Teksgedeelte: Jona 3:1-10
Fokusvers: 4,5
Tema: God se woord bring ons en ander tot bekering.
Hoofpunt 1: God se woord
Hoofpunt 2: God se woord bring ons en ander tot bekering.
Inleiding
Broers en susters, in hierdie derde hoofstuk vanuit die boek van Jona, staan die tema van bekering sentraal. Die vraag wat dit ons mee laat is: hoe werk bekering? Wat is bekering? Moet ons nog steeds bekeer?
Hoofpunt 1: God se woord
Laas keer toe ons gekyk het na die boek van Jona, het ons gesien hoe die Here die groot vis gestuur het om Jona in te sluk. Jona het sy ervaring binne in die vis se maag vergelyk met die doderyk. Dit was vir hom baie onaangenaam om in die vis se maag te wees. Tog het Jona geweet die Here sal hom uit die maag van die vis red. Die Here was hier besig om met Jona te werk. Die vis spoeg dan aan die einde van hoofstuk twee vir Jona op die droë grond uit. Die Here het die vis gestuur om vir Jona tot bekering te bring.
In ons teksgedeelte sien ons dan hoe die Here vir Jona ʼn tweede kans gee. Hy roep vir Jona met feitlik presies dieselfde woorde waarmee Hy hom geroep het in die eerste hoofstuk. “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê.” Ons sien dan hoe Jona hierdie keer gehoorsaam is aan die Here. Die vorige keer het Jona presies in die teenoorgestelde rigting gevlug. Jona wou nie vir die Here luister nie. Hy het gedink hy kan van die Here af wegvlug. Hy klim toe op ʼn boot na Tarsis toe. Die Here het egter aangehou om met Jona te werk. Ons moet nie dink ons kan van die Here af wegvlug nie. As Hy ons wil gebruik, gaan Hy ons gebruik.
Die Here stuur toe ʼn storm om hom terug te roep op die regte pad. Hy laat die lote op Jona val om dit baie duidelik te maak dat dit oor Jona is dat die storm die boot tref. Jona sê dan vir die matrose om Hom oorboord te gooi. Jona is heeltemal bereid om dood te gaan, maar Hy is nie bereid om gehoorsaam te wees aan die Here nie. Ons sien so baie van onsself in Jona. Ons het in ʼn sin gereeld rustigheid oor ons saligheid, maar ons wil nie gehoorsaam wees aan die Here nie. Ons wil die ewige lewe hê, maar ons wil nie ons lewens verander nie.
Jona gaan egter nie dood nie. Die Here gaan haal hom deur ʼn wonderwerk deur die groot vis. Die Here wil hom nog steeds gebruik. Die Here gee vir Jona ʼn tweede kans. Ons sou eintlik dink dat die Here vir Jona ten minste behoort af te dank uit sy profetiese amp weens sy ongehoorsaamheid. Gelukkig is God nie net ʼn God van regverdigheid nie. Hy is ook ʼn God van genade. Hy gebruik sondige mense as sy dienaars. As dit nie so was nie, sou niemand van ons in diens van die Here kon staan nie, want ons is almal sondaars. Die Here gebruik sy profeet Jona, al is hy ʼn sondaar.
Jona die profeet van God, word opgeroep om te bekeer. Ons moet onthou dat Jona reeds as ʼn profeet van die Here in Israel opgetree het toe die Here hom geroep het om te gaan profeteer vir Nineve. Ons kan sê dat hy wat gewoonlik ander opgeroep het tot bekering, nou self opgeroep word tot bekering.
Hoofpunt 2: God se woord bring ons en ander tot bekering.
Ons kan onthou van die vorige Sondag dat ons gesien het dat ons almal in Christus ook profete is, soos Jona. Ons moet ook, soos Jona, die woord van die Here verkondig. Ons moet nooit dink ons is te sondig of te sleg nie. Ons moet nooit voel dat die Here ons nie kan gebruik nie. Hy kan en wil. Ons moet net gehoorsaam wees aan Hom. Ons moet net bekeer. Ons word ook kinders van God wat in Christus profete is, opgeroep tot bekering. Ons moet nie dink bekering iets is wat ʼn mens net een maal doen nie. As kinders van die Here moet ons ons deurlopend bekeer.
