Teksgedeelte: Lukas 11:1-13
Fokusvers: v13
Belydenis: So. 9&10 V&A 26-28
Tema: Ons God en Vader het alles geskep, onderhou alles en bepaal alles en daarom kan ons op Hom vertrou.
Hoofpunt 1: Ons God en Vader het alles geskep, onderhou alles en bepaal alles
Hoofpunt 2: Ons kan op Hom vertrou.
Inleiding
Broers en susters, almal wat sê dat hulle ʼn gelowige is, is bereid om te sê: “Ek glo in God”. Die vraag is of ons werklik die gewig van daardie stelling ken. Besef ons wat ons sê? Ons gaan elke Sondag nog verder en brei uit op daardie sin wanneer ons gedurende die geloofsbelydenis saam bely: “Ek glo in God die Vader, die almagtige, die skepper van hemel en aarde”. Het ons al stilgestaan en die grootheid van die betekenis van hierdie woorde besef?
Hoofpunt 1: Ons God en Vader het alles geskep, onderhou alles en bepaal alles
Ons gaan vandag kyk na wat die woorde wat ons elke Sondag bely werklik beteken. Sondag 9 tot Sondag 22 handel oor die inhoud van die Apostoliese geloofsbelydenis. Daar word na elke sinsnede binne die geloofsbelydenis gekyk, sodat ons kan weet presies wat dit is wat ons bely. Ons gaan dan vanoggend kyk na Sondag 9 en 10, want albei handel oor die woorde: “Ek glo in God die Vader, die almagtige, die skepper van hemel en aarde”.
Ons het ook saam gelees vanuit Lukas 11, waar die dissipels vir Jesus vra om hulle te leer hoe om te bid. Jesus leer hulle dan om te bid soos iemand wat werklik glo dat hy bid tot God, sy Vader, die almagtige, skepper van hemel en aarde. Hy leer hulle om te bid soos iemand wat werklik daardie belydenis in hulle hart glo.
Baie van ons het die groot voorreg om groot te word het in gelowige huise. Ons is daarom reeds van jongs af blootgestel aan die idee van God en dat Hy bestaan. Dit is egter soms nodig om stil te staan en te besef hoe groot gedagte dit werklik is.
Dink uself vir ʼn oomblik in dat u ʼn ateïs is; dat u vir die eerste maal hoor van die idee van God; dat u hoor dat daar ʼn almagtige wese is. Hy weet alles, en bestuur en bepaal alles. Hy het alles geskep en onderhou alles tot vandag toe nog. Vir die ateïs is dit werklik ʼn vreesaanjaende idee. Vir ons sondige natuur is dit werklik ʼn vreesaanjaende idee. Dit is nie vir ons lekker om te besef dat ons nie werklik in beheer is nie. Dit is nie vir ons lekker om te erken hoe magteloos ons werklik is nie. Ons is net ʼn klein stukkie stof in die groot prentjie en God is in beheer van dit alles. Dit is iets wat ons hoogmoedige aard nie wil aanvaar nie. Ons wil eerder glo dat ons in beheer van alles is en nie ʼn almagtige God nie. Hy kan my van die aarde af wegvee sonder om ʼn vinger te lig. Dit is goed om gereeld hierdie te besef, want dit laat ons met die regte ontsag of vrees vir die Here.
Vir die gelowige is dit egter nie ʼn vreesaanjaende idee nie. Dit is ʼn baie troosryke idee. Dit is die mees troosryke idee denkbaar. In die HBK sien ons duidelik hoe troosryk hierdie werklik is. Wanneer ons sê dat ons glo in God die Vader, die almagtige, die skepper van hemel en aarde, sê ons daarmee saam die volgende drie, dinge volgens Sondag 9. Ons gaan ook vandag kyk na Sondag 10 wat hierby aansluit:
a) Ek glo dat Jesus se ewige Vader, wat alles uit niks geskep het en dit in stand hou, deur Jesus ook my Vader is.
b) Ek vertrou Hom soveel dat ek nie twyfel dat Hy my, ook in die toekoms, met alles wat nodig is sal versorg nie.
c) Ek glo dat alles wat in hierdie lewe met my gebeur, of dit nou goed of sleg is, sal God tot ons beswil laat uitwerk omdat Hy dit as almagtige God kan doen, en as betroubare Vader wil doen.
