Kolossense 1:13-23

Teksgedeelte: Kolossense 1:13-23

Fokusgedeelte: v13

Tema: Omdat ons kinders van God is deur Christus het die mag van die duisternis nie ʼn houvas op ons nie. 

Hoofpunt 1: Ons is kinders van God deur Christus.

Hoofpunt 2: Die mag van die duisternis het nie houvas op ons nie.

Inleiding

Baie van ons is bang vir die magte van die duisternis. Baie van ons het nog nie regtig gedink aan die magte van die duisternis nie. Ons bly net eenvoudig weg van daardie goed af. Broers en susters, ons moet natuurlik die regte agting daarvoor hê, dit is nie iets waarmee ons moet speel nie, maar ons hoef nie daarvoor bang te wees nie. Christus het ons verlos van die mag van die duisternis. Dit het nie beheer oor ons nie.

Hoofpunt 1: Ons is kinders van God deur Christus.

Ons het laas keer gesien hoe Paulus vir die gemeente in Kolosse bid. Hy het gebid dat hy dankbaar is dat die evangelie in die gemeente vrug gedra het. Hy het gebid dat die gemeente die wil van die Here mag ken sodat hulle daaraan gehoorsaam kan wees. Hy het gebid dat die gemeente moet groei in hulle kennis van die Here sodat hulle kan groei in hulle gehoorsaamheid aan die Here. Hy het ook gebid dat God vir hulle die krag moet gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Laastens bid hy dat die gemeente met groot blydskap dankbaarheid teenoor die Here mag bewys omdat Hy hulle gered het.

Paulus se spesifieke bewoording met die laaste ding waarvoor hy bid in vers 12 is:

“Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.”

Paulus kontrasteer dan hierdie stelling deur in die volgende vers te sê:

“Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”

Dit is dan ons fokus vandag. Omdat ons kinders van God is deur Christus, het die mag van die duisternis nie ʼn houvas op ons nie. Paulus is baie waarskynlik besig om dwaalleer in die midde van die gemeente in Kolosse aan te spreek. Deel van die dwaalleer waarin die gemeentelede waarskynlik geglo het, is dat hulle bang was vir ʼn bonatuurlike mag van die duisternis. Dit is soortgelyk aan gelowiges vandag wat glo aan voorvadergeeste, of spoke soos ʼn mens sien in moderne media – siele van mense wat op aarde agtergebly het wat nou om een of ander rede by ʼn mens spook.

Paulus verduidelik dan vir die gemeente dat ons nie onder enige mag van die duisternis is nie. Daar staan in vers 13: “Hy het ons uit die mag van die duisternis uit geruk”. Ons moet daarom nie lewe asof daar enige bonatuurlike duisternis oor ons mag het nie. Paulus praat hier in vers 13 in die eerste plek van hom en Timoteus wanneer hy sê “Ons”. Hy verwys dan later in vers 21 na die gemeente in Kolosse wanneer hy sê: “Ook julle”.

Wat egter waar is vir Paulus en Timoteus, is ook waar vir enige gelowige. Hy sluit die gemeente van Kolosse en so ook alle gelowiges hierby in, in vers 21 en 22:

“Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.”

Dit is wie ons was. Ons was vyande van God. Dit is wie ons van nature is. As God ons nie deur sy seun gered het nie, was ons almal dan op een of ander manier onder die mag van die duisternis. Broers en susters, wanneer ons dink aan die mag van die duisternis, moet ons dit op die regte manier sien. Wanneer mense dink aan die invloed van die duiwel, is daar is sloot aan beide kante van die pad. Ons moet nie die invloed van die duiwel oorskat of onderskat nie.

Elke persoon wat nie ʼn kind van die Here is nie, is onder die mag van die duiwel. Of daardie persoon in die duiwel glo, of nie, en of hulle die besef of nie. Ja, dit is nie net sataniste of besete mense wat onder die mag van die duiwel is nie. Dit is almal wat nie ʼn kind van die Here is nie. Ons besef dit nie altyd nie. In hierdie geval onderskat ons die duiwel. Ons moet daarom Ef. 6:11-12, waar die wapenrusting beskryf word, in gedagte hou:

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Die duiwel is die vader van die leuen. Hy sal ons op enige manier probeer bedrieg. Daarom werk hy nie altyd op so ʼn sigbare manier, soos deur satanisme of besetenes nie. Hy doen dit óók. Ons moet nie dink dat dit nooit gebeur nie. Dit gebeur ook in ons eie land en meer gereeld as wat ons besef. Hy is egter tevrede solank ons nie die Here volg nie. Alles wat sleg is, is egter nie die duiwel alleen se skuld nie. Die mens moet ook sy skuld aanvaar. Dit is die mens wat self gekies het om teen die Here in te gaan. Dit is die mens wat gesondig het. As ons net al die skuld aan die duiwel gee en geen skuld op onsself neem nie, dan oorskat ons nou weer sy mag.

Die belangrikste ding wat ons egter vandag moet besef, is dat die duiwel kan net doen wat die Here hom toelaat om te doen. Hy is reeds oorwin. Ons is deur Christus kinders gemaak van God en daarom wanneer Paulus dan in vers 13 sê, “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet”, kan ons dit saam met hom sê. Ons is nie meer onder die heerskappy van die duiwel nie, ons is onder die heerskappy van die Seun.

Hoofpunt 2: Die mag van die duisternis het nie houvas op ons nie.

