Daniël 2: 1 – 30; 47

Skrifgedeelte: Daniël 2: 1 – 30; 47

Fokusverse: Daniël 2: 28, 47

Tema: In benoudheid en onrus kan ons ánder aan God se Hoop en Verlossing herinner

Inleiding

In verlede week se preek is elkeen van ons getroos oor dít wat ons kan doen wanneer ons sélf deur iets traumaties moet werk. Baie keer kan ander mense nie wérklik met ons situasie vereenselwig nie, en daarom het hulle nie regtig vir ons raad nie. Dit gebeur maar mín dat iemand presíés verstaan hoe ons voel, en daarom rus die Here ons toe om met onsself in gesprek te tree.

Ons het verlede week gehoor dat ‘n mens jou eie binneste kan aanspreek – verál wanneer ‘n mens besef hoe onnodig jou bekommernis is. In tye van benoudheid en trauma kan ons eerder onsself aan God se genade herinner nl. dat Hy in totále beheer is, en dat Hy – soos in die verlede – uitkoms sal gee.

Benoudheid en onrus wat deur gedagtes veroorsaak word

In verlede week se preek het ons gehoor hoe ons onssélf aan God se Hoop en Verlossing behoort te herinner wanneer ons benoud voel. Maar in vandag se preek gaan ons raaksien hoe ons nie nét na ons éie gemoedstoestand behoort te kyk nie, maar ook aan dié van ánder. In vandag se preek sal ons raaksien hoe ons ook soms ánder mense aan God se Hoop en sy Verlossing moet herinner – verál wanneer daardie persoon angstig en benoud is. In die gedeelte wat ons sopas saamgelees het, hoor ons van koning Nebukadnesar en sy groot benoudheid nadat hy ‘n droom gehad het. Nebukadnessar was ‘n heidense koning van Babel. Hy was bekend vir sy groot invloed en mag en vir sy verowering van verskeie stede. Sy millitêre aktiwiteite het o.a. die inneming en verowering van Jerusalem ingesluit. Hy het baie spesifiek die volk, Juda, verower en baie van daardie inwoners in Ballingskap weggevoer na die stad, Babel, toe. Die Here se kinders is dus deur Nebukadnesar weggevoer na sy tuisland en sy god toe. Na alle waarskynlikheid het Nebukadnesar die Babiloniese afgod, Marduk, aanbid. In Daniël hoofstuk 3 lees ons hoe Nebukadnesar sy éie afgodsbeeld laat maak het en hoedat hy almal wat in sy paleis gewerk het, beveel om hierdie beeld te aanbid. Nebukadnesar was dus uiters verwaand weens sy suksesvolle koningskap en bestuur van Babel. Maar toe kry hy hierdie vreeslike droom, lees ons in Daniël 2: 1.

Wanneer iemand in die Ou-Testament ‘n droom gehad het, het die óngelowiges van destyds dit beskou as ‘n boodskap van die afgode. En vanuit die res van die Bybel is dit iets van ‘n besonderse gebeurtenis wanneer ‘n kóning sou droom. Ons lees bv. hoe die Egiptiese Farao ook al die Egiptiese waarsêers en raadgewers laat roep het nadat hy gedroom het (vgl. Gen. 41). Presies dieselfe doen koning Nebukadneser. Hy laat kom ‘n hele aantal mense wat oor sg. “wysheid” beskik het: towenaars, toekomsvoorspellers, en die Chaldeërs, wie vir hulle geleerdheid en wysheid bekend was. Want koning Nebukadnesar was ontsteld na sy droom – so ontsteld dat dit wat hy gedroom het, hom uit die slaap gehou het. Dit wat hy in sy droom gesien het, het vir Nebukadnesar onrustig gemaak, geliefdes.

Die meeste van ons sal daarvan kan getuig dat ‘n mens se gedagtes uiters stérk is. Dit hoef nie noodwendig ‘n droom te wees wat ‘n mens ontstel nie. Soms is bloot ‘n gedagte van iets of iemand genoeg om ons ángstig te maak. Soms vrees ons die toekoms, of selfs die verlede. Net om te dínk aan wat al met ons in die lewe gebeur het, of moontlik nog sal gebeur kan soms gewéldig angswekkend wees. Sommige van ons dink dalk aan daardie mediese behandeling wat nog vir ons voorlê. Ander dink dalk met heimweë terug aan ‘n lewensmaat of ‘n geliefde wat hulle verloor het. Party mense se truama speel elke keer, soos ‘n fliek, in hulle gedagtes af. Ander voel benoud oor finansies, hulle werk, hulle kinders, hulle ouers en so kan ons aangaan.

