1 Kor. 15:35-58

Teksgedeelte: 1 Kor. 15:35-58 (1983)

Fokusvers: 1 Kor. 15: 51-55.

Sondagsafdeling: Sondag 21&22 V&A 56-58

Tema: God skenk aan ons die vergifnis van ons sonde, die opstanding uit die dode en die ewige lewe waarin ons troos moet vind en waarvoor ons Hom vir ewig moet prys.

Hoofpunt 1: God skenk aan ons die vergifnis van sonde, die opstanding uit die dode en die ewige lewe.

Hoofpunt 2: Ons moet hierin troos vind en Hom daarvoor vir ewig prys.

Inleiding:

Broers en susters, wat behels die vergifnis van sondes? Wat behels die opstanding van die liggaam? Wat behels die ewige lewe?

Ons bely elke Sondag dat ons aan hierdie dinge glo, maar verstaan ons dit reg? Skep ons werklik die troos daarin wat ons moet? Verstaan ons wat dit beteken dat ons sondes vergewe is? Besef ons dat ons liggaamlik gaan opstaan met die tweede koms van Jesus en sien ons uit na die ewige lewe om die regte redes?

Sondag 21&22 vra juis hierdie vrae en antwoord dit vanuit die Skrif vir ons.  

Hoofpunt 1: God skenk aan ons die vergifnis van sonde, die opstanding uit die dode en die ewige lewe.

Ons begin dan by een van die kernvrae van ons geloof. Wat sê ons wanneer ons bely: Ek glo in die vergifnis van sondes? Ons teksgedeelte sê naby aan die einde, in vers 56 en 57 dat:

“Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”

Met ander woorde, ons sondes is deur Christus vergewe. Ons het in ʼn vroeëre preek hierdie jaar redelik stilgestaan by vergifnis. Om iemand te vergewe, beteken om alle negatiewe emosie teenoor daardie persoon uit jou hart uit te kry. Deur ons Here Jesus Christus se reddingsdade is dit juis die geval.

Al die regverdige toorn en negatiewe emosie wat God teenoor ons gehad het weens ons sonde, is uitgewerk op Christus. Hy het al die straf vir ons sonde in ons plek gedra. Hy maak ons ook nuwe mense deur die Heilige Gees. Hy gee vir ons sy verdienste en Hy dra ons verdienste. Wanneer God die Vader nou na ons kyk, sien Hy net sy seun in wie Hy ʼn welbehae het. Ons sondes is dus volkome vergewe. Ons belydenis maak dit ook duidelik dat ons ook van ons sondige natuur verlos is. Ons is dus volkome deur Christus verlos. Dit is vir ons die grootse troos wat ons ooit kan hê. Omdat ons sondes vergewe is, glo ons ook in die opstanding uit die dode en die ewige lewe.   

Beide V&A 57 en 58 begin merkwaardig met die woorde “Watter troos vind jy hieruit?”. Dit vra watter troos gee die opstanding van die liggaam en die ewige lewe vir jou. Dit is daarom nie net ʼn algemene vraag vir gelowiges nie. Dit is ʼn baie persoonlike en ʼn intieme vraag vir ons elkeen. Dit is nie net teorie of idees wat ons moet leer nie. Dit is die waarhede waarin ons werklik troos vind in lewe en sterwe. Dit trek die lyn terug na Sondag 1 V&A 1 wat sê dat ons enigste troos in lewe én in sterwe is dat ons met liggaam én siel, nie aan onsself nie, maar aan Christus behoort.

V&A 57 vra dan juis die vraag: watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? In ons teksgedeelte is Paulus besig om aan die gemeente in Kolosse belangrike dele van die evangelie te leer en te verduidelik wat hulle dalk verkeerd verstaan het. Hy begin met hierdie verduideliking in vers 1 van hoofstuk 15 en verduidelik veral wat dit beteken dat Jesus Christus self uit die dood uit opgestaan het en die dood vir ons oorwin het. In ons teksgedeelte verduidelik hy verder wat dit beteken dat ons ook uit die dood uit gaan opstaan. Hy verduidelik met ander woorde wat dit beteken wanneer ons bely dat ons glo in die opstanding van die liggaam.

Hy verduidelik dat elkeen van ons ʼn nuwe liggaam gaan kry met die wederkoms van Christus. Hy sê eers dat nie almal gaan doodgaan, of eerder ontslaap nie. Daar gaan natuurlik mense wees wat ontslaap en dan gaan daar persone wees wat die nog lewendig gaan wees wanneer Christus weer kom. Ons weet nie wanneer hierdie dinge gaan plaasvind nie. Dit kan in ons leeftyd gebeur, of dalk nie. Christus kan enige tyd weer kom. Jesus sê self in Luk. 12 dat Hy soos ʼn dief in die nag gaan kom. Niemand weet wanneer Hy gaan kom nie. Ons weet wel dat Hy vir seker weer gaan kom en dit is ‘n dag waarna ons baie moet uitsien.

