Heb. 10:38 – Heb. 11:3

Teksgedeelte: Heb. 10:38 – Heb. 11:3

Fokusgedeelte: Heb. 11:1

Geloofsbelydenis: Heidelbergse Kategismus So 7 V&A 21-24

Tema: God gee aan ons geloof as ʼn geskenk waarin ons moet lewe.

Hoofpunt 1: God gee aan ons geloof.

Hoofpunt 2: Ons moet in die geloof lewe.

Inleiding

Broers en susters, vanoggend se teksgedeelte en Sondagsafdeling spreek ʼn baie sentrale of kernidee van ons geloof aan, want dit handel oor geloof self. Dit begin deur te sê dat net persone wat in Christus glo, gered word, maar wat is geloof in Christus? Wat is ʼn ware geloof? Wat moet ons glo?  Dit vra hierdie baie belangrike vrae vir elkeen van ons wat hier is. Dit vra die vrae reguit en persoonlik. Dit is belangrik dat ons elkeen nadink oor hierdie vrae en kyk na die antwoorde wat daar vir ons uit die Skrif gegee word.

Hoofpunt 1: God gee aan ons geloof.

Die eerste vraag, vraag 20, vra of al die mense wat deur Adam en Eva verlore gegaan het, net so deur Christus verlos word? Dit is duidelik vanuit die Bybel dat alle mense, as gevolg van die sondeval, verlore is en die ewige dood verdien. Dit is ons verdiende loon weens ons sonde en alle mense het gesondig.

Die vraag is dan, word almal deur Christus verlos, net soos wat almal deur die sondeval van Adam en Eva verlore is? Die antwoord is natuurlik nee. Almal word nie gered nie. Dit is net dié wat in Christus glo, wat gered word. In Johannes 3:36 lees ons: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” Dit is duidelik net persone wat in Christus glo wat gered word, maar die vraag bestaan dan, wat is ʼn reddende geloof? Hoe lyk so ʼn geloof? Dit is juis wat vraag 21 van Sondag 7 vra. Wat is ware geloof?

Die antwoord wat ons belydenis gee, kry ons amper direk uit ons fokusvers uit. In ons fokusvers is beide die vrae “wat is ware geloof ?” of “wat is die definisie van geloof?” ter sprake. In die boek van Hebreërs is dit ter tafel op die volgende manier. Die boek van Hebreërs is waarskynlik ʼn preek wat aan Jode wat tot geloof gekom het in die tyd van die Nuwe Testament geskryf is. Die outeur van Hebreërs is vir ons onbekend. Hy wys dan vir hierdie Jode wat tot geloof gekom het in die eerste tien hoofstukke van hierdie preek op verskeie maniere hoe die hele Ou Testament wys na Christus toe en hoe Christus die Ou Testament vervul.

Hy verduidelik in ons teksgedeelte dat dit alleen deur geloof is wat ʼn mens gered kan word. Hy verduidelik dat dit nog altyd die enigste manier is hoe ʼn mens gered kan word. Dit is wat die Jode van die nuwe testament opnuut moes leer. Wanneer ons die Nuwe Testament lees, dan is dit duidelik dat die Joodse godsdiens in daardie tyd verval het tot ʼn godsdiens van werke. Hulle het geglo dat dit is jou werke wat jou red, nie jou geloof nie. Vir hulle was jou redding afhanklik van jou gehoorsaamheid aan die wet. Die outeur verduidelik dan vir hulle dat dit nie waar is nie. Jy word gered deur jou geloof. Hy gee dan in ons fokusvers ʼn verduideliking, of ʼn definisie, van wat geloof is. Hierna gaan hy wys hoe die sogenaamde “geloofshelde” van die Ou Testament gered is op grond van hulle geloof, nie op grond van hulle werke nie. Hy begin in vers 4 deur te verwys na Abel, dan in vers 5 verwys hy na Henog. In vers 7 bespreek hy Noag se geloof en vers 8 Abraham s’n. Hy wys vir die Nuwe Testamentiese Jode, wat die Ou Testament waarskynlik baie goed geken het, dat dit geloof is wat jou red, nie jou werke nie. Dit beteken egter nie dat ons nie goeie werke doen nie. Ons doen goeie werke juis omdat ons gered is, juis omdat ons glo. Ons doen dit nie om gered te word nie, maar omdat ons gered is.   

