Skrifgedeelte: Efesiërs 6: 1 – 9
Fokusvers(e): Efesiërs 6: 1
Heidelbergse Kategismus Sondag 39
Tema: God maak my sý kind en gee aan my aardse ouers deur wie Hy my regeer
Inleiding
Ons leef in die eeu van stakings, opstande en betogings. Dit is glad nie ‘n vreemde verskynsel as ‘n mens ‘n groep mense sien wat saamdrom en voor ‘n gebou betoog nie. Hierdie mense dink dat – as hulle meer mense is, en ‘n groter lawaai maak – dan sal iemand vinniger na luister. Deesdae is lawaai ook nie meer genoeg nie – betogers breek en brand af so ver as wat hulle gaan – ons het dit onlangs hier, in ons eie dorp, beleef.
God maak my sy kind
Dit is opvallend om te sien dat die meeste van hierdie betogers gewoonlik jóngmense is. Met ywer en ambisie staan hierdie mense op vir iets waaroor hulle verontreg voel. Baie keer kom hierdie jongmense “sommer maar net” in opstand – sonder dat hulle weet waaroor dit wérklik gaan.
Geliefdes, waarom is dit so? Wat het gebeur dat ons samelewing so opstandig begin word het? Wie se skuld is dit? Aan die een kant is die opstandige mense skuldig, want hulle is nie bereid om onder énige gesag te buig nie. Aan die ander kant is dié mense wat gesag moet uitoefen óók skuldig. Plaaslike owerhede is soms bang vir hierdie massa mense en soms bloot onwillig om énigsins teen hulle op te tree. Soos ons kan agterkom, is ménse – oor die algemeen – skuldig. Ons kan nooit die skuld vir Gód gee, wanneer ménse chaos veroorsaak nie. Selfs in tye van chaos, blý Hy in beheer van álles hier op aarde. Die hoofrede waarom mense nie gesag wil uitoefen óf gesag wil aanvaar nie, is ongehoorsaamheid en ongeloof. Omdat hulle geen respek vir God het nie, respekteer hulle ook nie dié wat bó hulle aangestel is nie. Omdat baie mense nie aan die Here se voorskrifte vashou nie, sien hulle nie die punt in om wet en orde in die land te handhaaf nie.
Wanneer iemand “gesag” het, beteken dit dat hulle die rég het om sekere bevele te gee. Hulle het outoriteit én die mag om oor iets/iemand te regeer. Mense wat dan onder hierdie gesagvoerders staan, het die plig om hulle te gehoorsaam. Alle gesag kom van God af – dit is Hy wat dit ook gee aan diegene wie Hý wil (vgl. Matt. 28: 18 en 19). Wanneer die wêreld dan nie gesag wil aanvaar nie, of nie hulle gesag op ander mense wil uitoefen nie, dan word die gesag van Gód aangetas. Want wat hierdie mense eintlik sê, is dat hulle nie omgee waar die gesag vandaan kom of wat God se bedoeling daarmee is nie.
Geliefdes, dit is met hierdie denke wat ons elke dag beïnvloed word. Ons maak ons kinders groot in ‘n wêreld wat byna geen respek vir gesagvoerders óf die God wat gesag gee, het nie. Hoe moet ons maak sodat ons en ons kinders van hierdie tipe gedrag gespaar word? Wat kan ons doen sodat ons nie naderhand óók soos die ongelowige wêreld optree nie? Die belangrikste ding wat ons as kinders, en as ouers, kan doen, is om weer ons ware identiteit te besef. Wat sê ons fokusvers en ons Belydenis? Efesiërs 6: 1 sê: “Kinders, wees in die Here, aan julle ouers gehoorsaam…” En ons bely dat God ons “deur ons ouers regeer.” Wat beteken dit as ons hoor dat ons “ín die Here is”? En wat impliseer ons as ons bely dat God ons “deur ons ouers” regeer?
