Skrifgedeelte: Jesaja 30: 19 – 26
Fokusverse: Jesaja 30: 19 en 21
Tema: Om God se teenwoordigheid in ons lewens te erken, vereenvoudig ons lewens.
Inleiding
Voel dit dalk soms vir jou asof die lewe nie sin maak nie? Asof dinge deurmekaar en soms totale chaos is? Voel jy ook soms oorweldig met al jou verpligtinge? En dan kom die druk van die huishouding of die boerdery of jou finansies óók nog by?
So baie mense ervaar druk op een of ander manier. Ons elkeen kry dae wat dit vir ons voel asof alles net te véél is. Dit voel soms vir ‘n mens asof die uitdagings nét nie wil ophou nie. Asof die terugslae net nie wil minder raak nie. Asof die lewe net te kompleks geraak het.
Erken God se teenwoordigheid in jou lewe
Hoe tree jy op wanneer dít jou gevoel is? Belangriker nóg: hoe behoort ‘n gelowige op te tree wanneer hy/sy oorweldig voel?
In verlede week se preek uit Jesaja 30 het ons gehoor hoe die inwoners van die volk, Juda, gereageer het toe húlle druk ervaar het. Hierdie klein groepie gelowiges is op die punt om weggevoer te word na die Assiriese Ballingskap. Hulle is op die punt om deur wrede, militaristiese, mense gevang te word en na ‘n vreemde land weggevoer te word. In hul sonde en gebrokenheid het hulle na ander ménse vir hulp gegaan. Omdat die volk, Juda, ‘n klein groepie mense is, gaan soek hulle hul beskerming by die magtige Egiptenare. Dít, terwyl dit God was wat vir hulle alle hulp en beskerming belowe het. Met hierdie gebaar ontken die volk, Juda, die Here se betrokkenheid in hul lewens. Hulle dink dit egter nie net nie, hulle sê dit selfs vir die Here se profete: “Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien dinge wat ons mislei. Gee pad voor ons en moenie voor ons kom staan nie; laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn.”
Maar dan kom die Heilige van Israel aan die Woord en herinner sy geliefde kinders dat hulle rééds in ‘n verbond met Hóm staan. Hulle mag nie ooreenkomste en koalisies met ongelowige volke aangaan nie, selfs al is hierdie ander mense ook hóé vaardig. Boonop sal dit hulle niks help nie, want die Hére bepaal ‘n mens se lewenspad en die uitkoms op ‘n mens se omstandighede. Verlede week was God se Boodskap duidelik: “Julle krag lê in stil wees en in vertroue hê.” Sodra die gelowige opnuut tot bekering kom, dan vergewe God – élke keer. Sodra ‘n mens oor jou sonde berou het en moeite doen om daarmee te breek, dan is God genadig (Jes. 30: 15 en 18).
Deur die Here se groot genade hét die volk, Juda, hulle sonde besef. ‘n Oorblyfsel van hulle het tot só ‘n mate spyt gekry oor hulle sonde dat hulle hul lewe handomkeer verander het. Maar, soos dit in vandag se Skrifgedeelte duidelik is, is die volk Juda nog skaam vir hulle sonde. Al hét hulle berou, en al hóór hulle die Goeie Nuus van God se vergifnis en verlossing, voel hulle steeds slég oor dit wat hulle gedoen het. Hierdie klein groepie kinders van die Here wil hulle koppe in skaamte laat sak vir hulle ontrouheid. Wanneer hulle daaraan dink dat hulle eerder verkies het om op die vermoë van ménse te steun as op Gód, dan voel hulle bitter nietig.
Die Here gebruik vir die profeet, Jesaja, om hierdie sondebesef en skuldbesef by Juda aan te wakker, maar Hy gebruik óók vir Jesaja om ‘n vérdere gesindheid-verandering vir sy kinders aan te leer. Omdat hulle God se geliefde kinders is – omdat Hy hulle ten dúúrste gekoop het – wil Hy hulle daarop wys dat hulle ook hulsélf moet vergewe. En dít is die belangrike van Jesaja 30 se tweede gedeelte, geliefdes. In ons eerste fokusvers kan ons die Vader se diepe omgee vir sy kinders kristalhelder hoor: “Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom om hulp roep, Hy sal jou gebed sodra Hy dit hoor.”
