Skriflesing: Lukas 22: 14 – 30
Fokusvers: Lukas 22: 15
Tema: Jesus Christus begeer om sy laaste ete saam met sondaars te eet. Het ons dieselfde begeerte in ons harte teenoor Hom?
Inleiding
Mense vra soms vir mekaar: “Wat sou jy wou eet, as jy geweet het dat dit jou laaste ete op aarde is?” En dan hoor ons hoedat daar verskeie geregte opgenoem word. Hoekom vra mense hierdie spesifieke vraag? Want ‘n ete is vir ons elkeen belangrik! ‘n Ete – veral jou laaste ete op aarde – is méér as net om vól te word. Om rustig saam met jou geliefdes te eet, is vir almal van ons baie spesiaal. Wanneer jy weet jy moet van iemand afskeid neem, dan is daardie laaste ete wat julle saam eet, baie besonders. Elke oomblik van daardie ete is vir julle kosbaar. Soveel emosie word aan ‘n ete gekoppel, geliefdes, en dit is heeltemal rég so.
Jesus Christus begeer om sy laaste ete saam met sondaars te eet
Regdeur die Bybel sien ons dat etes vir die mense belangrik was, want by etes gebeur daar méér as om nét fisies te eet. By etes word daar baie keer diep gepraat; daar word wysheid gedeel; daar word ernstig ge-onderhandel. By etes sien ‘n mens baie keer die persoon oorkant jou se diepste hárt raak. Ons sien die noodsaaklikheid én intimiteit van ‘n ete seker die dúídelikste raak by die ete van Jesus Christus en sy dissipels. Vir hierdie ete om plaas te vind, het daar noukeurige beplanning ingegaan. Die régte vertrek word deur Christus sélf uitgekies om hierdie ete te hou (Luk. 22: 1 – 13).
Die ete wat gehou word, is die Pasga of die Paasfees. Dit word ook die Fees van die Ongesuurde Brode genoem. Die vroeë Nuwe-Testamentiese kerk het steeds hierdie fees gevier, aangesien hulle ook Jode was. Hierdie fees het daarop gewys dat ‘n Verlosser vir die Joodse volk gebore sal word. Hierdie fees dui daarop dat daar, iewers in die toekoms, Iemand sal kom om die kinders van die Here uit al hulle ellende te verlos. En die tekens van hierdie fees was dat elke gesin ongesuurde brood en ‘n skaaplam, sonder liggaamsgebrek, moes voorberei. Elke huisgesin moes dan die bloed van hierdie lam aan hulle huise se deurkosyne smeer, sodat die Tiende Plaag hulle nie tref nie. Die Here het daardie nag elke huis getref deur hul oudste kind te laat sterf, maar die gelowige gesinne, wie bloed aan hul deurkosyne gehad het, se kinders het nié gesterf nie. Want die lam, wat geëet is, dien as betaling vir die oudste kind. Die lam het die prys betaal, wat die kind moes betaal – gaan lees gerus weer die verhaal in Eksodus 12.
Hierdie Fees van die Ongesuurde Brode is dan elke jaar deur die Jode gevier. Dit is dieselfde fees wat Jesus Christus en sy dissipels daardie aand gevier het. Natuurlik was Hy en die dissipels nie ‘n gesin nie – hulle was nie bloedfamilie nie – maar tóg verkies Hy dit om hierdie lááste Pasga saam met sy navolgers te vier. Vir Hom is hierdie twaalf manne egter soos broers uit dieselfde gesin, want Hy kyk dieper as genetiese ooreenkoms, geliefdes. Jesus Christus sien hulle geloof raak – en dít is wat hulle laat kwalifiseer as mede-broers van Hom. Hy besef dat hulle dalk nie hul herkoms in gemeen het nie, maar dat hulle vertroue in God en ywer vir Sý wil, hulle saambind. Hulle glo in dieselfde Almagtige, God. Hulle erken en bely elke dag sy nabyheid, sorg en onpeilbare liefde. En wanneer dít die geval is, kan die band van geloof selfs stérker wees as enige familieband, geliefdes.