Ons lees dan in ons fokusvers die volgende verduideliking van geloof. Heb. 11:1: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Geloof is dus nie net kennis van God se verlossingsplan wat Hy in sy Woord bekendmaak nie, maar ook ʼn vaste vertroue in God wat maak dat ek self alles vat wat God in sy Woord belowe het. Hierdie woorde kry ons amper net so in ons fokusvers. Geloof is om vir seker te weet dat die dinge wat God aan jou belowe het in sy Woord, waar gaan word.

Om beter te verstaan wat geloof is, gaan ons eers kyk na wat geloof nie is nie. Dit is nie net kennis nie. Dit is nie net om van iets te weet en te dink dit is waar nie. In Jak. 2:19 “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.” Met ander woorde, die bose, of die demone, glo ook dat God Gód is. Hulle glo dat dit die waarheid is, maar dit beteken nie hulle glo in God nie. Dit beteken nie hulle het ʼn ware geloof nie. Ware geloof gaan dus verder as net ʼn kennis of ʼn wete dat iets waar is. Ware geloof is wanneer jy in God glo en volkome op hom vertrou. Dit is wanneer jy die beloftes wat hy vir jou gemaak het, vir jou self toe-eien en dit wat hy vir jou gee vir jouself vat. Ware geloof gaan verder as net jou kop. Dit gaan van jou kop oor na jou hart toe en dan ook oor na jou werke toe. Hy gaan lewe soos iemand wat op God vertrou.

Geloof is dus nie net kennis nie. Dit is meer as kennis. Dit is kennis en vertroue. Daar is egter mense wat ʼn ander fout maak en dink dat geloof behels geen kennis nie. Hulle hamer dan net op die vertroue. Dit is wat ʼn mens noem “blinde geloof”. Baie mense verwar “geloof” met “blinde geloof”. “Blinde geloof” en “geloof” is verskillende dinge. “Blinde geloof” is wanneer daar geen kennis, logika of ervaring is waarop jy jou geloof bou nie. Dit is wanneer jy net blindelings in iets glo, sonder om werklik te weet wat jy glo, of waarop jou geloof gebaseer is.

Dit is nie wat ware geloof is nie. Geloof behels kennis. Dit behels logika. Geloof is meer as kennis, maar nooit minder as dit nie. Ons baseer ons geloof daarop dat ons weet wie God is. Ons weet Hy is altyd getrou, regverdig, genadig en almagtig. Ons weet wat Hy vir ons sê in sy Woord. Ons weet dat die beloftes wat Hy maak, vir ons is. Daarom vertrou ons Hom vir die dinge waarop ons hoop, vir die dinge wat ons nog nie sien nie, vir die beloftes wat ons weet Hy gaan nakom.

Ons het daarom nie blinde geloof nie. Ons geloof is nie in iets waarvan ons niks weet of in iemand wat ons nie ken nie. Ons geloof is in Christus. Ons glo die beloftes van die evangelie en dat dit waar is vir ons. Ons glo dat Christus die straf vir ons sondes gedra het. Ons glo dat Hy die dood oorwin het en so vir ons die ewige lewe bewerk het. Ons glo dat ons kinders van God is. Al sien ons hierdie dinge nie fisies nie, weet ons dit is waar, meer nog, dit is waar vir ons. Dit geld vir ons. Ons het ʼn vaste vertroue daarop.

Ons geloof kom natuurlik nie uit onsself nie. Volgens Ef. 2:8 is dit ʼn geskenk van God. Daarom lees ons in die laaste deel van vraag 21 se antwoord dat die Heilige Gees geloof gee uit genade as ʼn geskenk vir my, sodat ek kan aanvaar dat alles wat Jesus verdien het, op my rekening by God geskryf is.

Ons geloof is gebaseer op ware inhoud en logika. Ons kan met baie goeie logiese argumente bewys dat God bestaan en dat die Bybel waar is, maar dit versterk net die geloof wat die Heilige Gees reeds in ons harte gesit het.

Hoofpunt 2: Ons moet in die geloof lewe.

Geloof, in ons teksgedeelte en in Ef. 2:8, is ʼn naamwoord. Dit is iets wat aan ons gegee word, maar om te glo is ʼn werkwoord. Geloof word aan ons gegee, maar om te glo is iets wat ons moet doen. Ons het nou die verantwoordelikheid om in geloof te lewe.

