Teksgedeelte: Psalm 127 (1953 vertaling)
Fokusvers: Psalm 127:1-2 (1953 vertaling)
Tema: God is die skepper en onderhouer van die heelal en ons moet ons afhanklikheid van Hom besef en erken.
Hoofpunt 1: God is die skepper en onderhouer van die heelal.
Hoofpunt 2: Ons moet ons afhanklikheid van Hom besef en erken.
Inleiding
Op hierdie aarde is daar baie dinge waarmee ons onsself kan besig hou. Daar is baie beroepe wat jy kan beoefen. Iemand kan in ʼn kantoor werk of ʼn ambag beoefen. Jonger mense kan dalk skool toe gaan of by die universiteit studeer. Ander mense is weer werksaam by die huis. Ons almal is besig om op ʼn manier deel te neem aan die dinge en mense rondom ons. Ons elkeen is op ons eie manier betrokke by die samelewing soos wat ons deur die lewe gaan. Ons elkeen het ons daaglikse “werk” wat ons moet doen.
Maar, soms voel die werk wat ons doen nie vir ons of dit baie sinvol is nie. Dit kan dalk vir ons voel asof dit wat ons doen nie werklik ʼn verskil maak nie. Asof dit nie werklik vir iemand iets beteken nie, of asof niemand dit waardeer nie. Dit voel gereeld asof ons nou besig is om hard te werk, net om môre weer op te staan en verder hard te werk. Net sodra dit voel asof dinge nou in plek val, tuimel dit weer uitmekaar uit. Dit kry nie einde nie.
Ons kan onsself ook baie bekommer oor ons daaglikse werk wat ons moet doen. Ons kan onsself bekommer omdat daar te veel werk is. Ons voel dalk oorweldig. Of ons is bekommerd dat daar te min werk gaan wees. Dat ons nie werk gaan kry nie of ons werk gaan verloor. Ons sal daarom nie vir onsself kan sorg nie. Ons kan dalk ook baie verveeld wees met wat ons elke dag moet doen. Ons voel nie daardeur vervuld nie.
Hierdie is alles dinge wat baie van ons waarskynlik gereeld ervaar, maar hoe moet ons as Christene dink oor ons daaglikse werk? Met watter gesindheid moet ons dit benader? Ons leer juis hiervan in Psalm 127.
Hoofpunt 1: God is die skepper en onderhouer van die heelal
Psalm 127 is een van ʼn reeks psalms wat bekend staan as die pelgrimsliedere of bedevaartsliedere. Dit is psalms wat waarskynlik geskryf is om gesing te word terwyl die Jode op ʼn pelgrimsreis was op pad na Jerusalem toe. Volgens Deuteronomium 16:16 moes die Jode drie maal per jaar Jerusalem toe gaan vir feeste. Indien jy ʼn Jood was wat nie in Jerusalem gewoon het nie, moes jy dus drie maal per jaar hierdie pelgrimstog na Jerusalem toe onderneem. Die ou vertaling noem hierdie psalms “bedevaartsliedere” en dit is baie gepas want dit is ʼn “lied” wat jy “bid” terwyl jy “vaar”.
Hierdie pelgrimsliedere het egter oor meer as net die pelgrimstog gehandel. Dit het oor verskillende aspekte van hulle geloof gehandel. Die Israeliete kon dan oor hierdie aspekte van die geloof nadink terwyl hulle op die pelgrimstog hierdie psalms sing. Psalm 127 handel dan juis oor jou daaglikse werk en wat jou gesindheid daarteenoor as gelowige moet wees. Dit is ook merkwaardig dat die psalm vermeld dat Salomo die outeur is. Hy is bekend vir die wysheid wat die Here vir hom gegee het. Ons kan dus vra, watter wysheid kan ons leer oor ons daaglikse werk vanuit Psalm 127?
Die eerste verse van die psalm handel oor bouers wat bou en wagters wat ʼn stad beskerm. Gaan dit hier net oor bouers en wagters? Of gaan dit oor meer? Reeds in Genesis 1:28 sê God aan die mens: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Ons kan in ander woorde sê dat die mens die opdrag van God het om sy skepping te bewerk en te bewaar of om te bou en te onderhou. Ons moet die skepping so orden en inrig dat ons dinge daarmee bou en dan moet ons die dinge wat ons gebou het, onderhou en dit bewaar. In die psalm stel die bouer en wagter hierdie groot aktiwiteit voor. Die bouer stel mense voor wat deelneem aan die “bou” van die lewe. Die wagter wat die stad beskerm stel mense voor wat deelneem aan die “onderhou” of die “beskerm” van die lewe. Baie mense doen op ʼn manier albei. Binne ons daaglikse werk het ons altyd te doen met die bou en die onderhou van die lewe. As mense het die Here ons aangestel om te bewoon, te bewerk en te bewaar in Sy skepping.