Die van ons wat wel ontslaap voordat Hy kom, kan met troos weet dat ons siele dadelik in Christus opgeneem sal word. Dit is wat ons bely in die eerste deel van die antwoord op vraag 57, want Jesus het vir die misdadiger wat langs Hom op die kruis gehang het gesê: “vandag nog sien ek jou in die Paradys.”

Ons wat in Christus is, gaan paradys of hemel toe om met God te wees. Die wat nie in Christus is nie, gaan hel toe en dit beteken om sonder God te wees. Terwyl die hemel beteken om die volheid van God se liefde te smaak, beteken die hel dat al God se goedheid en genade van jou af ontneem word en jy ervaar net die pyn van sy toorn. Daar is dus nie ʼn onbewustelikheid na die dood nie. Na die dood is ons ten volle by ons bewussyn. Ons is of daarvan bewus dat ons by die Here is, of nie.

Maar, broers en susters, ons vind nie net troos daarin dat ons siele aan Christus behoort nie, maar ook ons liggame. Hy het nie net gekom om ons siele te verlos van die dood nie, maar ook ons liggame. Ons moet nie in ons gedagtes sy verlossing beperk tot net ons siele nie. Ons bely daarom in die tweede deel van die antwoord op vraag 57 dat ook hierdie selfde liggame van ons deur die krag van Christus opgewek sal word en weer met ons siele verenig sal word.

Dit is wat Paulus verduidelik in ons skrifgedeelte. Die liggame wat opstaan sal nie wees soos die liggame wat ons nou het nie. Dit gaan dieselfde liggame wees, maar dit gaan verheerlik word. Wanneer Christus weer kom, gaan hy alles nuut maak. Deur die krag van Christus gaan ons liggame vernuwe word, sodat dit gepas sal wees vir die nuwe hemel en die nuwe aarde waar niks verganklik en besmet met die sonde is nie.

Daarom sê hy in vers 53 van ons fokusgedeelte dat ons verganklike liggame met onverganklikheid beklee moet word. Dit was eens sterflik was, word onsterflik. Ons weet nie persies hoe ons nuwe verheerlikte liggame gaan lyk nie, maar ons weet dat alle siektes, tekortkominge en swakhede daarvan verwyder gaan word. Ons gaan ʼn liggaam kry waarmee ons die ewige lewe kan deurbring. Indien dit so gebeur dat ons ontslaap, en ons liggame vergaan tot stof terwyl ons siele by Christus is, sal hierdie liggaam, al is hy stof, weer opstaan uit die dood tot ʼn verheerlikte liggaam.

Paulus sê vroeër in vers 44 dat ons menslike liggame in geestelike liggame gaan verander. Hy bedoel hiermee nie dat ons ʼn geestelike liggaam sonder vorm gaan kry nie. Die opstanding van die liggaam is ʼn fisiese opstanding soos hy verduidelik in vers 52 van ons fokusgedeelte. Hierdie woord “geestelik” word in ander dele van 1 Kor. gebruik om “van die Heilige Gees” te verduidelik. ʼn Persoon wat “natuurlik” of “menslik” is, is van die wêreld, maar ʼn persoon wat “geestelik” is, is deur die Heilige Gees nuutgemaak in Christus.

Hoofpunt 2: Ons moet hierin troos vind en Hom daarvoor vir ewig prys.

As ons die Heilige Gees in ons het en in Christus glo, kan ons met sekerheid weet dat ons die ewige lewe het. Die Heilige Gees kom en woon in ons harte en skenk aan ons die geloof in Christus en sy reddingsdade. Hy het gedurende sy lewe hier op aarde, maar veral aan die kruis, die straf vir ons sonde gedra. Hy het die angste van die dood, van die hel, vir ons ervaar – dit wat ons elkeen verdien weens ons menigvuldige sondes. Hy het op die derde dag opgestaan en die dood oorwin. Daarom het almal wat in Hom glo die ewige lewe.

