Esegiël 13: 1 – 13

Skrifgedeelte: Esegiël 13: 1 – 13

Fokusverse: Esegiël 13: 6 – 8

Tema: God toon sy almag aan valse profete sodat hulle kan besef dat Hý die Here is.

Inleiding

Soos ons die meeste van ons nou al teen dié tyd weet, was Esegiël ‘n profeet tydens die Babiloniese Ballingskap. Hy moes die Here se Woord aan die ballinge in Babel bring – aan God se kinders wat van Hom afvallig begin raak het. Soos ons al van te vore gehoor het, was hierdie groep mense uiters hardkoppig, rebels en opstandig teen die Here. God stel hulle aan Esegiël bekend as die “weerbarstige” volk wat teenoor die Almagtige in opstand gekom het.

Al is hulle deel van die Here se verbondsvolk, wil hulle niks meer met God of sy Woord te doen hê nie. Hulle neem hul toevlug na ander dinge – hulle stel hulle vertroue in ander ménse. En daarom is dit hoegenaamd nie vreemd dat hierdie mense die uitsprake van die valse leraars in Babel, begin glo het nie.

Ware profete teenoor valse profete

In Esegiël hoofstuk 13 ontvang die profeet, Esegiël, ‘n klemverskuiwing in sy roeping. Tot dusver het Esegiël hierdie afvallige verbondskinders bedien. Tot nóú toe het Esegiël as boodskapper opgetree tussen God en sy volk, maar in hoofstuk 13 veránder dinge. Hierdie profeet van die Here ontvang nou die opdrag van die Here om teen die valse profete gaan profeteer. Esegiël moes die mense, wat die gelowiges mislei, gaan aanspreek met die Here se Woord.

Want, kinders, dit is presies wat ‘n valse profeet doen: ‘n valse profeet máák maar net asof hy/sy die Here se profeet is, maar in werklikheid is hulle in die satan se diens. ‘n Valse profeet sal altyd vir jou maar net sê wat jy wil hoor – al is dit nie die waarheid nie. Dit is dus iemand wat eintlik vir jou lieg. ‘n Valse profeet doen homself/haarself altyd voor as iemand “goed”, maar in werklikheid is hy/sy ‘n slegte persoon. Dit is amper soos die mense op sosiale media wat ‘n vervalste profiel skep. Op die oog af lyk hulle baie skadeloos en vriendelik en aantreklik, maar in werklikheid is hulle gevaarlik en vol bose planne.

Hierdie mense het die ballinge van Babel uitgelok met hulle welsprekendheid, met hulle sjarme en oorredingsvermoë, maar hulle boodskap was niks anders as ‘n leuen nie. Hulle stemme was mooi helder, en persoonlikhede was vriendelik, maar die inhoud van hulle boodskap was vaag en dof en boonop kwaadwillig. Al wat hierdie valse profete gedoen het, was voorgee, geliefdes. Daar was niks ég aan hulle of in hulle nie. Hulle het maar net gesê wat die mense wil hoor – of dit nou die waarheid was of nie. Ons lees in vers 2 hoe die Here Sélf sê dat hierdie mense uit eie verbeelding as profete optree. God sê dat hierdie mense maar net voorgee dat hulle profete is – Hy het hulle nooit gekies en as sy profete geroep nie. Hulle sê vir die mense dat hulle ‘n boodskap van God het, maar in werklikheid vertel hulle iets wat hulle sélf uitgedink het.

Daarom het God dit téén hulle, geliefdes. Hulle misbruik sy Naam vir hulle eie gewin. Hierdie valse profete het gewéét dat godsdiens vir die ballinge baie belangrik was. Hulle weet ook dat hierdie gelowiges in opstand teen God gekom het en teen Hom rebelleer, en daarom buit hulle die situasie uit. Hulle sak soos wolwe op hierdie vervalle Jode toe omdat hulle wéét dat hulle soekend is. Omdat hierdie kinders van Israel só lank reeds sónder die Here probeer klaarkom, het hulle begin om te vergeet hoe sy Stem wérklik klink. En daarom begin hulle aanhangers van hierdie valse leraars word, want hulle kon nie meer onderskei tussen die Waarheid en die Leun nie. Vir húlle het dít wat die valse profete gesê het na sinvolle prediking geklik. Hierdie mense het in die oudste strik van die mensdom getrap en die leun geglo wat hulle aangebied word.

