Skrifgedeelte: Johannes 14: 1 – 20 (1983-Vertaling)
Fokusvers: Johannes 14: 1, 16 (1983-Vertaling)
Tema: Wanneer ons ontsteld word troos God se Woord ons sodat ons nie meer ontsteld sal wees nie.
Inleiding
Ons Here, Jesus, is besig met sy heel laaste gesprek met sy dissipels. Dit wat ons hier, in Johannes 14, lees, vorm deel van die sg. laaste opdragte en wyshede wat Christus vir sy navolgers sê. Ons moet goed verstaan dat dít wat Hy vir die disippels in ons Teksgedeelte sê, sê Hy vir hulle die aand voor sy gevangenisskap.
Terwyl hulle nog aan Tafel sit, nadat hulle die Paasfees-ete geëet het, breek Hy die nuus: “Ek is nog net ‘n kort tydjie by julle.” “Waarheen Ek gaan, kan julle My nie nóú volg nie, maar later sal julle My volg” (Joh. 13: 33, 36).
Die gelowige se ontsteltenis
Skielik word die spreekwoordelike mat onder die dissipels se voete uitgeruk. Alles waaraan hulle vasgehou het, ruk los. Alles waarop hulle gehoop het, begin wankel. Hulle hoor dat hulle Here en hulle God hulle gaan verlaat en hulle kan níks daaraan doen nie. Hulle kry nie eens kans om te reageer op hierdie skokkende nuus nie, want Jesus bly aan die Woord – totdat hulle in die Tuin van Getesémane aankom – dáár vang die Romeinse soldate Hom en daarná word Hy verhoor. Te stomgeslaan om te reageer, is die dissipels huiwerig om iets te sê. Dit is nét die voortvarende Petrus (Joh. 13: 37), die twyfelende Tomas (Joh. 14: 5) en die onsamehangende Filippus (Joh. 14: 8) wat waag om iets te sê. Verder is dit stil. Die Here se binnekring is geskok deur sy woorde aan hulle. Totaal en al ontnugter – byna getraumatiseerd – luister hulle maar net hoe hulle Leermeester besig is om hulle te groet.
Geliefdes, ons moet verstaan dat Jesus Iemand was wat vastigheid en stabiliteit vir die dissipels gegee het. Nadat Christus hulle geroep het om Hom te volg, het hulle alles waaraan hulle gewoond was, agtergelaat. Uit geloof was hulle bereid om hulle bekende omgewing te verlaat, en Hóm te volg. Hierdie tree van geloof het veroorsaak dat hulle vir Jesus ten volle vertrou. Hy was méér as ‘n Mentor vir hulle. Hy was hulle Leier en hulle God. Die naam, “dissipel”, beteken “student” en presies was dít was hulle. Jesus Christus was die dissipels se Leermeester. Hy was ‘n Rots vir hulle. Die dissipels het só nou saam met Jesus geleef, dat hulle álles saam met Hom gedoen het. Hulle eet saam met Hom (Matt. 9: 10; 26: 18), hulle het saam met Hom gereis (Luk. 8: 1; Joh. 2: 12) en was ook betrokke as Hy wonderwerke gedoen het (Matt. 10: 1; Luk. 10: 17). Vir byna drie jaar neem Hy nou al leiding in hulle lewens. Dit is Hy wat sê wat hulle volgende gaan doen en waarheen hulle volgende op pad is.
En daarom kan ons – tot ‘n mate – verstaan waarom hulle voel soos hulle voel. Ons kan insien waarom die dissipels ontsteld is. Hulle het álles vir Christus en sy bediening opgeoffer en nou verlaat Hy hulle? Hoe werk dit? Hulle voel uiters geskok. Ontredderd. Hulle voel verlate en in die steek gelaat. Baie gelowiges wéét hoe dit voel om skokkende nuus te kry. Baie van ons het ook dalk al gevoel asof die Here se nabyheid ons verlaat. Nét omdat ons Christene is, beteken nié dat ons van skok en trauma gevrywaar word nie. Dalk het jy ook al gevoel asof die Kerk jou in die steek laat. Dalk voel jy verward – of selfs kwaad – vir iets of iemand wat veronderstel was om aan jou stabiliteit in die lewe te gegee het. Ja, geliefdes, ons kan die benoudheid en die onrus verstáán wat die dissipels daardie aand ervaar het.
Die troos van God se Woord
Tog – as ons mooi oplet – bevat hierdie gedeelte véél meer troos as wat daar onrustigheid in die dissipels se harte teenwoordig is. Hulle het trouens eintlik geen rede om geskok en verward te wees nie, want Christus het tog verskéíe kere aangekondig dat Hy hulle binnekort sal moet verlaat. Drie keer in die dissipels se onlangse verelede het Hy hulle op hierdie dag voorberei. In Markus hoofstukke 8, 9 en 10 sê Hy drie keer dat Hy binnekort sal moet ly, deur mense verwerp en gekruisig sal word, maar óók dat Hy kort daarna uit die dood sal opstaan (Markus 8: 31 – 33; Markus 9: 30 – 32; Markus 10: 32 – 34).
