Teksgedeelte: Markus 12: 38-44
Fokusgedeelte: Markus 12: 43-44
Tema: Christus het Homself vir ons opgeoffer, daarom wil ons onsself vir Hom opoffer.
Hoofpunt 1: Christus het Homself vir ons opgeoffer.
Hoofpunt 2: Daarom wil ons onsself vir Hom opoffer.
Inleiding
Broers en susters, vandag se teksgedeelte handel nie in die eerste plek oor geld nie. Dit handel eerder oor gesindheid. Wat is ons gesindheid teenoor ons godsdiens? Beoefen ons ons godsdiens vanuit selfgesentreerdheid of vanuit selfopoffering? Doen ons dit om onsself te verheerlik of doen ons dit om God te verheerlik?
Agtergrond
Ons teksgedeelte speel af kort voor Jesus se kruisiging. Hy en sy dissipels is reeds in Jerusalem waar Jesus gekruisig sou word. Jesus het in die tempel rondgewandel en al die prominente godsdienstige groepe binne die Joodse kultuur het Jesus betrap en Hom probeer vasvra. Dit was die Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes. Hulle het nie verstaan dat Jesus die Messias is nie. Hulle het Hom gesien as ʼn godslasteraar en ʼn bedreiging. Hulle het daarom met strikvrae en allerhande ander maniere probeer om Jesus uit te vang, sodat hulle ʼn rede het om Hom te vervolg.
Jesus antwoord toe die strikvrae en hulle kon Hom natuurlik nie vasvra nie. Kort voor lank begin Jesus om hulle en die skare wat na hulle geluister het, te onderrig.
Hoofpunt 1: Christus het homself vir ons opgeoffer
Ons lees dan in verse 38 tot 40 hoe Jesus vir die skare sê dat hulle moet oppas vir die skrifgeleerdes wat met die verkeerde gesindheid hulle godsdiens beoefen. Jesus verduidelik hulle gedrag en dit is daaruit duidelik dat hulle nie hulle posisie as skrifgeleerdes gebruik tot verheerliking van die Here nie. Hulle het eerder hulle posisie gebruik om hulleself te verheerlik. Hulle het die aandag en die aansien geniet en hulleself daardeur verryk.
Jesus verduidelik eerste hoe hulle in lang klere rondloop en daarvan hou om mense te groet op die markte. Verder word daar vertel hoe hulle daarvan hou om op prominente plekke in die sinagoge en by die maaltye te sit. Die maaltye verwys waarskynlik na die Joodse feeste waar hulle saam geëet het. Daar is hiermee op sigself niks verkeerd nie. Dit is nie hierdie dade wat verkeerd is nie, maar die gesindheid of hart waarmee die skrifgeleerdes dit doen.
Ons sien werklik hulle gesindhede raak in die volgende sin: “Hulle wat die huise van weduwees opeet”. Dit is duidelik dat hierdie skrifgeleerdes nie werklik ander wil help en opbou nie, hulle sal eerder ander uitbuit vir hulle eie gewin. Die weduwees was die persone in die Joodse kultuur wat die kwesbaarste was. In daardie tyd het die vrouens nie gewerk nie en daarom was ʼn vrou sonder ʼn man ʼn vrou sonder ʼn heenkome. Die skrifgeleerdes het die huise van hierdie weduwees ewe vroom besoek en lang skyngebede daar gedoen om goed en opreg te lyk. Hulle het dan hulle posisie as skrifgeleerde gebruik om hierdie kwesbare weduwees te misbruik vir eie gewin en verryking. Hulle het hulle gasvryheid waarskynlik misbruik. Daarom sê Jesus dat hulle hulle huise “eet”.
Dit is sterk taal wat Jesus hier gebruik en dit is gepas, want dit is die taak van die kerk om juis om te sien na hierdie kwesbare mense. Daar is so baie plekke in die Bybel waar daar beveel word om om te sien na die weduwees. Die kerk moet diegene wat kwesbaar is juis beskerm. Die skrifgeleerdes doen die teenoorgestelde.
