Teksgedeelte: Openbaring 21:1-8
Fokusgedeelte: Openbaring 21:1-3
Tema: God laat ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde kom wat verlos is van alle verganklikheid en alle sonde, waar ons vir ewig in sy teenwoordigheid sy volk is en Hy ons God.
Hoofpunt 1: God laat ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde kom wat verlos is van alle verganklikheid.
Hoofpunt 2: In die nuwe hemel en op nuwe aarde gaan ons volkome lewe as sy volk en Hy gaan ons God wees.
Inleiding
Openbaring vertel van die verlossing van die bedeling, maar ook van die glorie van die toekomstige bedeling.
Soos ons met die vorige preekgeleenthede gesien het, bevat die boek van Openbaring ʼn boodskap van hoop vir die kerk wat tans onderdruk word in hierdie wêreld. Die boodskap van die visioen wat God vir Johannes laat sien het, vertel hoe God deur Christus die sonde en die satan finaal oorwin. Dit is egter nie al nie. Dit vertel ook van die toekomstige bedeling. Dit vertel ook van die wederkoms van Christus. Met sy wederkoms gaan alles nuut gemaak word en daarna gaan die volk van God vir ewig by Hom wees.
Wat beteken die bogenoemde egter vir ons vandag in hierdie bedeling? Hoe beïnvloed ons begrip van die toekomstige bedeling ons vandag?
Hoofpunt 1: God laat ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde kom wat verlos is van alle verganklikheid.
Die nuwe Hemel, aarde en Jerusalem
In ons teksgedeelte staan die boodskap van hoop vir die kerk voorop. Johannes sien hoe dit gaan wees wanneer Christus weer kom. Hy sien ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde. Hy wat aan die begin alles geskep het, en dit goed geskep het voordat die sonde dit verwoes en vernietig het, maak nou weer alles nuut.
Hy sien die stad van die nuwe Jerusalem. Dit is versier soos ʼn bruid vir haar man. Jerusalem is van die Ou Testament af die heilige stad van God wat hy afgesonder het vir sy mense. Dit is natuurlik in hierdie bedeling verwoes, maar eendag gaan dit nuut gemaak word. Dit gaan die heilige plek wees waar die mense van God woon. Die beeld van die huwelik word gebruik om die eenheid tussen God en sy mense te beklemtoon.
Die ou hemel en die ou aarde gaan verby en saam met dit die sonde en die gevolge van die sonde. Daar is nie meer swaarkry en smart nie. Daar is nie meer dood nie. Daar is nie meer verganklikheid nie. Ons word volkome verlos van alle pyn.
Vernuwe liggame
Nie net word die hemel en die aarde nuut gemaak nie. Ons gaan self ook nuut gemaak word. Ons bely elke Sondag dat ons glo in die opstanding van die liggaam. Ons lees in 1 Korintiërs 15 dat hierdie liggame van ons, saam met die hemel en die aarde nuut gemaak gaan word. Die wat nog lewendig is met die wederkoms van Christus, gaan eenvoudig nuut gemaak word en die wat reeds ontslaap het, gaan uit die dood uit opstaan.
Ons gaan dan met hierdie vernuwe liggame woon op die vernuwe hemel en aarde. Ons gaan daar saam met die Here oor die nuwe skepping regeer. Ons gaan woon en werk tot eer van Hom sonder om ooit moeg te word of swaar te kry. Ons vind hierin troos en hoop te midde van die swaarkry van die huidige bedeling. Ons lees in vers 4 dat God self ons trane sal afdroog.
Verlossing van swaarkry is nie die hoogtepunt nie. Die teenwoordigheid van God is die hoogtepunt.
Dit is egter nie die hoogtepunt van die nuwe bedeling nie. Ons mag werklik daarna uitsien om verlos te word van die bedeling se pyn en smart, maar die hoogtepunt is eerder die besondere teenwoordigheid van God wat ons vir ewig daar gaan ervaar. Daar staan in vers 3, een van ons fokusverse, die merkwaardige woorde: “die tabernakel van God is by die mense” Hierdie woorde roep terug na die Ou Testamentiese begrip van die tabernakel van God toe. In Eksodus 26 gee die Here aan Moses die instruksies vir die tabernakel. Die tabernakel is die tent van samekoms wat die Leviete die middel van die Israeliete se kamp moes opslaan toe hulle deur die woestyn na die beloofde land toe getrek het. Hierdie tent is later vervang met die tempel toe die volk in die beloofde land gevestig het.
Die Here het die tabernakel vir sy volk in die Ou Testament as ʼn beeld van sy besonderse teenwoordigheid gegee. God is natuurlik alomteenwoordig, maar hierdie tent was ʼn beeld vir die besondere, spesiale teenwoordigheid van God. God het hierdie tent van samekoms laat opslaan as ʼn sigbare en tasbare beeld waarmee Hy vir die volk sê “Ek is by julle”. Dit het beteken dat die Here se genade en seën by die volk is. Dit was om hierdie rede ʼn heilige, afgesonderde plek wat hierdie betekenis dra.
