1 Kronieke 16: 1 – 36

Skrifgedeelte: 1 Kronieke 16: 1 – 36

Fokusgedeelte: 1 Kronieke 16: 10 en 11

Tema: Die Here se teenwoordigheid. Hoe reageer jy daarop?

Inleiding

Die afgelope paar Sondae het elkeen van ons diep onder die indruk gekom dat ons vól sonde is. Ons is aan die belangrikheid van die Here se Wet herinner en het gesien dat God se Wet tot ons voordeel vir ons gegee word. Dit is nie maar net ‘n stel koue, onperoonlike, reëls nie. Deur die Wet herinner die Here ons dat ons sonde het, wat ons sonde is, en hoe ons daarvan verlos word. Niemand kan opgrond van Wetsonderhouding gered word nie – dit is alleen geloof in Jesus Christus wat vir ons die ewige lewe laat kry.  

Die Here se teenwoordigheid

Verlede week het ons die voorreg gehad om Nagmaal te gebruik. Toe ons Nagmaal gebruik het, het die dinge wat ons in die afgelope 2 preke gehoor het, vir ons duideliker geword. Tydens die Nagmaal raak dit wat Jesus Christus namens ons moes deurmaak, vir ons ‘n groter realiteit. Wanneer ons die gebreekte brood neem, en dit stukkend kou, dan kan ons onsself indink hoe Jesus Christus se liggaam daar aan die kruis verbrysel is. En wanneer ons die wyn in ons monde proe, dan dink ons aan ons Verlosser se bloed wat uit sy oop wonde drup. Elke Nagmaal is vir ons, as gelowiges, besonders – dit is vir ons iets spesiaals. Die rede daarvoor is omdat ons die Evangelie op ‘n manier prakties beleef. Ons ervaar op ‘n sigbare en tasbare manier die Here se genade. In ‘n sekere sin raak ons meer bewus van die Here se teenwoordigheid tydens Nagmaal. En om die Here se teenwoordigheid tydens Nagmaal te ervaar is ‘n wonderlike gevoel. Die meeste van ons koester hierdie kosbare paar oomblikke aan die Here se Tafel.   Maar wat gebeur nou ná die Nagmaal? Het ons dan stééds hierdie selfde gevoel? Is die Here se teenwoordigheid vir ons dán stééds vir ons belangrik? Ons hoef net na vanoggend se kerkbywoning te kyk om ‘n antwoord hierop te kry, geliefdes.

Maar wat presiés behels die Here se teenwoordigheid? Die Here se teenwoordigheid is so kompleks, geliefdes, dat dit moeilik is om te definieer. In gewone mensetaal is dit wanneer die Here dáár is. Intiem betrokke in jou lewe. Dit is wanneer jy, as gelowige, die Here se teenwoordigheid kan aanvoel en ook glo dat Hy daar is. Vir baie mense is dit is ‘n moeilike konsep, want die Here is tog onsigbaar. Ons kan Hom nie fisies raaksien soos ons ons mendemens raaksien nie. Dit is vir ons malik om te weet wanneer ‘n mens in ons teenwoordigheid is, want hulle is fisies dáár. Ons kan hulle sien, hoor, aan hulle raak en elke person het selfs ‘n kenmerkende reuk. Maar met die Here is dit ánders.

In Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 bely ons vanuit die Skrif dat God o.a. ewig is – Hy het nie ‘n begin of ‘n einde nie. Voordat alles geskep is, het God rééds bestaan en Hy sal tot in alle ewigheid dáár sal wees. Maar daarmee saam bely ons dat God onsienlik is. Dit is waarom ons nie altyd kan sê presies waar God is nie, al weet ons dat Hy teenwoordig is. In God se alwetendheid het Hy besluit om Homself nie fisies aan die mens te openbaar nie. In die hele Ou-Testament en in die meeste van die Nuwe Testament is dit vir die mens onmoontlik om God te sien. Daar is, o.a., twee redes hiervoor, geliefdes. Die eerste is om ons geloof te versterk, en die tweede is omdat Hy so geweldig heilig is. Wanneer ons wonder waarom God besluit het om nie Homself aan die mens fisies bekend te maak nie, dan hoef ons nie moedeloos te wees nie. In die Here se alwysheid wil Hy juis ons geloof toets, want Hy weet ons, mense, opsoek is na iets fisies en tasbaar. In ‘n sekere sin is dit dus moeilik om van die Here se bestaan oortuig te wees. Daarvoor het ‘n mens geloof nodig. Geloof is tog om seker te wees van die dinge waarop ons hoop. Om oortuig te wees van die dinge wat ons nié sien nie (Hebr. 11: 1). Wanneer God dan van sy kinders verwag om op Hom te vertrou, sonder dat hulle Hom fisies sien, dan toets Hy die suiwerheid van ons geloof.