As ‘n mens alles saam lees, is dit duidelik wat Jesus bedoel. Pasop vir diegene wat hulle godsdiens beoefen vir hulleself, vir hulle eie eer. Dit is hoekom hulle daarvan hou om die lang klere aan te trek en die mense te groet. Dit is hoekom hulle daarvan hou om op prominente plekke te sit in die sinagoge en by die maaltye. Hulle wil raakgesien word. Hulle beoefen nie hulle godsdiens om die koninkryk van God op te bou nie, maar eerder om hulleself op te bou. Dit is daarom nie werklik godsdiens nie, maar eerder self-diens.
Dit is nou ʼn goeie geleentheid vir ons elkeen om onsself af te vra, sien ons onsself raak in die lewens van hierdie skrifgeleerdes? Met watter gesindheid beoefen ons ons godsdiens? Doen ons dit vanuit tradisie? Doen ons dit vanuit gewoonte? Doen ons dit om ons eie gewetes te sus? Doen ons dit omdat ons onsself wil laat goed lyk? Of dien ons werklik die Here?
Jesus eindig dan deur te sê dat hulle ʼn erger oordeel sal ontvang. Dit is harde woorde. Daar staan in Jakobus 3:1 geskryf: “MOENIE baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.” Dit is omdat persone wat ander leer, die vermoë het om meer skade aan te rig, omdat hulle sommige op die verkeerde pad kan lei. Daarom moet persone wat enige tipe leiersfiguur binne die kerk is werklik doodseker maak wat die gevolge van hulle dade is.
Hoofpunt 2: Daarom wil ons onsself vir Hom opoffer
Nadat Jesus vir die skare gepreek het, het Hy by die tempel oorkant die plek waar mense hulle offergawes aan die tempel in gegooi het, gaan sit. As ons kyk na geskiedkundige bronne, was hierdie offergawe kiste waarskynlik van koper gemaak en het dit meer soos die voorkant van ʼn trompet gelyk. Dit sou dan ʼn groot geluid maak wanneer ʼn mens muntstukke daarin gegooi het. Die mense van daardie tyd het nie papiergeld soos ons gehad nie, hulle geldeenheid was net muntstukke. ʼn Mens sou dan kon hoor hoeveel geld iemand ingegooi het. Meer geld sou ʼn harder geluid gemaak het.
Ons sien egter dat Jesus nie gekyk het na “wat” die mense ingooi nie, Hy het gekyk na “hoe” hulle dit ingooi. Wat hulle ingooi maak nie vir Hom saak nie, maar hoe hulle dit doen maak vir Hom saak. Dit is duidelik wanneer ons die res van die teksgedeelte lees.
Daar staan dat baie rykes baie geld ingegooi het. Dit is natuurlik nie sleg nie, dit is baie goed. Dit is die geld wat die tempel fisies nodig gehad het. Daar staan egter dat ʼn arm weduwee gekom en twee klein geldstukkies ingegooi het. As ons gaan kyk na wat hier in die oorspronklike taal staan, sien ons dat hierdie twee geldstukkies werklik min werd was. Dit is vandag soortgelyk aan twee sent. Terloops, dit is waar ons die uitdrukking kry “dit is my twee sent in die saak”.
Jesus roep dan egter in vers 43 sy dissipels nader en sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.”
Hoe werk dit? Hoe is dit moontlik? As ʼn ryk mens verbygekom en vir argumentsonthalwe R100 ingegooi het, hoe kan dit meer wees as die twee sent van die weduwee? Dit is omdat die Here nie kyk na die hoeveelheid nie, hy kyk na die ingesteldheid waarmee dit gegee is. Ons het dit aan die begin gelees, Hy kyk nie na die “wat” nie, Hy kyk na die “hoe”.
Broers en susters, daar is ʼn rede hoekom Markus die waarskuwing teen die skrifgeleerdes direk voor die verhaal van die arm weduwee sit. Dit is sodat ons die kontras tussen die skrifgeleerdes en die arm weduwee raaksien.
