Teksgedeelte: Ps. 150
Fokusgedeelte: Ps. 150: 6
Tema: Laat alles wat asem het die Here loof!
Hoofpunt 1: Die Here moet geloof word
Hoofpunt 2: Die lof van die Here moet versprei tot by alles wat Asem het
Inleiding
Broers en susters. Op ʼn naweek soos hierdie een, is daar nie ʼn meer gepaste Psalm om te lees nie. Dit is ʼn Psalm wat aan sy kern handel oor die lof van die Here. ʼn Fees naweek soos hierdie een laat ʼn mens in verwondering vir die genade van die Here. Die Here het dit so bepaal in sy raadsplan dat sy lewendmakende woord hier in Venterstad verkondig word vir die laaste 150 Jaar. Ons kan nie anders as om Hom daarvoor te loof en te prys nie. Daarom doen ons dit vanoggend vanuit Ps. 150.
Hoofpunt 1: Die Here moet geloof word
Ps. 150 is deel van ʼn reeks van psalms aan die einde van die boek. Hierdie reeks strek van Ps. 145 tot 150. Dit staan bekend as die Halleluja Psalms want al die Psalms begin met die woord “Halleluja” wat “Prys die Here” beteken. Hierdie is dus die laaste Psalm in die boek van Psalms, en in ʼn reeks van Psalms. Dit alles eindig met lof aan die Here.
Die eerste vers volg dan op ʼn baie merkwaardige manier op die woord “Halleluja”. Daar staan dat die Here geloof moet word in sy heiligdom en dan ook dat die Here geloof moet word in sy sterk uitspansel.
Hierdie woord “Heiligdom” verwys vir die Jode waarskynlik na die Here se Heilige Tempel. Die plek waar Hy hier op aarde geloof word. Dit is egter nie genoeg nie. Die Here moet ook geloof word in sy sterk uitspansel. Dit verwys na die lug, daarbo. Die Here moet daarom ook in die Hemel geloof word.
As ons die betekenis van hierdie verse baie vereenvoudig wil saamvat, staan hier dat die Here op die aarde en in die Hemel geloof moet word. Hy moet orals geloof word. Vers twee gee dan die rede hiervoor. Hy moet geloof word oor sy magtige dade en ook oor die volheid van sy grootheid. Sy magtige dade verwys natuurlik na dit wat Hy doen. Die volheid van sy grootheid verwys natuurlik na wie Hy is.
Ons is gereeld geneig om net die Here te wil loof vir wat Hy vir ons doen. Daar is natuurlik niks fout daarmee nie. Ons moet natuurlik die Here loof vir dit wat Hy vir ons doen. Ons moet egter onthou dat die Here is lofwaardig ook vir wie Hy is. Hy hoef nie dinge te doen sodat ons Hom loof nie.
Broers en susters, ons lof aan die Here is altyd ‘n reaksie. Indien ons werklik effektief die Here wil loof, moet ons onsself verdiep in ons kennis oor wie die Here is en wat Hy vir ons gedoen het. Ons moet weer op nuut die wonder besef van alles wat Hy vir ons gedoen het.
Hy is almagtig en ewig. Hy het ‘n ewige raadsplan. Hy is ons liefdevolle Vader wat homself oor ons ontferm. Hy sorg vir ons en dra ons deur ons lewens. Besef ons dat alles wat ons is en het is net genade is? Dit is ‘n groot genade dat ons hier is. Dit is ‘n groot genade dat hierdie gemeente al 150 jaar bestaan.
Die grootse bewys van die Here se liefde en genade sien ons in dit wat Jesus vir ons gedoen het. Ons lees in Rom. 6: 6-9:
“6 Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 7 ‘n Mens sal nie maklik vir ‘n regverdige persoon sterf nie, al sou ‘n mens dalk nog die moed hê om vir so ‘n goeie persoon te sterf. 8 God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9 Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is!”
Die liefde wat God aan ons bewys deur die reddingsdade van sy Seun gaan ons verstand te bowe. Vers 6 begin op ‘n plek wat ons moet besef. Ons is heeltemal magteloos. Ons is volkome afhanklik van God se liefde en genade.
Ons is almal uit ons eie uit eintlik veronderstel om die ewige dood te kry vir dit wat ons elkeen gedoen het. Dit is wat regverdig is. Ons is eintlik vyande van God as gevolg van ons Sonde. Tog het Jesus steeds vir ons gesterf. Ons sal nie eers vir ‘n goeie mens sterf nie, wat nog van iemand wat ons vyand is.
Hierin sien ons wie God is. Ons sien sy liefde, genade, wysheid en almag raak in die reddingsdade van Christus. Ons sien natuurlik ook raak wat Hy vir ons gedoen het. Hy het ons gered van die Hel. Hy het vir ons die ewige lewe gegee. Hy het ons sy kinders gemaak en daarom sorg en beskerm Hy ons. As ons hierdie werklik glo en weet kan ons nie anders as om die Here te loof nie.
Die volgende verse, verse 3 tot 5, handel dan daaroor dat God geloof moet word met verskeie instrumente. Natuurlik moet hierdie verse letterlik verstaan word. God moet met soveel instrumente moontlik geloof word. Dit is hoekom Vrydag aand so wonderlik was. Daar is egter ook ʼn simboliese betekenis. Die Psalms is digkuns.