Ons kan nou redelik duidelik sien dat vers 1 en 2 handel oor die mens se opdrag om die aarde te bewerk en te bewaar, maar waaroor handel vers 3 tot 5 dan? Met die eerste oogopslag lyk dit of die verse dalk ʼn volgende psalm kon wees oor die gesin. Daar word vertel dat seuns of kinders ʼn geskenk is van God en dat hulle soos pyle is in die koker van ʼn held. Wat is die verwantskap tussen verse 1 tot 2 en verse 3 tot 5? Die eerste deel gaan oor ons werk en die tweede deel gaan oor die gesin. Genesis 1:28 leer ons nie net om te bewerk en te bewaar nie. Daar staan ook dat ons die aarde moet bewoon. Daar staan spesifiek dat ons moet vermeerder en die aarde vul. Ons het die opdrag van God om kinders te kry.
Kinders is op ʼn besonderse manier deel van die bou en die onderhou van die lewe. Kinders is ook ʼn tipe van ʼn “bouprojek”. Vers 3 sê dat kinders ʼn geskenk van die Here af is. Hy gee in sy groot genade die seëning van kinders aan ouers. Die Here gebruik dan ook in sy groot genade ouers om te “bou” aan die kinders en ook om die kinders te “beskerm”. Ons leer dan later in vers 4 en 5 dat die rolle in ʼn stadium omruil. Later as die kinders grootword en die ouers baie oud word, is dit die kinders wat die ouers beskerm. Daarom is seuns soos pyle in die koker van ʼn held. Vaders sal nie beskaamd by die stad se poorte spreek nie, want sy seuns is by hom om hom te beskerm en by te staan. Die stadspoort was die plek waar al die Jode hulle “besigheid” gedoen het. Dit was ook die plek waar die regters was en daarom was dit ook die geregshof van die Joodse stede. Dit is ʼn plek waar die ondersteuning van ʼn paar sterk seuns baie nuttig kon wees.
Die psalm gaan daarom oor die opdrag wat die Here vir ons gegee het in Genesis 1:28. Dit gaan oor die mens wat moet bewoon, bewerk en bewaar. Die psalmdigter sê egter nie net dit nie. Hy sê opmerklik dat as God nie bou nie, en God nie beskerm nie, dan is alles wat die mens doen tevergeefs. Dit is soos reeds genoem, ook Hy wat vir ons kinders gee. Sonder sy genade sal ons nie kinders kry nie. Hy is die een wat werklik skep en onderhou en beskerm.
Hoofpunt 2: Ons moet ons afhanklikheid van Hom besef en erken.
Ons moet daarom ons afhanklikheid van die Here besef in ons daaglikse werk. Ons as mense moet nie dink dat ons sonder Hom werklik in staat is om dinge self te skep en te onderhou nie. Alles wat die mens doen, is tydelik. Sonder God het niks wat ons doen werklik ewigheidswaarde nie. Alles wat ons doen sonder Hom is tevergeefs.
Die Jode wat hierdie psalm gesing het, moes hulle afhanklikheid van die Here besef en erken terwyl hulle opgetrek het na Jerusalem toe. Hulle kon terugkyk oor die jaar se werk en sien hoe die Here vir hulle gesorg het en ook in Hom rus vind.
Die psalm roep ons steeds op om ons afhanklikheid van die Here raak te sien en te erken. Ons sien egter ons afhanklikheid van die Here die sterkste raak in ons volkome verlorenheid in ons sonde. Die werk wat ons daagliks doen, voel vir ons swaar en sinneloos omdat dit en die wêreld waarin ons lewe met sonde besmet is. Weens die sondeval is ons werk nie meer vir ons lekker nie. Weens ons sonde is alles wat ons uit ons eie doen, sinneloos. Weens ons sonde, is ons ook vyande van God en verdien ons die ewige straf.
Daarom is ons ook afhanklik van God vir ons redding. Hy red ons, sy geliefdes, deur sy seun. Sy seun, ons Here Jesus Christus, het die straf wat ons verdien het vir ons sonde op Homself geneem. Hy het vir ons sondes gesterf in ons plek, maar nie net dit nie, Hy het die dood oorwin sodat ons nou saam met Hom die ewige lewe kan hê. Ons werk nie net met die oog op hierdie lewe nie, maar met die oog op die ewige lewe wat ons in Christus het. Ons werk daarom nie om ons eie koninkrykies op te bou nie, maar tot eer van God. Hy stuur dan ook vir ons sy Heilige Gees wat in ons harte woon en werk, sodat ons in Hom kan glo. Dit is deur die werk wat Hy in ons harte doen dat ons werklik ons afhanklikheid van die Here kan besef en die krag het om tot sy eer te werk.