Geliefdes, dit beteken dat ons aan die Here behoort! Deur die Here se genade is ons in die Here ingelyf. Dit is slegs in God-Drie-Enig waarin ons kan wees – dit is met geen aardse verhouding of persoon moontlik nie. Dit is slegs die Hére wat in ons kan woon. Dit is alleen Hý wat ons so innig liefhet dat Hy, deur sy Gees, in ons kom woon. Dit is slegs Hý wat totaal en al oor ons lewe beslag kan neem, en ons totaal en al in sy besit kan neem. En dit is presies wat met ons gebeur tydens ons bekering en wedergeboorte. Sodra die Here aan my geloof skenk om in Hóm te glo, woon Hy ten volle in my. Die Heilige Gees veránder ons sondige ingesteldheid en laat ons ‘n geesvervulde lewe lei. Wanneer die Here in my woon, beteken dit dat Hy ook oor my hart en my gedagtes heers. Nadat ek tot bekering gekom het, word ek nie meer deur my eie begeertes gedryf nie – ek word deur die Heilige Gees gedryf.
Bekering is ook nie noodwendig aan ‘n dag en datum gekoppel nie. Die meeste van ons weet nie presies wanneer ons tot geloof gekom het nie – en dit is heeltemal normaal. Soos ek grootgeword het, het ek van die Here geweet. Die meeste van ons het die Here leer ken soos ons ons ouers en ons broers en susters leer ken het – vandat ons kan onthou, weet ons van sy bestaan en wat Hy vir ons, as gesin, beteken. Soos ons grootgeword het, is ons geleer dat Jesus Christus ons van ons sondes verlos het. Dat Hy Mens geword het en onder ons kom woon het. Dat Hy geen sonde gehad of gedoen het nie – en dat Hy daarom kon betaal vir die sondes wat óns doen. Omdat Hy totaal en al rein en volmaak is, tree Hý vir ons in. Omdat Hy Almagtig is, is dit alleen Hý wat God se oordeel in ons plek kon verduur. Aan die kruis sterf Hy om ons los te koop, maar Hy staan ook uit die dood uit op om ons met God te verenig.
Deur sy wonderlike genade maak Hy van ons “kinders van God”. Hy verander ons identiteit, tot só ‘n mate dat God ons nie beskou as verwerplike sondaars nie, maar as sy aanneem-kinders wat Hy baie liefhet. Christus belowe aan ons dat Hy, na sy Hemelvaart, weer sal kom ons ons na Hom toe te neem (Joh. 14: 1 – 4). Daar, in die hemel, sal ons éwig tuis wees, want hierdie wêreld is maar net ‘n tydelike woonplek. Ons wáre burgerskap is in die hemel (Fil. 3: 20). Ons ware identiteit is kinders van God en nie kinders van hierdie sondige wêreld nie.
God regeer oor my deur my aardse ouers
Al hoor ons nou weer die wonderlike genade nl. dat ons “in” Christus is en dat Hy ons deur sy Heilige Gees regeer, is dit ook só dat Hy – in hierdie lewe – aan ons aardse ouers gee. En hierin sien ons sy vérdere genade raak, geliefdes. Hy bring my nie net tot bekering en maak van my sy kind nie – Hy gee ook fisiese, aardse, ouers aan my in sy onbeskryflike liefde. Omdat God alwetend is – en ons swakheid ken – wéét Hy dat ons ons iemand fisies en sigbaar nodig het wat sý liefde aan ons prakties kan maak.
Daarom beveel Hy alle kinders om hulle aardse ouers te respekteer en aan hulle gehoorsaam te wees. Wanneer ons in die Tien Gebooie hoor dat ons ons ouers moet eer, dan bedoel die Here daarmee dat ons onsself aan die gesag van ons ouers sal onderwerp. Dit beteken dat die Here wil hê dat ons moet luister as ons ouers praat, en dat ons sal doen wat hulle van ons vra. Hierdie opdrag van God geld vir alle kinders wat nog in hul ouers se huise woon, maar dit geld – tot ‘n mate – selfs daarna. Al is ek getroud en het my eie huisgesin, word dit stééds van my verwag om my ouers en skoonouers se opinies te respekteer. Dit is ook dán wanneer ons, as ouers, ons volwasse kinders se huishoudings moet begin respekteer. Ek as ouer moet die wysheid hê om te weet wat om dán vir my kinders te sê en nié te sê nie.