Om jouself te bekeer beteken om weg te draai van dit wat sleg is en na die Here toe te draai. Die profeet Jeremia sê in Jeremia 4:1:
“AS jy jou bekeer, Israel, spreek die HERE, bekeer jou tot My;”
Ons moet daarom ophou om die slegte te doen en te begin die goeie doen. Ons moet die Here navolg en nie van Hom af probeer vlug nie. Ons sien dit ook duidelik in die Nuwe Testament in Ef. 4 vers 22-24:
Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
Ons het nou in vers 22 gelees dat ons die ou mens moet uittrek en in vers 24 sien ons dat ons die nuwe mens moet aantrek. Dit is ʼn deurlopende proses. Dit is iets wat ons elke dag moet doen. Ons moet onsself elke dag afvra: wat is die slegte dinge wat ons moet ophou doen en wat is die goeie dinge wat ons moet begin doen? Ons moet egter nie vergeet van vers 23 nie. Daar staan dat ons gees en gedagtes vernuwe moet word. Wanneer ons kyk na wat hierdie sin in die oorspronklike Grieks beteken, sien ons dat dit verwys na jou hart, emosies, manier van dink en ingesteldheid. Ons harte moet verander. Dit is iets wat net die Heilige Gees in ons harte kan doen.
Iemand het eenmaal die beeld gebruik van ʼn rugby speler wat na ʼn wedstryd by die huis kom, sy ou vuil rugby klere uittrek en nuwe skoon klere aantrek sonder om te stort. Dit gaan tog nie werk nie. Die rugbyspeler gaan nog steeds stink. Daarom, wanneer ons bekeer, moet dit nie net van buite wees nie. Ons moet bid dat die Heilige Gees werklik ons harte sal bekeer.
Soos ons al baie kere na verwys het, sien ons in Hoofstuk 4 dat Jona nie werklik aan die Here gehoorsaam wou wees nie. Hy wou nog steeds nie werklik doen wat die Here vir hom gesê het hy moet doen nie, want hy wou nie hê die Here moes die stad van Nineve vergewe nie. Jona het daarom nog nie volkome in sy hart bekeer nie, omdat hy vashou aan sy hoogmoed en sy verkeerde begrip van die Here se genade.
Wat baie interessant is, is dat Jona se “bekering” nie die enigste bekering is waarvan ons in hierdie teksgedeelte gelees het nie. Ons sien ook hoe die stad van Nineve tot bekering gekom het. Jona gaan hierdie keer in gehoorsaamheid aan die Here na die Nineve toe. Ons lees dit was ʼn baie groot stad. ʼn Mens sou drie dae lank moet stap om deur die stad te stap. Soos ons in die eerste preek gehoor het, moet ons in ag neem dat die stad ʼn baie goddelose en sondige stad was. Jona het een dag se stap in die stad in gestap. Hy was ʼn derde deur die stad toe preek hy die woord van die Here: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
Ons lees net dat Hy die oordeel van die Here aangekondig het. Mense wil nie vandag van die oordeel van die Here hoor nie. Tog moet ons besef dat die Here die sondes straf, want Hy is regverdig. Ons moet weet ons is skuldig voordat ons kan besef dat ons moet bekeer. Ons moet ook weet dat ons sondig is, anders sal die redding van die sondes vir ons niks beteken nie.
Ons lees ook hoe dit waarskynlik een van die effektiefste preke in die geskiedenis was. Die hele stad het toe intense berou gehad, wat gelei het tot bekering. Ons sien hierin raak dat dit nie ten diepste gaan oor die boodskapper nie, maar eerder oor die boodskap. Dit is nie Jona wat hierdie mense tot bekering gebring het nie, maar eerder die Here. Jona was die onwillige dienaar van die Here, maar tog het die Here hom kragtig gebruik om sy woord te verkondig. Die Assiriërs wat in Ninevé gewoon het, sou mos nooit vir ʼn Jood luister nie. Tog sien ons die wonderwerk wat die Here deur Jona doen. Ons moet daarom ook nooit bang wees om die woord van die Here te verkondig nie.