En dit is waarom Jesus Christus sê dat Hy baie daarna uitgesien het om hierdie Paasmaaltyd saam met hulle te eet. Die Grieks druk dit uit dat Jesus Christus letterlik “met ‘n groot begeerte begeer het” om saam met sy dissipels te eet. Hy het met ‘n besondere sterk verlange gewéns om hierdie laaste ete saam met húlle, spesifiek, te eet. Ons almal weet hoe dit voel om só sterk na iets te verlang. Dit is, baie keer, ál waaraan ‘n mens kan dink. Jy begéér daardie een, spesifieke, ding. Jy húnker, met alles in jou, dáárna. Geliefdes, dít is hoe sterk Jesus Christus daarna gesmag het om saam met sy navolgers te eet. Want by hierdie ete sou hulle nie nét saam eet nie, hulle sou ook kosbare tyd saam spandeer. By hierdie ete gee Hy vir sy dissipels noodsaaklike inligting deur. Hy verkondig God se Woord aan hulle en deel sy besondere wysheid met hulle.
Geliefdes, ons Here, Jesus Christus, wys die dissipels daarop dat die Ou-Testamentiese Pasga in Hóm vervul word. Hý is die ware Lam van God Wie bereid is om met sy bloed te betaal – vir alle gelowiges se sondes. In ons fokusvers wys Hy hulle daarop dat Hy binnekort sal moet ly. Aan die kruis sal sy bloed vloei, en sy liggaam gebreek word as volkome betaling vir al hulle sondes. Hý is die volmaakte Lam, sonder liggaamsgebrek, wat met sy lewe betaal sodat al God se kinders vrygekoop kan word. Sý bloed is helder en sigbaar gesmeer aan die hout van die kruis.
In God-Drie-Enig se genade is die tekens van sy dood nie net vir die paar toeskouers op Golgota sigbaar nie. Nee, Hy laat alle gelowiges die tekens van sy bittere kruisdood sien! In die Here se genade is ons nie net toeskouers van sy betaling nie. Geliefdes, Hy laat ons daaraan deelkry! Op ‘n baie intieme manier. Met die instelling van die Nagmaal sê Hy dat die brood wat Hy breek sy liggaam is wat vir die dissipels gegee word. Hulle moet aan Hom en sy totale opoffering dink as hulle daarvan eet. En die beker wyn wat Hy skink is die Nuwe Testament wat in sy bloed beseël is. Hierdie woorde is vir elke gelowige geldig! Elke keer as ons Nagmaal gebruik, dan word ons herinner dat Jesus Christus werklik vir ons sondes aan die kruis gesterf het. So seker as wat ek die brood en die wyn sien en dit kan proe, so seker kan ek weet dat my persoonlike Verlosser daar aan die kruis gesterf het.
Natuurlik verander die brood en die wyn nie in die fisiese liggaam en bloed van Christus nie. Dit is wél tekens wat die Here in sy genade aan ons gee om ons geloof in Hom te versterk. Hierdie tekens van die brood en die wyn verséker ons dat die kruisdood van Christus ‘n wáre realiteit is. Wanneer ons dit met ál ons sintuie inneem, dan beséf ons dat die Heilige Gees ons só nou aan Christus verbind dat sý se lyding en gehoorsaamheid vir óns geestelike lewe geld (HK Sondag 29).
Die dissipels het hierdie deurbraak van God se openbaring nie dadelik verstaan nie. Hulle het nie verstaan dat Hy besig is om Homself op ‘n baie intieme met hulle deel nie. En daarom vra hulle onder mekaar wie die belangrikste aan Tafel is. Hulle is nuuskierig oor wie van hulle Jesus gaan verraai. Die een wil belangriker as die ander wees. Stil-stil oordeel hulle mekaar in hulle harte terwyl hulle saam daar aan tafel sit – ‘n sonde waaraan óns ook baie keer skuldig is.
Omdat Christus egter tot in hulle harte kan sien, gee Hy vir sy dissipels wysheid oor hoe hulle na mekaar moet kyk. Die sondige wêreld dink iemand is belangrik as hy/sy baasspelerig is. Die goddelose wêreld prys iemand aan wat gesag op ander mense afdwing (vers 25). Maar dan gee Jesus aan hulle die opdrag dat kinders van die Here nie ook só moet dink nie. Die een wat régtig belangrik is, is hy/sy wat in die wêreld se oë die geringste is. ‘n Christelike leier moet optree soos dié een wat hom/haar bedien. Jesus Christus deel nie net hierdie wysheid aan sy dissipels mee nie, Hy leef dit ook uit! Al is Hy hulle leier – al is Hy die Almagtige God sélf – sê Hy dat Hy onder hulle is soos die een wat hulle bedien. Johannes vertel in sy Evangelie hoe Jesus dan al die dissipels se voete gewas het daardie aand met die eerste Nagmaal (Joh. 13).
