Teksgedeelte: Kol. 1:1-12
Fokusgedeelte: Kol. 1:6
Tema: Ware kennis en begrip van God se genade dra vrug in ons lewens.
Hoofpunt 1: Ware kennis en begrip van God se genade
Hoofpunt 2: Ware kennis en begrip van God se genade dra vrug in ons lewens.
Inleiding
Broers en susters, hoe gereeld bid ons vir mekaar? Hoe gereeld dra ons mekaar aan die Here op? En wanneer ons doen, hoe lyk ons gebede? Wat is die inhoud van ons gebede?
In vanoggend se teksgedeelte sien ons waarvoor Paulus bid vir die gemeente van Kolosse. Binne hierdie gebed leer ons ook iets merkwaardig van hoe die Here met ons werk.
Agtergrond
Vanoggend se teksgedeelte is die inleiding van ʼn brief wat Paulus geskryf het aan die gemeente in Kolosse. Hy het baie waarskynlik hierdie brief geskryf terwyl hy ʼn gevangene was in Rome. Paulus was self nooit by hierdie gemeente nie, maar hy het van die gemeente gehoor by Epafras. Epafras was die stigter van die gemeente, soos ons gelees het in vers 7.
Hy het na Paulus toe gekom terwyl hy in die tronk was en vir hom vertel van dit wat in die gemeente aan die gebeur is. Hy vertel onder andere vir Paulus van die mooi geloof wat daar onder die mense van die gemeente was, maar hy vertel ook vir Paulus van die dwaalleer wat daar onder hulle was. Paulus skryf daarom hierdie brief om die gemeentelede te bemoedig en om die valse leer wat daar onder hulle was, aan te speek. Ons gaan gedurende die volgende preek kyk na presies wat hierdie valse leer was en hoe Paulus dit aangespreek het, maar vanoggend gaan ons net kyk na die inleiding van die brief. Binne hierdie inleiding verduidelik Paulus dat hy vir die gemeente bid. Hy verduidelik ook waarvoor hy vir hulle bid.
Hoofpunt 1: Ware kennis en begrip van God se genade
Paulus begin egter eers die brief deur te sê van wie die brief af kom. Dit kom van hom af. Paulus, ʼn apostel van Christus Jesus en van sy medewerker Timoteus. Paulus noem hier dat hy ʼn apostel is van Christus Jesus, sodat die mense wat die brief lees moet weet dat die boodskap wat hy bring, nie van homself af kom nie, maar van Jesus af. Hy bring Jesus se boodskap, nie sy eie nie. Timoteus was ʼn jong man wat saam met Paulus gewerk het. Paulus was vir hom ʼn mentor en Timoteus sou later ʼn predikant word.
Paulus begin dan die brief soos hy sy ander briewe ook begin met ʼn groetseën: “genade en vrede” vir julle. Ons gaan later in die preek kyk na presies wat hierdie genade en vrede beteken. Dit is ook die groetseën waarmee ons ons eredienste begin. Nadat hy hulle gegroet het, lees ons in vers 3 en 4 dat elke keer wanneer hulle bid, dank hulle God vir die gemeente. Broers en susters, ons kan baie by Paulus leer aangaande hierdie saak. Die eerste is dat ons gedurigdeur moet bid en ook vir mekaar moet bid. Ons moet teenoor die Here dankbaar wees vir mekaar. Verder is dit goed vir ons om mekaar te laat weet hoe dankbaar ons is teenoor die Here vir mekaar. Dit is goed dat ons mekaar opbou met ons woorde in dankbaarheid teenoor die Here. Ons komplimenteer mekaar sonder om hoogmoedig te wees.
Hierna beskryf Paulus spesifiek waarvoor hy dankbaar is in verse 5-8. Hy is dankbaar vir die geloof en liefde wat die Heilige Gees in hulle harte gewek het (v8). Die geloof is dus ʼn geskenk van die Heilige Gees af en hy is dankbaar dat die Here vir hulle hierdie geskenk gegee het: “Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang. Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.
