Hebreërs 4: 8-16

Teksgedeelte: Hebreërs 4: 8-16

Fokusvers: v14

Belydenis: HK So. 11 & 12 V&A 29-32

Tema: Christus Jesus is ons gesalfde redder en ons moet in Hom glo en Hom volg.

Hoofpunt 1: Christus Jesus is ons gesalfde redder.

Hoofpunt 2: Ons moet in Hom glo.

Inleiding

Broers en susters, weet ons wie Jesus is? Weet ons regtig wie Hy is? Ons bely elke Sondag: ek glo in Jesus Christus, maar weet ons wie Hy is? Hy is ons verlosser en saligmaker, ja dit is heeltemal reg, maar die Bybel beskryf Hom op soveel ander maniere wat ons gereeld nie regtig verstaan nie.  

Hoofpunt 1: Christus Jesus is ons gesalfde redder

Ons leer Hom deur die Bybel ken. Die probleem is egter dat, wanneer ons wil gaan kyk na wie Jesus is, ons by die Nuwe Testament begin. Daar waar Jesus vir die eerste keer op die toneel verskyn. Dit is wonderlik. Daar is niks daarmee fout nie, maar die Nuwe Testament beskryf vir Jesus in Ou-Testamentiese terme. Die Nuwe Testament wys vir ons hoe Jesus die Ou Testament vervul. Dit beteken dat indien ons Jesus werklik ten diepste wil ken, moet ons ook die Ou Testament ken.

Een van die dinge wat die boek Hebreërs so wonderlik doen, is dat dit vir ons baie duidelik wys hoe Jesus die Ou Testament vervul. Die boek is vol van Ou-Testamentiese terme waarmee dit vir Jesus beskryf. Die Hebreërs-skrywer neem aan dat sy gehoor die Ou Testament goed ken en verduidelik die wonder van wie Jesus is deur die lens van die Ou Testament.

Die eerste vraag waarna ons vanoggend kyk vanuit ons belydenis, is: “Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?” Die antwoord is reeds in die vraag. Dit is omdat Hy gekom het om ons te verlos. In Mat. 1:21 lees ons hoe die engel van die Here vir Josef die opdrag gee:

Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Dit is omdat die naam Jesus “Die een wat red” beteken. Wat merkwaardig is, is dat hierdie naam “Jesus” ʼn redelike algemene naam onder die Jode was. Die Hebreeuse uitspraak is “Josua”. Op hierdie manier is die man van die Ou Testament wat die volk in die beloofde land moes inlei, ʼn voorskadu van Christus. Ons het dit gelees in ons teksgedeelte vanoggend, in vers 8 en 9:

As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ’n ander dag gepraat het nie. Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God,

Die volk wat in die beloofde lang ingegaan het, of in die rus in gegaan het, was dus nie in die ware finale beloofde land nie. Dit was nie die finale rus nie. Daar het een gekom. Sy naam is ook “Josua”, wat verlosser beteken, en Hy gaan hulle in die finale beloofde land inlei. Hy lei ons in die finale ewige rus in. Dit is ʼn rus, want ons word verlos van al die moeite en al die kwale van hierdie bedeling. Ons gaan steeds in die hemel werk, maar ons gaan nie moeg word nie. Die sabbat is ʼn dag wat ons aan die Here wy. In die lewe hierna gaan alles volmaak aan die Here gewy wees. Jesus lei ons in die ewige Sabbatsrus in.  

Daarom vra die volgende vraag: “ Is daar mense wat om Jesus glo wat hulle verlossing in iets of iemand ander soek?” Die antwoord hierop is natuurlik nee. Hulle glo nie werklik in Jesus nie. Hulle glo in Jesus-en. Jesus is dus dan nie hulle enigste verlosser nie.

Sondag 11 begin dan met die vraag: “Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?” Die antwoord is weer reeds in die vraag. Die woord Christus beteken “Gesalfde”. Die probleem is egter dat ons vanuit ʼn moderne konteks nie altyd presies weet wat die woord “Gesalfde” beteken nie. In die Ou Testament was dit die gebruik om iemand wat amptelik deur God aangestel is om ʼn taak te doen, te salf. Ons kan maar dink aan koning Saul wat deur Samuel as koning gesalf is. Die Here het hom amptelik aangestel as koning oor sy volk en daarom is hy in die amp in gesalf.

Die term “Christus” is dus Jesus se amp. Dit is nie sy van nie. Ek het vir baie lank in my lewe gedink dat Christus Jesus se van is. Dit is egter nie so nie. Dit is sy amp. Die woord Christus is ook die Griekse woord vir ʼn ander belangrike Hebreeuse woord wat dieselfde beteken.

