Eksodus 15: 22-27

Teksgedeelte: Eksodus 15:22-27

Fokusgedeelte: Eksodus 15: 24-26

Tema: Die Here werk met ons in tye van voorspoed en teëspoed. Ons moet leer om ten spyte daarvan op Hom te vertrou en aan Hom gehoorsaam te bly.

Hoofpunt 1: Die Here werk met ons in tye van voorspoed en teëspoed.

Hoofpunt 2: Ons moet leer om ten spyte daarvan op Hom te vertrou en aan Hom gehoorsaam te bly.

Inleiding

Broers en susters, dit is waar dat ons as gelowiges gereeld erge teleurstelling en swaarkry ervaar. Ons lees nêrens in die Bybel dat die lewe van ʼn gelowige ʼn maklike een gaan wees nie. God stap met ons elkeen ʼn pad en daardie pad het baie opdraandes en afdraandes, maar God het ʼn doel met dit alles. Dit is wat ons leer vanuit vandag se teksgedeelte. Partykeer is iets wat vir ons goed is, ook vir ons bitter.

Hoofpunt 1: Die Here werk met ons in tye van voorspoed en teëspoed.

Ons teksgedeelte vind plaas kort nadat die Here sy volk uit Egipteland gelei het. Hy het baie wonders gedoen om dit reg te kry. Hy het die tien plae oor Egipte gebring en op hierdie wonderbaarlike manier die volk vanuit Egipte, waar hulle slawe was, verlos.

Die Here lei hulle na die Rietsee toe. Die Here het egter intussen die Farao se hart verhard en hy het ʼn hele weermag agter die Israeliete aangestuur met perde en strydwaens om hulle terug te bring Egipte toe. Die Here bring weer uitkoms vir sy volk op ʼn wonderbaarlike manier. Hy skei die see sodat die volk op droë grond deur die see kan loop. Die Egiptenare agtervolg hulle. Toe die Israeliete deur die see is, laat die Here die see weer toeval en die al die Egiptenare wat hulle agtervolg het, verdrink. Dit is ʼn wonderwerk. Die Here wys vir die volk en vir die Egiptenare dat Hy almagtig is. Hy wys vir sy volk dat Hy die een is wat hulle beskerm en onderhou.

Die Here wys vir hulle dat Hy elke tree by hulle is en hulle lei deur die wolkkolom en die vuurkolom waarin hulle getrek het. Hierdie is natuurlik ʼn groot deurlopende wonderwerk wat die Here doen sodat sy volk beskut is in die dag en die nag, sodat die Here hulle kan lei.

Broers en susters, ons kan dink dat, indien ons al hierdie wonderwerke sou aanskou, sou dit ʼn onwankelbare vertroue op die Here in ons harte gevestig het. Dit is egter nie die geval nie. Dit is nie die geval met ons nie, net soos wat dit nie die geval met die Israeliete was nie. Dit is omdat dit nie wonderwerke is wat ʼn mens verander nie, maar die woord van die Here wat werk deur die Heilige Gees in ons harte. Dit gebeur so reg deur die Skrif. Dit gebeur ook so in ons teksgedeelte.

Aanvanklik sien die Israeliete die wonder van die Here raak nadat hulle deur die Rietsee getrek het en hulle sing ʼn loflied tot eer van sy naam. Hulle sing die loflied:

“Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.” – Eksodus 15:1 .

Die Israeliete vertrek waarskynlik daar van die Rietsee af weg met nuwe ywer en ʼn vertroue op die Here. Dit hou egter nie baie lank nie. Hulle trek toe vir drie dae in die woestyn en hulle kry nie water om te drink nie.

Broers en susters, dit is maklik om oor hierdie te lees en nie werklik die swaar omstandighede ten volle te begryp nie. Dit was die hele volk van die Israeliete. Dit was jong mense, ou mense en kinders. Hulle het baie waarskynlik ook diere by hulle gehad. Hulle het heeldag op hulle voete spandeer. Dit is waar dat hulle die wolkkolom gehad het wat hulle beskerm het van die son, maar hulle het steeds in die woestyn gestap. Dit was moeilike en sanderige terrein. Verder weet ons dat die mens nie baie lank sonder water kan oorleef nie. Ons lees dat hulle drie dae gestap en nie water gekry het nie. Dit was ʼn moeilike tyd vir die volk van die Here. Dit was nie maklik nie. Die lewe is egter nie maklik nie.

