Genesis 1: 26 – 31; Genesis 3: 17 – 19; 2 Tessalonisense 3: 6 – 12

Skrifgedeelte: Genesis 1: 26 – 31; Genesis 3: 17 – 19; 2 Tessalonisense 3: 6 – 12

Fokusverse: Genesis 1: 28 en 2 Tessalonisense 3: 11 en 12

Tema: Deur ons daaglikse werk sien ons God se barmhartigheid én regverdigheid raak.

Inleiding

Vanoggend se preek-inhoud sluit aan by verlede week se preek-inhoud. Waar ons laas week die belangrikheid van gehoorsaamheid teenoor die Here behandel het, kyk ons vanoggend wéér daarna. Verlede week het ons raakgesien hoe God by magte is om letterlike én figuurlike deure vir ons oop te maak, maar dat Hy tóg van ons verwag om sélf daar deur te gaan. Met Petrus se ontsnapping uit die tronk is dit duidelik dat God van ons verwag om op sy genade te reageer. Al voorsien die Here in soveel dinge in ons lewe, het ons, as Christene, nogtans die verantwoordelikheid om self sekere dinge aan te pak. Ons kan nie maar net terugsit en kyk hoe die lewe voor ons oë afspeel nie. Die Here roep ons op om op te staan en aktief déél te wees van die dinge wat Hý laat gebeur.  

Deur ons daaglikse werk sien ons God se barmhartigheid raak

Hierdie oproep vorm deel van elke gelowige se groter roeping hier op aarde. Reeds in die begin het God ‘n opdrag aan die mens gegee. In Genesis 1: 28 kry Adam en Eva die opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder. Die Here wou dus meer mense op aarde hê, want die mens is vir Hom kosbaar. Die Skepper vind groot vreugde in die mens wat Hy gemaak het, want hierdie skepsel is ánders as al die ander dinge wat Hy geskape het. Die mens is anders as die son en die maan en die sterre. Die mens is anders as die water en die gras en die insekte en die soogdiere. Die mens is uniek en is skepsel na eie reg. Verder is die mens is ook as “mens” geskep – van die begin af. Die mens kom nie van iets anders af nie – die mens het nie uit ‘n dier of enige iets anders geëvoleer nie. Dit is duidelik dat God die mens geskep het soos ons vandag hier sit, met ‘n rasionele verstand wat kan praat en kommunikeer. Ons kan redeneer en kreatief wees. Die mens is uniek en anders as alles anders in die skepping, geliefdes, dit is báie duidelik. Dit is omdat die mens die énigste skepsel is wat na die beeld van God gemaak is. Van God se wonderlike eienskappe word, in God se liefde, aan die mens oorgedra. Dit is nét aan die mens wat hierdie eienskappe van God gegee en dít is wat die mens uniek en besonders maak, geliefdes. Daarom kry die mens ook dan ‘n unieke opdrag van God: “bewoon die aarde en bewerk dit.” Dit is weereens nét aan die mens wat God die opdrag gee om die aarde te bewerk. Alle plante en diere kry die geleentheid om te vermeerder, maar dit is net die mens wat die spesifieke opdrag kry om die aarde te bewerk. Met hierdie opdrag gee God aan sy kinders die voorreg om met die skepping besig te wees – sý skepping, geliefdes.

En dan gee God nog ‘n verdere opdrag aan sy kinders: “Heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Hierdie is die “Skeppings-opdrag” of die “Werks-verbond” wat God aan die hele mensdom gee. Wanneer Hy hierdie verbond met sy kinders aangaan, dan geld dit vir alle mense, en nie nét vir Adam en Eva nie. Dit word dus van alle mense verwag om nie nét met God se skepping besig te wees nie, ons moet ook daaroor heers. God gee aan ons die voorreg om dit wat Hý gemaak het, te bestuur. In die Here se genade behoort ons dit wat sýne is, uit te bou en toe te sien dat dit tot sy eer bestuur word.

God stel dus die mens as rentmeester aan. ‘n Rentmeester is iemand wat sy/haar eienaar se besittings en eiendom moet oppas en bestuur. Wanneer ons aan ‘n rentmeester dink, dan kan ons ook aan ‘n plaasbestuurder dink. Die plaas behoort nie aan die plaasbestuurder nie, maar hy/sy werk daar asof dit aan hom/haar behoort. Dít is hoe die Here van ons verwag dat ons sy skepping moet bestuur en ontwikkel. En wanneer die Here aan ons hierdie verantwoordelikheid gee om met sý skepping te werk, dan is dit nie vir ons slég nie, geliefdes. God se oorspronklike bedoeling van werk was nie negatief nie, maar positief.

