg het om te sien. Met die doop van die kind belowe God aan die kind dat sy nou deel is van die volk van God. Sy is nou een van sy kinders. Sy is een van die broers en susters in geloof. Sy is deel van die eenheid wat daar nou bestaan tussen gelowiges.

Onesimus het ʼn slaaf gebly en Filemon het sy eienaar gebly. Wat egter verander het, is dat hulle nou albei kinders van God is en daarom is hulle gelyk voor die Here. Hulle is ook nou broers. Onesimus word opgeroep om sy slaaf hierna soos ʼn broer te hanteer. Dit beteken dat ons mekaar ook moet hanteer soos broers en susters. Dit maak nie saak of ons man of vrou, Afrikaner, Xhosa of kleurling, werkgewer of werknemer is nie. Ons is verenig in ons geloof. Dit is wat duidelik moet blyk uit hoe ons met mekaar omgaan.

Om mekaar as broer en suster te hanteer beteken baie dinge, maar wat ons spesifiek in hierdie brief leer, is dat ons mekaar as broers en susters moet vergewe. As God self vergifnis oor iemand uitgespreek het, soveel so dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het om te sterf vir ons sondes, wie is ons om die persoon wat teenoor ons gesondig het nie te vergewe nie?

Ons moet ander wat teen ons opgetree het, vergewe, omdat ons self vergewe is vir dit wat ons teen God gedoen het. Dit waarvoor ons vergewe is, is soveel groter as dit wat teen ons gedoen is. Ons verwag vergifnis van God af vir die verskriklike sondes wat ons teen Hom gedoen het, maar ons weier om mekaar te vergewe. God se vergifnis aan ons het Hom die lewe van sy Seun gekos.

As ons weier om iemand anders te vergewe, dan sê ons op ʼn manier dat God onnosel is. Dit was onnosel van God om my en almal anders se sondes te vergewe en daarom sal ek ook nie iemand vergewe wat teen my gesondig het nie.

Dit is egter belangrik om op hierdie punt te noem dat om te worstel met vergifnis, anders is as om glad nie te vergewe nie. In hierdie bedeling dien ons die Here op ʼn imperfekte manier. Christus het egter gesterwe vir daardie imperfeksies. Dit is egter belangrik dat ons vergewe, al is dit vir ons moeilik. Ons moet aanhou worstel. Dit is werklik alleen deur die krag van die Heilige Gees in ons harte wat ons mekaar kan vergewe. Daarom moet ons bid dat Hy in ons harte sal werk, sodat ons dit doen. Dit is Hy wat vir ons vrede in ons harte bewerk wanneer ons iemand vergewe.

Ons moet besef dat dit nie ons is wat moet wraak neem nie. As iemand wat nie ʼn Christen is nie en ook nooit een word nie, teen ons sondig, dan is ons nie die wat moet wraak neem nie. Die sonde wat hulle teen ons gedoen het en ook al die sondes wat hulle deur hulle lewens gedoen het, gaan in die hel volkome en regverdig gestraf word. Ons hoef nie wraak te neem nie.

Indien die persoon egter ʼn gelowige is, of tot geloof gekom het, dan het Christus die volkome straf vir hulle sonde aan die kruis gedra. Die sonde wat hulle teen ons gedoen het, is reeds gestraf. Christus het dit reeds gedra. In die geval van Filemon en Onesimus is dit ʼn medegelowige, ʼn broer, wat teen hom gesondig het. Dit is ook ʼn broer wat deur Paulus vra om vergifnis en wil hê dat die verhouding herstel moet word. Daarom sê Paulus vir die gemeente in Efese die volgende in Ef. 4:32:

“32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Iemand het die eenmaal die volgende woorde gesê: om iemand te vergewe, is soortgelyk daaraan om ʼn gevangene los te laat. Aanvanklik sou jy dink die persoon wat jy vergewe is die gevangene wat jy loslaat, maar nadat jy die persoon vergewe het, besef jy dat jy die gevangene is wat jy losgelaat het.

Om te vergewe beteken om die kwaad wat jy in jou hart teenoor iemand koester wat verkeerd teenoor jou opgetree het, laat gaan. Jy wens nie meer die kwaad vir hulle vir dit wat hulle teenoor jou gedoen het nie. Jy wens vir hulle nou die goeie en jy bid vir hulle.

Die gewilligheid om te vergewe is iets wat in ons moet wees soos wat dit in Jesus was. Toe Hy aan die kruis gehang het, gevoel en gesien het hoe baie mense verkeerd teenoor Hom opgetree het, was sy woorde aan sy Vader: “Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie”. Op die oomblik toe daar die slegste en onregverdigste teenoor Hom opgetree is, was daar nie wraak in sy hart nie, maar vergifnis.

Slot

Broers en susters, die Here het vandag vanuit die lewens van Paulus, Filemon en Onesimus vir ons baie belangrike dinge geleer. Hy het vir ons geleer dat, deur dit wat Christus vir ons gedoen het, is ons nou broers en susters. Ons is nou ʼn eenheid en dieselfde Gees woon in ons elkeen. Daarom moet ons elkeen mekaar vergewe soos wat ons ook vergewe is.

Broers en susters, mag ons deur die krag van die Heilige Gees wat in ons werk, hierdie liefde en vergifnis teenoor mekaar uitlewe tot getuienis van die wêreld.

Amen.