Dit is merkwaardig hoe intensief die mense van Nineve berou gehad het oor hulle sonde. Hulle het almal gevas en rouklere aangetrek. Ons lees in vers 6 dat die berig van die prediking tot by die koning uitgekom het en dat hy almal beveel het om te rou oor hulle sonde. Hy het self rouklere aangetrek en op die ashoop gaan sit. Selfs die diere het rouklere aangetrek. Dit klink aanvanklik vir ons ʼn bietjie humoristies, maar ons besef nie die sinvolheid daarvan nie. In ons Westerse samelewing doen ons nie maklik sulke dinge wat sterk simboliek dra en wat jy kan voel nie. Die mense van Nineve het seker gemaak dat hulle hul berou werklik voel en sien en ervaar.
Dit moet ons eintlik laat skaam kry. Ons het almal al soveel preke gehoor, maar het ons so ʼn radikale reaksie daarop? Wanneer laas het ons werklik berou gehad oor ons sondes? Wanneer laas het ons werklik besef hoe aaklig ons sondes is? Wat doen ons wanneer ons dink oor ons sonde? Wat doen ons wanneer die sonde ons tempteer? Dink ons: nee wat, ek is nog “oraait”? My sonde is nie so sleg nie. Ek kan maar aanhou voortgaan soos wat ek voortgaan. Of besef ek dat Jesus met sy kosbare bloed vir my sondes betaal het? Hy het pyn en lyding vir my ervaar en ek moet dit nie lig maak nie.
Wanneer ons vanoggend nagmaal vier en die brood eet en die beker drink, moet ons in ons harte betrou hê. Dit is as gevolg van my sonde dat sy liggaam gebreek is en sy bloed gevloei het. Dit is egter ook hierin wat ons die paradoks van vreugde ervaar, want dit is juis daarom dat ek gered is en daarin vind ek ook ʼn onuitspreeklike vreugde.
Die vraag wat ons teksgedeelte egter voor ons neersit, is: het ons werklik berou oor ons sonde? ʼn Baie besonderse ding van vanoggend se teksgedeelte is dat ons sien dat die Here ook berou het. In die laaste vers wat ons gelees het, vers 10, sien ons hoe die Here in genade optree en nie die stad Nineve met ʼn ramp tref nie. Die ou vertaling beskryf wat volgende daar staan, goed. Daar staan dat die Here berou gehad het oor die straf wat Hy gesê het Hy oor hulle sou bring.
Dit is so ʼn groot stelling. Die Here het berou gehad. Daar staan op baie plekke in die Bybel dat die Here berou gehad het. Die Here word hier aan ons beskryf in menslike terme. Dit is sodat ons Hom kan leer ken. Hierdie teksgedeelte kan ons deurmekaar maak en ons laat dink dat God dalk van plan verander het. Dat Hy nie getrou bly aan sy woord nie. Dit kan ons laat dink dat Hy dalk spyt is oor wat Hy gesê het. Die bogenoemde is egter glad nie waar nie. Die Here het ʼn ewige plan. Die bekering van die stad Nineve was altyd deel van daardie plan. Die Here het Jona gestuur om daar sy woord te verkondig en Hy het geweet hulle gaan bekeer.
Daarom lees ons in vers 5: Die manne van Nineve het in God geglo. Hy het ʼn wonderwerk gedoen. Hy het sy woord daar laat verkondig en Hy het deur sy woord en die Heilige Gees die stad Nineve tot geloof en bekering gebring.
Dit is egter mooi dat die outeur van Jona vir ons God se emosie wys. Hy het berou oor die onheil wat Hy vir hulle gesê het hy hulle sou aandoen. God het teenoor hulle genade bewys. God het hierdie genade volkome aan ons gewys deur sy seun te stuur om die onheil wat hy gesê het hy ons gaan aandoen, te dra.
Slot
Broers en susters, in vanoggend se teksgedeelte het ons gelees van bekering. Jona se bekering en die stad van Nineve se bekering. Bekering is om weg te draai van die sonde af en om na God toe te draai. Ons het ook gelees van God se genade. God het die stad Nineve tot geloof en bekering gebring en so hulle ook gered van hulle sondes.
Ons vier vandag ook met die nagmaal hoe God ons deur sy Seun en deur sy Gees tot geloof gebring het en gered het van ons sondes. Kom ons vier dit tot sy gedagtenis.
Amen.