Skrifgedeelte: 1 Samuel 2: 12 – 17; 22 – 30; Mattheus 7: 7 – 11; Kolossense 3: 18 – 21
Fokusverse: 1 Samuel 2: 29(b) en Mattheus 7: 11
Tema: Ons hemelse Vader leer ons aardse vaders hoe om pa te wees tot Sy eer
Inleiding
Tydens verlede week se Nagmaal het ons opnuut besef hoe intiem die bedoeling van die Nagmaal is. Ons het die wonder beleef van Jesus Christus wat Homself met ons elkeen déél hier aan tafel. Al is ons nie direkte afstammelinge van Hom nie, sien Hy sy navolgers as sy mede-broers en mede-susters. Deur die werking van die Heilige Gees maak Hy ons deel van ‘n geestelike familie waarvan Hy die Hoof is. En dan vra Hy van ons om op hierdie manier na mekaar te kyk – al is ons dalk nie bloedfamilie nie, kan ons mekaar beskou as ‘n Godgegewe familie.
Wanneer ek dan moedeloos of geïrriteerd of selfs woedend teenoor iemand in die gemeente is, dan word ek herinner dat ek teenoor daardie persoon geduldig moet wees. Ek behoort te besef dat daar ‘n réde is dat ek en daardie persoon deur die Here deel gemaak is van dieselfde geestelike familie. Vir hierdie rede is daardie persoon vir my belangrik, en daarom hanteer ek hom/haar met die nodige agting en respek – sélfs al verskil ons dalk van mekaar.
Die voorbeeld van Eli
Wanneer die Here my egter met my eie gesin seën, dan het ek selfs ‘n gróter verpligting teenoor hulle. En dit is presies waarna ons kyk in hierdie kort reeks-preke oor die gelowige gesin. Vanoggend kyk ons dan spesifiek oor hoe die pa van die huis behoort op te tree. Deur net na hierdie drie Skrifgedeeltes te kyk, kan ons reeds agterkom wat God se wil vir ons, as pa’s, is.
Die eerste gedeelte wat ons saamgelees het, handel oor die priester, Eli, en sy twee seuns, Hofni en Phineas. In daardie tyd was Eli die priester van die volk, Israel. In die Ou-Testament het priesters die funksie gehad om te dien as middelgangers tussen God en die gelowiges. Die priesters het gewoonlik die offers, wat die Here beveel het, namens die gelowiges geoffer. Hulle is uitgekies vir hierdie besondere amp. Nie enige iemand kon doen wat ‘n priester gedoen het nie. Want hierdie priesters is deur die Here self aangestel om die volk se sondes te reinig met die offers wat hulle bring. Eli het dus ‘n baie groot verantwoordelikheid teenoor die mense van Israel gehad. En Eli se twee seuns deel in hierdie verantwoordelikheid, want óók húlle is priesters (1 Sam. 1: 3).
Voordat die priesters formeel in ampte aangestel is, het die leier van die familie/huisgesin die offers namens sy eie huisgesin geoffer (vgl. o.a. Gen. 12: 7-8; 13: 18, 22; 31: 54). Dit was die pa van die huis wat hierdie spesifieke taak gekry het. Hý moes vir sy gesin intree by God en Hom smeek om die sondes van sy gesin te vergewe. Daarom is dit dan ietwat ironies dat Eli én sy seuns priesters is, aangesien dit duidelik is dat hulle – al drie – baie sondes het.
Wanneer ons egter die geskiedenis ken is dit nié so vreemd nie, geliefdes. Eli en sy seuns leef in die tyd van die Rigters. Hulle leef in die tyd waar elkeen gedoen het soos hy/sy goedgedink het. “Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here…” Dit is ‘n refrein wat ons regdeur die boek, Rigters, hoor. Die volk het nie ‘n permanente leier wat hulle gerééld na die wil van God kan wys nie.
Dit is dan in hierdie moeilike en onstabiele tyd wat Eli en sy seuns priesters is. Daarom word dit van Eli – verál – verwag om die volk, en dan in die besónder sy seuns, na die Here toe te lei. Hy is ‘n gelowige – hy kén die Here – hy staan in ‘n amptelike posisie in die Here se diens – en daarom is hý die man wat die geestelike leiding behoort te gee – as die volk se priester – maar óók as die pa van sy twee seuns.