Het ons dieselfde begeerte in ons harte teenoor Hom?
Geliefdes, waarom het Jesus gekies om sy laaste ete saam met hierdie mense te eet? Hy besit dan alle mag en gesag in die hemel en op aarde! Hy kon saam met énige iemand sy laaste ete geëet het. Waarom juis hulle? Waarom juis hierdie sondige, oningeligte, mense? Want Hy het hulle innig lief, geliefdes. Al is hulle venynig teenoor mekaar – en al verdink hulle mekaar – sien Christus hulle raak as kinders van God. Deur die geloof word hulle één met Hom – al is hulle nie sy biologiese broers nie. Deur deel te hê aan die tekens van die Nagmaal en hulle gehoorsaamheid aan sy woorde, word die Nagmaal ‘n gesinsmaal tussen Jesus Christus en die gelowige gemeente (NGB Art. 35).
En dit is hoe die Nagmaal ons troos, geliefdes. Tydens die Nagmaal is ons net saam met ander gelowiges aan tafel nie, maar saam met God sélf. Die Here gee aan ons die voorreg om deel te wees van ‘n gemeente. Hy gee aan elkeen van ons ‘n plek waar ons kan behoort. ‘n Huis waarin ons veilig kan woon. Dit is alleen by die kérk, waar ek die gevoel van ‘n huisgesin wat vir my omgee, kan kry. Dit is hier by die kerk – en dan verál tydens Nagmaal – waar ek saam met eendersdenkende gelowiges kan saamkom om in hulle teenwoordigheid te wees. Maar, geliefdes, wat ons verál dankbaar maak, is dat God op ‘n baie besonderse manier hier teenwoordig is deur sy Gees. Dit is die werking van die Heilige Gees wat my laat besef dat die mense wat rondom my sit, my mede-broers en mede-susters in die geloof is. Die mense waardeur ek omring is, is my geestelike ouers of geestelike kinders. Deur die Here se genade, is ek deel aan ‘n geestelike familie, want ons word saamgevoeg deur die band van geloof.
En dit is vir my ‘n reuse voorreg én ‘n troos – verál as ek verlang na my eie kinders dáár in die buiteland. Óf na my ouers wat reeds gesterf het. Óf na my geliefde wat nié meer langs my in die bank sit nie. Deur die Here se wonderlike genade gee Hy aan my ‘n geestelike gesin – ‘n plek waar ek kan behoort.
Wanneer jy dan binnekort kom Nagmaal gebruik, kyk vir ‘n oomblik na die mense oorkant jou – hoe voel jy oor hulle? Sien jy hulle as deel van jou geestelike huisgesin? Het jy hulle wérklik lief? Sien jy daarna uit om saam met hulle aan tafel te sit? Belangriker nog: sien jy uit om saam met jou Hére aan tafel te sit? Begeer jy met ‘n stérk begeerte daarna om aan sy Offer vir jou, deel te hê?
Slot
Jesus Christus het met ‘n sterk begeerte daarna gehunker om sy laaste ete op aarde saam met sondaars, soos óns, wat vandag hier is, te eet. Hy doen dit omdat Hy besef dat hulle kosbaar in sy Vader se oë is. Kort daarna is Hy selfs bereid om vir hierdie sondaar-mense te sterf. Hy doen dit omdat Hy God se uitverkore kinders innig liefhet.
Hoe laat hierdie liefde van Christus jou vanoggend voel? Wek dit jou tot wederliefde – óók teenoor jou naaste wat langs jou aan die Nagmaalstafel sit? Of voel jy steeds iets van ‘n jaloesie of vyandigheid teenoor hulle?
Die Here gee aan ons die wonderlike voorreg om aan ‘n gemeente te behoort – Hy maak almal van ons een huisgesin. Die vraag is: sien ons mekaar wérklik só? Amen.