Johannes 15: 18-27

Teksgedeelte: Johannes 15: 18-27

Fokusvers: 18

Tema: Die wêreld haat vir Christus en daarom haat die wêreld ook vir ons. Ons moet egter steeds van Hom bly getuig.

Hoofpunt 1: Die wêreld haat vir Christus en daarom haat die wêreld ook vir ons. 

Hoofpunt 2: Ons moet egter steeds bly van Hom getuig.

Hoofpunt 3: Ons moet egter steeds bly van Hom getuig deur die krag van die Heilige Gees.

Inleiding

Daar is ʼn baie bekende uitdrukking onder gelowiges wat ons Here Jesus self vir ons geleer het. Hierdie uitdrukking is: “Ons as gelowiges is in die wêreld, maar die van die wêreld nie”. Dit is min of meer wat Jesus vir ons verduidelik in vers 19, die tweede vers wat ons saam gelees het.

Dit is ʼn merkwaardige uitdrukking. Dit het baie dinge tot gevolg. Dit leer vir ons as Christene hoe ons oor onsself behoort te dink en watter rol ons moet speel in die wêreld rondom ons. Dit leer vir ons wat die verhouding tussen die Christen en die wêreld om hom is.

Jesus leer vir ons in die teksgedeelte wat ons gelees het een van die dinge wat dit tot gevolg het. Dit is dat alhoewel die Christen in die wêreld moet lewe, sal die wêreld steeds die Christen haat. As Christene word ons geroep om in die wêreld te lewe. Ons moet ʼn positiewe effek op die wêreld hê. Ons moet God se lig laat skyn. Een van die dinge wat ons egter moet verwag wanneer ons dit doen, is vervolging.

Agtergrond

Die agtergrond van ons teksgedeelte is dat dit is deel van die gesprek wat Jesus met sy dissipels in die bokamer die nag voor sy kruisiging gehad het. Jesus het geweet dat die tyd vir sy kruisiging naby is. Daarom gebruik hy hierdie geleentheid, hierdie laaste aand saam met sy dissipels, om hulle voor te berei vir die tyd wat kom. Hy berei hulle voor vir sy kruisiging, vir sy opstanding, vir die hemelvaart en vir die uitstorting van die Heilige Gees. Hy berei hulle ook voor vir hulle lewens as dissipels. Hy sê vir hulle hoe hulle as sy dissipels moet voortleef, hoe hulle in die wêreld van Hom moet bly getuig.

Ons kan baie leer uit hierdie gesprek wat Jesus met sy dissipels in die bokamer gehad het. Ons is ook sy dissipels en daarom is die beginsels wat Hy vir die dissipels leer net so geldig vir ons vandag. ʼn Dissipel is iemand wat iemand anders volg, maar ons besef nie altyd hoe intensief hierdie “volg” was nie.

Dissipels het hulle rabbi’s of leermeesters so intensief gevolg dat die beeld gebruik word dat die “stof van die rabbi se voete op hulle was”. Hulle is so naby dat die stof van die rabbi’s se voete op hulle gekom het. Hulle het orals saam met hulle leermeesters gegaan en saam met hulle gelewe. Hulle het alles wat hulle rabbi’s gesê het, gememoriseer en probeer lewe soos wat hulle rabbi’s gelewe het. Die idee was dat hulle dit wat hulle leermeester vir hulle geleer het, heeltemal deel van hulleself gemaak het en dit ook dan vir ander sou leer, nie net in woorde nie maar ook in dade.

Jesus leer nou in hierdie gesprek in die bokamer vir hulle hoe hulle verder as dissipels moet lewe nadat Hy nie meer by hulle is nie. Hulle moet Hom nog steeds “volg”, al kan hulle hom nie fisies volg nie. Hulle moet nou vir ander gaan leer wat Hy vir hulle geleer het. Dit is ʼn sentrale deel van dissipelskap. Dissipels maak nog dissipels. Dit is wat ons ook moet te doen.

Dit beteken nie noodwendig dat ons dit êrens ver weg moet gaan doen nie. Die Here roep sekere mense om dit te doen, dit is waar en as een van ons die roeping het om dit te doen moet ons dit doen, maar vir die oorgrote meerderheid van ons word ons geroep om nog dissipels te maak hier waar ons in ons eie gemeenskap is.

Hoofpunt 1: Die wêreld haat vir Christus en daarom haat die wêreld ook vir ons. Ons moet egter steeds bly van Hom getuig.

Jesus leer vir sy dissipels baie dinge in hierdie gesprek wat hulle vorentoe moet vat. Hy leer vir hulle spesifiek In die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, dat dissipels van Jesus vervolging moet verwag wanneer hulle van Hom gaan getuig. Hy sê vir hulle dat dit gaan gebeur. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die wêreld haat vir Jesus, hulle het Hom immers gekruisig. Daarom sê Jesus vir hulle dat die wêreld ook vir hulle wat Jesus volg gaan haat.