In hierdie Werks-opdrag aan Adam en Eva sien ons God se groot barmhartigheid raak. In sy liefde gee Hy aan die mens iets om hom/haarself mee besig te hou – ‘n doel hier op aarde. Omdat Hy werklik vir sy kinders omgee en medelye met hulle het, gee Hy vir hulle iets om hulle fisies en geestelik te stimuleer. Sy bedoeling vir die mens was om kreatiewe denke te vorm terwyl hy/sy werk en nie om net doelloos hier rond te sit nie. Wanneer ons dan wonder wat ons doel en roeping hier op aarde is, hoef ons nie te veel daaroor te tob nie, geliefdes. Elke kind van die Here se lewensdoel is om tot eer van God te leef en tot eer van God te werk. Wanneer ons weer daaraan dink hoe wonderlik ons deur die Here geseën is om te kan werk, dan sal ons Hom elke dag raaksien in ons werke. Wanneer ons besef watter groot voorreg dit is om in vandag se tyd ‘n werk te hê, dan sal ons weer verstom staan voor God se barmhartigheid en warm liefde vir sy kinders.

Deur ons daaglikse werk sien ons God se regverdigheid raak

Maar waarom is dit soms so moeilik en uitdagend vir ons om te werk? As God bedoel het dat ons sy meelewing in ons werk moet raaksien, waarom is werk vir ons soms so swaar? Dit is weens die sondeval dat werk vir ons moeilik geword het, geliefdes. Waar werk aanvanklik volmaak was daar in die paradys, verdryf God die mens uit die paradys met die woorde: “Deur jou toedoen is die aarde vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak, jou lewe lank… In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet, want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Gen. 3: 17-19).

Geliefdes, hier sien ons ‘n ander eienskap van God raak. Hier in Genesis 3 sien ons God se regverdigheid raak. Ja, God is regverdig want die sonde wat Adam en Eva gedoen het, moet gestraf word. God duld dit nie as iemand teen sy heilig wil ingaan nie. Hy het vir Adam en Eva soveel vryheid gegee – van ál die bome in die Tuin was daar net één boom van wie se vrugte hulle nié mag geëet het nie, maar hulle wou nie na die Almagtige luister nie. En daarom tree God nou regverdig op en verduidelik aan Adam wat die gevolge van sy sonde is. Hierdie gevolge van die sondeval geld nóú nog, geliefdes. Dit is waarom die skepping, én die mens, nóú nog gebroke is. Dit is waarom werk en arbeid vir ons vandag nog soms moeilik en ‘n opoffering is. Want ons die hele mensdom erf hierdie sonde van Adam en Eva en die hele mensdom ly onder die gevolge van die aanvanklike sonde teen God.

“In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood éét”, sê die oorspronklike taal, en nie “verdien” nie. Ons verdien niks hier op aarde nie, selfs nie iets eenvoudig soos brood nie. Alles wat ons het, is genade. Niks wat ons doen sal ooit genoeg wees dat ons iets uit God se hand kan verdien nie – verál nie die vryspraak van ons sondes nie. Daarom het God – in sy onbeskryflike genade – sy enigste Seun, Jesus Christus, na hierdie aarde toe gestuur sodat Hy hierdie vryspraak kon bewerk. As Tweede Adam gehoorsaam Hy God se wil en doen nooit sonde tydens sy lewe op aarde nie. Hy staan vir alle gelowiges in en is bereid om die prys te betaal om hulle met God te versoen. Hy verdra God se volle toorn en sterf aan die kruis, sodat God se uitverkore kinders verlos kan word van hierdie gebroke wêreld en die gevolge van die sondeval. Te danke aan Christus se oorwinning oor die dood, ontvang gelowiges die belofte van die ewige lewe! Omdat Jesus Christus sy “werk”, sy amps-werk met ‘n lus en ‘n ywer hier op aarde voltooi het, geld die gevolge dáárvan vir God se uitverkore kinders.

Ja, dit is net diegene wat uitverkies is, wat hierdie genade ontvang, geliefdes. In hierdie amps-werk van Christus sien ons beide God se barmhartigheid én sy regverdigheid raak. Ons sien duidelik raak dat God, in sy liefde, medelye met sy kinders het – al is hulle vol sonde – want Hy kyk na ons deur die bloed van Jesus Christus. En ons sien óók dat God regverdig is, want dit is sý keuse wie Hy wil uitkies tot die ewige lewe. God sê immers: “Vir Jakob het Ek liefgehad maar vir Esau het Ek gehaat.” “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm” (Rom. 9: 10 – 18).   