Dit is hierdie besondere, spesiale teenwoordigheid wat ons volkome gaan ervaar in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ons gaan God se volmaakte goedheid en die genade ervaar. Alle sleg en swaarkry gaan van ons weggeneem word en ons gaan oorvloedige vreugde in God ervaar. Ons gaan by Hom wees en Hy gaan by ons wees.
Weens God se teenwoordigheid, is daar nie meer ʼn kerk nie. Ons is altyd kerk.
God se volmaakte teenwoordigheid hou die volgende verskil in tussen hierdie bedeling en die een wat kom. Johannes verduidelik verder die nuwe hemel en die nuwe aarde in die teksgedeelte hierna, in vers 22 lees ons dat daar nie ʼn tempel op die nuwe aarde is nie. Met ander woorde, daar gaan nie ʼn kerk wees in die bedeling hierna nie, want God is reeds volkome teenwoordig.
In die nuwe bedeling hoef ons nie saam te kom as kerk om die Here te ontmoet nie, want die verhouding tussen ons en God en die verhouding wat ons onder mekaar het as gelowiges is volkome herstel. Die volmaakte kerk is daarom nie een wat vol sit op ʼn Sondag nie. Die is nie een met ʼn mooi gebou of baie geld nie. Dit is een waar almal, die hele volk van die Here, altyd en heeltyd volkome kerk is. Die gebou is nie die kerk nie, ons is die kerk. Die erediens is nie net die uur op ʼn Sondag nie, ons lewe ons hele lewens tot eer van die Here, in diens van die Here. Ons is permanent in die erediens van die lewe.
Die samekomste is egter iets wat ons as gelowiges in hierdie bedeling broodnodig het. Ons moet daarna smag om saam te kom as medegelowiges. Ons moet daarna smag om die Here te ontmoet op die besondere manier soos wat ons nou doen. Dit is iets wat ons as Christene werklik die behoefte het om te doen in hierdie bedeling. Daarom is kerkbywoning nie iets wat jy doen vanuit gewoonte of verwagting nie. Dit is iets wat jy doen want jy het dit broodnodig. Daardie behoefte gaan in die bedeling hierna volkome vervul word en dit is iets waarna ons werklik kan uitsien.
Hoofpunt 2: Ons gaan in die nuwe hemel en nuwe aarde volkome lewe as sy volk
Hy is ons God en ons is sy volk – die kern van die verbond.
Nadat ons fokusvers sê dat God in die nuwe hemel en die nuwe aarde onder ons gaan woon en volkome in sy goedheid en in sy genade by ons teenwoordig gaan wees, staan daar die volgende woorde: ons gaan sy volk wees, en Hy gaan ons God wees.
Broers en susters, dit is merkwaardige woorde. Dit is die kern van die verbond wat God gemaak het met sy volk hier op aarde. Dit is die kern van die verbond wat God gemaak het met my en met jou. Dit is nog altyd die kern van die verbond, van Abraham se tyd af, maar luister hoe die Here presies hierdie woorde gebruik in Levitikus 26:11-12, wanneer Hy sy volk herinner aan die verbond wat Hy met hulle het:
“11 En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. 12 En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees.”
ʼn Verbond is ʼn spesifieke verhouding met grense, of met reëls. Dit is ʼn verhouding wat op ʼn spesifieke manier funksioneer. God het gekom en met ons die verbond gesluit. Hy sê van die begin van die verbond af: ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.
Wat beteken hierdie woorde? Wat beteken dit dat God ons God is en dat ons sy volk is? Die eerste sinsnede, God is ons God, beteken dat Hy ons ewige liefdevolle vader is wat ons behoed en bewaar. Hy gee vir ons alles wat ons nodig het en Hy beskerm ons. Dit is nou reeds waar, maar dit gaan volkome so wees in die nuwe hemel en op die nuwe aarde. Alles wat skeiding maak tussen ons en die Vader gaan volkome verwyder word. Ons gaan sy goedheid en genade volkome ervaar.
Die volgende sin, ons gaan sy volk wees, beteken dat ons aan Hom gehoorsaam gaan wees en eer en heerlikheid aan Hom gaan bring. God word die meeste deur ons verheerlik wanneer ons die meeste in Hom tevrede is. Dit gaan volkome so geskied in die bedeling na hierdie een. Ons gaan volkome in God vreugde vind en Hom so ook volkome verheerlik.
Ons lewe nou reeds in die verbond.