Hierin leer ons iets merkwaardig en dit is die fokus van vandag se prediking. Hy is dankbaar dat die gemeente in Kolosse die evangelie gehoor het, en dat dit vrug gedra het (v6). Wanneer ʼn mens die genade van God leer ken het soos dit werklik is, dan dra dit vrug. Ons lewens moet dus wys dat ons die genade van die Here ken. Die vrug van die evangelie moet sigbaar wees in ons lewens. Ons kan nie dieselfde bly as ons werklik in die evangelie glo nie. Ons belydenis moet ook ons belewenis wees.
Iemand het eendag die verhaal van ʼn man wat laat by ʼn afspraak opgedaag het, vertel. Hy vra toe om verskoning dat hy laat is, hy sê ʼn bus het hom getref op pad na die afspraak toe. Hulle aanvaar toe nie sy verskoning nie, want hy het nie gelyk soos iemand wat deur ʼn bus raakgery is nie. As ʼn bus jou raakry, dan sal jy anders lyk. As ons almagtige God jou raakry, sal jy ook anders lyk. Jy kan nie werklik die Here ontmoet en dieselfde wegstap nie.
Ons sien raak hoekom dit so is in dit waarvoor Paulus vir die gemeente bid in verse 9-12: “Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.”
Hy bid dat hulle kennis van God moet toeneem, sodat hulle goeie werke vir Hom ook toeneem. Broers en susters, die presiese binnewerke hiervan is merkwaardig. Wanneer ons werklik besef wie God is en wat Hy vir ons gedoen het, dan kan ons nie anders as om daarop te reageer nie. Hy bid dat die Here deur die Heilige Gees vir die gemeente in Kolosse wysheid en insig moet gee sodat hulle God se wil sal leer ken, juis sodat hulle volgens sy wil sal lewe. Dit is tog logies. ʼn Mens moet weet wat goeie dinge is voordat jy goeie dinge kan doen.
Ons bely dit ook in Sondag 33 van die HBK V&A 91:
Vraag: Wat is goeie werke?
Antwoord: Slegs die wat uit ‘n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).
Hierdie teksgedeelte moedig ons ook aan om God werklik te leer ken. Om te groei in ons kennis van Hom, want dan sal ons groei in ons gehoorsaamheid aan Hom. Ons moet leer ken wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. Ons kan dit alleen doen deur tyd te spandeer in sy Woord en in gebed.
Die vraag is dan, wie is Hy en wat het Hy vir ons gedoen? Wat is die evangelie wat moet vrug dra in ons lewens? God is die almagtige ewige skepper van hemel en aarde en Hy het gekies om almal wat in Hom glo, te red van hulle sonde vanuit sy groot genade. Dit is die evangelie. Wanneer iemand vir ons vra, “wat is die evangelie?”, dan is ons baie geneig om te antwoord: “Die evangelie is dat Jesus vir ons sondes gesterf het. Hy het ons gered en verlos van ons sonde”. Dit is baie goed en dit is waar. Jesus het ons gered. Die vraag is egter, waarvan het Hy ons gered en waarvoor is ons gered? Ons wil nie hoor waarvan ons gered is nie, want dan besef ons ons skuld en dit is nie vir ons lekker nie. Ons wil ook nie hoor waarvoor ons gered is nie, want dit beteken ek moet werk. Ek moet verander. Ek moet reageer op die evangelie. Ons teksgedeelte se juis die evangelie sal in jou lewe vrug dra, en die vraag is of dit doen?
God het ons gered van ons ewige sonde. Hy het sy eniggebore seun gestuur om ons te red van die ewige dood. Hy het dit gedoen deur die ewige dood self te dra. Hy het dit gedoen vanuit genade. Genade is onverdiende guns. Ons besef eers die diepte van daardie genade as ons besef hoe groot die guns is wat ons ontvang het wat ons nie verdien het nie. Wanneer Paulus die brief begin deur te sê “Genade vir Julle” en ook wanneer ons ʼn erediens op hierdie manier begin, herinner ons mekaar aan hierdie genade van die Here. Dit is genade dat Hy ons gered het. Dit is genade dat ons sy kinders is. Dit is genade dat ons vandag hier kan wees. Mag ons hierdie genade ervaar.