Dit is die kontras tussen selfsugtige “godsdiens” en selfopofferende godsdiens. Ons lees in die laaste vers: Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. Dit is hoe twee sent meer werd is as 100 rand. Dit gaan nie vir God oor hoeveel gegee word nie, dit gaan eerder oor die hart waarmee daar gegee word. Dit bepaal die ware waarde van die offergawe.
Die arm weduwee het nie haar godsdiens beoefen vir haarself nie, sy het dit juis beoefen vanuit totale selfopoffering. Sy het haar hele lewensonderhoud gegee. Alles wat sy het, het sy gegee. Dit is merkwaardig dat sy twee muntstukkies gehad het. Sy kon een vir haarself gehou het en dan een vir die tempel gegee het, maar nee, sy het alles gegee.
Ons moet mooi verstaan, hierdie teksgedeelte gaan nie daaroor dat ons al ons geld vir die kerk moet gee nie. Die teksgedeelte gaan nie oor geld in die eerste plek nie. Dit gaan daaroor dat ons selfopofferend moet wees in ons diens aan die Here. Ons moet ons hele self gee. Al voel dit vir ons asof ons nie baie het om te bied nie, asof ons nie so baie kan gee soos ander nie. Dit is nie wat vir die Here belangrik is nie. Wat belangrik is, is die gesindheid waarmee jy gee. Dit is belangrik dat jy gee wat jy kan.
Ons moet bereid wees om onsself te gee vir die Here, want Hy het Homself vir ons gegee. Christus is vir ons die volmaakte voorbeeld van selfopofferende diens aan die Here. Dit is wat ons vanoggend vier met die Heilige Nagmaal. Christus het homself volkome, fisies en geestelik vir ons gegee in gehoorsaamheid aan die Vader. Sy liggaam is gebreek en sy bloed het gevloei sodat ons die ewige lewe kan hê.
As ons werklik besef wat Jesus vir ons gedoen het, dat Hy Homself volkome vir ons gegee het, sal ons ook volkome onsself vir Hom wil gee. Hoe lyk dit egter prakties in ons lewens? Dit gaan nie oor hoeveel geld jy vir die kerk gee nie. Dit is deel daarvan. Ons bestuur ons hele lewens tot eer van die Here en so ook ons fondse, maar broers en susters, gereeld is tyd baie duurder as geld. Gereeld is dit makliker om geld te gee as wat dit is om moeite te doen.
Die teksgedeelte gaan oor ʼn lewensingesteldheid. Wy jou hele lewe aan die Here. Jou tyd, jou geld, jou moeite, jou energie, alles. Dien die Here in hoe jy jou daaglikse werk doen. Dien die Here in hoe jy vir jou gesin sorg. Dit mag dalk te eenvoudig klink, maar dien die Here in jou godsdiens, sodat dit ware godsdiens is en nie selfdiens nie. Gee net dit wat jy kan gee, dit waarmee die Here jou geseën het om ander mee te seën. Wanneer ons dan die geleentheid het om diensbaar te wees, by die kerk en ook in die wêreld daar buite, dan moet ons dit met albei hande aangryp.
Dit mag dalk vir ons onmoontlik voel. Dit voel vir ons asof ons dit nooit uit ons eie uit sal kan regkry nie. Gelukkig doen ons dit nie alleen nie. Dit is die Heilige Gees wat in ons harte werk, sodat ons kan glo in dit wat Christus vir ons gedoen het. Dit is ook Hy wat dan in ons harte werk sodat ons ons lewens vir die Here wil gee. Dit is ʼn onomkeerbare gevolg van die werk van die Heilige Gees in ons harte.
Slot
Broers en susters, die Here het vandag vir ons ʼn besonderse kontras uitgewys. Die kontras tussen die skrifgeleerdes en die arm weduwee. Jesus sê pasop vir die skrifgeleerdes wat hulle godsdiens beoefen vanuit ʼn plek van selfsug. Hulle doen dit net om hulleself op te bou. Hy wys ons egter die voorbeeld van ʼn weduwee wat haarself volkome oorgee vir die Here. Sy gee alles wat sy het. Ons moet dit ook doen. Ons moet ook alles wat ons het vir die Here gee, want Christus het homself vir ons gegee.
Amen.