Ons lewe egter nou reeds met God in hierdie verbond. Dit is iets wat nou reeds vas staan. God is ons God en ons moet nou reeds as sy volk lewe. Ons kry dit nie in hierdie bedeling reg nie, maar in die bedeling hierna, wanneer alles nuut gemaak is, gaan ons dit volkome regkry. God kry dit natuurlik alreeds volkome reg. Hy is reeds ons almagtige God en Vader wat vir ons sorg. Hy is die een wat ons behoed en bewaar. Ons weet dat alles wat met ons gebeur, deel is van sy ewige plan en Hy laat dit ten goede meewerk.
Alhoewel ons dit nie in hierdie bedeling regkry om volkome sy volk te wees nie, is dit steeds iets wat ons nou reeds die verantwoordelikheid het om sover ons kan reeds uit te lewe. Ons het die verantwoordelikheid om deur die Heilige Gees wat in ons werk daarin te groei. Dit is ons grootste begeerte om as die volk van God te lewe, om aan Hom gehoorsaam te wees en sy naam te verheerlik. Dit is ook iets waarin ons die meeste vreugde vind. Ons weet ook dat ons vreugde eendag volkome gaan wees wanneer ons dit volkome regkry in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.
Ons moet nou reeds in ons lewens daarin groei om God te verheerlik in alles wat ons doen en om aan Hom gehoorsaam te wees. Dit moet ons grootste begeerte wees hier op aarde. As ons dit nie hier wil doen nie, hoekom sal ons dit wil doen in die lewe hierna.
Die tweede dood. Die hemel en die hel.
Die laaste vers van ons teksgedeelte sê dat daar nie enige ongelowiges en sondaars in die nuwe hemel en op die nuwe aarde gaan wees nie. Hulle wat nie hulle vreugde nie vind in die diens van die Here nie, sal nie die ewige lewe ingaan nie. Hulle sal eerder die “tweede dood” ingaan.
Baie ongelowiges dink dat dit wat vir ons wag aan die ander kant van die dood is eenvoudig bewusteloosheid. Dit is egter nie waar nie. Ons gaan of die ewige lewe in. Dit is waar ons siel by die Here is tot die dag wat Christus weer kom, dan word ons herenig met ons liggame en dan woon ons in die nuwe hemel en die nuwe aarde saam met die Here. Of ons gaan die tweede dood in. Die ewige dood. Dit word in die laaste vers beskryf as ʼn poel van vuur en swael. Dit is die ewige straf op die sonde. Na die dood is daar bewustelikheid. Ons is of daarvan bewus dat ons in die ewige lewe is, of dat ons in die ewige sterwe is.
Christus is die volkome vervulling van die teksgedeelte.
Ons moet egter nie dink dat ons al hierdie dinge self verdien nie. Dit is alleen deur die genade en geloof in Christus wat ons nie in die ewige dood ingaan nie. Hy is die een wat vir ons die ewige lewe bewerk het deur sy dood aan die kruis en sy opstanding. Ons elkeen verdien die ewige dood weens ons sonde. Hy het daardie ewige dood vir ons gedra. Daarom het ons die ewige lewe.
Hy is die een wat die ware vervulling is van die verbond wat ons met God het. Die kern van die verbond is dat God ons God is en dat ons sy volk is. Ons kry dit nie uit ons eie uit reg om sy volk te wees nie. Ons is gedurig teenoor Hom in opstand. Christus is egter volkome gehoorsaam aan sy Vader. Alles wat Hy doen is altyd tot eer van sy Vader. Met sy kruisiging dra Hy ons verdienste en ons kry sy verdienste. Hy is ook die een wat die dood en die satan oorwin het. Hy het opgestaan uit die dood. Hy het reeds die oorwinning behaal en Hy gaan die oorwinning finaal behaal met sy wederkoms, wanneer alles nuut gemaak gaan word.
Alles wat ons gelees het in vandag se teksgedeelte – die finale verlossing van die sonde en satan, die nuwe hemel en die nuwe aarde waar ons ewig in die volmaakte verbondsverhouding gaan lewe saam met die Here waar Hy ons God is en ons sy volk is , is alles vir ons bewerk deur God in Christus en ons glo daarin deur die werk van die Heilige Gees.
Slot
Broers en susters, ons het begin deur te sê dat die boodskap van hoop in die boek van Openbaring voorop staan. Wat ʼn wonderlike boodskap van hoop is dit nie.
Ons weet dat, ten spyte van die swaarkry en die seer van die huidige bedeling, ons kan uitsien na die nuwe hemel en die nuwe aarde wat verlos is van dit alles. Nie net dit nie, ons kan daarna uitsien dat God daar by ons volkome teenwoordig gaan wees. Hy gaan sy tent tussen ons opslaan. Hy gaan tussen ons woon. Hy gaan by ons tabernakel. Ons gaan volkome sy volk wees en Hy gaan ons God wees. Ons gaan Hom ewig loof en prys deur in Hom vreugde te vind.
Amen