Kom ons kyk eers na die eerste idee. Die almagtige God is nie net ʼn God wat daar ver is, wat nie oor my omgee nie. Hy is my Vader. Hy is lief vir my. Hy sorg vir my en Hy beskerm my. Ek het ʼn persoonlike verhouding met Hom. Al my probleme is baie klein voor Hom. Hy is ons Vader omdat Hy met ons in ʼn verhouding in getree het deur ons sy kinders te maak. Dit is die wonder van die evangelie. Dit is die ware goeie nuus. Dat die ewige ware God sy seun gestuur het om ons sy kinders te maak sodat ons met Hom in verhouding kan lewe.
God het alles geskep. Hy het ons ook geskep. Ons lees in Genesis 1 dat Hy ons goed geskep het. In Genesis 3 lees ons egter dat ons teen hom gesondig het, dat ons in opstand gekom het teenoor Hom. Na die sondeval is ons almal besmet met die sonde. Ons word in sonde ontvang en gebore. Dit is wie ons van nature is. Broers en susters, dit is nie ʼn goeie plek om te wees nie. Uit ons eie uit is ons die vyande van die almagtige God. Ons kan onsself nie indink hoe dit moet wees om deur Hom gestraf te word nie. Wat behels die ewige straf van die almagtige God? Dit is die ewige dood.
Dit is wat die seun van God, ons Here Jesus Christus, namens ons gedra het. Omdat God regverdig is, kan Hy nie sonde ongestraf laat nie. Christus het vir ons hierdie straf gedra. Hy het die dood oorwin, daarom is ons nie meer vyande van God nie. Wanneer God nou na ons kyk, sien Hy nie ons sonde nie, maar Hy sien sy seun. Daarom is Hy wat hemel en aarde gemaak het, my Vader en daarom kan ek altyd op Hom vertrou. Hy is ons vader om Christus ontwil.
Hoofpunt 2: Ons kan op Hom vertrou.
Daarom bely ons ook in die tweede plek dat ons Hom soveel vertrou dat ons nie daarin twyfel dat Hy ons, ook in die toekoms, met alles wat nodig is sal versorg nie. Dit is waaraan ons moet vashou, broers en susters. Die Here sorg vir ons. Ons moet hieraan vashou in tye van voorspoed en teëspoed. In voorspoed is ons dankbaar en in teëspoed geduldig, soos ons bely in Sondag 10, want ons weet die Here sorg vir ons. Al ervaar ons die droogste droogte, weet ons die Here sorg vir ons.
Dit beteken nie dat ons altyd alles gaan kry wat ons wil hê nie, maar dit beteken wel dat ons altyd alles sal kry wat ons nodig het. Daarom kan ons ook met vrymoedigheid tot Hom bid. Dit is wat ons teksgedeelte vir ons leer. Ons teksgedeelte leer ons om te bid asof God ons Vader is en asof Hy almagtig is, want Hy is. Die dissipels vra vir Jesus om hulle te leer hoe om te bid. Nadat Hy vir hulle die Onse Vader geleer het, spreek Hy hulle vrymoedigheid om te bid aan. Hy sê vir hulle in vers 9-10:
“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
Met ander woorde, ons moet die vrymoedigheid hê om te vra, want Hy is ons Vader en Hy sal vir ons gee. Hy sê dan verder in vers 11 tot 13 dat, indien ons sondige aardse vaders weet om vir ons te gee dit wat vir ons goed is, hoeveel te meer nie ons Hemelse vader nie.
“Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
Beteken hierdie teksgedeelte dat ons altyd presies sal kry waarvoor ons vra? Beteken hierdie teksgedeelte dat God soos ʼn kelner by ons gereed staan om enige iets vir ons te bring wat ons bestel?
Nee, nie hoegenaamd nie. Hierdie teksgedeelte leer ons dat ons met vrymoedigheid vir God ons vader alles moet vra wat ons op ons op die hart het en met sekerheid moet vertrou dat Hy dit vir ons kan gee. Ons moet egter altyd besef dat Hy net vir ons wat goed is, wat vir ons die beste is, wat ons nodig het. Dit wat vir ons goed is en wat ons nodig het, is nie altyd wat ons wil hê nie. Gereeld is dit die teenoorgestelde van wat ons wil hê en die Here gaan dit vir ons gee. Weens ons sonde is ons gereeld geneig om te vra vir slange en skerpioene, al besef ons dit nie, en dan gaan God, ons almagtige Vader en Hy gee vir ons visse en eiers al wou ons nie visse en eiers hê nie.
Laastens bely ons dan volgens Sondag 9 dat alles wat in hierdie lewe met ons gebeur, of dit nou goed of sleg is, God dit tot ons beswil sal laat uitwerk omdat Hy dit as almagtige God kan doen en as betroubare Vader wil doen.
