Habakuk 3:1-19

Teksgedeelte: Habakuk 3:1-19

Fokusgedeelte: Habakuk 3:17-18

Tema: Al verloor ek alles, sal ek steeds bly wees in die Here.

Hoofpunt 1: Al verloor ek alles…

Hoofpunt 2: Ek sal bly wees in die Here.

Inleiding

Broers en susters, die mens is deurlopend op soek na vreugde en geluk. Dit is vir die meeste mense wat nie in die Here glo nie, ‘n afgod – of hulle dit besef of nie. Hulle doen so baie dinge in die naam van geluk- enige iets, solank dit my net gelukkig maak.

Ons is ook baie geneig om geluk na te jaag. Ons dink as ons sekere dinge besit of as ons sekere mylpale behaal, dan gaan ons gelukkig wees. Ons dink “As ek maar net hierdie ding kon besit sou ek gelukkig gewees het”. Kyk net hoe baie tyd spandeer ons aanlyn om te kyk na nuwe dinge wat ons kan koop. Ons kan ook dink “As ek maar net hierdie posisie in die samelewing kon beklee, sou ek gelukkig gewees het”. Daar is niks fout daarmee om ambisie te hê nie, maar dit moet nie ‘n afgod wees nie.

Ons strewe na al hierdie aardse dinge, want ons dink dit gaan ons gelukkig maak. Die probleem is dat, wanneer ons dit kry, is ons net vir ‘n rukkie bly en dan gaan dit weer verby. Die vraag is dan, waar vind ‘n mens ware geluk?

Hoofpunt 1: Al verloor ek alles…

Die wonderlike bekende woorde van ons fokusverse gee baie duidelik die antwoord. Al sou alle bronne van aardse geluk waarop ek wil staatmaak my in die steek laat, sal ek steeds my vreugde in die Here vind:

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

Die skrifberyming is baie bekend. Die konteks waarin dit staan, maak die woorde egter nog meer treffend. Ons het die voorreg gehad om reeds na hoofstuk 1 en 2 van Habakuk te kon kyk. Vandag kyk ons dan na hoofstuk 3.

U sal onthou dat Habakuk grotendeels ʼn klaaglied is teenoor die Here, omdat Hy die swaar en die verkeerde in die lewe toelaat. Eers kla Habakuk omdat daar soveel ongeregtigheid en geweld is onder die volk van die Here. Habakuk vra vir die Here hoe lank Hy nog moet wag. Hoe lank gaan die Here nog die ongeregtigheid toelaat? Die Here antwoord dan vir Habakuk en sê vir hom iets wat hy nie wil hoor nie. Die Here sê dat Hy besig is om die Chaldeërs ʼn groot volk te maak en dat Hy die Chaldeërs gaan stuur om sy volk te straf. Habakuk kon dit nie verstaan nie. Hoekom sal die Here so ʼn slegte volk gebruik, wat in sy oë nog erger is as die volk van die Here, om hulle te straf? Hoekom sal die Here die slegte volk van Israel straf met die nog slegter volk van die Chaldeërs? Die Chaldeërs staan ook bekend as die Babiloniërs. Wat die Here belowe, word egter altyd waar. Die Here het die Babiloniërs gebruik om sy volk in ballingskap te laat wegvoer vir hulle ongehoorsaamheid.

Habakuk vind ten midde van al hierdie slegte dinge tog rus in die Here. Die Here gee vir hom die boodskap, soos ons gelees het in hoofstuk 2 vers 4, dat die regverdige van hulle geloof sal lewe. Habakuk vind in sy worsteling met die Here rus in die Here. Habakuk weet die Here is regverdig en genadig. Hy straf die wat dit verdien en Hy is genadig teenoor die wat in Hom glo.

Dit is dan waaroor hierdie laaste hoofstuk handel. Habakuk besing die almag van die Here en bely dan daarna dat, al gebeur daar groot rampe met hom, sal hy steeds sy vreugde in die Here vind.

Die eerste vers van Habakuk 3 is soos ʼn titel vir die hoofstuk. Dit is anders as die eerste 2 hoofstukke, want hierdie hoofstuk is ʼn lied. Dit poëties en gebruik beeldspraak om te verduidelik wie die Here is. Vers 2 is dan ʼn oproep tot die Here om weer te doen soos Hy in die verlede gedoen het. Die Here het in die verlede sy volk gered en hy vra vir die Here om dit weer te doen.