Ons lees dit so duidelik in vers 20 en 21

“Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem. 21 Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”

Hulle ken nie vir God nie, daarom luister hulle nie na Hom wat God gestuur het nie. Hulle haat vir Jesus en daarom haat hulle ook vir ons.  As ons werklik en radikaal vir Jesus volg, sal die wêreld ons haat. Ons moet dan nie verbaas wees as ons vervolg word nie. Dit was vir seker waar vir Jesus se dissipels wat hierdie woorde daardie aand gehoor het. Hulle is om elke hoek en draai vervolg.

Al die dissipels het ʼn marteldood vir die evangelie gesterf. Almal van hulle behalwe Johannes, hy wat hierdie boek skryf, maar ons weet dat hy verban is na die eiland Patmos toe waar hy die boek van Openbaring geskryf het. Paulus skryf ook van sy radikale vervolging, waar hy gestenig is en gereeld in die tronk gegooi is. Ons kan ook dink aan iemand soos Stephanus, een van die eerste diakens, waar hy vroeg in die boek van Handelinge vir sy geloof gestenig word.

Dit is baie duidelik dat die lewe van ʼn gelowige nie ʼn maklike een is nie. Enige iemand wat sê dat geloof jou lewe maklik gaan maak, het nog nie die Bybel gelees nie. Swaarkry en vervolging is deel van Christenskap. Jesus is tot die dood toe vervolg. Hoe kan ons wat Hom volg nie verwag om ook vervolg te word nie? Vir baie Christene reg oor die wêreld is dit ook die realiteit. Hulle word ook tot die dood toe vervolg.

Hoofpunt 2: Ons moet egter steeds van Hom bly getuig

Ons het baie gehoor van hoe die dissipels in die tyd van die vroeë kerk vervolg is, maar hoe word ons vandag vervolg? Wat beteken dit vir ons vandag in Venterstad?  Baie van ons het die voorreg gehad om baie beskermd groot te word, ons lewe hier in Venterstad redelik geïsoleerd van die res van die wêreld. Dit beteken egter nie dat ons nie vervolg word nie.

Dit is vir seker nie die tipe vervolging wat die dissipels ervaar het nie en dit is ook die tipe vervolging waarvan Frikkie ons na die erediens gaan vertel nie, maar ons ervaar egter steeds ʼn tipe vervolging. Soos ons gelees het, dit is onvermydelik. As ons met die wêreld te doen het, en ons bedien die waarheid aan die wêreld, dan gaan ons ʼn tipe verwerping ervaar. Alhoewel die wêreld ons haat, beteken dit nie dat ons die wêreld haat nie. Inteendeel, ons word geroep om lief te wees vir die wêreld. Ons moet almal met liefde hanteer. Die liefdevolste ding wat ons kan doen, is om aan mense die waarheid van evangelie te bedien.

Daarom is dit ons werk om die waarheid in liefde bedien. Ons gaan egter vind dat, al doen ons dit in liefde, gaan mense vir ons sê ons oordeel hulle, ons verwerp hulle, ons diskrimineer teen hulle. Dit is egter nie wat ons moet doen nie, ons moet eenvoudig die waarheid in liefde bedien en ons moet nie terugstaan wanneer ons dit doen nie. Dit is ons werk as dissipels. Jesus sê duidelik in die laaste vers wat ons saam gelees het, dat ons van Hom moet gaan getuig. Ons moet die volledige evangelie bring. Dit waarvan, waardeur en waarvoor ons gered is. Ons is van ons sonde gered, deur Jesus Christus en vir goeie werke volgens die wil van God.

Wanneer ons werklik hierdie volledige evangelie verkondig, is daar baie plekke waar ons teenstand kan ervaar. Mense wil nie hoor hulle is sondig nie, hulle wil nie hoor dat hulle moet staatmaak op iets buite hulleself vir redding nie. Hulle wil ook nie hoor dat hulle volgens die wil van God moet lewe nie. Dit is wanneer ons gereeld met mense wat besig is om op te tree teen die wil van God te doen het, dat ons op ʼn manier vervolg word.

Ons lidmate wat in Oviston woon, kan dit gereeld daar ervaar en die boere in ons gemeentes ervaar dit op ander plekke, moontlik by veilings of boereverenigings. Almal van ons kan dit ook moontlik ervaar in ons eie families. Daar is baie van hierdie tipe vervolging by skole en universiteite. Ons almal is betrokke by die samelewing en dit is juis wanneer ons optree as dissipels in die samelewing, wat ons vervolging ervaar. Die ergste is dat hierdie tipe vervolging net toeneem en gaan aanhou toeneem in ons leeftyd, soos wat ons land al hoe verder van die Here af beweeg. Ons beweeg in ʼn “Post-Christen”-kultuur in, as ons nie alreeds daarin lewe nie.