‘n Vérdere rede waarom God nie fisies aan die mens verskyn nie, is omdat geen mens God se absolute heiligheid kan verduur nie. In Eksodus 33 sê God self dat geen mens Hom kan sien en bly lewe nie. Moses kon net God van agter af sien, en al die ander kere wat God aan sy kinders verskyn het was dit in die vorm van ‘n visioen of in sy wonderlike heerlikheid.

Dit is dan die rede waarom ons in 1 Kronieke 16 lees dat God by die volk, Israel, teenwoordig was, maar op ‘n baie spesifieke manier. In die verbondsark het die Israliete die Here se heerlikheid bý hulle gehad. Ons lees in Eksodus 25 dat God sy volk beveel dat hulle vir Hom ‘n heiligdom moet maak sodat Hy tussen hulle kan woon. Die Here beveel sy kinders om ‘n verbondsark te bou. Hierdie ark was min of meer een meter lank, een meter breed en een meter hoog – dus klein genoeg sodat hulle dit orals met hulle kon saamdra. Dit was van doringhout gemaak, met goud oortrek en op draagbare pale gesit. En binne in die verbondsark was die Here se Wet gesit. “Daar sal Ek jou ontmoet”, sê die Here. “Al My bevele vir die Israeliete sal Ek vir jou van daar af gee.” Die Here se heerlikheid en sy Woord was dus in hierdie Verbondsark teenwoordig. En hierdie verbondsark was heilig, geliefdes – daarom het Ussa dádelik gesterf die oomblik toe hy, sonder toestemming, aan die Here se verbondsark geraak het (2 Sam. 6: 6 en 7). Al is God óral teenwoordig, was die Here se heerlikheid op ‘n besónderse manier in die Verbondsark teenwoordig. 

Dit is die rede vir die volk, Israel, se groot opgewondenheid hier in 1 Kronieke 16, geliefdes. Die volk is innig dankbaar dat hulle weer die Here in hulle midde het. Vroeër is die ark van God deur die Fillistyne gesteel, maar nou is die ark weer waar dit hoort – bý God se kinders. Koning Dawid het die waagmoed gehad om getrou aan sy roeping te wees. Hy het besef dat dit nie vir hom en sy volk goed is om sonder die besondere, heilige, teenwoordigheid van die Here te wees nie, en daarom het hy die ark weer gaan haal. Deur die verbondsark weer in Jerusalem te plaas, sorg koning Dawid dat sy mense weer die nabyheid van die Here ervaar en dat hulle konstant van God bewus bly. Daar word die ark in ‘n tent geplaas, soos ons gelees het, en later ook in koning Salomo se tempel (1 Kron. 16: 1; 1 Sam. 6: 17; 7: 2). Die heerlikheid van die Here was, op ‘n manier, nou meer permanent en op een plek gesentreer. 

Om in die teenwoordigheid van die Here te lewe, was vir hierdie Israeliete ‘n groot vreugde. Hulle het die waarde van God se nabyheid besef. Dít is die rede vir hulle loflied, geliefdes. Dít is die rede vir hulle uitbundige vreugde. Die kinders van God kon nie hul dankbaarheid teenoor die Here terughou nie. Hulle jubel in die Here en sing ‘n núwe lied vir die Here. Vir die eerste keer sing hierdie gelowiges die lied “Loof die Here” – ‘n lied wat stérk ooreenkomste met Psalm 105 en Psalm 96 het. In hierdie lied loof die gelowiges nie net die Here nie, hulle roep ook hul medegelowiges tot die regte ingesteldheid op. In ons fokusverse dring hulle by hul volksgenote aan: “Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.” Die gelowige is dus veronderstel om gerééld na die Here se heilige teenwoordigheid opsoek te wees. En waar is Hy teenwoordig? Orals oor, ja, maar in die besonder dáár waar sy Woord suiwer verkondig word. Dit is wat die skrywer bedoel wanneer hy sê dat ‘n mens die Here moet opsoek. Die volk, Israel, moes die wonder van die Here se kragtige teenwoordigheid aanleer en ook besef.

Dit is die skrywer se diepste wens dat gelowiges nie teleurgestel sal word wanneer hulle na die Here opsoek is nie. “Laat dié wat die wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.” Dit is ‘n begeerte wat élke keer vervul word, geliefdes. Die Here is elke keer dáár wanneer ons Hom opsoek. Hy is altyd bereikbaar deur gebed. Sy stem is altyd duidelik hoorbaar in sy Woord. Ons kan letterlik énige tyd na Hom toe draai, en nooit teleurgesteld wees nie. Hy is anders as ons sondige, aardse, pa of ma, wat soms net te bésig is. Hy is ons hemelse Vader wat altyd beskikbaar is – wat luister na ons bekommernisse – en ook, op sy tyd, uitkoms gee.