Dit is ‘n feit, geliefdes, ‘n mens se gedagtes en denke is uiters kragtig. Dit het die vermoë om ons van alle vreugde en lewenslus te roof. Negatiewe gedagtes van twyfel en selfverwyt kan ‘n mens heeltemal oorweldig. Soms pla ‘n mens se gewete jou oor dít wat jy in die verlede verkeerd gedoen het. Selfs jare nadat jy ‘n fout gemaak het, kan daardie gedagte jou steeds jáág. Dit is dán wanneer ‘n mens – soos ons laasweek gehoor het – ons eie binneste skérp moet aanspreek deur vir onsself te vra: ‘Waarom is ek so onnódig onrustig? Hoop eerder op Gód, en laat ek my vertroue opnúút op my Engigste Gód stel”.  Dit is ook dán wat ons ander Skrifgedeeltes kan gaan lees soos Filippense 4: 8 wat sê: “Verder, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – dáárop moet julle julle gedagtes rig.” Of Romeine 12: 2: “Julle moet nie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Ons kán ons negatiewe, afbrekende, gedagtes stopsit, geliefdes. Meer nog – dit is ‘n opdrag van God! Ons móét dit doen!

Koning Nebukadneser het dit egter nie gedoen nie. Hy het nié op die regte manier met sy vreesaanjaende denke gehandel nie. Daarom verwag die koning van Babel iets onredeliks van die wyse manne in sy omgewing. Hulle moes, sonder dat dat hy sy droom vir hulle vertel, ‘n uitleg daarvan gee. En dan antwoord die wyse manne terég dat daar géén mens op aarde is wat so iets sal kan doen nie. “Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning te kenne sou gee nie, behalwe die gode wie se woning nie onder die mense is nie.” Al is hierdie mense ongelwiges verstaan hulle iets van ‘n mens se nietigheid en beperkte vermoëns. Dit was verál vir koning Nebukadnesar nodig om dit te hoor, aangesien hy homself as byna onaanraakbaar beskou het. Ons sien dit verál raak wanneer Nebukadnesar beveel dat ál sy raadgewers daarna wreed vermoor moes word. Ook Daniël en sy drie vriende se lewens was in gevaar, lees ons in vers 13, en daarom doen hierdie jong gelowiges die régte ding wanneer húlle in ‘n noodsituasie verkeer: Hulle bid tot God vir wysheid en uitkoms sodat hulle lewens gespaar sal word.

In benoudheid en onrus kan ons ánder aan God se Hoop en Verlossing herinner

In God se groot genade openbaar Hy dan aan sy profeet, Daniël, wat Nebukadnesar se droom beteken. Omdat God alwetend is, gee Hy die vólle uitleg van hierdie droom aan sy uitverkore kind met ‘n réde. God wil aan Nebukadnesar wys dat dit alléén Hy is Wie almagtig en soewerein is en níé die koning van Babel nie. Want, geliefdes, dit is die Hére wat Nebukadneser hierdie droom laat droom het. God gebruik dus iets waarin Nebukadnesar geglo het, nl. dat dit die gode (of eerder die Enigste Ware God) is wat ‘n boodskap vir hom deur hierdie droom wil gee. In vanoggend se preek gaan ons nie na die inhoud van Nebukadnesar se droom kyk nie, maar in kort droom hy oor die die verskillende wereldmagte wat begin met die Babiloniese Ryk en wat met die Romeinse Ryk eindig. In Daniël 7 droom Daniël oor dieselfde wereldmagte, maar in ‘n ander vorm.

Dít waarop ons egter vandag wil fokus is op dít wat God se profeet vir Nebukadnesar gesê het.

Ons weet reeds dat Nebukadnesar geweldig ontsteld was oor sy onverstaanbare droom, maar iets wat hom selfs vérder sou ontstel, is die betekenis hiervan én die feit dat dit nie een van sy éie mense is wie hierdie droom aan hom verklaar nie. Soos ‘n egte profeet verkondig Daniël egter bloot die Evangelie aan Nebukadnesar, sonder om te skroom. Al besef Daniël dat hy ‘n gevaarlike gebied betree, is hy beréíd om teenoor hierdie wrede, heidense, koning sy geloof te gaan bely. Vol nederigheid en geloof erken Daniël teenoor die koning dat die sterrekykers en die toekomsvoorspellers en die towenaars nie in staat was om sy droom te verklaar nie. “Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u wil bekendmaak wat in die toekoms sal gebeur”, sê Daniël in ons fokusvers.