As ons hier sit en dit voel vir ons asof ons nie werklik vervolging ervaar nie, is dit moontlik weens die feit dat baie van ons die voorreg het om in die beskermde omgewing te woon. Dit is egter sinvol om onsself af te vra, en na ons lewens te kyk en te vra of ons die geleenthede wat die Here vir ons gee om die waarheid in liefde te verkondig, gebruik, of laat ons die geleenthede verbygaan, want ons is bang om vervolg te word? As ons die geleenthede nie laat verbygaan om dit te doen nie, moet ons daarin groei om dit te gebruik. Dit is deel van wie ons as dissipels is. Dit is ons taak en ons gaan daarvoor vervolg word.

Verder weet ons dat alhoewel ons nie erge vervolging ervaar nie, dat ons broers en susters op ander plekke baie radikale vervolging ervaar. Ons moet vir ons broers en susters op hierdie plekke bid. Ons moet hulle in ons gebede hou dat God hulle sal bystaan deur die Heilige Gees en vir hulle krag sal gee om aan te hou getuig ten midde van hulle omstandighede.

Hoofpunt 3: Ons moet egter steeds bly van Hom getuig deur die krag van die Heilige Gees.

Vanoggend se boodskap is daarom ook nie ʼn hopelose een nie. Jesus sê nie net julle gaan vervolg word, dit gaan moeilik wees en dit is dit nie. Hy sê vir hulle dat hulle dit nie alleen gaan doen nie. Ons lees in die laaste twee verse die volgende:

26 “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27 En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”

Hy sê dat hy vir ons die Voorspraak sal stuur. Dit is die Heilige Gees. Die woord wat hier vertaal word met “voorspraak” is in die oorspronklike Grieks die woord “Parakletos”. ʼn “Parakletos” is iemand wat jou kom bystaan in ʼn moeilike tyd. Dit is iemand wat dan by jou is en vir jou intree, soortgelyk aan hoe ʼn advokaat jou sal verteenwoordig in ʼn hofsaak. Ons is daarom nie alleen nie. Dit is waar dat ons gaan vervolg word, dit is waar dat dit moeilik gaan wees, maar ons doen dit nie alleen nie. Die Heilige Gees is met ons. Hy gee vir ons krag, Hy troos ons, Hy lei ons. Hy word in hierdie teksgedeelte die “Gees van Waarheid” genoem. Dit beteken dat Hy ons gaan bystaan wanneer ons die waarheid in liefde verkondig aan die wêreld wat die waarheid haat. Hy gaan ons daarin lei.

Verder weet ons dat die lewe van die gelowige nie net een van swaarkry is nie. Dit is een van groot vreugde ten midde van hierdie swaarkry. Ons lees in 1 Pet. 1:6 met verwysing tot die geloof wat vir ons geskenk is in Jesus:  

“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings”

Ons lees ook in Romeine 8:18 Dat die toekomstige oorwinning waarna ons kan uitsien is soveel groter is as die huidige swaarkry. 

“18 Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”

Ons kan met groot opgewondenheid uitsien na wanneer die Jesus weer kom. Hy gaan dan alles wat gebroke is weer heelmaak. Alle swaarkry en seer gaan verby wees. Ons ervaar dan alleenlik die goedheid van die Here.

Slot

Ons het aan die begin verwys na die uitdrukking “As Christene is ons in die wêreld, maar die van die wêreld nie”. Dit is wat Jesus vir sy dissipels daardie aand in die bokamer geleer het. Dit is wat hy ook vir ons hier vandag geleer het. Ons moet as Christene wat in hierdie wêreld lewe van die waarheid in liefde getuig. Ons moet die volledige evangelie met mense deel.

Jesus leer ons dat as ons dit doen, dan moet ons vervolging verwag. Al het ons die voorreg om relatiewe ligte vervolging te ervaar in ons omstandighede, is dit steeds ʼn realiteit. Dit gebeur ook al hoe meer, hoe meer ons van Hom getuig.

Ons weet egter dat dit ons nie moet keer daarvan om dit te doen nie. Ons moet steeds getuienis wees van ons Here Jesus Christus en ons hoef dit gelukkig nie alleen te doen nie. Ons het die Heilige Gees, die Gees van Waarheid self, wat ons daarin lei om die waarheid te verkondig.

Mag ons die lig van God in hierdie wêreld laat skyn. Al is dit hoe donker.

Amen