Hoe doen ons dit prakties? As ons weer kyk na hoe geloof verduidelik word in ons belydenis en in Heb. 11:1, bestaan geloof uit twee dele. Dit is “kennis” en “vertroue”. As ons in die geloof wil lewe, moet ons dan vanuit hierdie kennis in vertroue lewe.

Om dit te kan doen moet ʼn mens in die eerste plek kennis hê. Ons kan nie werklik in iets glo wat ons nie ken nie. Daarom moet ons elke geleentheid wat ons het om die Here te leer ken, aangryp. Hoe meer ons die evangelie ken, hoe meer kan ons in die beloftes van die evangelie glo.

Verder moet ons dan groei in ons vertroue op die Here. Ons moet lewe soos mense wat werklik op die Here vertrou. Ons kan kyk na die Bybelse voorbeelde wat daar in hierdie teksgedeelte genoem word om dit beter te verstaan. Ons het reeds genoem dat die outeur van Hebreërs gaan verwys na die geloofshelde in die verse hierna. Ons kyk net na twee wat genoem word.

Ons kyk eerste na Noag, wat in vers 7 genoem word. “Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.” Die Here het vir Noag gesê dit gaan reën. Dit gaan so baie reën dat die aarde uitgewis sal word. Die Here beveel ook vir Noag om ʼn ark te bou om sy huisgesin te red. Noag moes werklik vertrou dat die reën gaan kom. Dit verg geloof. Veral as ons besef dat Noag waarskynlik baie lank geneem het om die ark te bou. Vir seker langer as 55 jaar. In hierdie lang tyd het die mense rondom hom op hom neergekyk. Noag het egter weens sy geloof aanhou bou.

Ons kyk ook na Abraham wat in vers 8 genoem word. “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang.” Die Here het vir Abraham geroep om op ʼn gevorderde ouderdom weg te trek uit sy land. Hy moes alles en almal wat hy geken het, agterlaat om weg te trek. Dit is weereens iets wat geloof verg. Dit verg geloof in God om te weet dat gehoorsaamheid aan Hom belangriker is as enige aardse ding wat jy mag hê. Abraham het alles agtergelaat om gehoorsaam te wees aan die Here.

Broers en susters, dit is die geloof wat ons ook moet hê. Ons moet ons lewens werklik inrig soos mense wat die beloftes van die evangelie vir hulle self toegeëien het. Wanneer ons besluite maak, benader ons die besluite met geloof.

Die laaste twee vrae wat ons belydenis vra, is twee praktiese vrae. Die eerste vraag , vraag 23 is: “Wat moet ʼn Christen glo?” Die antwoord is alles wat die Here in sy Woord aan ons belowe en beveel. Omdat God dit belowe, kan ons dit glo sonder om te twyfel. Wat ons glo, word in die Apostoliese Geloofsbelydenis saamgevat.

Die laaste vraag, vraag 24, vra: “Wat staan in die artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis?” Die is die Geloofsbelydenis wat ons elke Sondag bely. Dit is ʼn goeie samevatting van die kernelemente van ons geloof. Daar is natuurlik boekdele wat geskryf is om uit te brei op elke aparte sinsnede van die geloofsbelydenis. Die Sondagsafdelings wat op hierdie een volg, beskryf dan elk van hierdie sinsnedes. Elke een is dus ʼn preek vir ʼn ander dag. Dit is egter belangrik om moeite te doen om dit te ken, want dit is die inhoud van ons geloof.

Slot

Broers en susters, vandag het ons gekyk na ʼn kerndeel van ons geloof. Ons het die vraag gevra, wat is geloof? Die antwoord wat ons dan vanuit die Skrif kry, is baie treffend.

Dit is nie net kennis van God se verlossingsplan wat Hy in sy Woord bekendmaak nie, maar ook ʼn vaste vertroue in God wat maak dat ek self alles vat wat God in sy Woord belowe het. Die Heilige Gees gee dit uit genade as ʼn geskenk vir my, sodat ek kan aanvaar dat alles wat Jesus verdien het, op my rekening by God geskryf is.

Mag ons daarom groei in ons kennis van God en ook ons vertroue op God, sodat ons kan groei in ons geloof.

Amen.