Vanaf vers 3 tot en met vers 15 word die Here se almag en grootheid dan vir ons op ʼn baie mooi poëtiese manier met beelde uitgebeeld. Daar word duidelik gewys die Here is groter as enige nasie of natuurverskynsel. Dinge wat vir ons groot en magtig lyk, soos berge, is niks voor die Here nie. Die lied besing hoe die eeue-oue berge verkrummel en die ou-ou heuwels inmekaar val voor die Here. Die hele aarde skud en die nasies bewe. Alles is klein voor die Here. Hy beheer die riviere, die oseane en die storms. Die son en die maan sal vir Hom stilstaan. Het u al die voorreg gehad om ʼn hoe berg te klim? Dit laat ʼn mens so klein voel. Tog is die hoogste berg niks voor die Here nie. Dit is natuurlik so, want Hy het alles geskep. Hy is almagtig. Hy is groter as dit alles.

Nadat Habakuk die Here gevra het om in te gryp in sy tyd, en nadat Habakuk die Here se almag en vermoë om dit te doen besing het, sê Hy hierdie merkwaardige woorde in vers 16:

“Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig wag dat die dag van die oordeel moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.”

Hoofpunt 2: Ek sal bly wees in die Here.

Broers en susters, wanneer ons onverstaanbare swaar tye deurgaan en daar vir ons nog swaar tye op die horison lê, is Habakuk se lied so gepas. Ons vra vir die Here opreg en eerlik, Here, gryp tog in. Gryp in soos wat U in die verlede ingegryp het. Doen ook so in ons tyd. Hy bely dan die Here se absolute almag. Hy weet die Here kan ingryp. Hy weet die Here kan enige iets doen, maar dan sê Habakuk aan die einde: tog sal ek geduldig wag vir die Here. Wat gebeur, gebeur. Ek vertrou op die Here.

Daarom eindig Habakuk se lied met die verskriklike treffende woorde. Al gebeur die ergste, sal ek juig en bly wees in die Here. Die Babiloniërs, wat die volk sou aanval, was bekend daarvoor dat, wanneer hulle ʼn volk verower het, het hulle niks lewend agtergelaat het nie. Hulle het alles in ballingskap weggevoer en die res alles verbrand en doodgemaak. Daar het niks oorgebly as hulle klaar was met ʼn volk nie. Hulle het al die diere doodgemaak. Al die lande en bome en huise afgebrand. Daar het niks oorgebly nie. Dit is moontlik dat Habakuk se woorde in vers 17 en 18 daarheen verwys. Dit maak dit net nog meer treffend:

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

Hierdie lied van Habakuk gee vir ons soveel hoop en bemoediging vir vandag. Dit wys vir ons waar ons vreugde werklik lê. Al sien ons die Chaldeërs op die horison aankom – nogtans sal ek juig. Al verloor ek alles – nogtans sal ek juig. Al gebeur daar baie slegte dinge – nogtans sal ek juig.

Broers en susters, as ʼn mens deesdae die nuus lees, is ʼn mens geneig om te wonder of die derde wêreldoorlog gaan plaasvind. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie. Ons weet nie hoe die Here verder met ons gaan werk nie. Ons weet egter vir seker dat Hy ons nooit sal los nie en dat Hy altyd by ons sal wees.

Nog meer as dit, broers en susters, in Hom sal ons ten midde van alle omstandighede ons vreugde vind. Soos die apostel Petrus sê in die eerste hoofstuk van sy eerste brief, verse 6-9:

“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap”

Deur alles wat met ons gebeur, ook deur die dinge wat ons bedroef, is hy besig om met ons te werk en is Hy besig om ons geloof sterker te maak. Hy is besig om ons geloof te louter. Die groot troos is dan, omdat ons geloof het in ons Here Jesus Christus, in sy sterwe en opstanding, het ons deel aan die saligheid. Dit is die einddoel van ons geloof. Dit vervul ons met onuitspreeklike blydskap. Dit gee ons vreugde ten midde van alle omstandighede.

Wanneer ons hierdie geloof het, kan ons saam met Habakuk bely soos in die laaste vers van die boek:

“Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Slot

Broers en susters, die wêreld daar buite is altyd op soek na geluk. Hulle soek dit in ʼn klomp aardse dinge wat hulle gaan teleurstel. Geluk vir die wêreld is nie ware geluk wat blywend is nie. Dit is geluk wat kom en gaan.

Wat ons egter by Habakuk vandag geleer het, is dat ware vreugde te vind is in die Here, in sy nabyheid en in sy redding. Al kom die Chaldeërs, al verloor ek alles, nogtans sal ek juig en bly wees in die Here.

Amen