Juis omdat Christus sy dissipels liefhet – en hulle kén – het Hy hulle lankal reeds voorberei op dít wat hulle tans, hier in Johannes 14, beleef. Maar in hulle menslikheid en sonde, het hulle nooit sy Woorde wérklik ter harte geneem nie. En daarom is hulle nou so verontwaardig, want nóú eers besef hulle die realiteit. Maar, geliefdes, as daar Iemand is Wie angstig en benoud moes voel, is dit Jesus Christus, want sy dood is voor die deur. Sy uur het gekom! Maar wat doen Hy? Selfs in sy uur van benoudheid is dit Hy wat sy dissipels troos! “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My.” Jesus Christus troos sy navolgers deur vir hulle iets te sê. Met die Woorde uit sy mond, wil Hy vir hulle gemoedsrus gee omdat Hy síén hoe uiters onrustig en benoud hulle is.
Wanneer Christus vir hulle die opdrag gee om nie “ontsteld” te wees nie, dan verwys die oorspronklike Taal híér na die gevoel wat ‘n mens kry as jy op ‘n perd se rug ry terwyl hy gallop. Dit is om ongemaklik rondgeruk te word – om oor en oor geroer te word deur iets wat buite jou beheer is. Die betekenis híér is dat Christus van sy dissipels vra om nie meer deur hulle bekommernisse verwar te word nie. Hy beveel hulle om nie omgekrap te word deur sy Woorde nie, maar eerder gerusstelling te ontvang oor dít wat Hy vir hulle sê. Daarom wys Hy hulle maar wéér op Wie Hy én sy Vader is: “Moet nie dat hulle harte ontsteld wees nie. Glo eerder in God. Glo ook in My!”
Hy gee hulle hierdie opdrag om in Hom te glo op grond van Wie Hy is. Omdat Hy rééds aan hulle bewys het dat Hy totaal en al betroubaar is, kan hulle maar nét aanhou om in Hom te glo. Omdat hulle Hom kén, wéét hulle tog dat hulle op Hom kan staatmaak – selfs al moet Hy nou van hulle af weggaan. Daarom vra Hy van hulle om áán te hou om in Hom en in sy beloftes te glo – selfs al moet hulle paaie nou skei. Hulle kén ook die Een Wie Hom na hulle gestuur het, en daarom beveel Hy hulle: “Glo ook in God”. Net soos hulle Leermeester betroubaar is, is hulle Skepper betroubaar. God, die Vader, het al van die vroegste tye vir sy kinders bewys dat Hy vertrou kan word. Hy het. o.a. ‘n Verlosser aan sy uitverkore kinders beloof, en eindelik is Hy hier! Deur die inhoud van sy Woord, troos die Here gelowiges deur al die eeue.
Met Christus se koms na die wêreld, word gelowiges die héél meeste getroos. Ons troos vandag is dat al hierdie Woorde van Christus vir ons opgeteken is. Ons kan elke dag teruggaan en daarna kyk. Elke Woord wat Jesus Christus vir sy dissipels en vir die skare mense sê, bevat dus tróós vir gelowiges. Óók hierdie laaste woorde van Hom voor Hy moet heengaan. Wanneer Christus vir sy dissipels die opdrag van ons foksuvers gee, dan vra Hy van hulle om beheer oor hulle emosies te neem as Hy sê: “Moet nie toelaat dat julle harte ontsteld raak nie.” Wanneer Hy vir hulle hierdie opdrag gee, dan moet hulle moet Hom rég verstaan. Hy gaan nie nou hulle vir ewig verlaat nie, maar net tydelik. Hy gaan net vir ‘n ruk nie by hulle wees nie, want Hy gaan om op ‘n ánder plek, vir hulle plek gereed te maak. Sy weggaan hou dus ‘n belofte in, geliefdes. Eintlik verskeie beloftes: Eerstens belowe Jesus Christus aan sy dissipels dat die feit dat Hy hulle verlaat, hulle nie behoort te ontstel nie, want Hy gaan net tydelik van hulle af weg. Verder belowe Hy dat Hy met ‘n doel van hulle af weggaan: Hy gaan om vir hulle ‘n beter plek voor te berei. Daarna belowe Hy dat daar baie wonings of baie woonplek is by die plek waarheen Hy op pad is – hulle kan dus verseker wees dat hulle definitief ‘n beter woonplek gaan ontvang. Maar dit is nie al nie, geliefdes. In vers 3 belowe Jesus Christus selfs nóg iets vir hierdie ontstelde en verwarde dissipels: “Nadat Ek gaan plek voorberei het, kom Ek weer na julle toe. Ek sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is”. Slegs in hierdie eerste drie verse van Johannes 14 kry ons dus vier troosvolle beloftes van Christus.
