Skrifgedeelte: Romeine 3: 23 – 31
Fokusverse: Romeine 3: 25 en 26
Tema: Christus se offer-bloed bewerk versoening regdeur die geslagte
Inleiding
In verlede week se preek uit Romeine 3 het ons by die belangrikheid van die Here se Wet stilgestaan. Ons het gesien dat die Here in sy genade vir ons die Tien Gebooie gee. Nie net besef ons ons eie sonde in die Wet nie, ons besef óók dat ons van die straf op ons sondes gespaar word. Ons het diep onder die indruk gekom dat daar nie één mens is wat uit homself/haarself regverdig is nie. Alle mense het afgedwaal, almal het ontaard. Ons het gehoor dat daar nie één is wat goed doen nie, selfs nie een nie (Rom. 3: 10 – 12).
Christus se offer-bloed bewerk voersoening
Geliefdes, ons besef dus ons sonde – ons besef ons het dringend hulp nodig. Elke keer wanneer ons na die Here se Wet luister, dan besef ons dat ons nooit die Here se wil uit ons éie kan nakom nie. Ons besef dat óns ook onder dié mense gereken behoort te word wat afdwaal en ontaard.
Wanneer ons week na week na die Tien Gebooie luister, dan erken ons, élke keer, dat ons soos ‘n verotte vrug is wat sy waarde verloor het. Maar saam met ons sonde-besef, kom ook genade-besef, want die Evangelie word elke Sondag aan ons gebring. Ons hoor élke week die Here se Goeie Nuus wat Hy aan ons meedeel. In sy groot genade gee Hy Iemand in ons plek.
En daarom het vandag se erediens vir ons soveel waarde, geliefdes. Want vandag het ons weer die voorreg om Nagmaal te kan gebruik. Al besef ons elke Sondag hoe groot ons sonde en ellende is, besef ons daarmee saam, dat God se genade selfs groter as dit is. En in ‘n sekere sin is dit vandag selfs duideliker. Tydens die Nagmaal, kom God se verlossing in ‘n mate méér op die voorgrond – ons sal later in die preek dit bespreek. Ons gaan nou eers na die agtergrond en die tekens van van die Nagmaal kyk.
In Romeiene 3: 25 en 26 praat Paulus van ‘n Offer wat God die Vader gee. Vir ons, as gelowiges, klink dit vreemd, nie waar nie? Vanuit ons Bybelkennis weet ons dit die méns is wat offer, en nie God nie. In die Ou-Testament leer ons dat God dit van sy kinders verwag om sekere offers aan Hom te bring. In Levitikus 1 – 7 lees ons selfs van sekere “offer-wette” wat God daargestel het waarvolgens die mens offers aan Hom moes bring. Ons lees o.a. van die brand-offer, graan-offer, die drank-offer en dan ook die sonde-offer. Die gelowiges het offers aan God gebring om Hom te dank en eer vir sy goedheid, maar hulle het óók offers gebring om vir hulle sonde te betaal. Soos ons weet breek sonde die verhouding tussen God en mens, maar die offer word gebring om hierdie verhouding weer te herstel.
Hierdie offers, wat aan God gebring is, het as betaling vir die mens se sonde teen God gedien. Dit was geldig vir die individu se sonde, óf selfs vir die hele volk se sonde. Die pa van die huis het gewoonlik die offer vir homself en sy gesin gebring, en die priester van die volk het die offer vir die volk se sonde gebring. Die priester het dan namens die gelowiges die offer op die altar gesit, en dit verbrand. Voor dit verbrand is, is die dier geslag en die priester het die dier se bloed is voor die voorhangsel van die tabernakel gesprinkel. Die priester was by élke sonde-offer teenwoordig, omdat slégs hý waardig was om in die teenwoordigheid van God te verskyn. Die priester het die rol van ‘n middelaar/tussenganger tussen God en die mens gehad. Die dood van die dier verteenwoordig dan die dood wat die gelowige eintlik verdien. Sodoende aanvaar God die offer van dier se dood in die plek van die sondaar se dood. En die diere wat gebring is om geoffer te word, was niks minder as die sondaar se béste diere nie. ‘n Jaaroud skaaplam, sonder énige liggaamsgebrek, is gebring om namens die sondaar se sonde geoffer te word. Indien die sondaar armer was, sou twee duiwe sonder ligaamsgebrek, voldoende wees. Elke keer wanneer daar gesondig is, moes daar ‘n offer gebring word. En die offer-seremonies was nooit ligsinnig nie, geliefdes. Die sondaar moes die erns van die sonde besef het, en werklik berou gehad het, dán alleen is die offer deur God aangeneem.
