Handelinge 12: 1 – 11

Skrifgedeelte: Handelinge 12: 1 – 11

Fokusverse: Handelinge 12: 10 en 11

Tema: God verlos sy kinders en stel hulle in staat om volheid vir Hóm te leef

Inleiding

Wanneer laas het jy die uitdrukking: “Laat Gods water oor Gods akker loop” gehoor? Kinders, ‘n mens sê dit wanneer iemand maar net terugsit en kyk hoe die lewe – amper soos ‘n fliek – voor hom/haar afspeel. Wanneer iemand bv. klaar matriek geskryf het, maar nie aansoek vir werk doen nie, maar eerder wag dat iets vir hulle in plek val, dan sal ons dit sê. Ons sê dit ook wanneer iemand bv. sien hoe hul diere se gesondheid agteruitgaan, of hoe hulle skaap gevang word, maar niks daaraan doen nie. “Laat Gods water oor Gods akker loop.” Ons gebruik hierdie uitdrukking wanneer mense net terugsit en niks aan hulle omstandighede doen nie.

God verlos sy kinders

Hoeveel van ons, mense, leef nie met hierdie ingesteldheid nie? Daar is baie mense wat só onbesorg deur die lewe gaan. Ons almal ken iemand wat homself/haarself nie veel steur aan dit wat ons so maklik sou ontstel nie. Is hierdie mense dalk meer gelowig as ons? Verstaan hulle dalk hoe die lewe werk? “Ons lees mos in die Bybel dat ons ons nie moet ontstel oor die dag van môre nie (Matt. 6: 19 – 34) – God is mos in beheer van alle dinge, Hy sal my situasie verander.” Ék hoef niks te doen nie, Gód sal alles vir my in plek laat val”, of hoe?

Geliefdes, om hierdie vraag te beantwoord, kyk ons vanoggend na hierdie kort, maar kragtige, boodskap uit Handelinge 12. Soos ons in die vorige elf hoofstukke gesien het, is die Nuwe-Testamentiese kerk besig om stelselmatig uit te brei. Eers in die stad, Jerusalem, daarna in die provinsie, Judea, dan in die gebied, Samaria, en daarna tot in die uithoeke van die wêreld (Hand. 1: 8). Die Evangelie van Vrede word regoor hierdie hele gebied versprei.

Daar waar daar sinvolle werk vir die Here gedoen word, juis dáár werk die duiwel die hardste. Koning Herodes probeer die Nuwe-Testamentiese kerk heeltemal uitroei. Hy fokus op die mense wat die Evangelie effektief versprei – die apostels. Ons lees dat hy vir Jakobus laat doodmaak en vir Petrus in die tronk laat gooi. Dit is ‘n ander Herodus as wat Jesus Christus, saam met al die ander Joodse seuntjies, wou laat doodmaak toe Hy ‘n baba was (Matt. 2: 13). Hierdie Herodus is Herodus die Grootte se kleinseun, en hy het dieselfde wreedheid teenoor die Christene van sy oupa geërf. Die apostels het nie net dieselfde tipe vervolging en lyding as Jesus Christus deurgemaak nie, hulle is ook in dieselfde tyd van die jaar verhoor. Dit was tydens die Fees van die Ongesuurde Brode, of die Paasfees. Dit is in hierdie tyd – wat vir die Jode so belangrik is – wat die heidene die Jode so wreed vervolg het. Dit was Herodus se plan dat Petrus net vir ‘n kort tydjie in die tronk sou wees, en daarna, soos Jesus Christus, in die publiek tereggestel sou word. Ons Verlosser is ook tydens die Joodse Paasfees gevange geneem, verhoor en tereggestel. Die apostels is dus nie nét op dieselfde wyse as hulle Leermeester behandel nie, maar óók in dieselfde tyd as Jesus Christus verhoor.