Die rede hiervoor is omdat dieselfde listige leuenaar aan die werk is, wat ook vir Adam en Eva mislei het. Net soos daar vir Adam en Eva gelieg is deur te sê dat hulle soos God sal kan wees wanneer hulle van die vrug eet, net só lieg hierdie valse profete vir die Here se kinders. En dit is juis waarin die duiwel uitblink, geliefdes! Hy oorreed mens altyd om iets te glo wat ámper soos die waarheid klink. Wanneer ‘n mens nie mooi fokus nie, en nie attent is op die manier waarop hy werk nie, dan sal ‘n mens in hierdie strik trap. Daarom behoort ons onsself konstant uit die Here se Woord toerus, sodat ons kan staande bly teen hierdie aanslae. Ons behoort moeite te maak om God se Woord te bestudeer, en dit só goed te ken, dat ons máklik tussen die waarheid en die leun kan onderskei. Ons behoort mekaar daarvan te verséker dat die Heilige Gees ons rééds met die vólle wapenrusting van God beklee het, sodat ons kan staande bly teen versoekings en leuens.

Hierin is ons Here, Jesus Christus, vir ons weereens die Voorbeeld, geliefdes. Toe die satan Hom daar in die woestyn versoek het, het Christus staande geblý teen sy valse aanbod. Al maak die satan asof dit vir hóm is om sekere dinge aan Christus uit te deel, wéét ons Verlosser dat dit nie in die duiwel se mag is om dit te doen nie. “‘n Halwe waarheid is ‘n vólle leuen”. Die volle koninkryk van God behoort rééds aan Jesus Christus, want Hy is God se geliefde Seun. Dit is nié die satan se voorreg om dit aan Christus aan te bied nie, want hy besit niks, geliefdes. Hy het maar beperkte mag, terwyl God-Drie-Enig oor alle mag beskik. Met Christus se kruisdood en opstanding het Hy die duiwel en sy valse profete verslaan, maar hulle is nog nie ten volle vernietig nie. Daarom loop die satan steeds rond soos ‘n brullende leeu – opsoek na iemand om te verslind. Hy is briesend kwaad omdat hy oorwin is deur Christus, en dáárom is hy so gestel om die Here se eiendom te verwar en te vernietig – nóú erger as vroeër.  

Valse leraars en valse profete is die satan se beste wapens teen die Here se kerk, geliefdes. Hy gebruik hierdie dienaars van hom om ‘n laaste steek teen Christus in te kry. En daarom is dit nie altyd mense búíte die gemeente wat as valse profete optree nie. Heel dikwils is dit mense wat binne die kerk is – mense wat déél van die gemeente is – wat die gemeente wil verwar en mislei. Daarom sê God sélf in vers 4 dat valse profete “soos jakkalse tussen die puinhope van Israel rondloop”. Ons almal weet hoe slinks ‘n jakkals is. Ons weet hoe hulle gedurig rondloop om te kyk wat hulle kan roof en aas. Net so roof hierdie valse profete lidmate/gelowiges. Hulle is gedurig op die uitkyk op wie in die gemeente hulle kan aas. Hulle probeer alle lidmate oorreed met hulle charisma, en dan is hulle verál suksesvol onder die lidmate met ‘n wankelrige geloof. Net soos met skape in die veld, is dit die swakkes wie die maklikste gevang word. Dit is húlle siele wie gevang word – dit is hierdie mense wie die valse profete in hul mag kry, soos vers 18 sê. 

God toon sy almag aan valse profete (en hulle aanhangers) sodat hulle kan besef dat Hy die Here is

Maar hoe kan ons sulke mense uitken? Hoe gaan ons weet of dit wérklik ‘n profeet van die Hére is wat met ons praat? Geliefdes, vanoggend se gedeelte uit Esegiël 13 gee vir ons verskeie kenmerke van hoe ‘n valse profeet lyk. En die in die res van die Skrif sien ons óók na watter eienskappe ons voor moet uitkyk. Eerstens hoor ons dat valse profete hulle voordoen as gestuurdes van die Here. Hulle sê dinge uit hulle eie verbeelding en dinge wat nié van God af kom nie. Daarom moet ons alle mense wat in die Here se Naam iets sê, gaan toets met die Here se eie woorde. Ons moet na die Bybel gaan kyk om te bepaal of dít wat hierdie mense sê ooreenstem met dit wat in God se Woord staan. In Deuteronomium 18: 21 en 22 lees ons: “Wanneer jy jou afvra: ‘Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie?’ moet jy weet: as ‘n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nié met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”Ons moet dus elke “profetiese woord” of “droom” of “visioen”, wat iemand met ons deel, aan God se Woord gaan toets en kyk of dit ooreenstem met dít wat die Hére sê. As ons nie sien hoe die profesie in Christus in vervulling gaan nie, dan is dit ‘n valse profesie, geliefdes. So eenvoudig soos dit.