Is dit nie wonderlik nie? Broers en susters, een van die mees algemene vrae waarmee mense worstel is: hoekom laat God, wat goed is, slegte dinge in hierdie lewe toe? Om die vraag meer direk te vra: hoekom beskik God, as deel van sy ewige plan, dat sy kinders gedurigdeur swaarkry? God is goed. Hy is ook almagtig. Hoekom is daar dan sleg in die wêreld?
Broers en susters, die antwoord is dat ons nie regtig weet nie. Dit is deel van God se plan en God se plan is goed, al verstaan ons nie hoekom dinge nou gebeur soos wat dit gebeur nie. Wanneer ons kyk na iemand soos Job, dan sien ons dat die Here dit so bepaal het dat hy baie swaar gekry het. Hy het alles wat hy besit het, verloor. Hy het sy kinders verloor en hy het sy gesondheid verloor. Die satan het na die hemelse hofkamer van die Here toe gegaan en gevra of hy Job se geloof kan toets en die Here het dit toegelaat. Die Here het dit aktief toegelaat. Die satan kan net doen wat die Here hom toelaat om te doen. Die Here sê dan nooit vir Job dat dit is hoekom die Hy dit laat gebeur het nie. Job vind nooit werklik uit hoekom die slegte dinge met hom gebeur het nie. Dit het egter gebeur.
Ons sal ook nie altyd weet hoekom die Here hierdie slegte dinge in ons lewens toelaat nie. Ons kan egter met volle vertroue weet dat God dit alles tot ons beswil sal laat uitwerk, omdat Hy dit as almagtige God kan doen en as betroubare Vader wil doen.
Dit word vir ons wonderlik geleer in Rom. 8:28:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Dit bied ware troos vir alle omstandighede. My vader is in beheer van alle dinge. Hy bestuur en bepaal alles. Al verstaan en weet ek nie hoekom dit wat gebeur, gebeur nie, kan ek weet dat dit alles volgens God se plan gebeur en sy plan is goed. Daar is sin aan ons swaarkry, al verstaan ons dit nie.
Dit sluit alles mooi aan by Sondag 10 wat vra: wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God? Die antwoord is dat God met sy eie hand alles in die hemel en op die aarde so regeer dat niks toevallig gebeur nie. God kan so regeer omdat Hy almagtig en alomteenwoordig is. Broers en susters, niks gebeur toevallig nie. Alles gebeur met rede. Dit maak die lewe werklik sinvol en betekenisvol. Elke dag en elke geleentheid is daar vir ons geplaas en gegee deur die Here. Die vraag is of ons dit altyd besef.
Laastens leer ons volgens Sondag 10 hieruit dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar moet wees. Ons weet nie eintlik watter een moeiliker is om te doen nie. Ons dink dit is moeilik om in teëspoed geduldig te wees. Dit is omdat teëspoed vir ons moeilik is, natuurlik, maar is ons werklik dankbaar in ons voorspoed? Ons neem die voorspoed wat ons baie gereeld ervaar as vanselfsprekend. Besef ons dat elke asemteug van die Here af kom? Partykeer is dit nodig om die teëspoed te ervaar sodat ons dankbaar kan wees vir die voorspoed.
Slot
Broers en susters, ons het vandag die vraag gevra: wat beteken dit wanneer ons sê: “Ek glo in God”? Wat beteken dit wanneer ons sê: “Ek glo in God die Vader, die almagtige, die skepper van hemel en aarde”?
Dit beteken dat ons glo dat God in beheer is van alles, dat Hy alles bestuur en alles weet. Ons glo dat Hy deur die reddingsdade van Christus ons Vader is en vir ons lief is. Daarom het ons die vrymoedigheid om te bid soos wat Jesus vir sy dissipels geleer het. Daarom kan ons vir God vra wat ons werklik begeer. Ons kan ook vertrou dat Hy altyd vir ons dit wat goed is sal gee. Ons kan vertrou dat Hy altyd vir ons sal sorg. Alles wat met ons gebeur, die goeie en die slegte, laat God tot ons beswil uitwerk, omdat Hy dit as almagtige God kan, en as getroue Vader wil doen.
Ons weet ook dat niks toevallig gebeur nie. Alles gebeur volgens God se ewige plan. Daarom kan ons in alle teëspoed geduldig wees en in alle voorspoed dankbaar.
Ons weet nou wat dit beteken om te sê: “Ek glo in God”. Die vraag is of ons nou so lewe?
Amen