Die oproep om die Here te loof met verskeie instrumente dui daarop dat daar ʼn opsetlikheid en ʼn intensionaliteit moet weet tot ons lof aan die Here. Dit vat tyd om te leer om ʼn instrument te speel. Dit vat tyd vir ʼn orkes van instrumente om saam te oefen. Dit verg inspanning, beplanning en opoffering. Wanneer ons die Here loof moet is dit nie net iets wat ons sommer gou doen nie. Dit is iets waaroor ons moet ernstig wees en wat ons tot die beste van ons vermoë moet doen.
Nie almal van ons het die selfde musikale talente nie. Party mense is meer musikaal as ander. Die Here gee aan elkeen unieke gawes. Dit moet egter nie vir ons ʼn verskoning wees om nie tot die beste van ons vermoë die Here te loof nie.
Ons moet leer om die beste te sing wat ons kan tot eer van die Here. Ons moet die liedere wat ons sing die beste leer ken wat ons kan. ʼn Mens sing baie makliker iets mooier jy dit goed ken. Om te sing tot eer van die Here is een van die wonderlikste dinge wat ʼn gelowige kan doen. Dit ʼn aktiwiteit wat jy baie aktief doen met jou lyf, jou gedagtes en jou gees. Jou hele wese is betrokke wanneer jy tot eer van die Here sing en daarom moet ons dit met baie ywer doen.
Daar is nog beeldspraak daarin dat ʼn hele orkes die Here moet loof. Dit beteken dat ons dit saam moet doen, en dat ons dit in harmonie moet doen. Daar is verkillende instrumente wat verkillende klanke maak wat saam werk om die Here te loof. Dit is hoe ons as kinders van die Here ook die Here moet loof. Ons het reeds genoem dat die Here vir verkillende mense verkillende gawes gegee het. Tog het ons elkeen gawes ontvang deur die Heilige Gees en ons moet almal saam werk tot lof van die Here.
Hierdie Psalm is daarom ook ʼn oproep om nie net alleen op jou eie die Here te dien nie, maar ook om dit saam met medegelowiges te doen, elkeen met hulle eie gawes. Dit is belangrik om met die selfde intensionaliteit en ywer waarvan ons vroeër gepraat het werklik te vra: “Wat is my gawes en hoe kan ek dit in die gemeente van die Here gebruik?”. Die vraag is meer “ Wat kan ek doen en watter geleenthede gee die Here vir my?” en minder “ waarmee is ek goed?”. Die Here roep nie altyd die bekwaam om iets te doen nie. Inteendeel Hy roep meer gereeld die onbekwaam en maak hulle bekwaam. Hy werk in hulle harte deur die Heilige Gees en gee vir hulle die krag om tot lof van Hom saam met ander te lewe.
Daar is talle Bybelse voorbeelde hiervan. Een van die bekendste is seker Moses wat gedink het hy is heeltemal onbekwaam om die volk te ly. Die Here het hom egter geroep en gebruik. Hy het hom bekwaam gemaak.
Hoofpunt 2: Die lof van die Here moet versprei tot by alles wat Asem het
Die laaste vers eindig dan met die woorde: “Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” Dit is ʼn baie gepaste manier om hierdie Psalm van lof af te sluit met die stelling. Die Jode het geglo dat iets se lewe in sy asem lê. Dinge wat lewe haal asem. Daarom staan hier dat alles wat lewe, alles wat die vermoë het moet die Here dien.
Daar is egter ʼn indirekte opdrag in hierdie woorde. Ons moet die woord van die Here versprei sodat alles wat asem het die Here loof. Ons versprei nie die evangelie in die eerste plek om die mense te red nie. Ons doen dit natuurlik ook om daardie rede, maar ons doen dit in die eerste plek sodat die Here meer geloof kan word.
Aan Hom kom toe al die lof en al die eer en al die heerlikheid in die hemel en op aarde. Daarom wanneer ons weet van iemand wat nie die Here loof nie, dan moet dit ons pla. Die Here is daardie lof waardig. Ons moet vir daardie persoon gaan vertel wie die Here is en wat Hy vir ons gedoen het sodat daardie persoon ook die Here kan loof. Hierdie woorde is ʼn baie sterk oproep tot evangelisasie want almal moet die Here loof.
Dit is dan ook ʼn oproep daartoe dat ons die skepping, die plante en diere so inrig en bestuur dat dit tot eer van die Here is. Dit is want alles wat asem het, die diere en die plante moet die Here loof. Die Here het vir ons, die mens die opdrag gegee in Genesis om te heer oor die plante van die aarde en die diere van die veld.
Indien ons die natuur misbruik of vernietig is dit nie tot eer van die Here nie. Ons het die voorreg in hierdie gemeente dat daar baie boere is. Julle is elke dag eerstehands hiermee aan die werk. Dit moet geskied tot eer van die Here.
Slot
Broers en susters, dit is altyd gepas om die Here te dien. Dit is ook veral gepas op ʼn naweek soos hierdie een. Ons loof die Here vir wie Hy is en vir wat Hy doen. Hy is die ewige God en ons liefdevolle vader wat ons sy kinders gemaak het en wat ons gemeente nou al vir 150 jaar laat bestaan het. Aan hoe kom toe al die lof eer en heerlikheid op die hemel en op die aarde van alles wat lewe!
Amen.