Die gelowige se vrede
Nóg rede waarom die dissipels nie ontsteld hoef te wees nie, is weens Christus se belofte van sy wederkoms. Hierdie woorde geld – weereens – nie nét vir die dissipels nie, maar vir álle gelowiges van álle tye. Christus se weggaan – sy Hemelvaart – hoef ons nie te ontstel nie, geliefdes, want Hy belowe dat Hy wéér na ons toe sal kom om ons na Hom toe te neem. Hy verseker gelowiges dat Hy ons nie as weeskinders agterlaat nie. Hy kom verseker wéér na ons toe. Al is Hy nie fisies meer by gelowiges nie, beteken dit nie dat Hy van ons vergeet het nie. In die Kategismus het ons bely dat Christus twee nature het – sy Godheid en sy Mensheid. Al vaar Hy na sy Mensheid én sy Godheid na die hemel toe op, het ons die troos dat sy Godheid ons nooit sal verlaat nie. Dit is omdat God-Drie-Enig alomteenwoordig is.
Om hierdie belofte aan ons te bevestig gee Hy ‘n ander Trooster in sy plek. Hy stort sy Heilige Gees oor die Kerk uit sodat Hý ewig by ons kan bly. Al is Christus nie nou meer op aarde nie, is God steeds by ons – nóú deur die Derde Persoon in die Drie-Eenheid. Vir ons om die Heilige Gees by ons te hê, is géén tweede prys nie, geliefdes. Die Heilige Gees is nie minderwaardig teenoor die Vader of die Seun nie. Hy is deel van die Wese van God. Hy het gelyke gesag, mag en heerlikheid. Wanneer ons dan in die Kategismus bely dat die Heilige Gees as betroubare waarborg na ons toe gestuur is, dan bring dit vir gelowiges ‘n diepe troos.
Terwyl ek geduldig wag om die ewige lewe ten volle te besit, troos die Heilige Gees my elke dag. Wanneer dit voel asof hierdie aardse lewe vir my te erg raak, herinner Hy my aan God se beloftes. Hy lei my, en rig my gedagtes op die dinge daar Bo, waar Christus aan die regterhand van God sit. Die Heilige Gees verander my visie – Hy gee aan my ‘n hemelse perspektief sodat ek regdeur my lewe kan moed hou. Hy oortuig my dat ek ‘n vaste toekoms in die hemel het. Maak nie saak watter swaarkry en moeite ek hier op aarde beleef nie – daar wag ‘n volmaakte lewe in die hemel vir my. ‘n Waarborg wat God-Drie-Enig sélf aan ons gee.
Christus se Hemelvaart waarborg selfs nóg ‘n laaste ding aan ons, geliefdes. Wanneer Hy na die hemel toe opvaar dan gaan Hy daarheen om, vir ons, by die Vader in te tree. Omdat Hy die dood oorwin het, vaar Hy na die hemel toe op as ons Voorspraak by die Vader. Hy verdedig gelowiges en bewys dat gelowiges se sondes nie gestraf behoort te word nie, want die prys daarvoor is rééds betaal. Die bewyse wat Hy gee is die stérkste bewyse denkbaar: sy éie bloed wat Hy aan die kruis gestort het. Dít is die rede waarom die uitverkorenes nie gestraf moet word nie, maar vrygespreek moet word. Deur sy teenwoordigheid in die hemel, is Hyself die Waarborg dat gelowiges verséker daarheen sal kom. En dit gee verál vir ons vrede vir ons gemoed.
Slot
Al die swaakry en die moeite en die misdaad en die onrus wat ons tans, hier op aarde, beleef, sál verbygaan. Deur God se Woord tróós die Here ons sodat ons nie verder ontsteld sal wees nie, maar sodat ons getroos mag word tótdat ons vrede vir ons gemoed ontvang. Baie keer voel God se Woorde én sy Dade onverstaanbaar. Baie keer maak dit wat Hy sê of toelaat in ons lewens, nie vir ons sin nie. Maar mag ons onthou dat Hy ‘n doel het met alles wat Hy sê en doen.
Aanvanklik het die dissipels nié sy Woorde van weggaan verstaan nie, maar deur die genade kan óns dit vandag verstaan. God-Drie-enig sal ons nooit teleurstel nie, geliefdes. Wanneer ons verontreg of te nagekom voel, dan kan ons nié die skuld vir God gee nie. Wanneer jy bv. seergemaak voel, oor iets wat iemand van die Kerk vir jou gesê het, of aan jou gedoen het, dan is dit nie die Hére wat jou teleurgestel het nie, maar die méns.
Alles wat God doen, doen Hy in liefde. Alles wat God, deur sy Woord, aan ons wil sê, sê Hy tot ons voordeel. Selfs al verstaan ons dit dalk nie vandág nie, bring sy Woorde áltyd vir ons troos en vrede in ons gemoed. Amen.