Teksgedeelte: 2 Korintiërs 1:3-11
Fokusgedeelte: 2 Korintiërs 1: 3
Tema: God bemoedig ons in ons in moeilikhede sodat ons ander kan bemoedig en kan leer om op Hom alleen te vertrou.
Hoofpunt 1: God bemoedig ons in ons in moeilikhede.
Hoofpunt 2: God bemoedig ons in ons in moeilikhede sodat ons ander kan bemoedig.
Hoofpunt 3: God bemoedig ons in ons in moeilikhede sodat ons kan leer om op Hom alleen te vertrou.
Inleiding
Broers en susters, die lewe is gereeld moeilik. Die lewe is gereeld swaar. Wanneer dit swaar gaan, vra ons baie maklik die vraag: Waarom laat die Here dit toe? Hoekom kry kinders van God swaar? Ons kan onsself ook afvra, waar vind ons troos in tye van swaarkry? Vandag leer die Here vir ons die antwoorde op hierdie vrae.
Hoofpunt 1: God bemoedig ons in ons moeilikhede
Paulus begin hierdie brief aan die gemeente in Korinte deur die Here te prys wat hom bemoedig of vertroos het in ʼn moeilike tyd. Paulus praat in vers 8 van ʼn baie swaar moeilikheid wat hy ondervind het. Ons weet nie presies wat hierdie moeilikheid was nie, maar ons weet dit was vir hom baie swaar. Hy sê dat dit vir hom so swaar was, dat hy gevoel het asof die swaarkry vir hom ʼn doodsvonnis was.
Broers en susters, die eerste ding wat ons moet besef is dat die lewe van ʼn gelowige nie maklik is nie. Daar is baie predikers daar buite wat ʼn mens anders sal wil laat glo, maar dit is nie waar nie. Hulle probeer die Christelike lewe verkoop as een wat net bestaan uit voorspoed. Dit word daarom voorspoedsteologie genoem. Dit is egter nie wat ons in die Bybel kry nie. Jesus sê self in Joh. 16:33 die volgende: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Dit is ook ons elkeen se persoonlike ervaring. Ons elkeen kan getuig van swaarkry in ons lewens. Baie van ons kan getuig van radikale swaarkry. Swaarkry is wanneer jy iets het wat jy nie wil hê nie, of iets wil hê wat jy nie het nie. As jy ernstig siek is, het jy iets wat jy nie wil hê nie. Wanneer ons iemand afstaan aan die dood, soek ons iets, of eerder iemand, wat ons nie kan kry nie. Op hierdie manier pas alle swaarkry in hierdie definisie in. Partykeer ervaar ons dit nie so radikaal nie en ander kere is so erg dat dit, soos Paulus, vir ons voel soos ʼn doodsvonnis.
Wat ons teksgedeelte egter vir ons leer, is dat die Here die een is wat ons uiteindelik werklik troos en bemoedig. Paulus beskryf in vers 3 die Here as die Vader wat homself oor ons ontferm en as God wat ons bemoedig. Sommige vertalings gebruik die woord “vertroos” en ander vertalings gebruik die woord “bemoedig”. Beide is goeie vertalings en albei woorde saam gee vir ons ʼn goeie begrip van wat die woord beteken. God gee vir ons moed, durf of krag om deur die moeilikhede te kom. Hy is ook die een wat ons volkome troos, want ons weet deur Hom sal ons eendag met die wederkoms verlos word van alle swaarkry.
Die troos wat ons in die Here vind, lê daarin dat Hy almagtig is. ʼn Ander woord wat ons kan gebruik is dat Hy soewerein is. Dit beteken dat God volkome in beheer is. Alles wat ooit gebeur, gebeur om een van twee redes. Dit gebeur óf omdat God dit self doen, óf omdat Hy dit toelaat. Vir die gelowige is die idee van God se soewereiniteit tot groot troos. My God en Vader wat vir my lief is, is die een wat in beheer is. Ek hoef my nie te bekommer nie. Hy is in beheer. God se soewereiniteit is vir die ongelowige egter ʼn idee wat hulle bang maak en waarvan hulle nie hou nie. Dit is omdat hulle besef dat hulle nie self in beheer is nie. Hulle sal eerder self wil beheer hê oor wat met hulle in die lewe gebeur. Hulle dink hulle kan dit beter doen as wat die Here dit doen.
Ons moet besef dat die Here nie die een is wat self die moeilikhede aan ons doen nie. Uit sy hand kom daar net wat goed is, maar hy laat dit egter aktief toe. Hy is die een wat bepaal dat dit met ons gebeur. Die vraag bestaan dan: Hoekom laat die Here swaarkry in ons lewens toe? Die Skrif gee vir ons baie antwoorde, maar vanoggend se teksgedeelte gee vir ons twee antwoorde. Die eerste is sodat ons in die swaar tye deur God bemoedig kan word, sodat ons mekaar in swaar tye kan bemoedig, wat lei tot ons redding. Die tweede een is sodat ons kan leer om alleen op God te vertrou.
Omdat God soewerein is, kan hy dit was sleg is in ons lewens gebruik vir die goeie. Hy gebruik die swaarkry in ons lewens om ons die vermoë te gee om ander te bemoedig en ook om ons te leer om alleen op Hom te vertrou.