Die Heilige van Israel het dus ‘n vêrdere Boodskap aan sy geliefde volk:- In sy se groot ontferming is dit nie meer nodig vir hierdie mense om in sak en as te sit oor hulle ontrouheid aan die Here nie. Hierdie volk hoef nie meer een oomblik oor hulle sondes bedruk en benoud te voel nie, want die Hére het dit rééds vergewe. Die Almagtige is kláár daarmee, want Hy het hulle opregte berou en bekering gesien. Nou word dit van hierdie oorblyfsel van Juda verwag om óók met hulle lewe aan te gaan. Dit is nou vir hulle tyd om uit die stof op te staan en om die Here weer aan te roep. In die tweede gedeelte van ons eerste fokusvers is dit duidelik hoe ‘n bekeerde se gesindheid moet wees. Wanneer jy opreg spyt kry oor jou sonde, ‘n geestelike verandering in jou lewe gemaak het en jouself vergewe het, dan is gebed uiters belangrik. Natuurlik sou ‘n mens deur hierdie héle proses die Here aangeroep het – mens sou Hom konstánt gesmeek het dat Hy jou sonde sal vergewe, ‘n verandering in jou lewe bring, en jou omstandighede ook verander. Maar al hoe ‘n mens kan sorg dat dieselfde nie wéér met jou gebeur nie, is as jy konstánt die Here in gebed aanroep.
Geliefdes, gebed is die asemhaling van ons geloofslewe – ons kan wérklik nie daarsonder lewe nie. Want wanneer ons bid, dan roep ons God se teenwoordigheid op. Ons rig ons gedagtes op die Almagtige, die Heilige, en tree in gesprek met Hóm. Wanneer ons dit doen, geliefdes, dan is ons in die béste Hande. Ons hart se woorde en ál ons emosies is veilig by die Here, want Hy is al Een wat ons nóóit sal teleurstel nie. En daarom wil God hê dat ons na Hóm toe moet gaan wanneer ons in die moeilikheid is, én wanneer ons daaruit is.
Ja, want baie keer vergeet ons van die Here in die dae wanneer dit met ons goed gaan. Selfs nadat sommige gelowiges sê dat hulle ‘n verandering gemaak het, dan vergeet hulle ook naderhand weer van die Here. Wanneer ons net aangaan, sonder om konstant van die Here bewus te wees, dan help daardie verandering niks, geliefdes. Dan het ons eintlik net vir onsself en die mense om ons gelieg oor ons bekering. Al hoe ons wérklik ‘n blywende verskil in ons lewens kan maak, is as ons die Here se teenwoordigheid in ons lewens blý erken.
Wanneer ons besef dat die Here dáár in ons midde is, dan alléén sal ons met ons sondes kan breek. En dit is presies wat ons regkry wanneer ons bid. Want wanneer ons bid, dan herinner ons onsself dat ons nou met die Almagtige in gesprek is, en dat Hy daar, by ons, teenwoordig is. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Sodra ons besef dat die Here in ons midde is, dan sal ons twee keer dink voor ons weer vuil taal gebruik. Wanneer ons die Here in ons geestesoog kan raaksien, dan sal ons eerder die drankbottel wegsit, voordat ons weer te vêr gaan. Wanneer ons op die Here se teenwoordigheid attent is, dan sal ons die suggestiewe video afsit waarna ons kyk en daardie gesprek oor die selfoon beëindig wat buite God se wil is.
Die besef dat God bý ons is, vereenvoudig ons lewe
Geliefdes, dit is tyd dat ons die Here se teenwoordigheid in ons lewens erken. Iewers sal ons by die punt móét kom waar ons voor die Here eerlik moet wees, want die Heilige Gees, sélf, bring ons by hierdie punt. Die Here het sy volk honger en dors laat kry, lees ons in vers 20, want Hy wou hulle leer. Die Here neem ‘n mens deur geestelike beproewings sodat ‘n mens weer totaal en al van Hóm afhanklik word. Wanneer ‘n mens in só ‘n beproewing is, dan vlug ‘n mens na God-Drie-Enig toe – dan stel ‘n mens weer ál jou vertroue in Hóm – en dit is presies waarna ons Vader verlang.
Dit is in tye soos hierdie waar ons genoodsaak word om na die Here toe te vlug. Dit is in tye soos hierdie waar ons genoodsaak word om sy aangesig en sy teenwoordigheid weer op te soek. Dán sal ons nederig moet erken dat God nog áltyd daar was om ons te beskerm, dit is óns wat Hóm ontken het. Dit is in daardie dae wat ons, soos Juda, sal besef dat ons nie so belangrik wat soos ons gedink het nie. Dat ons niks meer van onsself oor het om op staat te maak nie, en dat die Here weer vir ons dié Belangrikste in ons lewe moet word.