Dit is dan tydens hierdie Joodse feestyd dat Petrus in die tronk was. Omdat die Romeinse regering nou al teen dié tyd gesien het dat die gelowiges bomenslik bewaar word, stel Herodes strenger maatreëls as gewoonlik in. Om te verhoed dat Petrus op ‘n manier sou ontsnap, of een van sy mede-gelowiges hom sou bevry, beveilig hy Petrus se tronksel. Hy laat ‘n groep van vier soldate hierdie tronksel van Petrus om die beurt bewaak. Hierdie wagte moet regdeur die dag en nag wakker en paraat bly, sodat hulle geen beweging van die apostel mis nie. Ons lees in vers 6 hoe hierdie vier permanente soldate oor Petrus wag gehou het: hy het letterlik tussen twee soldate geslaap en daar was ook twee wagte voor die tronksel se deur. Verder was hy met kettings geboei – menslik gesproke was daar dus géén wegkomkans vir Petrus nie. 

Maar geliefdes, niks is vir God onmoontlik nie! Soos ons nou al in byna die hele boek, Handelinge, gesien het, is die Almagtige by magte om soveel meer te doen as wat ons ooit kan indink. En daarom is dit vir die Here moontlik om sy dienaar uit hierdie uiters moeilike situasie te bevry. Soos ons weet is dit egter nie net uit moeilike situasies waaruit God sy kinders bevry nie. Sy mag is nie slegs tot fisiese redding beperk nie, maar di strek selfs tot geestelike redding. Regdeur die Bybel sien ons hoe God sy kinders, elke keer, in hul nood uitred. In sy groot liefde verlos God-Drie-Enig van hulle ellende en nood. En dit gee aan ons troos, veral wanneer ons moedeloos voel en voel asof ons geen hoop in hierdie lewe oor het nie.

Maar wat ons verál troos, is dat God ons van ons groot vyand – die sonde – verlos. Deur Jesus Christus, die Volmaakte, wat deur ‘n wêreldse regter tot die dood toe veroordeel is, word ons van al ons sonde en ongeregtigheid verlos. Al is Hy die Ewige God, is Hy bereid om Méns te word en na sy mensheid te sterf as betaling vir al die kere wat ons ons doel hier op aarde mis. Nadat Hy, vir geen rede, gemartel word blaas Hy sy laaste asem uit om ons, swakke mense, met God te versoen. Omdat Hy egter nooit sy Godheid verloor het nie, oorwin Hy die dood en staan na drie dae uit sy graf op. Daarna vaar Hy triomfantlik na die hemel toe op nadat Hy die sonde en die dood oorwin het. Omdat ons, deur die geloof, in Hom ingelyf is, kry ons ook hieraan deel, geliefdes. Ook óns word, deur Hom, van alle sonde en boosheid verlos. En ook óns ontvang die wonderlike sekerheid van die Ewige Lewe!      

God stel sy kinders in staat om volheid vir Hom te leef

En dit is aan hierdie vaste sekerheid waaraan Petrus vasgehou het terwyl hy daar in die tronk gesit het. Ook die gelowige gemeente het in God se almag en sy sorg bly vashou, al word hulle geestelike leiers, die een na die ander, deur die ongelowige regering mishandel en vermoor. In Handelinge 12: 5 lees ons hoe die gemeente aanhoudend vir Petrus gebid het terwyl hy in die tronk was. Al het hulle nie geweet hoé nie, het hulle tóg vasgehou aan die moontlikheid dat God – hom op ‘n manier – kan bevry.

In die paar verse wat volg, hoor ons dan hoe die engel van die Here aan Petrus verskyn het en vir hom die opdrag gee: “Staan gou op!” Op daardie oomblik het die boeie, waarmee Petrus vasgemaak is, van sy hande afgeval. Die engel gee toe vir Petrus ‘n verdere opdrag om sy klere aan te trek en hom te volg. Lukas sê dat Petrus nie dadelik besef het dat die Engel besig was om hom te bevry nie. Dit het vir Petrus gevoel asof hy ‘n gesig of ‘n droom sien. Afgesien van die twee wagte wat langs Petrus geslaap het, is hulle verby die eerste wag, verby die tweede wag, en uiteindelik by die tronk se ysterdeure wat na die stad toe lei (vers 10). Hierdie deure het vanself oopgegaan, en sodoende kon Petrus en die engel sonder moeite daar deur gaan. Skielik sien Petrus dat hy alleen is, en dat die Engel van die Here nie meer by hom is nie. Dit is eers nou, dat Petrus al ‘n hele ent van die tronk af is, dat hy agterkom dat die Here hom fisies uit sy nood en ellende gered het. Al wat hy nou kan doen is om aan te hou loop, weg van die gevaar af, na die veiligheid van sy medegelowiges wat hom so getrou opgedra het in gebed.