Paulus se egter nie net “Genade vir julle” nie. Hy sê “Genade en vrede vir julle”. Hierdie vrede verwys daarna dat Jesus die vyandskap wat daar was tussen ons en God verwyder het. So ook die vyandskap wat daar is tussen mense. Een van die gevolge van ons sonde is juis hierdie vyandskap wat daar is tussen God en mens, en mens en mens. Jesus het deur sy reddingsdade hierdie vyandskap verwyder en vrede gebring. Wanneer Paulus dan sê “Vrede vir Julle” en wanneer ons ʼn erediens so begin, dan herinner ons mekaar daaraan dat Jesus ons verhoudinge kom herstel het. Ons word daaraan herinner dat Jesus alles wat skeiding maak tussen ons en God, verwyder het. Ons ervaar nou daarom ware vrede, want daar is vrede tussen ons en God en tussen ons en mekaar.
Hoofpunt 2: Ware kennis en begrip van God se genade dra vrug in ons lewens.
Hy het ons uit genade gered van ons sonde en daarom ervaar ons nou vrede. Dit is waarvan Hy ons gered het, maar die ander vraag is dan: “waarvoor het hy ons gered?”. Hy het ons gered om goeie werke te doen. Deur sy redding maak Hy ons kinders van God. Ons moet daarom lewe soos kinders van God. Ons doen dit nie net omdat ons dit moet doen nie. Ons doen dit omdat ons dit wil doen.
As ons groei in ons kennis van God, van wie Hy is en van wat Hy vir ons gedoen het, groei ons ook in ons liefde vir Hom. Dit is hoe dit van nature werk. Wanneer jy iemand leer ken, dan word jy vir daardie persoon lief. Wanneer ons dan groei in ons liefde vir Hom, dan groei ons ook in ons gehoorsaamheid aan Hom. Dit is omdat dit vir ons goed en lekker is om uit liefde vir Hom gehoorsaam aan Hom te wees. Daarom bid Paulus dat die gemeentelede sal groei in hulle kennis van die Here. Dan sal hulle groei in hulle liefde vir die Here, en ook in hulle gehoorsaamheid aan die Here.
Die laaste twee dinge waarna ons vandag gaan kyk waarvoor Paulus vir die gemeente bid, lees ons dan in verse 11 en 12: “Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” Hy bid dat hulle van God af die krag moet ontvang om geduldig te volhard en ook dat hulle in vreugde teenoor die Here dankbaar mag wees vir hulle redding.
Ons kyk eers na die eerste ding waarvoor Paulus bid. Broers en susters, net soos die geloof iets is wat ons uit genade ontvang, is dit ook iets waarin God ons uit genade uit in hou. Dit is Hy wat vir ons die geloof gee om te volhard. Dit was waarskynlik ʼn baie uitdagende en swaar tyd vir die gemeente in Kolosse. Broers en susters, ons moet dit ook vir mekaar bid, dat God vir ons die krag gee om geduldig te volhard ten midde van ons omstandighede. Dit is ware bemoediging en vertroosting.
Die laaste ding waarna ons gaan kyk waarvoor Paulus vir die gemeente bid, is dat hulle met groot vreugde dankbaarheid teenoor die Here sal betoon vir hulle redding. Wat ʼn diepgaande ding is dit nie om voor te bid nie. Hy bid dat hulle hulle redding mag ken en dat hulle ware vreugde daarin mag vind. Broers en susters, dit is vreugde wat niemand van ons af kan wegvat nie, want niemand kan ons redding van ons af wegvat nie. Hy bid dan ook dat hulle die Here daarvoor sal dank. Dankbaarheid is die gepaste reaksie op ons redding.
Slot
Broers en susters, in vanoggend se teksgedeelte het ons gesien hoe Paulus vir die gemeente van Kolosse bid. Mag ons ook vir mekaar bid. Mag ons bid dat die evangelie sal vrug dra in ons lewens.
Mag ons vir mekaar bid dat ons sal groei in ons kennis van God, want dan sal ons ook groei in ons liefde vir God en in ons gehoorsaamheid aan God. Mag God vir ons die krag gee om te volhard. Mag Hy vir ons vreugde en dankbaarheid gee vir ons redding. Mag ons lewe soos mense wat sy genade ken.
Amen