1 Tessalonisense 5: 12 – 18

Skriflesing: 1 Tessalonisense 5: 12 – 18

Fokusvers: 1 Tessalonisense 5: 18

Tema: God verwag van ons om in alle omstandighede dankbaar te wees. Hoe lyk ons dankbaarheidslewe?

Inleiding

Hoe lyk jou dankbaarheidslewe vir ander mense? As ander mense na jou kyk, sal hulle kan agterkom dat jy wérklik dankbaar in die lewe is? Sommige mense word só ryklik geseën maar dan toon hulle geen dankbaarheid vir dít wat hulle ontvang het nie. Hulle bly onvergenoegd en is konstant ontevrede oor dít wat hulle het. Ander mense het weer die minimum in die lewe maar hulle harte loop oor van dankbaarheid vir die bíétjie wat hulle het.

God verwag van ons om áltyd dankbaar te wees

‘n Mens se ingesteldheid speel dus ‘n gewéldige belangrike rol in hoe ‘n mens die lewe hanteer. Dit wat in ‘n mens se hart aangaan bepaal hoe ‘n mens op álle situasies in die lewe reageer. Die wyse Salamo sê immers: “Wees verál versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spr. 4: 23). Wanneer ek bv. ongeduldig en kort van draad is, dan sal ek meestal uit woede reageer – selfs op iets wat iemand mooi bedoel. Wanneer ek gedurig pessimisies is, sal ek áltyd eerste die negatiewe raaksien en meer fokus op dít wat moontlik kan skeefloop as op die sukses wat behaal kan word. En wanneer ek tot ondankbaarheid geneig is, dan sal ek maar mín met ‘n glimlag op my gesig gesien word.

Wanneer die apostel, Paulus, egter sy eerste brief aan die gemeente in Thessalonika skryf, dan skryf hy dit met ‘n glimlag vir hulle. Paulus is vol dankbaarheid wanneer hy aan hierdie gemeente dink, want hulle reageer in gehoorsaamheid op die Evangelie. Regdeur sy eerste brief aan die Thessalonisense is dit vir ons duidelik dat die apostel ‘n dankbare gesindheid het. In hoofstuk 1: 1 lees ons: “Ons dank God áltyd vir julle wanneer ons in ons gebede aan julle dink.” Later in die brief hoor ons weer: “Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die Boodskap van God, wat julle van ons gehoor en ontvang het, ook aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die Woord van God” (2: 13). Vir hierdie gemeente sê Paulus: “Júlle is immers ons trots en ons blydskap!” (2: 20).

Wanneer Timoteus na Paulus toe terugkeer, nadat hy die gemeente in Thessalonika gaan besoek het, getuig hy van die gemeente se volharding in die Here. Vanuit Paulus se briewe weet ons dat hierdie gemeente se lidmate wreed vervolg is. En tog hoor Paulus nou by Timoteus dat hierdie gemeente vasstaan in hulle geloof en in hulle liefde teenoor mekaar, maar méér nog, teenoor die Here (1 Tess. 3: 6). En dan skryf Paulus vir hulle terug en sê: “Daarom het ons in al ons nood en swaarsky weer moed geskep vir julle omdat julle glo. Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer wérklik” (1 Tess. 3: 7 en 8).

Paulus is dus uiters dankbaar teenoor hierdie gemeente, en tóg is hulle nie volmaak nie. Al is die lidmate van hierdie gemeente sy trots, is daar óók maar nog dinge waaraan hulle kan werk. En daarom doen Paulus hierdie érnstige beroep op hulle om o.a. dankbaar te wees. Dit is opmerklik dat die apostel egter nie slégs hulle tot dankbaarheid oproep nie, maar tot ‘n verskeidenheid goeie dade. Vanuit hierdie opdragte, uit 1 Thessalonissense 5, kan ons agterkom dat daar tóg ‘n mate van onderlinge geskille tussen die lidmate was. Dít is die rede waarom die gelowiges in vers 1 vriendelik versoek word om die opsieners/ouderlinge in die gemeente te erken. Die gelowiges in Thessalonika word opgeroep om dié mense wat oor hulle toesig hou te respekteer en die hoogste agting vir hulle te hê – nie noodwendig omdat hulle voorbeeldige mense is nie, maar omdat Gód hulle vir hierdie besondere diens geroep en toegerus het.

En dan vestig die apostel die gelowiges se aandig op hoe hulle teenoor mekaar, as medegelowiges, behoort op te tree. Ons sal in die volgende twee weke in meer detail hierna kyk, maar híér is dit duidelik dat dit van gemeentelede verwag word om op mekaar ingestel te wees. Soms moet ‘n mens dié wat in die gemeente leeglê, aanspreek (vers 14), ander kere word dit van ons verwag om iemand in die gemeente, wie moedeloos is, met die Here se Woord te gaan bemoedig. Of iemand, wie swak is, te ondersteun. As lidmate is dit verder ‘n mens se plig om toe te sien dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie. Dit beteken dat ons, as gelowiges, mooi moet kyk dat niemand in die gemeente iemand anders “terugkry” wanneer hy/sy seergemaak is nie.