Die skrywer van 1 Samuel maak geen geheim daarvan dat Hofni en Phineas groot sondaars was nie. In 1 Samuel 2: 12 lees ons: “Maar Eli se seuns was slegte mense/deugniete; hulle het nie met die Here rekening gehou nie.” Wanneer Hofni en Phineas dinge gedoen het, dan het hulle nie die Here daarin erken nie. Verder lees ons dat die Ou-Testamentiese priesters sekere regte gehad het. Al moes hulle namens die volk sekere offers bring sodat die mense se sondes vergewe kon word, kon die priesters ‘n gedeelte van daardie offer vir hulleself gevat het. Sodra die vleis van die offer begin kook het, kon die priester sy slaaf stuur om met ‘n vurk in die pot vleis te steek. Alle vleis wat die vurk dan raaksteek en optrek, kon die priester vir homself gevat het. Die priester was gerégtig op hierdie klein gedeelte van die offer.
Maar wat doen Hofni en Phineas? Hulle wil ál die offervleis vir hulsélf hê! Hulle wil nie wag dat die vleis eers van die bene afkook nie – hulle soek die rou vleis want hulle wil dit op hulle éie manier gaarmaak. Hulle verkies gebraaide vleis in plaas van kookvleis (vers 15). Hulle eis ook ál die vleis in plaas van net ‘n gedeelte van die vleis.
Geliefdes, hierdie twee priesters het geen respek vir God en sy voorskrifte gehad nie. Hulle is geregtig op niks rakende hierdie offer nie! Dit is juis iets wat die gelowiges vir die Here opoffer – álles behoort die Almagtige toe te kom en nié die dienaars nie! Die Here dink egter aan sy priesters. Hy gee ‘n gedeelte van die vleis vir hulle in sy genade, maar dit is nie vir Hofni en Phineas genoeg nie.Hulle pers die ander priesters af om hierdie offervleis in die hande te kry. Hulle dreig hul mede-priesters – selfs met die dóód – sodat húlle die vólle offer vir hulsélf kan vat.
Hierdie sonde van Hofni en Phineas was baie groot in die Here se oë. Omdat hulle met soveel minagting die offers aan die Here hanteer het, het die res van die volk ook húlle respek vir die offer-seremonie verloor. Dit is egter nie ál openbare sonde wat hierdie twee seuns van Eli gedoen het nie, geliefdes; hulle het óók met die tempel-prostitute gemeenskap gehad! Hulle het géén respek vir dit wat God eis óf selfs sy heerlike teenwoordigheid nie!
En wat is Eli se reaksie op die sonde van sy twee seuns? Hy spreek hulle aan, maar báie vaag en báie ligtelik. As hoof van die huis neem hy nie sterk genoeg standpunt in om sy kinders se optrede te bestraf nie. Hy misluk nie net as priester nie, maar ook as pa, deur nie sy primêre roeping te gehoorsaam nie. Geliefdes, Eli neem nie hierdie twee seuns van hom na die voorskrifte wat Gód daar gestel het nie! Hy herinner hulle nié aan wat God se wil is, en wys hulle nié in hoe ‘n groot mate hulle buite God se wil optree nie. ‘n Ware leier van die gesin sal in elke situasie sy kinders na die Hére toe wys, geliefdes. ‘n Pa sal die steunpilaar van die huis wees en vir sy kinders veilige grense daarstel waarbinne hulle kan leef. Hy sal met God se Woord vervul wees en álles wat hy vir sy kinders sê, op die inhoud van die Bybel baseer.
Maar ons het dan gehoor dat Eli al baie oud was. Kan ons hom nie om hierdie rede verskoon nie? Kan ons hom nie oorsien omdat hy ‘n bejaarde is nie? Hy het dalk nie meer die energie om teen sy kinders se wil in te gaan nie? Geliefdes, ouderdom kan nooit ‘n gelowige se verskoning wees nie! Al is ek hóú oud, het ek die verpligting om my kinders in die regte rigting te stuur. As ek die voorreg het om ‘n pa/oupa te wees, dan het ek ook die verantwoordelikheid om my kinders en kleinkinders met my woorde en optrede te beïnvloed. Die Here roep ons om áltyd met ons kinders en kleinkinders te praat oor wat vir die Here goed en aanneemlik is. “Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut. 6: 7). Natuurlik vorm jou kinders hulle eie huisgesinne as hulle trou, maar as pa en oupa – as ma en ouma – bly dit ons plig om hulle aan die Here se wil te herinner – vir álmal van ons se lewens.
