Filippense 4: 2 – 9

Skriflesing: Filippense 4: 2 – 9 (2020-Vertaling)

Fokusverse: Filippense 4: 6 en 7 (2020-Vertaling

Tema: Wanneer mens ‘n lewende verhouding met God het, dan ontvang ‘n mens vrede van God. Wáre vrede is alleen in Christus moontlik.

Inleiding

Elke mens op aarde is opsoek na vrede vir sy/haar gemoed. Mens se geskiedenis, jou bankbalans, agtergrond of selfs jou geloof is nié faktore wat aan ‘n mens vrede kan waarborg nie. Alle mense ervaar bekomernisse, angs en benoudheid. Selfs daardie persoon wat altyd lyk asof hy/sy ‘n sorgvrye lewe het, het óók maar dinge wat hom/haar pla. Selfs die rykste persoon ervaar soms bekommernisse. Selfs die diepste gelowige voel van tyd tot tyd bedruk.

Wanneer mens ‘n lewende verhouding met God het, dan ontvang ‘n mens vrede van God

Die rede waarom ‘n mens bekommerd en beangs en onrustig is, is weens die gebrokenheid van die wêreld. Nadat Adam en Eva in sonde geval het, ervaar álle mense – en sélfs die Skepping – die gevolge van die sonde. Die volkome harmonie en vrede wat hulle in die Tuin van Eden ervaar het, is iets van die verlede. Die oomblik toe sónde in die wêreld ingekom het, begin die angs en die innerlikke onrus en die legio bekommernisse. Vanuit ons reeks preke die afgelope vier Sondae het ons gesien hoedat angs en benoudheid al van die Ou-Testamentiese tydperk by gelowiges teenwoordig was. Ons het eerstens na Psalm 42 gekyk, en raakgesien hoe ‘n mens ‘n gesprek met jouself mag hê oor jou persoonlike bekommernisse. Die digter van Psalm 42 was aanvaklik deel van ‘n vrolike geloofsgemeenskap, maar wanneer hy sy Psalm dig is hy vir een of ander rede eensaam en alleen. Hy voel verwerp en in die steek gelaat. Daarom spreek hy sy eie binneste aan en herinner hy homsélf aan God se wonderlike beloftes. Te danke aan die Heilige Gees – wat kragtig in hom werk – herinner die digter homself aan God se Hoop en Verlossing wanneer hy angstig is.

Daarná het ons van die magtige koning Nebukadnessar gehoor, wat ‘n ontstellende droom gehad het. Hierdie droom van hom het daartoe aanleiding gegee dat Nebukadnessar aan die Enigste Ware God bekendgestel word. Nadat hy die wysheid van God ontvang het, gee die profeet, Daniël, die uitleg van sy droom aan die heidense koning van Babel. Ons het dus raakgesien dat ‘n mens nié die Evangelie van vrede vir jouself mag hou nie. Soms word dit van ons verwag om ook ánder mense aan God se Hoop en sy Verlossing te herinner. Selfs al is die situasie dalk ongemaklik, of selfs al hou ons nie van die persoon nie, verwag die Here van ons om sy Goeie Nuus met ander te deel.

In verlede week se preek het ons diep onder die indruk gekom van die vrede wat daar in en deur Christus se Menswording gekom het. Toe Jesus aarde toe gekom het, word alle gelowiges getroos en versterk deur sy Woorde. Die verwarde dissipels was angstig toe hulle besef het dat Hy hulle binnekort sou verlaat, want Hy het vastigheid en stabiliteit aan die dissipels se hele menswees gegee. Met Hom in die omtrek, het die dissipels byna geen besorgdheid of kommer geken nie, want Christus het áltyd ‘n oplossing gehad. Daar was altyd ‘n uitweg en Hy het hulle áltyd tot bedaring gebring wanneer hulle onseker oor die toekoms was. Maar baie binnekort sou hierdie kalm atmosfeer van sy teenwoordigheid hulle verlaat. Hulle voel beangs en uiters benoud, en daarom troos Hy hulle met die Woorde: “Laat julle harte nie ontsteld word nie, glo in God, glo ook in My” (Joh. 14: 1).

In God-Drie-Enig se wonderlike genade is ál Christus se Woorde vir ons opgeteken. Al sy Woorde van troos, van wysheid, van hoop en van verlossing. Tog bely ons dat God se Woord nie nét Jesus Christus se fisiese Woorde is nie, maar álles wat God wou hê neergeskryf moes word. Deur die Heilige Gees is die Bybelskrywers tot só ‘n mate geinspireer dat dit nie nét Christus se fisiese Woorde is wat gesagvol is nie, maar óók ander geskrifte wat in die Bybel ingesluit is. Daarom is die Skrifgedeelte wat ons bv. vanoggend saamgelees het, ook deel van God se Woord. Ook dít dra gesag.