Ons lees in Joh. 1:41 waar Andreas, Simon Petrus se broer, vir hom sê:

“Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.”

Johannes gee hier aan die einde ʼn kantnota vir sy Griekse lesers wanneer hy die woord Messias vir hulle vertaal – Messias beteken Christus. Die Jode het vanuit die Ou Testament die verwagting gehad dat daar ʼn messias sou kom. Dit is een wat gesalf is deur God met die spesifieke taak om hulle te kom verlos. Daarom is Andreas hier opgewonde om vir sy broer Petrus te sê: Ons het die Messias gekry, die een waarvoor ons gewag het! Die probleem is egter dat die Jode in die tyd van die Nuwe Testament ʼn verkeerde messiasverwagting gehad het. Hulle het geweet die messias is iemand wat gaan kom om hulle te verlos, maar hulle wou iemand hê wat hulle gaan verlos van die Romeinse Ryk wat in daardie tyd aan bewind was en die Jode onderdruk het. Dit beteken hulle wou ʼn messias hê wat hulle sou kom verlos van hulle daaglikse nood, nie van hulle ewige nood nie.

Is ons nie ook gereeld so nie? Ons soek ʼn Jesus wat ons probleme nou gaan wegneem, nie een wat ons ewige probleme gaan wegneem nie. Christus het gekom om ons van ons sondes te verlos, nie net van ons aardse probleme nie. Die Ou Testament profeteer dat Jesus die ampte op ʼn volmaakte manier sou beklee. Ons belydenis vat hierdie drie ampte saam in die antwoord op vraag 31. Christus staan in die amp van hoogste profeet, hoëpriester en koning.  Soos ons reeds gesê het, verstaan ons nie werklik vanuit ʼn moderne perspektief uit wat ʼn profeet, priester en koning is nie. In ʼn sin het ons nie vandag profete soos wat die mense van die Ou Testament gehad het nie. Dit is dieselfde met priesters en konings.  Dit is daarom belangrik dat ons kyk wat hierdie ampte in die Ou Testament is, sodat ons werklik kan verstaan wie Jesus is.

Hoofpunt 2: Ons moet in Hom glo en Hom volg.

Die eerste een waarvan ons belydenis praat, is dat Jesus ons hoogste profeet is. Die profete van die Ou Testament het almal die taak gehad om die Woord van die Here aand die volk te verkondig. Die Heilige Gees het in hulle gewerk sodat hulle vir die volk moes sê wat God vir hulle wou sê. Die profete was dus verantwoordelik vir alle kommunikasie van God af. Christus is egter die hoogste profeet. Ons lees in Joh. 1:1:

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Jesus is dus self God en die woord van God. God het self aarde toe gekom en direk met ons gepraat. Ons lees in ons teksgedeelte vanoggend in vers 12:

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Dit beteken dat, wanneer Jesus praat, moet ons luister. Hy is die woord van God. Hy is die hoogste  profeet. Hy is die een wat op ʼn perfekte manier die verantwoordelikheid dra van kommunikasie van God na die mens. Die Woord van God sny en dring deur tot in ons diepste menswees en spreek ons aan daar waar dit seer en rou is. Dit is egter baie soortgelyk aan ʼn bekwame dokter wat jou gedurende ʼn operasie sny. Die dokter verwyder dit wat kwaadaardig is. Dit is nie lekker nie. Dit is baie seer, maar dit is baie nodig.

Volgende verduidelik ons belydenis dat Jesus ons enigste hoëpriester is. Dit staan ook duidelik in ons skrifgedeelte in vers 14 en 15. Die priesters was die persone in die Ou Testament wat aangestel is om by die tempel te werk. Hulle moes die offers bring. Hulle moes psalms sing en musiek maak tot eer van die Here. Hulle was die voorlopers van die volk se godsdiens. Ons kan op ʼn ander manier sê, hulle was verantwoordelik vir alle kommunikasie van die mens af na God toe.

Christus is die enigste hoëpriester, want Hy het die perfekte offer gebring. Dit is homself. Die priesters van die Ou Testament moes offers bring aan God om die volk met God te versoen. Hulle moes ook ruimte en tyd bied vir die volk om offers te bring met dieselfde doel. Vandag het ons nie meer priesters op hierdie manier nie. Dit is omdat Jesus die perfekte offer gebring het. Hy is die vlekkelose lam wat finaal geoffer is vir ons sondes. Hy is die een wat ons werklik met God versoen. Ons 14 en 15 van ons teksgedeelte leer ons hoe merkwaardig dit is dat Jesus ons vlekkelose lam is.

Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

Hy het nooit gesondig nie, maar tog is Hy net soos ons deur elke sonde versoek. Hy is eintlik die enigste mens wat die volle versoeking werklik ken, want hy het nooit daaronder geval nie. Indien jy val in die versoeking voel jy nooit werklik die volle gewig van daardie versoeking nie. Jesus het dit alles gedra en staande gebly. Hy offer homself dan in ons plek op. Die straf wat ons verdien vir ons sonde dra Hy wanneer hy geoffer word. Die verdienste van sy gehoorsaamheid gee Hy dan aan ons sodat ons voor God kan staan.  Kom ons doen soos vers 14 sê en hou vas aan ons hoëpriester, dit is Hy wat ons met God versoen.

Die profete was verantwoordelik vir die kommunikasie van God na die mens en die priesters was verantwoordelik vir die kommunikasie van mens na God. Jesus is die hoogste profeet en ons enigste hoëpriester. Hy is die middelaar, die een wat hierdie kommunikasiebaan volmaak oopgemaak het. Hy bring ons werklik in kontak met God.

Die laaste amp wat Christus beklee waarvan ons leer in ons belydenis, is ewige koning. Dit is waarskynlik die een van die drie wat ons die beste verstaan. Alhoewel ons nie vandag werklik konings het soos in die Bybel se tyd nie, ken ons almal stories met konings in. Engeland het vandag nog op ʼn manier ʼn koning.

Die koning van die volk in die Bybel se tyd was verantwoordelik daarvoor om die volk te regeer en te beskerm. Dit beteken hy moet seker maak dat reg en geregtigheid geskied en dat almal veilig is. Die koning van die Israeliete moes seker maak dat die wet van God toegepas word en hy moes na God luister aangaande sy besluite oor veiligheid vir die volk.

Die Here het ʼn verbond gemaak met koning Dawid dat daar altyd iemand uit sy nageslag op die troon sal sit. Hierdie verbond is vervul deur Jesus Christus. Hy is uit die nageslag van Dawid en Hy sit ewig op die troon. Hy is die een wat werklik gekom het om die wet te vervul. Daar is nie ʼn beter koning wat die wet kan toepas op sy burgers as Jesus self nie. Hy is almagtig, Hy regeer oor alle geskape wesens. Daar is nie ʼn beter koning om sy onderdane te beskerm as Jesus Christus nie. Hy is die een wat ewig regeer en daarom is Hy die ewige koning.

Ons teksgedeelte sluit hierby aan in die laaste vers wat ons gelees het, vers 16:

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Ons kan met vrymoedigheid nader tot die troon, want die een wat op die troon sit, het ons burgers gemaak van sy koninkryk deur vir ons te sterf uit liefde uit. Daarom is dit ʼn genadetroon. Ons is uit genade deel gemaak van die koninkryk van God.

Ons belydenis vra dan vir ons ʼn laaste drukkende vraag: Waarom word jy ‘n Christen genoem? Ons het reeds gesê dat “Christus” Jesus se amp is en ons is dan Christene. As Christus se kerk is ons deur die Heilige Gees die liggaam van Christus. Ons het daarom deel aan sy salwing, want ons volg Hom.  Hy is ons hoogste profeet, enigste hoëpriester en ewige koning, maar omdat ons in Hom is, is ons ook profete, priesters en konings.

Dit beteken dat ons elkeen as Christine ook die verantwoordelikhede van daardie ampte moet dra. As profete moet ons die woord van God verkondig. Ons moet dit vat wat ons in die Bybel gelees het en dit aan ander gaan vertel. Ons is verantwoordelik vir die kommunikasie van God na die mens. As priesters moet ons ons liggame gee as lewende heilige offers vir die Here, soos ons lees in Rom. 12. Ons moet onsself vir Hom opoffer. Ons is verantwoordelik vir ons eie godsdiens. Ons is verantwoordelik vir die kommunikasie van die mens na God. Ons is ook elkeen konings. Ons moet seker maak dat die wet van God uitgeleef word en ons moet sy kerk beskerm. Ons is dit alles deur die Heilige Gees, deur Christus wat ons hierin vooruit gaan. Dit is eers wanneer ons verstaan wie Christus is, soos wat die Bybel hom aan ons voorhou, dat ons Hom op die regter manier kan volg.

Slot

Broers en susters, ons het begin deur onsself te vra of ons Christus ken vir wie Hy werklik is, soos wat die Bybel Hom aan ons beskryf. Ons het vandag gesien dat Hy ons redder en verlosser is. Daarom is Hy die Naam Jesus gegee. Hy is die Christus die gesalfde. Hy is ons hoogste profeet, enigste hHoëpriester en ewige koning. Ons moet in Hom glo en Hom volg.

Amen.