Hoofpunt 2: God bemoedig ons in ons in moeilikhede sodat ons ander kan bemoedig
Ons kyk nou na die eerste rede waarom God swaarkry in ons lewens toelaat. Ons lees hiervan in vers 4 van ons teksgedeelte. God laat toe dat ons swaarkry en bemoedig en vertroos ons daarin, sodat ons dan ook ander kan bemoedig en vertroos. Ons moet die bemoediging waarmee God ons bedien, ook aan ander bedien. Paulus sê nie hier dat hy self die ander mense wat swaarkry troos nie. Hy sê dat hy die troos van die Here aan hulle bedien. Met ander woorde, hy wys vir hulle hoe hy troos in die Here vind in sy swaarkry, sodat hulle ook troos in die Here kan vind in hulle swaarkry. Wat dan merkwaardig is, is dat ander op hierdie manier nie net hulle troos in die Here vind nie, maar ook hulle redding. Is dit nie wonderlik nie? Op hierdie manier gebruik die Here ons in ons moeilikhede om ander te lei tot troos, maar nie net dit nie, ook tot redding.
Hy sê in vers 5 dat net soos wat die lyding in Christus oorvloedig is, net so ook is die troos. Dit is waar dat Christine ly en vervolg word as gevolg van Christus, maar dit is ook waar dat ons volkome troos het as gevolg van Christus. Deur Christus wat die straf van ons sonde gedra het en ons nuwe mense gemaak het deur sy dood en opstanding. Ons is kinders van God. Deur Christus is God ons vader wat Homself oor ons ontferm, soos daar in vers 3 staan.
Ons moet weer Joh. 16:33 saam lees, waar Jesus sê: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Ons vind in Christus vrede, want ons weet dat nie saak maak wat met ons in hierdie lewe gebeur nie, Christus het reeds hierdie lewe oorwin. Hy het vir ons die ewige lewe bewerk. Wanneer Hy weer kom, gaan hy alles nuut maak. Ons gaan met nuwe liggame lewe op die nuwe hemel en die nuwe aarde.
Terwyl ons wag op die wederkoms, het ons nog ʼn verdere troos. Jesus sê in die bokamer in Joh. 14:16-17 vir sy dissipels dat Hy vir ons ʼn vertrooster gaan stuur terwyl ons nog hier op aarde is. Dit is die Heilige Gees. “16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Die Heilige Gees bewerk geloof in ons en herinner ons aan die troos wat ons het in Christus. Dit is waaraan ons mekaar deurlopend moet herinner. Veral wanneer ons self swaarkry. Op hierdie manier troos ons mekaar met die evangelie wat tot ons redding is.
Hoofpunt 3: God bemoedig ons in ons moeilikhede sodat ons kan leer om op Hom alleen te vertrou
Ons kyk nou na die tweede rede waarom God swaarkry in ons lewens toelaat. Hy doen dit sodat ons kan leer om alleen op Hom te vertrou. Hoor hoe besonders mooi stel Paulus dit in vers 9 van ons teksgedeelte: “Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.”
Al kry ons tot die dood toe swaar, vertrou ons op die Een wat lewe uit die dood bewerk. Dit is gereeld juis wanneer ons swaarkry, wanneer ons weet dat ons nie op ons eie krag kan staatmaak nie, dat ons leer om alleen op God te vertrou. Dit is juis wanneer ons gered word uit omstandighede wat vir ons onmoontlik lyk, dat ons agterkom dat alles vir God moontlik is. Ons besef dan volkome ons afhanklikheid van die Here.
Dit is daarom juis in tye van teëspoed wat ons geloof groei. As dit met ons goed gaan, is ons geneig om te dink dat ons self kan regkom. Ons is geneig om te dink dat ons nie die Here nodig het nie. Partykeer dink of sê ons dit nie so direk nie, maar dit is duidelik in ons optrede. Wanneer dit met ons swaar gaan, leer ons om te bid. Wanneer dit met ons goed gaan, vergeet ons om te bid. Baie keer is ons eers dankbaar vir die dinge wat ons het wanneer ons weet wat dit beteken om dit nie meer te hê nie. Dan leer ons om uit dankbaarheid te bid en nie uit nood uit nie.
Paulus spoor juis die gelowiges in die laaste vers aan om aan te hou om vir Hom te bid. Ons leer om te bid wanneer dit met ons swaar gaan, maar ons moet ook leer om te bid vir die mense om ons met wie dit swaar gaan. Op hierdie manier dra ons mekaar se laste deur die troos van die evangelie aan mekaar te bedien en ook deur vir mekaar te bid.
Gereeld dink ons dat om vir mekaar te bid, nie werklik iets beteken nie. Dit is gereeld ons laaste uitweg. Dit is wat ons doen wanneer ons niks anders kan doen nie. Dit behoort nie so te wees nie. Om te bid moet die eerste ding wees wat ons doen. Daar is geen groter ding wat ons kan doen as om vir mekaar te bid nie. Ons lê mekaar dan juis by die voete van die almagtige neer. Ons het die voorreg om vir die Een wat almagtig is, te vra om hulp. God werk uiteindelik deur gebede om sy ewige plan uit te voer.
Paulus sê juis in die laaste vers “So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.” Nie net werk God deur ons gebede nie, maar ons gebede is ook een van die grootste maniere waarop ons Hom loof en aan Hom dank bewys.
Slot
Broers en susters, dit is duidelik dat die lewe van ‘n gelowige baie swaarkry behels. Dit voel dalk vir ons asof ons so erg swaarkry dat ons kan doodgaan. Dit leer ons om nie op onsself te vertrou nie, maar op die Een wat lewe uit die dood uit bewerk. Dit is Hy wat ons bemoedig en vertroos deur die evangelie van ons Here Jesus Christus. Mag ons mekaar ook hiermee bemoedig.
Amen.