Paulus het die brief aan die Filippense vanuit die tronk in Rome geskryf. Die apostel skryf hierdie brief aan die gemeente om sy dank te betoon vir ‘n gawe wat die gemeente aan hom gestuur het terwyl hy daar in die gevangenisskap sit (Fil. 2: 25; 4: 14, 18). Hy stuur hierdie brief van dank terug saam met Epafroditus nadat hy Paulus kom versterk het. En dan is dit opmerklik dat hierdie hele brief ‘n baie positiewe en opbouende toon het. Al is Paulus in die tronk, is hy blymoedig en is dit hy wat die gemeente bemoedig! Al is hy, na alle waarskynlikheid, angstig en benoud en onseker oor sy toekoms, leef hy sy geloof gehoorsaam en getrou uit. Regdeur die brief aan die Filippense sien ons sy blydskap en dankbaarheid teenoor die Here raak – ten spyte van sy huidige omstandighede.

Paulus probeer áltyd op die positiewe te fokus, en deur dit vir die gemeente te noem, léér hy hulle eintlik daarmee dat hulle dit óók behoort te doen. In Filippense 1: 12 – 26 se Paulus dat daar sommige mense in is wat met bybedoelings die Evangelie verkondig. Hulle misbruik God se Woord en is selfsugtig wanneer hulle ‘n Boodskap bring. Hy praat selfs van dié mense wat dit doen met die doel om vir Paulus ekstra verdrukking in sy gevangenisskap te veroorsaak. Maar dan sê die apostel dat hierdie mense se sonde hom nie neerdruk nie, maar dat hy dankbaar is dat God se Woord wél verkondig word. Die Heilige Gees is tog veel kragtiger as ‘n méns se slinkse planne. Hy sê daar in vers 19: “Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en omdat die Gees van Christus my ondersteun.

In Filippense 2: 2 sê hy dat die blydskap, wat hy rééds oor hierdie gemeente het, volkome sal wees wanneer hulle al meer eensgesind sal word. Hy spoor hulle aan om met dieselfde nederige gesindheid van Christus te leef, en altyd jou medemens hoër moet ag as jouself. Wanneer hulle dít doen sal hy vól vreugde wees – selfs al is hy in ‘n tronksel ingeperk. In Filippense 3: 1 doen Paulus ‘n erstige oproep teenoor die lidmate van hierdie gemeente as hy sê: “Verder, my broers, wees bly in die Here!” En in die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het hoor ons die bekende dubbele oproep: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Wanneer Paulus, regdeur sy brief, van blydskap in die Here praat, dan bedoel hy om werklik jouself in die Here te verheug! Dit is om vol vrolikheid te wees vir dít wat die Here in jou lewe beteken en om opgewonde te wees oor dit wat die Here vir jou gee. Paulus is in die tronk. Hy is in die vreemde onder heidense regering, maar hy is egter vol vreugdeopgewonde – oor dit wat die Here vir hom doen. En dáárom roep die apostel die gelowiges op om altyd – in alle omstandighede bly te wees in die Here. Paulus kyk dus met totaal ander oë na hierdie lewe, geliefdes. En dit is nie omdat hy Páúlus is, dat hy dit kan doen nie. Dit is alleen omdat die Heilige Gees aan hom hierdie gesindheidsverandering laat ondergaan het. Deur die Here se genade ontvang Paulus die gawe van ware geloof. Hierdie geskenk van God veroorsaak dat hy nie op sy mismoedige omstandighede fokus nie, maar eerder op dít waarmee Gód besig is.

Al is hy beperk, besef hy dat daar ánder mense is wie hulle geloof in alle vryheid kan uitleef.

Hy is dankbaar oor die omstandighede van die gelowiges in Filippi (en soveel ander dorpe en stede waar hy die Evangelie gebring het). Paulus kyk dus wyer as homself en sy eie situasie. Deur die genade het hy ‘n Koninkyksperspektief. Paulus vestig sy hoop totaal en al op die God Wie hy aan soveel ánder verkondig het, en daarom ontvang hy vrede vir sy gemoed. Paulus ontvang rustigheid vir sy siel, want hy kén die Here! God is nie net goed vir ánder nie, maar ook vir hom, persoonlik (Heidelbergse Kategismus Sondag 7(21)).

Geliefdes, dit is duidelik dat Paulus ‘n lewende verhouding met die Here gehad het. Wanneer ‘n mens ‘n lewende verhouding met die Here het, dan dink jy nie maar net af en toe aan Hom nie. Jy lees nie maar net soms Bybel en kom Kerk toe wanneer dit jou sosiale skedule pas nie. Wanneer jy in ‘n lewende verhouding met die Here staan, dan is jy konstánt bewus van die Here. Jy is verál bewus van sy sorg en nabyheid in jou lewe. Wanneer jy in ‘n lewende verhouding met die Here het, dan het jy volkome sekerheid in Wie Hy is en wat Hy aan jou belowe. Dit is om bewus te wees van hoe die Heilige Gees aktief in jou daaglikse aktiwiteite aan die werk is. Wanneer jy in ‘n lewende verhouding met God staan, dan dra jy ook die vrug van die Gees: o.a. vreugde en vrede waarvan ons hier, in Filippense 4, lees.