Kinders, natuurlik maak ons aardse ouers soms foute en is hulle maar net mense. Maar wanneer ons besef dat die Here hierdie spesifieke mense wil gebruik om my deur die lewe te lei, dan maak dit dinge vir my makliker. Ons bely dat ons met ons ouers se gebreke geduld moet hê – die Here verwag van my, as sy kind, om altyd kalm te bly – al maak my ma en pa foute. Al maak my ouers en skoonouers soms die verkeerde keuses, gee dit ons nié die reg om teen hulle in opstand te kom nie. Die hoofrede vir my geduld en liefde teenoor my ouers, is omdat ek besef dat die Hére my deur hierdie mense wil lei en regeer. Wanneer ek dan teenoor my ouers opstandig raak en hulle met minagting behandel, dan beteken dit dat ek – in werklikheid – teenoor die Hére opstandig raak.
Dieselfde geld vir álmal wat oor ons aangestel is – so bely ons in Heidelbergse Kategismus Sondag 39. Ons moet álle mense wat oor ons aangestel is, eer en respekteer. Dit sluit my onderwyser by die skool ook in. Omdat hy/sy deur die Hére in my lewe geplaas is, luister ek wat my onderwyser vir my sê. Soos ons weet, geld hierdie beginsel ook vir die regering én my werkgewer. Omdat die Here, sélf, my deur hulle regeer, is ek aan hulle gehoorsaam. Daarom handel Efesiërs 6 nie nét oor kinders wat aan hulle ouers liefde en trou moet bewys nie, maar óók oor werknemers wat getrou behoort te wees aan hulle werkgewers.
Die gelowige werknemers moet hulle werk met ‘n lus en ‘n ywer aanpak en met getrouheid hulle werk afhandel. Omdat hulle aan die Here behoort, sal hulle aan Hóm dink wanneer hulle werk, en besef dat hulle Hom eer in hulle werk (vers 7). Ons mag nooit mense, soos ons ouers of ons werkgewers of aardse leiers verafgod nie. Ons moet altyd onthou dat hulle net ménse is wat deur die Here gebruik word. Mag ons, daarom – altyd – die Ware God raaksien wat agter hulle staan en ons deur hulle regeer.
Iets wat verder baie belangrik is, is dat hierdie mense nooit hulle gesag mag misbruik nie. Wanneer enige iemand – selfs my ouers – van my iets vra wat teen God se Woord ingaan, dan moet ek dit weier. Wanneer my onderwyser of my werkgewer van my iets eis wat lynreg in stryd met God se wil is, dan geld die woorde van Handelinge 5: 29: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense.” Dit is egter ál wanneer ons in opstand mag kom, geliefdes. Slégs wanneer iemand iets op ons afdwing wat teen God se heilige wil indruis, en nie sommer maar nét wanneer ons oor iets ongelukkig is nie. En dit is presies wat ons van die sondige wêreld onderskei, geliefdes.
Dit is, eerstens, in ons ouerhuise waar ons leer Wie God is, en dat ons anders as die wêreld behoort te wees. Dit is my ma en pa wat my leer dat ek nie onder groepsdruk moet val en saam met die breë stroom moet beweeg nie. Wanneer my ouers my leer hoe ‘n gelowige in die samelewing moet optree, dan kan ek só dankbaar wees. In die Here se groot genade gee Hy aan my fisiese mense wat my leer wat sy wil vir my lewe is.
Jou ouers het jou lief en tree tot jou beste belange op. Álles wat hulle doen, doen hulle omdat hulle jou liefhet – al dink jy nie altyd so nie. Respekteer hulle daarom, en wees geduldig met hulle wanneer hulle, nou en dan, ‘n fout maak. Sien eerder jou Hemelse Vader raak – Hy wat volmaak is, en jou nóóit sal teleurstel nie.
Slot
Deur die Here se onbeskryflike genade, verander Hy ons identiteit. Hy kies ons aktief uit om sý kinders te wees. Hy koop ons vry met die bloed van sy Seun om aan Hóm te behoort. Hy verander ons harte deur sy Gees en kom woon in ons. Deur die geloof word ons in die Here se genade ingelyf. En daarom verwag God van ons dat ons ánders as die wêreldse kinders sal wees, wat so maklik in opstand kom. Ons word opgeroep om aan dié wat oor ons aangestel is, respék te bewys en hulle vir hulle posisie te eer. Ons, as God se kinders, word opgeroep om ons eie ouers innig lief te hê en nooit opstandig teen hulle te word nie.
Mag ons, as gesinne, mekaar respekteer en mekaar in liefde verdra vir die kort rukkie wat ons saam is. Amen.