Wie Is Ons?

Inligting

Die Gereformeerde Kerk Venterstad is ‘n unieke akkommoderende gemeente wat gelowiges uit alle denominasies en tale bymekaar trek om die liefde van God Drie-enig te ervaar. Getalle in die platteland het ons genoodsaak om vernuwend te gaan soek na groeigeleenthede vir die kerk en hierdie akkommoderende kultuur bied die wonderlike geleentheid om verskillende gelowiges bymekaar te bring en so die liefde van God uit te dra. Ons bly egter sterk gewortel in die gereformeerde tradisie van Skrifgetroue woordverkondiging en is baie dankbaar dat ons ‘n voltydse leraar het – tans die enigste gemeente in Venterstad met hierdie voorreg.

Die Gereformeerde Kerk Venterstad is ‘n aktiewe gemeente met ‘n positiewe gesindheid en wil aan die voorpunt bly om die kerk van alle eeue relevant vir alle mense in ‘n gebroke samelewing te hou.

Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind
- Kolossense 3:14

Ontstaan

In 1874 het die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Burgersdorp ‘n versoekskrif van ‘n aantal lidmate, wat gevra het dat hulle die stigting van ‘n nuwe dorp op Kareefontein ondersteun, behandel. Die kerkraad het nie kans gesien om so kort na die afstigting van Steynsburg weer ‘n groep lidmate te verloor nie en het nie dadelik hul medewerking gegee nie. ‘n Paar jaar later is die kerkraad egter in kennis gestel dat ‘n nuwe dorp daar gestig en ‘n aantal erwe al verkoop is. Daar was sewe erwe aan die gereformeerde kerk vir ‘n kerkgebou en pastorie geskenk en die hoop is uitgespreek dat daar spoedig ‘n gemeente gestig sou word.

Die lidmate in daardie buurt het om afstigting gevra en sake het toe reeds so ver gevorder dat die kerkraad dit nie meer kon keer nie. Die kerkraad het daartoe ingestem en die gemeente van Venterstad is op 16 Junie 1875 gestig. Ds. Dirk Postma het die kerkgebou, wat vandag nog in gebruik is, se hoeksteen op 19 Augustus 1876 gelê. Dié gebou is ‘n nasionale gedenkwaardigheid

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!
- Jeremia 29:11

Gemeente

Hier is drie onafhanklike gereformeerde gemeentes Venterstad, maar almal is welkom by mekaar se eredienste.  Die Gereformeerde Kerk Venterstad is die enigste gemeente in die land in dié besondere situasie:  om so ‘n naby verhouding te hê met twee gemeentes wat as sending-gemeentes ontstaan het.  

 

Die Gereformeerde Kerk Venterstad

het tans 70 lidmate, wat hoofsaaklik uit ‘n sterk landbougemeenskap afkomstig is, asook afgetrede lidmate wat in Oviston woonagtig is.

 

Die Gereformeerde Kerk Lyciumville

het ongeveer 90 bruin Afrikaanssprekende lidmate en word bedien deur middel van ‘n bedieningsooreenkoms, waarvolgens hulle geregtig is op 25% van die predikant van Venterstad se bedieningstyd.  

 

Die Gereformeerde Kerk Nozizwe

is isiXhosa-sprekend en het ongeveer 140 lidmate.  Die predikant van Venterstad preek elke maand (deur middel van ‘n tolk) in die gemeente en tree op as konsulent.

Hier in Venterstad is ‘n samehorigheidsgevoel wat ons gemeente spesiaal maak. Dit voel eerder soos ‘n groot familie as net lidmate wat Sondae saam in ‘n kerk sit. Daar is ware omgee, ware liefde en ook ware kennis en begrip vir mekaar. Die omstandighede waaronder ons hier bly, kan maklik ‘n negatiewe impak op inwoners hê, maar hoe wonderlik dat God dit juis gebruik om ons te laat besef hoe afhanklik ons van mekaar is.

Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.
- Efesiërs 2:20