Dit moet die gesindheid wees waarmee ons ons daaglikse werk aanpak. Ons moet ten eerste besef dat God die ware skepper en onderhouer is van alles. Alles wat ons het, kom van Hom af. Die fisiese dinge wat ons het, die werk wat ons mag doen en die kinders wat ons mag grootmaak, kom alles uit sy genade uit. As Hy nie bou nie, bou ons tevergeefs, en as Hy nie beskerm nie, beskerm ons tevergeefs.
Ons moet tweedens besef wat ʼn groot voorreg dit is dat die Here ons gebruik in ons daaglikse werk. Deur sy genade mag ons deel hê aan sy skepping en onderhouding van die aarde. Ons moet daarom groot vreugde vind in die werk wat die Here vir ons gee om te doen. Dit is ʼn voorreg om op hierdie manier deel te hê aan die werk van die Here en ook tot eer van Hom te kan werk.
Ons moet ook dieselfde gesindheid hê teenoor ons kinders. Dit is ʼn groot seën om kinders te mag hê en die van ons wat nog nie kinders het nie, moet werklik daarna uitsien en daartoe streef. Daar is sommige kringe waar daar werklik ʼn pessimisme heers oor kinders kry. Daar is sommige sekulêre kringe of regerings wat mense aanmoedig om nie kinders te kry nie, want dit is blykbaar sleg vir die omgewing. Hiermee sê ek nie dat ons nie moet omgee vir die omgewing nie, ons moet juis positief heers oor die skepping. Ander sê weer dat hulle nie met ʼn skoon gewete kinders in so ʼn donker wêreld kan bring nie. Ander sien kinders net as ʼn las of dat dit te duur is om kinders te kry.
Die bogenoemde is nie ʼn siening wat getuig van vertroue op die Here nie. Ons moet natuurlik verantwoordelik besluite neem aangaande kinders kry, maar die Here het aan ons opdrag gegee om te bewoon, te bewerk en te bewaar en daarom moet ons volgens ons vermoë met geloof en vertroue op God hierdie dinge doen. Daar is natuurlik enkele van ons vir wie die Here se plan anders lyk. Daar is sommige mense vir wie die Here nie kinders gee nie, maar Hy het ʼn ander spesifieke plan met hulle lewens en dit is ook ʼn groot genade. Die Here gebruik hierdie mense om op ʼn ander besonderse manier te bou en te onderhou in sy skepping, en dit moet nie geminag word nie. Die meerderheid van ons moet egter besef wat ʼn groot voorreg en genade dit is dat die Here ons gebruik om die volgende generasie van gelowiges groot te maak en sy verbond op hierdie manier te laat voortleef totdat Hy weer kom. Dit is ook ʼn baie groot verantwoordelikheid.
Ons moet laastens ook groot vrede ervaar in ons werk en nie ongesond daaroor bekommer nie. Daar staan in vers twee dat ons tevergeefs die brood van smarte eet, want God gee dit waarvoor ons werk vir sy geliefdes in hulle slaap. Baie van ons werk baie hard omdat ons baie angs het oor wat met ons gaan gebeur. Ons moet hard werk sodat ons kos en klere kan hê. Dit is waar, maar ons moenie met angs werk nie, want ons weet dat die Here die een is wat deur ons werk en op besonderse maniere vir ons sorg. Ons weet dat ons deur Christus kinders van die Here is. Ons weet dat ons nou deur Hom geliefdes van God is. Daarom weet ons dat ons Hemelse Vader alles vir ons sal gee wat ons nodig het. Hy kan dit vir ons doen en Hy sal vir ons voorsien. Dit beteken egter nie dat ons nie hard moet werk nie. Ons kan juis met vrede in ons harte hard werk tot eer van die Here, want Hy is die een wat vir ons sorg.
Daar is ʼn ander vertalingsmoontlikheid van vers 2, maar beide vertalings is geldig. Ander vertalings vertaal vers twee met die woorde “en Hy gee aan sy geliefdes slaap”. Die boodskap bly egter dieselfde. Ons kan met vrede in ons harte slaap omdat ons weet dat die Here aan ons, sy geliefdes, voorsien.
Slot
In Genesis 1:28 gee die Here vir ons die opdrag om te bewoon, te bewerk en te bewaar. In Psalm 127 leer die Here vir ons dat ons dit alles doen in afhanklikheid van Hom. As ons ons daaglikse werk met hierdie gesindheid benader, dan besef ons dat ons werk nie sinneloos is nie. Dan behoort ons werk nie vir ons so swaar te wees nie. Na die sondeval gaan die werk wat ons doen vir ons swaar wees, juis weens die sonde. As ons besef dat God ons op besonderse maniere in ons daaglikse werk gebruik en as ons ons werk benader met ʼn dankbare afhanklikheid van Hom, kan ons werklik met vreugde en vrede hard werk en ons kinders grootmaak tot eer van Hom.
Amen