Hierdie sin wat ons sopas gehoor het, is uiters belangrik, geliefdes. Ons moet op die régte manier met ons kinders oor die Here praat. Ons moet die regte ingesteldheid inneem wanneer ons hulle na die Here se wil toe lei – en ons moet sélf ook luister wat God se wil vir elke gelowige is. Ek kan nie op ‘n bombastiese manier sekere dinge op my kinders afdwing nie – veral nie as hulle reeds hulle eie gesinne het nie – maar ek kan óók nie net stilbly as ek sien hoe hulle op die afgrond speel nie.
Die voorbeeld van Christus
En daarom word ons ook aan die woorde van Kolossense 3: 21 herinner: “Vaders moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.” Geliefdes, soos ons sien het ons, as ouers, besondere wysheid nodig oor hoe ons ons kinders van die Here leer. Aan die een kant moet ons reguit wees met wat voor die Here reg en verkeerd is, maar aan die ander kant mag ons nooit té hoë eise aan hulle stel wat hulle moedeloos maak nie. Dit is duidelik dat ons, as geestelike leiers van ons kinders, sélf leiding nodig het, geliefdes. Leiding van Iemand wat hoër gesag as ons het.
En daarom kyk ons vanoggend na dít wat Jesus Christus sélf vir ons leer. In ons tweede fokusgedeelte leer Jesus Christus sy dissipels met watter ingesteldheid hulle moet bid. Wanneer hulle tot die Ware God bid, dan kan hulle gebedsverhoring verwag. En omdat hulle tot hulle Váder bid kan hulle goeie gawes van Hom verwag wat Hy in sy groot liefde aan hulle gee. Al handel hierdie gedeelte grotendeels oor gebed, kan ons ook iets van ouerskap hieruit leer. Maar, geliefdes, ons leer verál iets oor ons verhouding met ons Hemelse Vader in hierdie gedeelte.
Jesus Christus sê dat ons, as onvolmaakte ouers, net die béste vir ons kinders wil gee. Ons sal nooit iets nutteloos, soos ‘n klip, vir hulle gee as hulle van ons brood vra nie. Ons sal ook nooit iets lewensgevaarlik, soos ‘n slang, vir ons kinders gee as hulle van ons iets voedsaam, soos ‘n vis, vra nie. Jesus Christus troos ons met sy woorde deur te sê dat, as óns, wat gebroke sondaars is, goeie dinge vir ons kinders wil gee, hoeveel te méér sal ons volmaakte Vader nie vir ons die béste wil gee nie?
Wanneer ek, as kind, dalk voel dat ek deur my ouers te nagekom is, dan kan ek getroos word deur te wéét dat my Hémelse Vader my nooit sal teleurstel nie. En as ek, as ouer, en dan as pa – spesifiek – voel dat ek nie aan my kinders se wense en begeertes kan voldoen nie, dan kan ek wéét dat hulle ‘n Hemelse Vader het, wat vir hulle soveel méér kan gee as wat ek ooit sal kan. Ja, geliefdes, ons Hemelse Vader gee vir elkeen van sy kinders net die béste wat daar is. En dit beteken nie dat Hy ons met aardse dinge soos rykdom of sukses of ‘n goeie opvoeding seën nie. Nee, wanneer die Here die beste vir sy kinders gee, dan beteken dit dat Hy aan ons die Ewige Lewe gee!
En om dit vir ons te kon gee, moes Hy sy Seun vir ons gegee het – die Beste en mees Volmaakte Geskenk wat ‘n mens kán kry, geliefdes. In ons Vader se groot liefde vir ons offer Hy Jesus Christus op, sodat ál sy uitverkore kinders ewig by Hom kan wees. Dít is hoe wáre liefde teenoor jou kinders lyk, geliefdes.
Slot
In die Here se genade leer Hy ons, regdeur sy Woord, hoe ons teenoor ons kinders behoort op te tree. As Hemelse Vader wys Hy ons hoe totale opoffering vir ons kinders behoort te lyk. Hy wys ons hoe ware liefde vir ons kinders behoort te lyk. Deur die werking van die Heilige Gees gee Hy aan ons insig oor hoe om prakties met ons kinders te werk. Hy leer aardse pa’s om nie gedurig fout te soek by hulle kinders nie, maar óók om nie hulle foute mis te kyk en te ignoreer nie.
Ons word vanoggend toegerus oor hoe om leiding in ons huisgesinne te neem. Mag ons, as gelowige pa’s, ons kinders reg hanteer, geliefdes. Mag ons moeite doen om – élke dag – ons kinders na die Ware God toe te lei. Amen.