Dit is wat ons bely in V&A 58. Die antwoord sê merkwaardig dat ons nie net hierdie ewige lewe eendag sal ervaar nie, maar dat ons ʼn deel daarvan nou reeds kan ervaar. Ons lewe nou reeds saam met Christus en kan die vreugde daarvan in ons harte voel. Ons ervaar dit wanneer ons volgens die wil van God lewe en Hom dien en loof en prys saam met medegelowiges. Wat ons in hierdie bedeling ervaar, is wel nog net ʼn begin. Na hierdie lewe sal ons eendag volkome saligheid ervaar.

Ons kan nou reeds saam met Paulus in ons fokusverse juig: Die dood is verslind in oorwinning. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? Dit is merkwaardig dat Paulus hier aanhaal uit verskillende dele van die Ou Testament. Hy haal aan uit Jes. 25:8 en Hos. 13:14. Christus het gekom en hierdie tekste vervul deur die dood te oorwin, sodat ons nou kan sê dat ons nie meer bang is vir die dood nie. Die dood het nie meer ʼn angel nie. Baie mense lewe met ʼn groot vrees vir die dood, maar ons hoef nie meer die dood te vrees nie. Ons is nie soos die heidene nie. Na die dood is daar vir hulle net onsekerheid. Die dood is vir hulle die einde, maar vir ons is dit net ʼn nuwe begin. Ons verwissel die tydelike met die ewige. Ons lewe verder in die ewige lewe saam met ons Vader.

Die ewige lewe is om God se nabyheid en sy vaderlike sorg volkome te ervaar. Hy is die bron van alle goedheid en by Hom ervaar ons hierdie volkome goedheid vir ewig. Die ewige lewe saam die Here is dus ʼn lewe sonder enige swaarkry, seer of verganklikheid, een wat oorloop van die Here se goedheid en genade.

Ons moet werklik na hierdie lewe uitsien en daarna smag. Ons kan nie anders nie, dit is werklik wonderlik, maar ons moet dieselfde gesindheid hê wat daar in Paulus was. Hy sê in Fil. 1:23 dat: “om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins”. Met ander woorde, terwyl ek hier op aarde is, moet ek die roeping wat Christus vir my gee, nastreef, maar wanneer ek sterwe sien ek uit om saam met Hom in die paradys te wees. Die Here het ons elkeen hier geplaas met ʼn doel. Ons elkeen het ʼn taak om hier op aarde te verrig wat deel is van God se ewige plan. Ons moet dit daarom met vreugde doen en wanneer die dit ons tyd is, is dit ons tyd. Ons kan met vrede en troos in ons harte weet waarheen ons gaan.

Dit is ook wat ons troos met die dood van ʼn medegelowige. Dit is dalk iemand waarvoor ons baie lief was, ʼn goeie vriend of ʼn familielid. Dit is dan steeds gepas om hartseer te wees, want ons gaan die persoon baie mis terwyl ons hier op aarde is, maar ons moet nie hartseer wees soos wat die heidene hartseer is nie. Ons weet waar daardie persoon is. Ons weet waarheen daardie persoon gaan en ons weet ook waarheen ons gaan. Dit gee ons ware troos in hierdie lewe.

Laastens lees ons in die laaste deel van die antwoord op vraag 58 dat die doel van die ewige lewe is sodat ons God vir ewig daarin kan prys. Vir baie mense draai die hemel net om die eie ek. Hulle voel dalk verligting daarin dat hulle nie meer siek sal wees nie, of dat hulle weer hulle geliefdes sal sien en dat hulle om hierdie rede geluk sal ervaar. Dit is alles waar en dit is dinge waarna ons met vreugde mag uitsien, maar dit is nie die hoofdoel van die ewige lewe nie. God is die middelpunt van die ewigheid. Die doel van die ewige lewe is om Hom te loof en te prys. Ons weet wel dat juis dit ons onuitspreeklik gelukkig sal maak. Dit is waarvoor ons gemaak is en daarom is ons op ons gelukkigste as ons dit kan doen sonder enige sonde wat ons laat struikel.

Slot

Broers en susters, hierin het ons ware troos. Ons siele behoort aan die Here en daarom kan ons weet dat, indien ons ontslaap, ons siele dadelik in Christus opgeneem sal word. Ons sal by Hom in die paradys wees. Ons weet ook dat, deur die krag van Christus, gaan hierdie selfde liggame waarin ons nou lewe met die wederkoms van Christus verheerlik word. Ons gaan liggame hê wat gepas is vir die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ons het nou reeds die ewige lewe. ʼn Ewige lewe waarin ons vir altyd die Here gaan dien en ware onuitspreekbare vreugde gaan ervaar. Dit is werklik troosryk. Ons kan saam met Paulus werklik vra: Dood waar is jou oorwinning? Dood waar is jou angel?

Amen