Ons almal hier lewe in baie opsigte baie gemaklike lewens. Die oorgrote meerderheid van ons weet nie werklik wat dit is om dors te wees in die woestyn nie. Om nie water te hê nie. Om glad nie te weet wanneer jy weer water gaan kry nie. Ons kan onsself maar net probeer indink hoe die Israeliete moes gevoel het. Ons het egter steeds ons eie uitdagings in hierdie lewe wat vir ons ook baie moeilik is. Daar is swaar uitdagings op elke gelowige se pad. Dit is deel van die lewe.

Die Israeliete sien dan water. Dit is waarna hulle gesmag het. Dit is wat hulle nodig gehad het om aan die lewe te bly. Hulle kom by Mara. Dit was ʼn plek met water. Ons kan ons net hulle teleurstelling indink toe hulle die water drink en dit is bitter, dit is ondrinkbaar. Die woord “Mara” beteken bitter. Die water van Mara het vir hulle net valse hoop gegee. So naby maar tog so ver. Jy kan jouself maar indink. Jy is verskriklik dors. Jy loop in die woestyn, dan sien jy water, maar die water is bitter. Dit moet die wind heeltemal uit jou seile uit haal.

Die volk kla dan by die Moses en vra: “Wat moet ons drink?” Die volk gaan kla fisies by Moses, maar eintlik kla hulle by die Here. Eintlik vertrou hulle nie op die Here om hulle te onderhou en vir hulle te sorg nie. Drie dae vantevore het hulle lofliedere tot die Here gesing. Die Here doen wonderwerke voor hulle oë om vir hulle te wys dat Hy almagtig is en regeer. Hy wys vir hulle dat hulle sy volk is. Tog, wanneer dit moeilik gaan, wanneer hulle dors is, wanneer hulle moeg is, sien hulle nie meer die Here raak nie. Dan vertrou hulle nie meer op hom nie, dan kla hulle.

Ons moet nie na die Israeliete kyk en dink ons is beter as hulle nie. Ons is net so geneig om te kla. Ons is net so geneig om die Here te vergeet. Wanneer dit swaar gaan in ons lewens, kla ons en dink dat die Here nie vir ons uitkoms sal kan gee nie. Dit gebeur baie maklik. Die lewe is gereeld baie swaar.

Wat ons leer vanuit ons teksgedeelte is dat ons juis in hierdie tye moet leer om op die Here te vertrou en om aan Hom gehoorsaam te bly. Die Here plaas ons ook in hierdie situasies om ons te toets. Om met ons te werk. Om ons te leer dat ons werklik op Hom alleen deur dit alles moet vertrou. Daar staan in ons fokusvers, vers 25: “Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle ’n vaste reël neergelê.”

Die Here plaas ons in hierdie situasies om ons te toets, om ons te leer om op Hom te vertrou. Hy is aktief besig om met ons te werk sodat ons kan groei. Daarom lees ons ook later in die Nuwe Testament in Romeine 5:3 en 4 waar Paulus sê:

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”

Hoofpunt 2: Ons moet leer om ten spyte daarvan op Hom te vertrou en aan Hom gehoorsaam te bly.

Ons kan wonder, hoekom sal die Here dit toelaat in die lewens van gelowiges en in die lewens van sy volk. Hy is die een wat hulle gelei het na Mara toe. Hy is ook die een wat alles bestuur en bepaal wat met ons gebeur. Uit sy hand uit kom daar net wat goed is, maar baie keer is iets wat vir ons goed is, ook vir ons bitter soos die waters van Mara. Hy is nie die een wat self die teëspoed teenoor ons doen nie, maar Hy is die een wat dit op ons pad bring. Hy help ons om daardeur te groei sodat ons op Hom kan vertrou en aan Hom gehoorsaam kan wees.

Ons moet egter nie net op die Here vertrou wanneer dit met ons swaar gaan nie, ons moet ook op Hom vertrou wanneer dit met ons goed gaan. Ons is ook daartoe geneig om die Here te vergeet wanneer dit met ons goed gaan. Ons vertrou dan nie meer op die Here nie, want ons dink ons kan vir onsself sorg. In ʼn vreemde sin is teëspoed dan vir ons ʼn goeie ding. Dit is goed dat ons ons aan ons afhanklikheid van Hom herinner.