Wanneer dít die geval is, dan sal ons nie weer so maklik van koers af gaan nie, geliefdes. Want wanneer die Here vir ons wérklik die Belangrikste in ons lewens word, dan sal ons van sy nabyheid bewus blý. Dit is dan wanneer ons die besonderse voorreg het om die Here se stem te herken wanneer Hy na ons roep. In ons tweede fokusvers ontvang God se bekeerde kinders die belofte: “Wanneer jy die regte koers verlaat, dan sal jy agter jou ‘n Stem hoor wat sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” Dié wat geestelik doof was vir die Here se Woord, sal weer sy stem hoor. En dié wat geestelik blind was, sal die pad raaksien waarna die Here verwys (vgl. Jes. 29: 18).
Geliefdes, Jesaja profeteer nie hier van ‘n mens se gevoel of jou intuïsie nie. Hy praat hier van God se kragtige werking in ‘n bekeerde se hart. Wanneer die Vader vir sy geliefde kinders die Weg wys, dan doen Hy dit deur sy Seun, Jesus Christus, en deur die Heilige Gees. In Johannes 14: 6 hoor ons hoe Jesus Christus na Homself as die Weg en die Waarheid en die Lewe verwys. Omdat God sy Offer aan die kruis aangeneem het, wys die Vader vir sy kinders waar die Pad is waarlangs hulle moet loop. En Hy doen dit in alle liefde, geliefdes. Met sy Vaderoë kyk Hy na ons af en spreek ons met ferm liefde aan: “Híér is die pad, My kind, loop híérlangs.”
Geliefdes, wanneer ons vandag die Ware God se liefdevolle stem met ons hoor praat, kom ons wees gehoorsaam aan Hom. Kom ons doen wég met ons afgode en ons sonde en ons geheime. Kom ons gooi daardie dinge soos ‘n smerige lap wég van ons af, en kom ons gryp aan die Here se genade vas. Sodra ons – vir góéd – wegdoen met alles wat in die pad tussen ons en God staan, sal ons ‘n baie eenvoudiger geloofslewe hê. Sodra ons op die Here se teenwoordigheid ingestel is, sal ons alle onrein dinge uit ons lewens verwyder. Wanneer jy tot ware bekering gekom het, dan is jou hart en jou gedagtes skoon. Dan is daar nie meer enige sondige bagasie wat dinge vir jou bemoeilik nie. Sodra jy bréék met die dinge wat buite God se wil is, dan sal jy nie meer deur jou skuldige gewete gepla word nie. Dan is daar nie dinge wat jy hoef te probeer wegsteek of toesmeer nie. Want dan vul God die plek van al daardie los punte wat eens op ‘n tyd deur die duiwel beheer is.
Slot
Wat behoort ons dus te doen wanneer alles deurmekaar rondom ons voel? Wat word daar van ons verwag as die sonde chaos in ons lewens saai? Tydens verlede week se Nagmaal het ons reeds iets daarvan gehoor: “Bekeer van julle sonde en kom tot rus, want julle krag lê daarin om stil te wees voor die Here en om vertroue te hê” (Jes. 30: 15).
En in vandag se Skrifgedeelte leer ons hóé om hierdie bekeerde lewe van ons vol te hou:- Nadat ons met ons sonde gebreek het en wérklik berou daaroor het, moet ons gló dat ons deur Christus geheilig is. Soos die Vader ons vergewe het, moet ons ook onsself vergewe en met ons lewe aangaan. Maar dan moet ons sorg dat ons die Here se Naam aanroep sodat ons van sy teenwoordigheid bewus bly. Ons moet altyd só leef asof die Here sáám met ons in die vertrek is – want deur sy Gees ís Hy daar teenwoordig.
Wanneer ons van sy teenwoordigheid bewus is, dan sal ons minder sonde doen en meer op sy wil ingestel wees. En ons moet volhard in gebed. Ons moet nie dink dat die sonde nou wég is, noudat ons spyt kry oor ons sonde nie. Dit is ‘n voortdurende stryd, geliefdes, wat ons alleen deur gebed en smeking kan wen. Laastens moet ons strewe na ‘n meer simplistiese geloofslewe waar dit nét God is wat ons lewe vul.
Wanneer ek besef hoe náby die Here aan my is, hoe ek elke sekonde in sy teenwoordigheid spandeer, dan sal my lewe en my gedagtes nié chaoties wees nie. Dan sal ek nié oorweldig voel oor al die sonde wat ek moet probeer geheim hou nie. Dan leef ek ‘n rustige en ‘n simplistiese lewe waar daar nie verskeie deure oop is nie, maar slegs Een Deur, en dít is die Weg na die Ewige Lewe. Amen.