Daniël stel dus God-Drie-Enig vir die eerste keer aan Nebukadnesar bekend, geliefdes! Met hierdie belydenis wil hy vir die koning gemoedsrus gee – selfs al is hy ‘n ongelowige. “Daar is Iemand wat u kan help, en dit is my alwyse God.” “Hy is totaal en al ánders as ‘n mens en selfs die afgode van Babel.” “Ons kan Hom nie sien nie, want Hy woon in die hoogste hemele.” “En al ken u Hom nie, wil Hy aan u bekendmaak wat in die toekoms sal gebeur.” Dít is wat Daniël vir Koning Nebukadnesar in sy paleis gaan sê. Die “toekoms”, waarna Daniël verwys is nie baie vêr weg van Daniël en Nebukadnesar nie. Dit dui nie noodwendig op die einde van die tye nie, maar eerder op die begin van die Nuwe-Testamentiese tydperk, waarin Jesus Christus se Koningskap sal seëvier (vgl. Hebr. 1: 1; 1 Joh. 2: 18).

In Nebukadnesar se groot benoudheid en onrustigheid, wys die profeet Daniël hom dan op God se Hoop en op sy Verlossing. Alle wêreldse koningkryke sal wankel en vernietig word – ook dié van koning Nebukadnesar. Wanneer ‘n mens egter tot geloof in God kom, sal selfs die ineenstorting van regerings mens nie onrustig maak nie, geliefdes. Want ons wéét tog dat God in beheer bly – van alles wat hier op aarde gebeur. Deur sy Seun, Jesus Christus, vestig Hy sy wáre Koninkryk – die hemelse Koninkryk. Te danke aan Christus se kruisdood en oorwinning oor die dood kry ons die voorreg om burgers van sy Ewige Koninkryk te mag wees. Almal wat sonder twyfel hierin glo, ontvang vréde vir hulle gemoed. Dit is ‘n moontlikheid – sélfs vir ongelowiges! Deur sy profeet, Daniël, roep God vir die heidense koning, Nebukadnesar, op om hom van al sy hoogmoed en sy bloeddorstigheid te bekeer. Dit wil vir ons voorkom asof Nebukadnesar wél later in sy lewe tot bekering gekom het n.a.v. sy belydenis in ons tweede fokusvers asook dít wat hy in Daniël 4 teenoor God bely. Nadat Daniël sy droom aan hom bekendgemaak het, erken Nebukadnesar: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Here van die konings en die Een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim uitlê.” Vir ‘n tyd lank vind Nebukadnesar rus vir sy gemoed oor die Hoop en die Verlossing waarvan Daniël getuig het.

Slot

In vanoggend se preek bring die Heilige Gees elkeen van ons diep onder die indruk dat ons nie nét na ons eie gemoed kan omsien nie, maar ook die gemoed van ánder. Selfs al was Nebukadnesar ‘n heidense koning wat Daniël en sy drie vriende onregverdig behandel het, selfs al maak hy in hoofstuk 3 ‘n afgod en beveel hy almal om dit te aanbid, is Daniël bereid om die Evangelie van Hoop en van Verlossing met hom te deel. Met die krag van die Heilige Gees skraap Daniël die moed bymekaar om voor hierdie magtige koning te gaan verskyn en die Ware God aan hom bekend te stel. Daniël het nie goeie nuus vir Nebukadnesar nie, maar noodsaaklike nuus. Sy koninkryk – alles wat hy opgebou het – gaan inmekaarval. Maar daar is Hoop vir sy gemoed! Daar is Verlossing vir sy siel!

Geliefdes, die Here roep elkeen van ons op om nie nét onsself en ons éie mense te troos met sy Evangelie nie, maar ook ánder. Selfs húlle waarvan jy dalk nie hou nie – selfs húlle waarmee jy niks te doen wil hê nie. Is jy bereid om dit te dóén? Is jy bereid om aan die Here van die hemele gehóórsaam te wees? Amen.