Elke Ou-Testamentiese offer was egter ‘n heenwysing na iets méér. Dit was maar bloot ‘n skaduwee van iets véél groter en véél belangriker. Elke keer wat ‘n offer gebring is – elke keer wat die bloed gevloei het – was dit ‘n heenwysing na die offer van ons Here, Jesus Christus. Wanneer Jesus Christus daar aan die kruis sterf, dan dien sy dood as betaling vir baie sondes. Wanneer Jesus Christus se bloed aan die kruis vloei, dan bewerk dit versoening vir élkeen wat glo. Sy offer aan die kruis is die volmaakte offer, geliefdes. Geen verdure offer is daarna nodig nie. Dit is wérklik volbring, soos die Messias aan die vloekhout uitroep. Dit is afgehandel. Die Enigste ware Verlosser het sy roeping en sy opdrag voltooi. Want dit is presies waarom Hy deur die Vader en die Heilige Gees na hierdie stukkende wêreld toe gestuur is: om versoening tussen die uitverkore sondaar en alleen-heersende God te bewerk.
Omdat geen Ou-Testamentiese offer ‘n permanénte uitwerking gehad het nie – omdat alle offers vootdúrend gebring moes word – gee God Een, finale, Offer. Van sý kant af, offer Hy sy Enigste Seun. Hy doen dit in sy onbeskryflike liefde, geliefdes, want géén een van sy kinders kan daarby haal nie. So bring God dan die Volmaakte Offer namens die mens.
Paulus se woorde in ons fokusverse moes gewélig baie vir die eerste lesers van die boek, Romeine, beteken. Want, ánders as óns was húlle nog gewoond daaraan om gerééld te offer. Dink net aan die geweldige verligting wat hierdie mense moes ervaar: skielik word dit nie meer van hulle verwag om aan die Here offers te bring nie. Die gelowiges van die Nuwe-Testament het hierdie deurbraak eerstehands beleef.
Geen offer van die gelowige word meer vereis nie, geliefdes, want die ware Lam van God word daardie Vrydag-middag geoffer. Die Vader gee sy Beste omdat Hy wéét hoe onbekwaam sy uitverkore kinders is. Omdat Jesus Christus die Volmaakte Offer is, is dit die enigste Géldige Offer vir die vergifnis van sondes.
En hierby is daar selfs ‘n verdure wonder, geliefdes: as Lam van God is Jesus Christus is nie maar net Sélf die Volmaakte Offer nie, Hy is ook die Hoepriester tydens die Offer. Hy alléén is waardig om in die volle teenwoordigheid van God te verskyn en namens die gelowige se sondevergifnis te pleit. Tydens sy kruisdood is sy bloed vir ‘n laaste maal voor die voorhangsel van die tabernakel gestort. Hierin sien ons dat Jesus Christus nie net die Verlosser van individue is nie, maar van die gánse uitverkore volk van God. As Enigste Hoëpriester tree Hy as Middelaar tussen God en sy volk op. Hy pleit by die Vader en toon aan dat die Offer wat Hý bring, genoegsaam en volkome is, wat dit is Hýself wat geoffer word. Sonder twyfel word hierdie Offer deur God aangeneem, want dit is die Volmaakte Offer. En alléén op grond van die Here se genade is Christus se offer vir gelowiges geldig omdat ons in Hom ingelyf word deur die gawe van geloof. Geliefdes, dít is hoe Christus se offer aan die kruis versoening tussen gelowiges en God bewerk. Dít is wat maak dat almal wat in Jesus Christus glo, vrygespreek word.