Die gelowiges in Filippi – en álle gelowiges wie, ná hulle, hierdie brief lees – word dus opgeroep om hierdie gesindheid van vreugde in die Here en volmaakte vrede aan te kweek. Hoe kweek ek dit aan? Hoe oefen ek hierdie positiewe gesindheid in, nadat die Here my daarvoor toegerus het? Deur te werk aan jou verhouding met die Here. Ons opdrag in vers 6 is dat gelowiges nie bekommerd moet wees nie, maar dat ons ons eerder, in die plek van besordheid, alles aan God bekend moet maak deur gebed en smeking. Wanneer ek dus voel daar angstigheid in my binneste naderkruip. Wanneer ek myself só bekommer oor iets wat buite my beheer is dat ek byna nie normaal kan funksioneer nie, dan is dit ons plig om daaroor met die Here te praat, deur gebed. Wanneer ‘n mens stééds angstig en benoud is, nadat jy gebid het, kan ‘n mens wéér bid. Weer uit God se Woord troos gaan soek. Totdat jy uiteindelik vrede ontvang. Dit is hoe jy jou verhouding met God lewendig hou. Nie deur net nou en dan te bid en dan te hoop vir die beste of vir ‘n kits-oplossing nie. Maar deur aktief en kreatief met die Here te kommunikeer en toe te laat dat Hy – op sy tyd – met jou kommunikeer. Regdeur hierdie proses sal ‘n mens al meer gemoedsrus en al meer vrede ontvang.

Wáre vrede is alleen in Christus moontlik

Die vrede waarvan Paulus in ons fokusvers praat, is weereens ‘n geskenk van God. Daarom word dit in vers 6 “die vrede van Gód” genoem. Dit is Gód wat vrede vir sy kinders gee. Die vrede wat God aan sy kinders skenk, is egter nie ‘n eenmalige geskenk wat Hy gee en dan is dit afgehandel nie. Soos die meeste van ons al ervaar het, onderhou God hierdie gevoel van vrede en gemoedsrus deur sy genade.

Ons lees verder in ons tweede fokusvers dat hierdie vrede van God alle begip/verstand sal oortref. Net soos iemand, wat totaal en al blind is, nooit ‘n pragtige sonsondergangs sal kan waardeer nie, net só sal ons nooit wérklik die vrede van God kan begryp nie. God se vrede gaan ons verstand te bowe, geliefdes! Die vrede wat Hy gee is te hoog vir ons begip! God se vrede is dus iets veel méér as maar blote gemoedsrus of ‘n gevoel van vergenoegdheid. Dit is wáre vrede, wat alleen in en deur Jesus Christus moontlik is. Wanneer ‘n mens gedurig bewus is van dít wat Jesus Christus namens jou gedoen het, dan onvang ‘n mens hierdie vrede waarvan Paulus praat. Ons Here, Jesus Christus, het in sy volle glorie Mens kom word sodat Hy, namens ons, volledig aan God gehoorsaam kon wees. Met sy Woorde leer en onderrig Hy ons tot so ‘n mate dat ons kennis kan kry om die Ewige Lewe te erf. Vanuit die Bybel weet ons presies hoe ons behoort te lewe sodat ons God met ons optrede kan eer. Met sy kruisdood betaal Hy die volle prys om ons van al ons sondes te reinig. Deur sy opstanding uit die dood waarborg Hy aan ons dat óns ook eendag uit die dood sal opstaan om ewig in God se teenwoordigheid te leef.

Slot

Wanneer ‘n gelowige die impak en die waarde hiervan – van dít wat Jesus Christus in sy/haar lewe beteken – begryp, dán sal hy/sy vrede hê. Wáre vrede. Hierdie vrede van Christus hou oor ons harte en oor ons gedagtes wag. God se vrede waak oor ons. Oor dít wat ons dink en dít wat ons voel en dit wat ons doen.

In die afgelope maand het ons, as gemeente, die voorreg gehad om vanuit die Ou- én die Nuwe-Testament getroos en bemoedig te word oor al die trauma en die onrus wat ons soms in hierdie lewe ervaar. Mag elkeen van ons daarom aktief daaraan werk om ‘n léwende verhouding met God aan te kweek. Want allen dán sal ons perspektief oor hierdie lewe veránder sodat ons wáre vrede vir ons gemoed kan hê. Amen.