Geliefdes, wat is opmerklik van hierdie verlossings-verhaal van Petrus? Dit is opmerklik dat die Here alles vir Petrus maklik gemaak het om uit die tronk te ontsnap, maar dat die Here hom nie eensklaps buite die tronk neergesit nie. Ons moet goed verstaan dat dit vir die Almagte heeltemal moontlik sou wees om letterlik vir Petrus op te lig en buite die stad neer te sit, maar Hy doen dit nie. Waarom? Omdat God van ons, as sy kinders, verwag om in geloof op sy genade te reageer. Ek herhaal: Die Here wil hê ons moet reageer op die genade wat Hy aan ons bewys, geliefdes. In geloof moes Petrus gehoorsaam wees aan die opdragte wat God, deur sy engel, aan die apostel gee.

Toe die engel vir Petrus sê dat hy moet opstaan en sy klere en skoene moet aantrek en hom volg, het Petrus nie maar mismoedig bly sit nie, geliefdes. Hy het nie gesê: “Laat Gods water oor Gods akker loop” nie. Hy het – van sy kant af – aktief opgestaan en dit gedoen. Hy het nie maar net in die tronksel bly sit en homself jammer gekry nie, hy luister na God se stem en doen wat die Here van hom vra. Die Here gebruik dus sy boodskapper om vir Petrus te aktivéér, geliefdes. Die engel van die Here dra nie Petrus uit die tronk nie, maar help hom om sélf aan die gang te kom. Al het die Here dit vir Petrus moontlik gemaak om by al vier die wagte verby te gaan, moes Petrus steeds sélf opstaan en die engel volg. Hy moes die moed bymekaar skraap om uit sy ellende op te staan. Petrus moes die deursettingsvermoë ontwikkel het om die engel tot buite in die straat te volg.

Geliefdes, in die Here se wonderlike almag en liefde maak Hy letterlike en figuurlike deure in ons lewens oop, maar Hy gee aan ons ook die verantwoordelikheid om sélf deur hierdie deure te gaan. As Petrus homself bejammer het, en net daar in die tronksel bly lê het, sou hy nooit daardie nag kon ontsnap nie. Dan sou hy nooit soveel mense met die Evangelie van Jesus Christus bereik het nie. As ons die geleenthede wat die Here op ons pad plaas, aktief miskyk en weier om dit met albei hande aan te gryp, dan sal ons nêrens in die lewe kom nie.

In Efesiërs 6: 18 lees ons: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig.” Hier sien ons maar net weer dat ons ‘n balans moet hou tussen “doen” en “bid”. Die Here verwag nie van ons om net passief te sit en hoop en bid dat ons situasie sal verander nie. Maar Hy verwag óók nie van ons om net dinge te doen, sonder gebed nie. Ons word opgeroep om ons geloof aktief uit te leef, terwyl ons aktief vir uitkoms bid. Deur Paulus gee God aan ons die opdrag: “Doen alles terwyl julle aanhoudend  bid.” Dit is met hierdie ingesteldheid waarmee Petrus en die gemeente geleef het. Terwyl hy daar in die tronksel sit, het hy, en die hele gemeente, vir uitkoms gebid. En toe die Here uitkoms gee, was hy bereid om op hierdie uitkoms te reageer. Hy was bereid om op te staan en ten volle vir die Here te gaan leef.

Slot

Geliefdes, dit is so dat die Here áltyd sal voorsien, maar Hy gee ook aan ons die vaardigheid om sekere dinge fisies te doen. Hy rus ons toe met sy Gees sodat ons kan opstaan en tot eer van Hom kan werk. In die Here se genade maak Hy sekere dinge vir ons moontlik, maar Hy gee ook aan ons ‘n gesonde verstand om dit te gaan doen wat Hy van ons vra.

Ons kan nie net terugsit en wag dat alles vir ons in plek val nie. As Kinders van God het ons óók ‘n verpligting om aan die werk te spring nadat die Heilige Gees ons tot geloof gebring het.

Kom ons staan op met die Krag van Christus Opstanding en kom ons gaan leef voluit vir Hom! Kom ons reageer op sy genade en kom ons gaan getuig van God se wonderlike verlossing! Amen.