Nadat Paulus hierdie stelling gemaak het, bars hy uit in ʼn loflied oor Christus. Ons is onder die heerskappy van die Seun en nie van die duisternis nie. Verse 14-20 is dan ʼn pragtige loflied oor Jesus Christus. Dit is moontlik dat Paulus hier ʼn vroeë Christelike loflied aanhaal. In hierdie loflied leer ons baie van wie Christus is en hoe Hy magtig is oor alle dinge.  Ons sien dan hoekom die mag van die duisternis nie ʼn kans teen Hom staan nie, want hy is almagtig. Hy spreek hierdeur op ʼn sterk manier die dwaalleer wat daar in die gemeente was aan. Indien die gemeente die korrekte beskouing van Christus aanneem, sal hulle nie meer glo in die dwaalleer nie, want hulle sal weet dat Christus magtiger as enige mag van die duisternis is. Hierdie loflied besing vier sake in verband met Christus.  

Die eerste saak vind ons in vers 14, waar Paulus sê dat Jesus die een is wat ons van ons sondes verlos het. Dit is juis weens sy verlossing dat ons nou nie meer vyande van God is nie, maar kinders van God is. Ons is daarom uit die mag van die duisternis uit geruk.

Die tweede saak wat besing word, is in verse 15-17, wat wys dat Jesus die beeld van God is. Die vraag is: wat beteken dit? Dit mag dalk vir ons vreemd klink. Wat Paulus hiermee bedoel, is dat Jesus vir God bekend maak. Deur Hom word God wat onsigbaar is, sigbaar. Dieselfde idee word aan ons geleer in Joh. 1: 18:

“18 Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”

Ons lees ook dat Jesus die eerste is in die heelal. Ander vertalings vertaal dit as die eersgeboorte van die heelal. Dit klink weer vir ons vreemd. Sê hierdie vers dat Jesus geskep is, dat Hy nie ewig is soos sy Vader nie?  Hoegenaamd nie. Ons lees kort hierna in die volgende verse dat Hy reeds voor alles bestaan het. Paulus sê met die woord “eersgeborene” duidelik nie dat die Seun die eerste geskape wese was nie. Hy sê eerder dat Jesus verhewe is bo die hele skepping. In die Ou Testament was ’n eersgebore seun die hoof-erfgenaam van dit wat die ouers besit. Wanneer hierdie term vir Christus gebruik word, beteken dit dat Hy alles van sy Vader gekry het. Hy is daarom verhewe bo alles en in beheer van alles.

Die redes hiervoor word dan in verse 16 en 17 gegee. Deur middel van Hom het God alles geskep. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Hy het voor alles reeds bestaan en deur Hom bly alles in stand. Hy is daarom duidelik verhewe bo die Hele skepping en ons hoef daarom niks in die skepping te vrees nie, ook nie die mag van die duisternis nie.

Rom. 8: 34-35 sluit baie mooi hierby aan:

“Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?”

Die derde saak sien ons in die eerste deel van vers 18, wat Christus besing as die hoof van die kerk. Hy is die hoof van die skepping en Hy is ook hoof van sy kerk. As hoof van die kerk is Hy die een wat sy kerk beskerm en haar in stand hou. Hy kan dit ook doen juis omdat Hy hoof is van die skepping.

Die laaste saak vind ons in die laaste deel, van vers 18 tot vers 20. Hier sien ons dat Christus nie net die eerste in die skepping is nie, maar dat Hy op ʼn ander manier ook die eerste is. Hy is ook die eerste wat uit die dood uit opgestaan het. Hy het die dood oorwin. Hy neem die eerste plek in die heelal in. Dit gebeur omdat God besluit het om met sy volle wese in sy Seun te woon en ook omdat God besluit het om om alles en almal met Hom deur sy seun te versoen.

Toe Jesus mens geword het, het hy nie opgehou om ook God te wees net soos sy Vader nie. Hulle is twee persone, maar een wese. Daarom woon die volle wese van God liggaamlik in Christus. Dit is juis omdat Christus volkome mens en volkome God is, dat Hy ons met die Vader kan versoen. Hy moes volkome mens wees, want dit is die mens wat gesondig het en dit is die mens wat gestraf moet word. Dit is egter net God wat volkome die straf van die mensdom op homself kon dra en daarom is dit net Christus wat hierdie versoeningswerk kan doen.

Nadat Paulus dan hierdie loflied oor ons Here Jesus Christus, wat hoof is oor alles en wat alles met God versoen het, gesing het, herinner Paulus die gemeente van Kolosse – en ook vir ons – dat Jesus ons ook met die Vader versoen het.  Hierdie herinnering moet ons aanmoedig om sterk te bly staan in ons geloof en in ons hoop. Ons hoef daarom nie bang te wees vir die mag van die duisternis nie.

Slot

Broers en susters, vandag het ons geleer hoe ons werklik die mag van die duisternis moet verstaan. Wanneer ons werklik die heerskappy van Christus reg verstaan, sal ons ook reg dink oor die mag van die duisternis. Ons sal nie meer daarvoor bang wees nie. Dit is omdat Christus die hoof van die heelal is. Hy is die hoof van die kerk. Hy het ons met God versoen en ons is nou kinders van God. Omdat ons kinders van God is deur Christus, het die mag van die duisternis nie ʼn houvas op ons nie. 

Amen.