Hierin is Jesus Christus vir ons ‘n Voorbeeld, geliefdes. Al is Hy gedúrig deur mense bespot en belaster, het Hy nooit daardie sondaars terug beledig nie. Hy het geduldig sy lyding verduur en, soos ‘n skaap, was Hy stil voor sy skeerders (Jes. 53: 7). Hy leer ons om eerder dié te vergewe wie teenoor ons oortree en skuldig staan (Matt. 6: 12). In tye van teëspoed en vervolging behoort die gemeente in Thessalonika wééreens eerder Christus se voorbeeld te volg deur gedurig te bid, soos hulle ook aanbeveel word deur Paulus in vers 17.

Wanneer ons ons nietigheid en menslike swakheid voor die Here besef, dan sal ons náby aan Hom wil leef. Omdat ons ons eie tekortkominge erken, sal ons met God in gesprek wil tree, deur gebed. Gebed help ‘n gelowige om al meer te besef hoe nódig hy/sy die Here het. Verlossing van sondes en die verkryging van die ewige lewe is nie vir énige persoon sélf moontlik nie. Selfs al is ‘n mens ‘n díép gelowige en selfs al leef ‘n mens náby aan die Here, kan ‘n mens nie sélf – op jou eie – verlossing verkry nie. Dit besef ‘n mens maar al te goed wanneer ‘n mens jou sondaar-hart voor die Here in gebed uitstort. Soos jy jou persoonlike sonde teenoor die Here bely, wanneer jy bid, só kom jy al meer agter hoe geweldig nodig jy Jesus Christus se verlossing, God se liefde en die Heilige Gees se leiding het. Sónder geloof in God-Drie-Enig kan jy nie die ewige lewe ontvang nie, en sonder Hóm kan jy ook nie sy opdragte gehoorsaam nie. Dit besef en leer ons oor en oor soos ons met die Here kommunikeer en ook te luister as Hy met ons kommunikeer.

Die laaste – en eintlike – opdrag, waarop ons vanoggend gaan fokus, is dit wat Paulus in ons fokusvers van die gelowiges in Thessalonika vra: “Wees in alle omstandighede dankbaar; want dít is God se wil vir julle in Christus Jesus.” Eerstens is dit vir ons belangrik om raak te sien, dat dit nie Paulus is wat hulle hierdie opdrag gee nie, maar Gód. Wanneer God dan van sy kinders vra om in alle omstandighede dankbaar te wees, dan bedoel Hy letterlik álle omstandighede, geliefdes. In tye wanneer dit met hulle goedgaan, maar óók in tyd wanneer dit níé so goed met hulle gaan nie. Ons moet erken dat dit maklik is om in tye van voorspoed dankbaar teenoor die Here te wees. Wanneer ons kos en ons besittings en die reën volop is, dan voel ons dankbaar teenoor die Here. Wanneer my gesin goed versorg is, en ek aan my kinders wonderlike geleenthede kan gee, dan maak dit ‘n mens verál dankbaar. Maar wanneer ek dalk ‘n terugslag in my boerdery ervaar, of my lewensmaat skielik siek word of my kinders sukkel op skool – is ek dan nogsteeds dankbaar? Hoe kan Paulus – nee hoe kan die Here – dit van die Thessalonisense verwag om áltyd in die Here dankbaar te wees?

Ons behoort nou terug te dink aan die dankbaarheid wat Paulus vir die gemeente gehad het, toe hy hierdie brief aan hulle geskryf het. Nou word daar van die lesers van hierdie brief verwag om óók dankbaar te wees, soos wat hulle voorganger danbaar is. Maar ons het dan gehoor dat hierdie gemeente gewéldige teenkanting en vervolging ervaar het? Ons weet dat daar valse leraars onder hulle was wat hulle probeer mislei het. Hoe kan hulle, dán, nogsteeds dankbaar wees? Hoe is dit moontlik om in moeilike omstandighede dankbaar te wees? Is hierdie nie ‘n onregverdige opdrag nie? Nee, geliefdes, dit is nie onregverdig om van gelowiges te verwag om in alle omstandighede dankbaar te wees nie – juis oor wie ons is. Ons is gelówiges. Ons gló in God. Die Here het ons uitverkies om sy kinders en sy eiendom te wees. Deur sy Seun, Jesus Christus, se bloed is ons geheilig. Ons is afgesonder vir Hom. Omdat ons heilig is, is ons ánders as die ongelowiges en behoort ons onsself van die sondige wêreld af te sonder.