Broers en susters, die groot troos hiervan is dat ons weet dat ons swaarkry nie sinneloos is nie. Dit is nie verniet nie. Die Here stuur en gebruik dit sodat ons kan groei in ons geloof en leer om te vertrou op Hom. Ons kan ook weet dat, net soos die Here die teëspoed gebruik om ons te laat groei, sal Hy ons ook verlos van daardie teëspoed op die regte tyd. Dit moet ons bemoedig indien ons swaarkry ervaar.

Nadat die volk gekla het by Moses, en Moses die Here aangeroep het in gebed, het die Here die volk verlos met ʼn wonderwerk. Neem waar dat Moses die Here aangeroep het in gebed, nie die volk nie. Dit leer ons om ook eerder te bid in tye van teëspoed as om te kla. Die Here doen ʼn wonderwerk. Hy wys vir Moses ʼn stuk hout wat hy in die water moet gooi. Toe Moses dit gedoen het, het die water soet geword. Hulle kon toe die water drink en weer moed en krag skep om verder te trek.

Dit is interessant dat die soet maak van die water beskryf word as die “genesing” van die water. Die Here sê ook vir sy volk dat, as hulle aan Hom gehoorsaam is, Hy hulle nie sal tref met die siektes van die tien plae nie. Die Here wys hier vir die volk dat Hy die een is wat genees en ook die een wat gesond hou. Hulle trek toe verder na Elam toe. Dit is ʼn plek met twaalf waterfonteine en 44 palmbome. Dit is ʼn plek waar die volk kon rus op pad na die beloofde land toe. Die Here gee vir sy volk verlossing.

Broers en susters, die Here het hier vir sy volk gewys dat Hy die een is wat hulle verlos. Hy is die een wat hulle genees en gesond hou. Hy is die Een sorg, wat vir ons gee wat ons nodig het.

Die volk van Israel moes dit raaksien, maar ons vandag moet dit nog meer raaksien. Die Here wys dit nie net vir ons in hierdie wonderwerke nie. Hy wys dit ook vir ons deur sy Seun. Ons weet dat die Here vir ons sorg en ons gesond hou omdat ons sy volk is. Dit is wat Hy vir die Israeliete hier wys, maar ons weet dit vir seker, want Christus maak ons God se volk. Ons weet dat God die een is wat ons volkome genees en verlos. Dit is wat Hy hier vir die Israeliete wy,s maar ons weet dit vir seker as gevolg van Christus wat ons genees en verlos deur sy reddingsdade.

God leer hier die volk om op Hom te vertrou en na Hom toe te draai in bitter tye. Hulle moet leer om nie te kla nie en eerder tot die Here te bid. Dit is egter merkwaardig presies hoe die Here vir Hulle sê hulle dit moet doen. Hy sê vir hulle: wees aan my gehoorsaam. Luister na dit wat ek vir julle sê julle moet doen. Volg die pad wat ek wil hê julle moet stap. Hoe weet ons dat ons werklik op die Here vertrou? Wanneer ons aan Hom gehoorsaam is. Wanneer ons Hom volg, eerder as om ons eie begeertes te volg. Ons kan dit alleen doen deur die Heilige Gees wat ons harte verander. Dit is Hy wat in ons harte kom werk sodat ons wil God se wil is. Sodat ons wil doen wat God wil hê ons moet doen. Dit is Hy wat ʼn bitter geleentheid verander in ʼn groeigeleentheid.  Die Here gebruik die bitter tye deur die Heilige Gees om werklik ons te verander.

Slot

Broers en susters, uit die hand van die Here kom daar net wat goed is, maar soms is dit wat vir ons goed is, vir ons bitter. Die Here is nie die een wat self dinge bitter maak nie, maar Hy lei ons soms na die bitter water van Mara toe. Dit is maklik om dan van die Here te vergeet. Om weg van Hom af te draai en te kla oor die swaar teleurstelling.

Die Here het egter vir ons vandag gewys dat dit nie is wat ons moet doen nie. Ons moet leer om deur die krag van die Heilige Gees gedurig op hom te vertrou. Ons moet eerder tot Hom roep in gebed as wat ons kla. Ons moet aan Hom gehoorsaam wees en luister na wat Hy vir ons sê. Ons weet dan ook dat die swaarkry nie sinneloos is nie. Die Here gebruik dit om ons te toets en om ons te leer, sodat ons geloof kan groei.

Ons weet ook dat die Here ons altyd sal genees en verlos van die swaarkry. Ons weet dit, want Hy het sy Seun gestuur om dit vir ons te doen.

Amen