Dit het die Here se volk goed besef. Noudat hulle weer opnuut besef het wat die Here se heerlike teenwoordigheid vir hulle beteken, roep hulle almal op om Hom te eer en te aanbid. In vers 8 tot vers 22 herinner hulle hul medegelowiges hieraan, maar in die res van die lied word alle mense tot gehoorsaamheid opgeroep. “Prys die Here, alle volke.” “Betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.” Selfs die natuur word opgeroep om die Here te loof omdat Hy Homself aan gelowiges bekendmaak. Die hemel, die aarde, die see, die veld, die diere – selfs die bome in die bos moet hulle verheug want die Here het weer áaby gekom. Die Koning is op pad om aan sy kinders verlossing te bring.

Hierdie “nuwe loflied” van 1 Kronieke 16 gaan in vervulling met die koms van ons Here, Jesus Christus. In God se groot genade stuur Hy sy Seun om vir ‘n kort tydperk onder sondaars te kom woon. Die Ware Immanuel kom aarde toe om vir alle uitverkore sondaars se sonde te betaal. Die Nuwe Testamentiese kerk beleef die voorreg om ‘n nuwe verstaan te kry van wat “God met ons” beteken. En al vaar Jesus Christus later hemel toe op, stuur Hy die Heilige Gees om éwig by ons te woon. Gelowiges is nie een oomblik alleen nie, maar word getroos met die Heilige Gees wat éwig in ons harte woon. Ons het selfs ‘n verdure troos, geliefdes: Ons wag met groot verlange om die volle teenwoordigheid van God in die hemel te ervaar. In Openbaring 21 lees kry ons die versekering dat God tot in ewigheid by sy mense sal woon. “Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volk wees, en God sal self by hulle wees as hulle God” (Open. 21: 3). 

Hoe reageer jy daarop?

Geliefdes, dit is duidelik dat God, van sý kant af, áltyd by sy kinders wil wees. Reeds van die vroegste tye af begeer God gemeenskap met sy kinders: “Waar is jy?”, wil Hy by Adam weet. Weens die sondeval, is dit óns wat dikwels die Here se heerlike teenwoordigheid wil vermy.

Die vrae waarmee ons vanoggend gekonfronteer word is: “Hoe reageer ék op die Here se heerlike teenwoordigheid?” “Besef ek die waarde van die Here se teenwoordigheid, of beteken dit nie meer iets vir my nie?” “Raak ek opgewonde as ek die Here op ‘n besonderse manier ervaar, of probeer ek Hom dalk vermy?”

Geliefdes, soos dit vanoggend vir ons duidelik word, is die Here in die besonder teenwoordig daar waar Hý aan die Woord kom. Dit is so dat God alomteenwoordig is, en dat ons Hom ook in die natuur kan ervaar, maar dáár waar sy Woord suiwer gepreek word, dáár is Hy op die mees besonderse manier teenwoordig. Hy is met elke preek, met elke Bybelstudie, met elke katkiasie les en elke huisbesoek teenwoordig. Die vraag is net, besef ons dit? En waardeer ons dit?

Slot

Baie gelowiges dink dat dit genoeg is om op ‘n Sondag die Here in die natuur of by hulle huise te ervaar. Baie mense dink dat dit nie nodig is om gereeld kerk toe te gaan nie. “Ons was mos verlede week by die Nagmaal.” “Die preek word mos vir ons gestuur.” “Kom ons bly vandag ‘n bietjie by die huis, ons kan mos die Here ook hier beleef.”

Geliefdes, ons moet baie versigtig wees wanneer ons só begin redeneer. Die Here roep elkeen van ons op om sy heilige teenwoordigheid op te soek. Nie net tydens Nagmaal of elke nou en dan wanneer dit óns pas nie. Hy vra van ons om gedurig na Hom toe te kom. Hy verlang na ons geestelike gemeenskap met Hom.

Hoe reageer jy op die Here se heerlike teenwoordigheid? Ook jý wat vandag by die huis sit en luister? Hoor jy sy liefdevolle Vaderstem wat vir jou, persoonlik, vra: “Waar is jy, My kind?” Of hou jy jouself doof vir sy wekroep?

Mag elkeen van ons voortdúrend die Here se heerlike teenwoordigheid opsoek. Mag ons, week na week, saam met ons medegelowiges opstaan en met vreugde kom luister wat Hy in sy Woord vir ons sê. Mag ons die waarde van sy besondere teenwoordigheid tydens die erediens beséf, en ook kom belééf. Amen.