In die Vader se regverdigheid straf Hy die sonde van álle gelowiges, oor álle eeue. Maar in God-Drie-Enig se groot genade straf Hy nie sy uitverkore kind nie, maar eerder sy eie Seun. Dit is alleen sý offer wat aangeneem word. Dit is alleen sý bloed wat die temple se voorhangel laat skeur (Matt. 27: 51). Almal wat glo, het nou vrye toegang tot God se heerlike teenwoordigheid. Die uitverkore kind van God ontvang werklik genade op genade.
Versoening, wat vir geslagte geld, word deur die Nagmaal prakties gemaak
Om as Nuwe Testamentiese gelowige te leef, is vir ons wonderlik, geliefdes. Nie net hoef ons nie meer offers te bring nie, ons verstáán ook ons verlossing beter. Tydens die Ou-Testament het die gelowiges Paasfees gevier om daarmee die wonder te herdenk dat God gelowige huise oorgeslaan het. Alle huise wat die bloed van ‘n skaaplam aan hulle deur-kosyne gehad het, is deur God oorgeslaan, maar die huise wat ongemerk was, het God met die dood getref (Eks. 12). Die Pasga/Paasfees was dan ‘n heenwysing na die Ware Verlossing wat in die toekoms sou aanbreek. Die Ou-Testamentiese gelowiges moes op God vertrou dat Hy in die toekoms vir hulle verlossing sal bring. Maar Nuwe Testamentiese gelowiges het rééds die vervulling van hierdie belofte ervaar.
Ons wag nie nog vir die Ware Messias nie, Hy was rééds hier. Regdeur die eeue word verlossing aan God se uitverkore kinders verseker. Óók vir diegene wat vóór Christus se kruisdood geleef en gesterf het. Daarom lees ons in ons fokusverse: “Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes, wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe.” Alle gelowiges se sonde is dus deur die Volmaakte Offer vergewe, geliefdes, ook die Ou-Testamentiese gelowiges se sondes. Christus se kruisdood geld vir alle gelowiges oor alle eeue. Deur hierdie een daad van Hom op die berg, Golgota, bewerk Hy versoening tussen God en álle gelowiges.
Wanneer Jesus Christus later aarde toe kom, dan stel Hy die Nagmaal in, in die plek van die Joodse Paasfees. Die Ware Lam van God se bloed word gesort sodat God gelowiges sal oorslaan. Dink daaraan wanneer jy netnou gaan Nagmaal gebruik. In die Here se genade gee Hy vir sy kinders praktiese tekens, wat ons met al ons sintuie kan ervaar, om sy kruisdood beter te verstaan. Wanneer ons Nagmaal gebruik, dan raak dit, wat Hy in óns plek moes deurgaan, vir ons ‘n groter realiteit. En daarom vier ons vandag nog Nagmaal saam met die Nuwe Testamentiese kerk van alle eeue. Ons vier in dankbaarheid Nagmaal, want daardeur word ons Verlossing en ons Versoening met God net nog duideliker. Ons vier ook met Hoop Nagmaal, want ons weet dat die Here ook sy kerk in die toekoms sal bewaar. In sy wonderlike genade sal Hy sorg dat ons en ons kinders sy verlossing só prakties mag beleef tot sy wederkoms.
Slot
Geliefdes, al besef ons dat ons sonde so groot is dat nie een van ons verdien om vandag Nagmaal te gebruik nie, laat God ons steeds toe. Nie as ‘n belonging omdat ons goeie gelowiges is nie, maar juis sodat ons God se wonderlike genade béter kan verstaan. In die Here se onbeskryflike liefde stuur Hy sy Seun as Volmaakte Offer sodat Hý vir ons sonde kan betaal.
Soos ons in vers 23 gehoor het, is dit nie álle mense ontvang hierdie vryspraak ontvang nie, maar slegs húlle wat deur God uitverkies is. Wanneer jy werklik glo dat Christus ook vir jou sondes aan die kruis betaal het, dat Hy die Volmaakte Offer is wat deur God aanvaar is, kom beleef dan sy genade – prakties hier aan sy Tafel. Amen.