Verder sal ‘n ware gestuurde van die Here nie dit sy lewensdoel maak om mense van ander kerke om te koop om by ‘n spesifieke kerk lidmaat te word nie. Ware profete van die Here loop nié soos jakkalse rond en gaan aas mense wat broos is of reeds aan ‘n ander kerk behoort nie. Ons verkondig bloot die Waarheid en vertrou die Heilige Gees dat Hý die bekering sal bring.

Derdens sê die Here in Esegiël 13: 10: “Hulle (die valse profete) het My volk verlei, hulle het gesê: ‘dit sal goed gaan’, toe dit nie sou goed gaan nie” (Jer. 6: 14; 8: 11). Tipiese gedrag van valse leraars is dat hulle altyd net voorspoed verkondig, geliefdes. Hierdie mense preek net welvaart en voorspoed en finansiële seën, en laat lidmate slég en minderwaardig voel as hulle nooit hierdie voorspoed en welvaart ontvang nie. Ons weet tog dat die Here nie op die hier en die nou fokus nie, geliefdes. Wat ons hier, op aarde, beleef is nie waaroor dit gaan nie. Ons het ‘n ewige lewe – die belofte van die ewige heerlikheid waarna ons uitsien! Hierdie gebroke wêreld is nie waar ons die ewigheid gaan spandeer nie, en ware seën van die Here is om te besef en te glo dat ons toekoms veilig in die Here se hande is. Dat ons ware burgerskap in die hemel is (Fil. 3). En nié om aardse rykdom en sukses en beroemdheid te ontvang nie.

Die Here leer ons ook dat valse profete soos witgepleisterde mure is, wat mooi aan die buitekant lyk, maar wat eintlik die swak plekke in die muur wil wegsteek met hierdie wit pleister. Valse profete lyk baie keer mooi vroom en rein aan die buitekant, maar diep in hulle harte is dit donker en gebroke. Soveel valse profete en kulteleiers sit hierdie front voor, geliefdes. Hulle lyk vir baie mense so onskadelik, maar in wérklikheid is hulle die wolwe in skaapsklere. Valse profete sal altyd hulle sonde wil wegsteek soos wat ‘n oneerlike bouer die swak plekke in die muur sal wil wegsteek met die pleister. Jesus praat ook van die witgepleisterde mure/grafte in die Evangelies en sê o.a.: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs – huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is. Van buite lyk julle vroom vir die mense, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die Woord van God” (Matt. 23: 27 en 28).

Laastens sal ‘n ware profeet van die Here altyd die volle Raad van God verkondig – jou na die vólle Waarheid toe lei. En dit sluit óók God se oordeel in, soos ons bv. vandág weer baie goed kan agterkom. Ons aanbid nie “liewe Jesus” wat net met almal vriendelik is nie, maar die Ewige, Almagtige Christus wat in alle glorie regeer. Hy is totaal en al regverdig – teenoor almal – óók teenoor die ongelowiges. Óók teenoor hierdie valse profete en hulle leuens en bedrog. Ja, Hy sal met álle mense afreken op die Oordeelsdag.  

En dit is waarom ons hierdie refrein van God se regverdigheid in Esegiël 13 hoor. Die Here herinner Esegiël gedurig daaraan dat hy God se oordeelboodskap aan die valse profete moet gaan bekendmaak sodat hulle sal besef dat Hy die Enigste Ware God is. God-Drie-Enig sê vier keer in hierdie een hoofstuk dat Esegiël hierdie vreeslike dinge aan die valse leraars moet gaan bekendmaak, “dan sal hulle besef dat Ek die Here is” (vers 9, 14, 20 en 23). Dít wat hierdie mense sê is so vals, geliefdes, en dan sê hulle nog hulle doen dit in die Naam van die Here. Hulle is godslasterlik, en dáárom het God dit teen hulle! Omdat hulle leuens in die Here se Naam versprei en mense vals hoop gee, word die Here sélf hulle Teëstander (vers 8).

Slot

Geliefdes, daarom mag ons nooit moed verloor nie. Al is daar vandág nog valse profete wat die Ware Kerk probeer mislei en verwar, sal hulle gou besef presies Wié die Here is. Om die Almagtige, Regverdige God as jou Teestander te hê is vreesaanjaend. Geen mens staan ‘n kans teen sy almag nie.

Mag ons daarom die oordeel oor hierdie opsetlike leuenaars aan God oorlaat en op ons eie roeping fokus. God roep elkeen van ons op om sý Woord te gaan verkondig – en sý Woord alleen. Laat ons daarom nie net sê dit wat die mense wil hoor nie, maar mag ons by die vólle Waarheid hou en mekaar daaraan, alleen, herinner. Amen.