Gelowiges verskil dus totaal en al van alle ander mense, en daarom kan ons ook ánders as die res van die samelewig optree. Wanneer die hele wêreld angstig en benoud is, is gelowiges rustig en kalm. Wanneer almal ons land se toekoms, rakende die infrastruktuur of misdaad, vrees, hou gelowiges moed. Wanneer die mense rondom ons sélf planne beraam om hul lewens-sekuriteit te verseker, vestig gelowiges hul hoop opnuut op die Here. Ja, geliefdes, omdat ons deur God eenkant geplaas is, kán ons in alle omstandighede dankbaar wees. Deur die genade van geloof, wil ons gehoorsaam hieraan leef. Ons fokusvers maak dit immers duidelik dat dit God se wil is vir ons dat ons in alle omstandighede dankbaar sal wees.

Ons fokusvers sê dat dit God se wil in Jesus Christus is dat ons altyd dankbaar sal wees. Ons motivering vir ‘n konstánte dankbaarheidslewe is dus Jesus Christus. Wanneer ek wérklik my Verlosser, Jesus Christus, kén, dan sal dit vir my moontlik wees om in álle omstandighede dankbaar te wees. Wanneer ek beséf dat sy kruisdood dit vir my moontlik maak om van al my sondes vrygespreek te word, dan is ek opnuut dankbaar. Wanneer ek aan sy oorwinning oor die dood dink, en onthou dat Hy aan my ook die Ewige Lewe waarborg, dan maak dit my dankbaar – selfs al gaan ek deur ‘n moeilike tyd. Ja, geliefdes, niks wat ons ooit hier op aarde moet deurmaak, sal vir my té erg word as ek konstant aan Jesus Christus dink nie. Wanneer ek my waarde in die Here se oë besef, sal ek dankbaar bly – selfs in ‘n droogte, of selfs al word my lewensmaat skielik siek of selfs al kom een van my kinders iets oor. As gelowige bly ek dankbaarin alle omstandighede – want die Heilige Gees draai my oë wég van my eie omstandighede en wys my weer op dít wat Jesus Christus vir my gedoen het.

In Heidelbergse Kategismus Sondag 10 bely ons dat ‘n gelowige in tye van voorspoed dankbaar teenoor die Here kan wees, en in tye van teëspoed behoort ons geduldig teenoor die Here te wees. ‘n Kind van God mag nooit kwaad raak vir die Here as dit dalk nie so goed met jou of jou gesin gaan nie. Juis in dáárdie tye behoort ek weer perspektief te kry deur bv. myself te herinner dat dít wat ek dán ervaar tydelik is en dat dit ook maar verby sal gaan. Daar wag ‘n ewige heerlikheid vir my en my geliefdes – iets onbeskryfliks wat al hierdie tydelike swaarkry sal oortref. En daarom bly ek in álle omstandighede dankbaar!

Getuig jou lewe van wáre dankbaarheid in die Here? Is jy wérklik áltyd en onder álle omstandighede dankbaar? Maak jy dit aan die mense rondom jou duidelik dat jy dankbaar in die lewe is? Wanneer ‘n mens besef waaruit Christus jou verlos het, en dat Christus vir jou ‘n Ewige Toekoms in die hemel waarborg, dan kan ‘n mens nie ánders as om gewéldig dankbaar te wees nie. Hierdie wete sal my help om meer dankbaar oor die alledaagse dinge te wees – oor my gesondheid, my geleenthede, my gesin. As gelowige maak ek dit vir die mense rondom my duidelik dat ek ook vir die klein goedjies in die lewe dankbaar is. Meer nog – ek wys vir Gód dat ek vir letterlik álles in die lewe innig dankbaar is. 

Slot

In 2 Korintiers 3: 3 lees ons dat gelowiges lewende briewe van die Here is. Deur ons optrede getuig ons dus van Wie die Here is. En deur dít wat ons doen, wys ons vir ander mense hoe ons teenoor die Here voel.

Mag elkeen van ons ons dankbaarheid teenoor die Here uitleef – orals waar ons gaan. Mag ons aanhou getuig van die Here se genade in ons Here, Jesus Christus. Mag ons altyd ons afhanklikheid teenoor die Here besef – tot só ‘n mate dat ons selfs vir die eenvoudige dinge in die lewe dankie sê. Niks wat ons het óf kry kom vanuit onsself nie. Dit is die Here wat aan ons die geleentheid of die insig of die rykdom of die genade gee om dit wat ons hét, te kon verkry.

Met watter ingesteldheid leef jy hierdie lewe? Is jy onder die mense bekend as iemand wie ongeduldig en onvergenoegd en ondankbaar is? Of is jy werklik in alles, en onder alle omstandighede, dankbaar oor dít wat die Here vir jou gee? Amen.