Skrifgedeelte: Psalm 42: 1 – 12 (2020-Vertaling)
Fokusvers: Psalm 42: 6
Tema: In benoudheid en onrus kan ons onssélf aan God se Hoop en Verlossing herinner
Inleiding
As ‘n mens fyn op ander mense ingestel is, sal jy gou agterkom wat daardie mense plá of wat hulle gelúkkig maak. Wanneer ‘n mens fyn op ‘n gemeente ingestel is, sal ons ook gou tot die besef kom waardeur baie van die lidmate gaan. Omdat heelwat van ons lidmate die afgelope tyd groot benoudheid ervaar het, en steeds met onrus gekonfronteer word, gaan ons in die volgende vier weke hierdie tema tydens ons eredienste behandel.
Benoudheid en onrus
Angs en benoudheid is iets wat elkeen van ons al iewers in die lewe beleef het. Tot ‘n midere of ‘n meerdere mate is elkeen van ons al getraumatiseer. Gelowiges word geensins gevrywaar van moeilike dae en onrus in hulle aardse lewe nie. Indien jy dalk tans groot angs ervaar of in hierdie tyd van jou lewe benoud voel, mag hierdie reeks preke vir jou en jou gesin groot troos bring. En indien ván ons dalk nié nou benoudheid in die lewe ervaar nie, onthou dat daar wél mense rondom jou is wie wél nou angstig is. Mense wie se harte letterlik stukkend is.
Ongelukkig is mense nie altyd sensitief genoeg om die seer in jou binneste raak te sien nie. Ons, mense, het baie keer beperkte begrip en empatie vir ons medemens, en daarom kom ons nie altyd agter wanneer iemand angs of benoudheid ervaar nie. Selfs al sê ons vir iemand dat ons bekommerd oor iets is, of selfs al vertel ons van die onrustigheid in ons gemoed, weet mense nie altyd wat om te sê nie. Hulle hoor, maar baie mense het nie ‘n oplossing nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer ons medemens nie homself/haarself met ons situasie kan vereenselwig nie.
Benoudheid, onrus en angs kom in soveel verskillende vorme in ‘n mens se lewe voor. En elkeen van ons ervaar ander moeilikhede in ons lewens. Boonop beleef mens ook verskillende vorme daarvan afhangend van mens se situasie of lewensfase. Sommige van ons ervaar groot benoudheid in ons beroepe. Werksdruk wat al hoër raak, en ons werksomstandighede in Suid-Afrika is bydraende faktore. Pryse wat teen ‘n geweldige tempo styg, diefstal by die werksplek, ‘n gebrek aan ywer van ons werknemers is sake wat ‘n mens se moed soms wil breek. En indien ek dalk ‘n werknemer is, dan voel ons baie keer onseker oor ons werk-sekuriteit. Weens ons land se ekonomiese situasie is ons baie keer angstig oor die volhoubaarheid van ons besigheid of selfs ons werksplek.
Die meeste van ons ervaar ook onrustigheid in ons persoonlike lewens: Soms is ons bv. bekommerd oor ‘n familielid wat moontlik sy/haar werk verloor het of wanneer ons agterkom dat hy/sy nie ‘n lewende verhouding met God het nie. Ander kere is ons bekommernisse nader aan die huis – ons éie finansies lyk dalk uiters beroerd. Die skuld wat jy aangegaan het, jaag jou. Jy sien dalk al vir jare geen vooruitgang in jou boerdery nie. Jy is dalk onseker oor die land se toekoms en vrees dalk jou en jou gesin se lewe. Dalk is jy uiters besorg oor jou kinders se toekoms – hetsy in Suid-Afrika of in die buiteland. Dalk voel jy angstig omdat jy nie régtig weet hoe dit met hulle gaan nie. Dalk voel jy angstig omdat jy nie seker is of jy ooit jou kleinkinders sal sien nie.