En dit is die rede waarom Paulus ook hierdie oproep tot die gemeente in Tessalonika kon gee, geliefdes. Want die apostels het God se wil vir gelowiges verstáán. Omdat hulle die wonder besef het dat ‘n mens God se barmhartigheid en sy regverdigheid in jou daaglikse werk kan sien, het hulle hul dienswerk met ywer gedoen. Paulus sê dat hy en die ander apostels vir die gemeente van Tessalonika ‘n voorbeeld gestel het: “Ons het nie daar by julle leeggelê of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle ‘n las te wees nie” (2 Tess. 3: 7). Dít is wat mense doen wat God se werks-verbond verstaan, geliefdes. Dit is tot hoe ‘n gelowige werk wat God se barmhartigheid én sy regverdigheid ken. En nie soos die ander is wat doelloos leeglê en op ander mense teer nie.

Geliefdes, hierdie leeglêers van die stad, Tessalonika, het só opgetree omdat hulle gemeen het dat die wederkoms baie naby is. Hulle het gehoor hoe die apostels preek nl. dat Jesus Christus weer op pad is om alles en almal te oordeel, en dat sy wederkoms enige oomblik kan aanbreek (vgl. o.a. 1 Tess, 5: 2). En daarom het hierdie mense die Wederkoms van Jesus Christus as verskoning gebruik om nié te werk nie. Hulle het al hulle verpligtinge opsy geskuif en letterlik gesit en wag vir die Dag van die Here. Maar geliefdes, dit is nie hoe kinders van die Here op sy wederkoms wag nie. Ons sit nie doelloos rond en wag vir beter dae nie – ons blý besig met ons aardse roeping. Ons bly besig wees met dít wat ons hand vind om te doen – met die uitbreiding van God se koninkryk.

Vandag gebruik sommige mense ook allerhande verskonings om nie te werk nie. Ons almal het te doen met mense wat aktief besluit om doelloos rond te sit en geen werk te doen nie. Soos ons weet is die gevolg hiervan dat hierdie mense hulself by ander mense se sake inmeng omdat hulle baie tyd op hande het. Omdat hulle sélf nie werk nie bemoei hulle hulself gedurig met ander mense se sake. Hoe hanteer ‘n mens sulke mense? Paulus gee aan die werkende gemeente die raad om hulself van hierdie mense te onttrek (2 Tess. 3: 6). Dit beteken nie dat ons hierdie mense moet oordeel en verwerp nie, dit beteken net dat ons nie iets met hulle te doen moet hê nie. Deur ons gedrag kan ons vir hulle wys dat ons van hulle verskil. Wanneer hulle nie ons voorbeeld wil navolg nl. om getrou te werk en vir hulleself te sorg nie, dan kan ons hulle eerder ignoreer. Want dit is ‘n voorreg om vir die Here te werk, geliefdes, ongeag van ons beroep – ‘n ware gelowige sal dít altyd besef.

Slot

In die Here se groot liefde vir sy kinders gee Hy vir ons die verantwoordelikheid om besig te wees met dít wat vir Hóm belangrik is. Hy stel elkeen van ons as rentmeesters aan om sy skepping te bewerk en om daaroor te heers. Ongeag watter beroep ons beoefen, is ons hiermee besig, want hierdie opdrag geld vir álle mense. Ja, my werk is dalk nie elke dag lekker en maklik nie, maar ek doen dit omdat God dit van my, as sy kind, verwag. Al is my werk hóé uitdagend gaan sit ek nie mismoedig en wag letterlik vir beter dae nie. As gelowige vertrou ek op God dat Hy my deur élke werksdag sal lei met sy Gees.

En daarom werk ek met ‘n ywer en ‘n lus want die Heilige Gees rus my toe vir dit wat ek op daardie dag moet voltooi. Hy skenk aan ons die nodige vaardighede en vermoëns om ons werk te kan doen. Hy gee aan ons ‘n gesonde verstand en die fisiese krag om elke dag op te staan en ons roeping hier op aarde te gaan uitleef – en daarvoor is ons dankbaar! Geliefde, sien jy God se barmhartigheid én regverdigheid in jóú werk raak? Amen.