Wanneer dít die geval is, dan kan ons net soveel méér met die digter van Psalm 42 vereenselwig. Psalm 42 word nie deur Dawid gedig nie, maar deur een van die kinders van Korag. Die Koragiete was ‘n groep mense wat verál daarvoor bekend was dat hulle vir die voorsang in die tempel verantwoordelik was. Die digter is egter nie nou meer deel van hierdie vrolike geselskap nie. Sy omstandighede het weens ‘n onbekende rede totaal en al verander. In vers 4 raak dit vir ons duidelik dat die digter geweldig eensaam en verstoot is. Hy word byna as ‘n vyand deur sy medemens beskou. Trane is dag en nag sy brood. En omdat daar die hele dag lank vir hom gevra word: “Waar is jou God?” begin die digter sélf te wonder of die Here nog met hom is. Verder weet ons dat die digter hierdie Psalm vanuit ‘n dorre wêreld – vêr van die Joodse tempel – dig. Ons lees in vers 7 dat die Psalmdigter sê dat hy tóg weer aan die Here dink terwyl hy in die Jordaanstreek en by die Hermonberg is. Die Hermon-gebergtes vorm die grensgebied wat ons vandag as Sirië en Libanon ken. In die Nuwe-Testament word hierdie gebied “Cesarea-Filippi” genoem – daar waar Jesus vir Petrus gesê het dat Hy sy Kerk op Petrus se belydenis sal bou en dat die poorte van die hel dit nie sal oorweldig nie (Matt. 16: 13 – 20).
Die Hermonberge is vêr van Jerusalem af, geliefdes. Dit is dus hier, vanuit die harde, dorre – vreemde – wêreld, dat die digter sy Psalm skryf. In vers 1 lees ons dat hierdie Psalm ‘n onderwysing is. Eerstens leer die digter dan vir ánder mense iets deur hierdie Psalm, maar hy onderrig ook homself. Hierdie hele Psalm is eintlik ‘n self-gesprek, geliefdes. ‘n Intieme oomblik waar iemand introspeksie doen en ook hééltemal eerlik met homself is. En dan begin die digter sy self-gesprek deur homself te vergelyk met ‘n wildsbok wat waarskynlik volop in die dorre Hermon-gebied te sien was. “Soos ‘n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, die léwende God”, sê hy vir homself. Dit is selgs iemand wat God góéd ken, wat só ‘n belydenis kan gee. Vir ons om na iets/iemand te verlang, moet ons dit eers kén. En vir die Psalmdigter om nie maar net na God te verlang nie, maar om na sy teenwoordigheid te smág, moes hy die Here besónder intiem geken het.
Geen dier kan sonder water lewe nie, en net só kan geen gelowige sonder God se nabyheid lewe nie. Indien ‘n gelowige, vir een of ander rede, lank níé die Here se teenwoordigheid gevoel het nie, dan sal ‘n mens na God begin húnker. ‘n Christen sal na God se genade smag soos wat ‘n wildsbok in die barre woestyn húnker en smág na water. In hierdie byna lewelose gebied kom die digter ook al meer tot die besef dat daar wél iewers daar buite léwe is. Selfs al voel die digter, weens sy omstandighede en sy omgeweing, godverlate onthou hy van God. Sy léwende God. Dit is juis baie keer wanneer ‘n mens gestoop word van alle gerief en gemak, dat ‘n mens aan jou Skepper sal dink. Baie keer is dit juis in die alleen-tye wat ‘n mens weer opnuut besef hoe uiters nódig jy die Here in jou lewe het.
Herinner jouself aan God se Hoop en Verlossing
Juis omdat alles dor en byna leweloos rondom die digter is, herinner hy homself aan die teenoorgestelde. Juis weens sy omstandighede sien hy net soveel makliker die kontras raak. Die digter dink aan sy Lewende God en hy hunker na die nuwe lewe wat alléén van Gód afkomstig is. Dit is duidelik dat die digter van hierdie Psalm ‘n gelowige was, wat boonop leiding in die kerk geneem het. Saam met sy medegelowiges het hy met vreugde en met ‘n stem van jubel en lof na God se huis opgetrek, lees ons in vers 5. Ons lees in dieselfde vers hoedat hy gewoond was om voor die skare uit te trek en hoe dit, na alle waarskynlikheid, die dígter was wat die verbondsvolk na die Here se teenwoordigheid gelei het. En daarom die vraag aan homself: “Wanneer sal ek weer ingaan en voor die aangesig van God verskyn?” (vers 3).
Ja, geliefdes, die digter van Psalm 42 is eensaam en verlate. Maar al word hy deur ‘n barre wêreld omring, stel hy sy Hoop ten vólle op God! Twee keer in hierdie Psalm spreek hy sy eie siel aan as hy sê: “Waarom kwyn jy weg, my siel, en waarom is jy so onrustig in my?” Hy kom agter dat sy binneste al swakker word en dat sy gemoed onnodig onrustig is. En daarom het hy ‘n ernstige gesprek met homself. Dit is die manier waarop hierdie Koragiet sy binneste hanteer wanneer hy benoud en onrustig voel – verál as hy agterkom dat dit totaal en al onnodig is.
In plaas daarvan om op sy droewige omgewing te fokus, in plaas daarvan om op die vyandige mense rondom hom te fokus, in plaas daarvan om op sy ellendige situasie te fokus, fokus hierdie gelowige op sy Lewende God. Hy sê (twee keer!) vir sy binneste: “Hoop (eerder) op God want ek sál Hom weer prys vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring.” Dit is ‘n onderwysing vir homself, maar dit is ook die manier waarop die Heilige Gees elke gelowige wil onderrig oor hoe om die swaar, die benoudheid en die onrus in ons lewens te hanteer. In sulke dae behoort ‘n gelowige met homself/haarself in gesprek te tree en sy/haar binneste skerp aan te spreek. In tye van angs en benoudheid behoort ‘n gelowige sy/haar Hoop opnuut op die Almagtige God te stel, wat nie vêr weg is en ‘n mens altyd verstoot nie. Net soos die digter van Psalm 42 kén ons die Here en wéét ons tog dat Hy nie net bestaan nie, maar dat Hy ook léwe én in ons omstandighede sal óptree. Ons Almagtige Vader sal uitkoms vir sy kinders gee, selfs al voel dit nie vir ons nóú so nie. Terwyl ons daarvoor wag, is elkeen van ons veronderstel om op God te Hoop – spesifiek vir die Verlossing wat sy teenwoordigheid bring.
Natuurlik sal die digter van sy fisiese omstandighede van vreemdelingskap en ‘n lewelose omgewing verlos word, maar gelowiges sal verál van die dood, wat die sonde bring, verlos word. Deur Jesus Christus het daar wáre Hoop gekom. Deur sy fisiese teenwoordigheid het daar nie net vir die digter van Psalm 42 verlossing gekom nie, maar vir álle uitverkore kinders van God. En daarom het ons, vandag, net nóg meer rede om deur hierdie Psalm onderrig te word. Ons, wie vandag leef, het soveel méér rede om ons eie twyfelagtige siele aan te spreek en onsself te herinner aan die nabyheid van God in ons lewens. Wanneer ons dan onrustig oor ons land se toekoms, of angstig oor ons veiligheid voel, dan kan ons ons soveel te méér herinner aan God se teenwoordigheid. Die ware Immanuel was rééds hier, en Hy het ons rééds ten volle verlos van hierdie bose bestaan! Selfs al voel ek dalk eensaam of selfs al is ek benoud oor my kinders of geliefdes, wéét ek dat die Heilige Gees by my is. Elke oomblik. Mag ons daarom onderrig word deur hierdie onderwysing sodat ons op die regte manier reageer wanneer ons angstig is. Mag ons deur Psalm 42 onderrig word sodat ons ons trauma, as gelowiges, rég sal hanteer.
Hierdie Psalm word verder in Christus vervul as ons in vers 10 lees: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van my vyand?” Dit is alleen ons Here, Jesus Christus, wat Godverlatenheid gely het toe Hy uitgeroep het: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” Te danke aan Christus se gehoorsaamheid word nie één van ons óóít deur God verlaat nie, geliefdes, selfs al dink ons baie keer so.
Slot
Angs en benoudheid is iets wat elkeen van ons al iewers in die lewe beleef het. Die meeste van ons ervaar ook onrustigheid in ons persoonlike lewens, hetsy dit oor ons eie omstandighede, óf ons kinders, óf oor ons land is. Baie van ons voel tans bekommerd oor iets in die lewe en soms voel dit vir ons asof ons daardie las alléén moet dra. Ander mense is nie altyd sensitief genoeg om die seer in jou binneste raak te sien nie.
Hoe maak ‘n mens dan? Dit is dán wat ek mysélf aan God se Hoop en Verlossing moet herinner. Spreek jou eie gemoed en jou eie binneste aan en verskuif jou denke wég van die ellende róndom jou, na jou Lewende God bó jou. Dit is al hoe jy deur hierdie tydperk gaan kom. Deur jou hoop en jou vertroue ten volle op jou Almagtige God te stel. Want jy gáán hierdeur kom, geliefde! Dit is verseker! Amen.